#JongStemme: Wat ek geleer het van altruïsme, moed en menslikheid

Deur Emma van der Walt

Emma van der Walt

Sommige sou sê dat onsterflikheid nie moeilik bekombaar is nie. Deur die lens van ʼn kamera word ʼn oomblik vir ʼn ewigheid verruil – so kry die verlede selfs vandag nog die vermoë om oor ons skouers te dikteer.

Op vanjaar se Jeugdag vang my oog weer die foto wat die dag en sy betekenis vir vele Suid-Afrikaners in onsterflikheid gesetel het. ʼn Twaalfjarige skoolseun, Hector Pieterson, in die arms van ʼn klasmaat, Mbuyisa Makhubu, terwyl sy suster Antoinette Sithole langsaan hardloop. Pieterson is pas in ʼn koeëlreën buite sy laerskool deur die Suid-Afrikaanse Polisie gewond, ná vurige betoging teen die afdwing van Afrikaanse onderrig in demografies inheemse gemeenskappe.

Uiteindelik is die introspeksie wat hierdie oomblik van dapperheid in my aanwakker anders as dit wat gereeld van die foto gesê word. Die betogings wat die dag plaasgevind en ongelukkig tot die tragiese voorval gelei het, was sonder twyfel edel en moedig: tog vestig ek my visier op ʼn ander invalshoek. Dié van die seun wat so moedig deur die stofstrate hardloop, ʼn klasmaat in sy arms omvou. Dit is hier waar ons kennis maak met blinde en weerlose menslikheid – om iemand anders op te raap en te hardloop.

Maak ons mense groot wat ander in hul arms sal opraap, en sal hardloop? Neem ons kollektiewe rentmeesterskap van daardie weerlose en blinde menslikheid wat ons aan die wat ons opgeraap en gedra het, verskuldig is? Indien jy van enigiets kan eienaarskap neem waarvoor iemand voor jou moes veg, is dit jou intrinsieke verantwoordelikheid om daardie rentmeesterskap voort te dra – om die wat daarvoor geveg het, en die wat nog gaan, in jou arms op te raap en deur die stofstrate van ʼn brose demokrasie te hardloop.

Uiteindelik klink die deuntjie van so ʼn filosofie baie bekend – daar heers immers ʼn debat oor die menslike struweling tussen altruïsme en selfsug (en die uiteindelike wenner). Tog oorkoepel die geheue-agterkamer van ʼn verdeelde Suid-Afrika meer as dit wat op ʼn troebel oppervlak gesien kan word. In herinnering aan die wat ons eie drome sonder verset en verweer opgeraap en die toekoms ingestuur het, saai ons verdeeldheid. As huldeblyk aan die wat geveg het vir ideale wat hulle nooit self sou sien nie, verwoes ons dit wat ons ken en koester.

Elkeen wat homself ʼn kind van demokrasie noem, het uiteindelik die sedelike en swaar verantwoordelikheid om die “struggle” van sy/ haar tyd sonder verset op te raap en die toekoms in te hardloop, selfs met die kennis van ʼn wagtende vuurpeleton. Uiteindelik spreek dit tot ʼn brose en kollektiewe menslikheid, en die vermoë om aan ʼn resies deel te neem, selfs al weet jy dat jy dit onmoontlik oor die wenstreep gaan maak.

Dit is maklik om die toename in globale individualistiese kultuurneigings aan sosiale skeptisisme, digitalisering of selfs die blote “tekortskietende” houding van jongmense toe te skryf. Ek laat myself egter nie vir ʼn oomblik toe om daardie moontlikheid te vermaak nie. Dis doodeenvoudig te maklik. Te verwyder van die kollektiewe roep na menslikheid wat teenwoordig – tog sluimerend – in almal vasgeknoop is.

Ek vermoed dat dit meer met ʼn soort sosio-antropologiese vervreemding te make het; daar waar ons vir die eerste keer kennis maak, vergeet ons mekaar. Waar dinge inderwaarheid eers ontkiem, voel dit soms soos ʼn onheilspellende einde sonder agtergrondmusiek. Om jou eie broosheid te besef, is geen grap nie. Erkenning van jou afhanklikheid van gesigte wat jy nie ken nie, laat jou soos ʼn roofdier met ʼn onbeskermde nek voel. Die wete dat jou eie drome en struwelinge nooit net jou eie is nie, is diep ontnugterend. Tot dit nie meer is nie. Tot dit iets is wat jou veerkragtig maak. Jou sterker maak. Jou deel maak van iets wat groter is as jou eie begrip. Jou iemand maak wat verstaan wat dit beteken om ander op te raap en die toekoms in te hardloop. Sonder ʼn pas.

Uiteindelik het die vertelling van daardie bestemde dag my baie geleer, waarvan die belangrikste steeds is: moedigheid is nooit te verkwis nie.

  • Emma van der Walt is ʼn derdejaarstudent in politieke wetenskap, filosofie en taal aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou. 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.