#JongStemme: Watter broer is jy?

Deur Lezahne Nel

Vir die doeleindes van hierdie artikel is dit belangrik om na bogenoemde video te kyk, aangesien dit as verwysingsraamwerk gebruik word.

Lezahne Nel.

Alhoewel dit anders gestel word in die beskrywing van hierdie video, was dié oefening rasgedrewe, omdat daar spesifiek gebruik gemaak is van die woorde: “some of these black dudes would smoke all of you”. Daar word verder beweer “die enigste rede waarom jy moontlik die resies (lewe) sal wen, is omdat jy ʼn voorsprong het (bevoorreg is)”. Die gevolg van hierdie mentaliteit is ʼn geregtigde samelewing, wat alle tekortkominge deflekteer en geen eienaarskap van hul probleme neem nie. Alhoewel dit nie só uitgebeeld word nie, is geen van die genoemde voorregte eksklusief aan wit-wees nie, en geen van die struikelblokke eksklusief aan swart-wees nie. Die resies (lewe) was, is en sal nooit regverdig wees nie. Die lewe is nie werklik ʼn naelloop nie, en daarom bepaal verskillende beginnersposisies nie die wenners of verloorders nie.

Neem eienaarskap van jou lewe

Eens was daar twee broers, een suksesvol en die ander onsuksesvol. Wanneer daar aan die onsuksesvolle broer gevra is waarom dit sy lot is, het hy geantwoord dat sy pa nooit by die huis was nie en dat sy pa alkohol misbruik het. Toe die vraag egter aan die suksesvolle broer gestel is, het hy dieselfde antwoord verskaf as sy onsuksesvolle broer.

Die oorheersende boodskap wat uit hierdie bekende storie geneem kan word, is die volgende: Net omdat jy nie iets daadwerklik bereik het nie, beteken dit nie noodwendig dat die wêreld jou iets skuld of jou in die steek gelaat het nie. Meer reguit gestel: Jy kan vir niemand behalwe jouself kwaad wees as jy nie die geleenthede wat die lewe jou wel bied, gebruik nie. Om te glo dat jy nooit die lewenswedren sal kan wen nie, net omdat ander meer bevoorreg is, of ‘iets’ teen ʼn rassegroep in die geheel het wat teëspoed waarborg op ʼn ‘sistemiese vlak’, is absurd en werklik onproduktief.

Hiermee word daar nie ontken dat daar ongeregtighede in die verlede was nie. Maar waarom laat ons toe dat die probleme van die verlede ‘n verskoning word vir ons om nie ons eie drome te bereik nie? Ja, die pad is dalk moeiliker, maar enige een wat ʼn realistiese doelwit stel, en daarvoor werk ten spyte van struikelblokke, kan dit bereik.

Sistemiese rassisme

Sistemiese- of institusionele rassisme verwys na die wyse waarop idees van wit meerwaardigheid op ʼn sistemiese vlak plaasvind in die mens se alledaagse denke. Laasgenoemde sluit onder andere regulasies, wette, sosiale sisteme en onderwys in. Niemand baat daarby as daar gespekuleer word oor rassisme wat ‘daar buite’ is nie. Daar kan slegs ʼn oplossing geskep word wanneer spesifieke gevalle uitgelig word.

Dit word in die video uitgebeeld dat “black dudes” nie in die lewe sal ‘wen’ nie, omdat ʼn sisteem voorkeur gee aan anderskleuriges. Natuurlik is ongeregtighede van die verlede ʼn faktor, maar waarom is die kwessie van ras altyd die enigste faktor wat gebruik word as rede waarom mense onsuksesvol is?  Waarom word daar byvoorbeeld nie ondersoek ingestel oor die betrokke ras of individu se persoonlike beskouings of kultuur nie?

As daar gepraat word van sistemiese rassisme, is daar geen beter voorbeeld in hedendaagse samelewing as die BEE-beleid nie. Dié wetgewing maak nie die verlede reg nie, dit probeer die verlede oorkorrigeer. Slegs wanneer daar vir individue verduidelik word dat hulle wel die lewensreis kan voltooi ten spyte van hindernisse, sal dit moontlik wees. Wanneer daar gesê word dat slegs ʼn ‘bevoorregte’ die lewensreis kan ‘wen’, sal dit ook waar wees.

Of jy sukses gaan behaal in die lewe hang grotendeels af van jou individuele gesindheid. Dit is dus onproduktief om paranoïes te wees oor ʼn sisteem wat ‘daarop uit is om jou te kry’. Wys gevalle uit en probeer dit regstel, maar niemand het êrens gekom deur aan te kondig dat ‘die sisteem’ teen hulle is nie. Werk vir dit wat jy wil bereik in die lewe en hou op om bakhand te staan, want die wêreld skuld jou niks nie.

  • Lezahne Nel (21) is ʼn finalejaarstudent in BA Kommunikasie aan die NWU se Potchefstroomkampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.