#JongStemme: Wat beplan jy vir jou gemeen­skaps­diensjaar vir 2020?

dinet-van-schalkwyk

Dinet van Schalkwyk. Foto: Verskaf.

Deur Dinet van Schalkwyk

Vir die meeste mediese, radiografie-, arbeidsterapie- en ander studente is dit ’n moeilike keuse om te maak wanneer jy moet besluit waarheen om te gaan vir jou gemeenskapsdiensjaar, of internskap.

Meeste studente droom van die idilliese jaar in die Kaap, tussen die berge en wynplase. Ander droom weer oor die stilte in die Karoo, maar tog is daar ’n groot gedeelte van die studente wat nie die keuses op hul lys kry nie en op ’n plek beland waarvan hulle nog nooit gehoor het nie, en die jaar dus omwens.

Dis ’n jaar wat ’n mens moet geniet. ’n Jaar vol nuwe vriende, nuwe uitdagings waar mens leer om vinnig te dink en te groei om ʼn beter mens te word.

Om vir ander te sê, “Kies mooi en hoop vir die beste,” is makliker gesê as gedaan, veral as jy self nog nie deur die proses is nie. Die land is vol mediese instansies wat dringend ekstra hande nodig het, sekere mediese velde meer as ander, maar tog is daar nie genoeg studente nie.

Dr. M. van der Watt, dosent aan die Tshwane-Universiteit vir Tegnologie se Radiografiekursus, sê alhoewel sy nie direk betrokke is by die hele proses van die gemeenskapsdiensjaar nie, het sy oor die afgelope paar jaar die groot verskil gesien wat die 12 maande in die studente se lewens maak.

“Die studente kom terug as meer afgeronde mense, met meer insig en wysheid.” was dr. van der Watt se opinie.

Ek sit hier in die middel van niks en nêrens,  ’n uur se ry van die naaste dorp (Botswana) af in die radiologieafdeling in ’n klein geboutjie in ’n plakkerskamp-omgewing met die naam van Witpoort-hospitaal.

Vir die wat wonder… Ja, dit was my eerste keuse omdat ek verlief is op die omgewing, die bosveld en Afrikasonsondergang. Maar ek het nie my huiswerk deeglik gedoen nie. Volgens my was die hospitaal in die dorp Ellisras (nou Lephalale), maar tot my verbasing – nadat ek 4 uur gereis het tot by my nuwe werkomgewing – is dit ver, alleen en heeltemal vreemd.

Die keuse wat ek gemaak het, was toe nie so wonderlik soos ek vir almal vertel het dit gaan wees nie. Tog het ek al soveel geleer van flink dink en planne maak (aangesien die toerusting hier minimaal is), dat ek nou besef dit was op die ou end tóg die beste besluit wat ek kon maak.

Deur die maande besef mens eintlik hoe baie plattelandse instansies gekwalifiseerde mense benodig, hoe baie pasiënte weggewys word omdat die regte toerusting of professionele mediese werkers nie beskikbaar is nie, hoe baie pasiënte swaarkry omdat die meeste van hul geld bestee word aan vervoer na ’n ander hospitaal wat dalk ure se ry ver weg is.

Ja, dis gevaarlik. Soms maak ek twee tot drie keer seker my deur is gesluit en my vensters is toe in my woonstel op die hospitaalterrein. Soms klop jou hart bietjie vinnig as jy om 02:00 uitgeroep word vir ’n noodgeval. Om in die donker tot by die afdeling in ’n tjoepstil hospitaal in te stap, is nie altyd maklik nie, maar jy is dalk net wat daardie pasiënt nodig het.

Jou hart word warm as die pasiënt met ’n glimlag uitstap en met die grootste dankbaarheid dankie sê. Om hulle te kan groet in hul eie taal (of dit nou Afrikaans, Engels, Zulu, Setswana of Xhosa is); die gesigte wat ophelder en hul oë wat sommer weer helder is, is die eintlike beloning. Dis waarvoor ons strewe, die wete dat jy iemand se lewe vir ’n breukdeel van ʼn sekonde beter gemaak het. Dis waarom ons doen wat ons doen.

Vir die studente wat nou sit waar ek ’n jaar terug gesit het, doen jul navorsing goed. Maak seker julle weet wat julle op jul lys het en begin solank voorberei vir ’n jaar wat dalk die beste jaar van jou loopbaan gaan wees.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en advies met jou loopbaan!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Naomi ·

Baie mooi en positief. Ons is net almal dankbaar, Virseker veral jou ouers, dat dit vir jou so goed uitgewerk het dat jy jou verhaal kan vertel. Soos jy ook tereg se, daar is ook talle verhale vir wie dit nie so goed uitgewerk het nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.