#JongStemme: Wat leer EU ons oor SA?

Deur Reiner Duvenage

Reiner Duvenage

Oor die laaste weke het ʼn regsgeskil tussen Pole en die Europese Unie (EU) die debat rondom die sentralisering van mag opnuut na vore gebring, nadat ʼn Poolse hooggeregshofbeslissing die onderdanigheid van EU-wette aan nasionale Poolse wette bepaal het. In beginsel kom hierdie regsuitspraak daarop neer dat Poolse howe die Europese Unie se wette kan negeer en staan dit dus direk in konflik met die voorrang wat die EU-reg tans oor die nasionale reg in ledestate geniet.

Hierdie dispuut is deel van ʼn groter reeks episodes van disintegrasie wat die EU oor die afgelope 15 jaar kwel. Die oorsprong van disintegrasie in die EU hou onmiskenbaar kousale verband met die ondertekening van die Verdrag van Lissabon (2007), wat Brussel se sentralistiese mag en bevoegdhede oor ledestate vergroot het. Kort na die ondertekening van die verdrag het die sogenaamde “Eurokrisis” die EU getref na aanleiding van ʼn aantal ledestate se onvermoë om hul staatskulde te betaal. Dit is gevolg deur die migrasiekrisis (2015) en toenemende misverstande tussen die EU en ʼn aantal Oos-Europese ledestate met betrekking tot die regstaat en waardes. Natuurlik het die EU sy grootste eksistensiële terugslag beleef toe Groot-Brittanje in die Brexit-referendum (2016) teen alle verwagtinge gestem het om die unie te verlaat.

Teen hierdie agtergrond word dit duidelik dat vergroting en sentralisering die bestaan van die EU in gedrang bring. Die prominente Duitse filosoof, Jürgen Habermas, het op hierdie episodes van verbrokkeling gereageer deur die tegnokratiese aard van Brussel se magstrukture te kritiseer, asook die versuim om Europese demokrasie dienooreenkomstig met die vooruitgaande sentralisering uit te brei. Habermas beskou die einddoelwit van die EU as die verwesenliking van “transnasionale volksoewereiniteit”. Hiermee verwys Habermas na die beginsel dat staatsmag deur die volk gelegitimeer word, maar dat volksoewereiniteit nie noodwendig as onskeibaar van die nasiestaat gesien moet word nie. Vir Habermas bevat die EU die potensiaal om die nasiestaat te transendeer op die wyse wat Europese burgers aan demokratiese prosesse binne hul onderskeie ledestate, maar ook toenemend op ʼn Europese vlak, deelneem. Habermas probeer dus ʼn middeweg tussen intergovernmentalism en ʼn Europese federale superstaat vind, sodat daar in sy model ruimte vir beide nasiestate sowel as ʼn hegter groeiende verbond tussen die ledestate van Europa is. Die onlangse geskiedenis van die EU getuig egter daarvan dat hierdie balans meer doeltreffend gehandhaaf kan word indien groter erkenning aan die pluralisme van state en gemeenskappe gegee word.

In hierdie konteks hou die EU se worsteling met die gevolge van sentralisering ook verband met die Suid-Afrikaanse politieke landskap. Alhoewel die EU en die moderne Suid-Afrikaanse staat kennelik van mekaar in struktuur verskil, is beide ʼn poging om diverse kultuur- en taalgroepe onder een sambreel te verenig. In Suid-Afrika is daar egter nie naastenby dieselfde standaarde van algemene bestuur en beskerming van minderheidsregte as in die EU nie. Daarom word dit des te meer duidelik dat die huidige regeringsmodel nie houdbaar is nie.

Die weg uit Suid-Afrika se penarie lê in die bevordering van desentralisering. Dit is presies hierdie idee waarop Alexis de Tocqueville in sy seminale studie Democracy in America uitgebrei het. Tocqueville voer aan dat “administratiewe desentralisering” burgers in staat stel om by die “ware politieke lewe” betrokke te raak, juis omdat politieke en sosiale aangeleenthede op ʼn plaaslike vlak bestuur word. Hierdie gedagte sluit aan by wat Danie Goosen in sy boek Oor Gemeenskap en Plek: Anderkant die Onbehae na verwys as die “gemeenskapsfederatiewe tradisie”. Volgens Goosen word so ʼn model deur ʼn politiek van skaal gekenmerk wat ruimte en plek met mekaar in gesprek bring, maar ook erkenning aan beide die universele en die partikuliere gee.

Die Switserse Konfederasie verskaf die empiriese voorbeeld par excellence van hoe ʼn land met ʼn diverse bevolking suksesvol bestuur kan word. Switserland se sukses is te danke aan die aanmoediging van politieke deelname in die vorm van direkte demokrasie, maar ook die desentralisering van magte. Gemeenskappe geniet ʼn groot mate van selfbeskikking, omdat elkeen van die 26 kantons (deelstate) oor sy eie grondwet, ʼn kantonsparlement, ʼn kantonsregering en howe beskik. Dus moet Afrikaners (en ander Suid-Afrikaanse burgers) eerder by Switserland as die EU leer en groter politieke aanspraak op desentralisering en selfbeskikking maak.

  • Reiner Duvenage het filosofie, Duits en geskiedenis aan die Universiteit van die Vrystaat studeer en onlangs sy meestersgraad aan die Universiteit van Göttingen en Universiteit van Krakow met ʼn verhandeling oor Habermas en Transnasionale Volksoewereiniteit in die EU voltooi.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Andries ·

Switserland werk omdat die Switsers dieselfde beskawing en uitgangspunte deel met ‘n nasionale welwillendheid en medemenslikheid. Hartlik soos wat ek ookal met jou saamstem, selfs federalisme sal moeilik in SA werk omrede die botsing van Afrika en Europese kultuur en logika.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.