#JongStemme: Weet julle nou nog nie wie Lesufi is nie?

Deur Franco van der Berg

Panyaza Lesufi (Foto: ANC/Twitter)

Te midde van gevegte rondom die waardigheid van Afrikaans, moedertaalonderrig, en allerlei ander inflammatoriese stellings, leer ek vir Lesufi ken. Hier in die gange, leer ons hom ken as ʼn valse beskuldiger en iemand wat diep gewortelde probleme het met enigeen wat nie sy opinie deel nie.

Sy kiesers leer hom ken as die man wat onderwys gaan red, en later dan nou, die man aan die stuur van Gauteng. Die belangrikste, natuurlik, is om te onthou dat hy belangrik is. So belangrik is die uwe dat hy homself daartoe kan wend om stemme vir die ANC te werf, en in die proses ʼn program te bemark wat “duisende en duisende” werke beloof.

Nou ja toe, so kom die dag waar allerlei ywerige jongmense hulself tot Nasrec dwing, want hulle gaan hulle CV’s inhandig. En hulle doen. Per hand. Soos vereis. Maar wat gebeur toe daarna?

Daar word berig dat duisende CV’s in asdromme agter die sentrum gevind is, en dit terwyl mense nog besig is om CV’s in te handig. Hoe dan nou? Is die menslikehulpbron-span daar aan diens dan nou so fluks? Of is die manne wat agter in ʼn kar gesit het en ʼn paar CV’s uitgehou het, terwyl duisende ander in die vullis beland het, eintlik maar net besig met iets onderduims?

Die premier en sy kantoor betwis natuurlik hierdie bewerings, en sal ʼn volskaalse ‘ondersoek’ loods. Op die oog af lyk dit soos net nog ʼn verkiesingsfoefie. Is dit?

Dit is nie vir my om te sê nie. Maar wat wel vir my is om te sê, is dat premier Panyaza Lesufi ʼn regte ANC-man is. In murg en been. Dit beteken dat hy homself met sy party se beleid sal belyn, dis dan nou natuurlik die beleid wat praat van ʼn bourgeoisie-revolusie, of in ander woorde, ons en ons vriende gaan eers ryk word, en dan sal ons oorgaan in ʼn totaal sosialistiese staat. Hy is so belyn met hierdie waardes dat ʼn program wat werk belowe net nog ʼn leë belofte kan wees.

Almal weet darem dat die oorgang nie sal plaasvind nie, want Lesufi en syne is te besig om deel te neem aan die bourgeoisie-revolusie. Dit is lekker om in ʼn landgoed te woon, spoggerige karre te ry, en ontwerpersklere te dra. Dit is die waarheid, maar dit mag net vir sekeres lekker wees, en nog meer so, net vir sekeres se vriende beskore wees.

Die waarheid is dat Lesufi se beloftes van werk, en hulp, en die veronderstelde welvaart wat daarmee saamgaan net hoop geskep het, en nog ʼn stem of twee by die hoop gegooi het. Sy waarheid, soos sy party al keer op keer bewys het, is dat dit net met homself mag goed gaan, maak nie saak wie agterbly nie.

  • Franco van der Berg is ‘n junior media- en sakelbeampte by Solidariteit. 

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 26 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: #JongStemme, Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Hoekom ·

Wanneer besef die ANCartel volgelinge dat die regering nie werk kan skep nie, of te wel nie genoeg nie, net die private sektor het daardie kapasiteit…

Adriana ·

Die jongmense moet begin besef die ANC is daar net vir hulself om hulself te verryk hul voel vere vir jou die man op die straat, hul het nog niks gedoen in hierdie 30jr wat suksesvol is nie, in teen deel als gaan tot niet, ons moet opstaan vir onsself en self dinge begin doen om dit ñ beter land vir onsself te maak, tyd om meer innoverend te word en intrepeneurs te word wat werk verskaf aan jouself en ander.

Harley Davidson ·

Enige iets waar lesufi by betrokke is is en sal ‘n mislukking wees asgv sy haat vir wit mense.

Nettie ·

“They’re living the dream!”
Maar ons almal weet dat God soms drome in realistiese nagmerries kan verander. Ek vermoed hulle gaan dit binnekort baie persoonlik beleef. God stel konings aan. En God haal hulle weer van hul troontjies af.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.