#JongStemme: Wetenskap van inheemse kennis bestuur as pseudowetenskap

Deur Adriaan Dekker

Adriaan Dekker.

“Lees dit net deur, dit is nie so belangrik nie” en “moenie veel van jou tyd hieraan bestee nie, hulle vra dit amper nooit”. Dit was die woorde wat probeer het om my liefde vir inheemse kennis te blus.

Op skool was lewenswetenskappe my gunstelingvak. Ek het só baie daarvan gehou dat ek besluit het om onderwys aan die Noordwes-Universiteit te studeer, en dan in lewenswetenskappe te spesialiseer. Ek het toe verder besluit om my honneursgraad te voltooi waarin ek navorsing doen in die infusie van inheemse kennis en etnoplantkunde in die lewenswetenskappe-kurrikulum.

As klein seuntjie wat lief was vir eksperimenteer, was ek baie geïnteresseerd in die gebruik van medisinale plante. Ek onthou hoe ek as kind altyd koorsblare gekry het, en geen salf of pil wou ooit daarvoor werk nie. My ouma het eendag voorgestel dat ek ʼn stukkie suurvy (Carpobrotus edulis) uit haar tuin moet afbreek, en dan die sap daarvan op my koorsblare sit. Ongeag van hoe ek my gesig getrek het toe ʼn galbitter druppel in my mond beland het, het ek tot vandag toe nog nooit weer ʼn koorsblaar gehad nie.

Inheemse kennis, en die gebruike van medisinale plante, word in die graad 10 tot 12-kurrikulum geprioritiseer, maar dit word as nulkurrikulêr bestuur. Leerders met lewenswetenskappe as vak word gebreinspoel om nie die waarde van die natuur te waardeer nie.

Die kurrikulum- en assesseringsbeleidsverklaring (KABV) van die lewenswetenskappe-kurrikulum stel dit duidelik in die derde spesifieke doelwit dat die leer van wetenskap verband moet hou met die toepassing van lewenswetenskappe in ons alledaagse lewe, sowel as om ʼn begrip van wetenskaplik-geskiedkundige ontdekkings teweeg moet bring wat op die verhoudings tussen inheemse kennis en wetenskap moet fokus.

Verder voer die KABV aan dat leerders die verskillende kulturele kontekste waarin inheemse kennisstelsels ontwikkel het, moet verstaan. Dit is duidelik voor die hand liggend dat die KABV die infusie van inheemse kennis in die lewenswetenskapklaskamer in die graad 10 tot 12-kurrikulum prioritiseer. Onderwysers neem die onderrig daarvan ligtelik op, sekere onderwysers glo dus dat dit selfstudie is, en dan is daar ander onderwysers wat dit bloot net ignoreer. Leerders word min tot glad nie daarop geassesseer nie.

Die graad 10 tot 12-kurrikulum fokus op medisinale plante, soos byvoorbeeld die duiwelsklou (Harpagophytum procumbens), die Afrika-aartappel (Hypoxis hemerocallidea) en rooibos (Aspalathus linearis). Leerders weet dat hierdie flora voordele inhou vir die menslike gesondheid, maar weet hulle wátter voordele?

Onderwysers faal daarin om inheemse kennis regdeur die sillabus aan te spreek deur dit nie aan die siektes van die menslike liggaam te koppel nie. Die groot probleem rakende hierdie kwessie is dat onderwysers te streng op die kurrikulum as ʼn leerplan fokus, eerder as om daarop te fokus om die kurrikulum effektief uit te voer. Dit word duidelik in die KABV gestel dat inheemse kennis in die lewenswetenskapklaskamer geakkommodeer moet word, maar baie onderwysers toon ʼn gebrek aan pedagogiese inhoudskennis, waarvan die gevolg dan is dat die inhoud van inheemse kennis oppervlakkig bestuur word.

Mense wat inheemse kennis toepas en daarin glo is geneig om mense te wees wat glo dat ons as mens aan die natuur behoort. Die teenoorgestelde hiervan is waar mense wat hierdie kennis verwerp weer geneig is om te glo dat die natuur aan die mens behoort. Dit is, myns insiens, wat verkeerd is in die wêreld waarin ons vandag leef.

  • Adriaan Dekker is ʼn jong onderwyser en honneursstudent in lewenswetenskappe aan die Noordwes-Universiteit se Potchefstroomkampus.

#JongStemme is ʼn projek deur Maroela Media en Solidariteit Jeug wat die jeug se stem in die openbare domein wil beklemtoon. Besoek Solidariteit Jeug se webblad by www.jeug.co.za vir hulp en raad met jou loopbaan.

As jy tussen 18 en 24 jaar oud is en ʼn meningstuk wil skryf, stuur ʼn e-pos na [email protected] en ons maak graag kontak met jou.  

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

3 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sokrates

Jy is 100% reg, Adriaan Dekker. Die hedendaagse mens het merendeels sy lewegewende en spirituele konneksie met die natuur versaak, en in die proses arrogant geword. Die boeke van die kruie kenners Antoinette Pienaar en oom Johannes Willemse van die Karoo, oor die helende krag van die natuur en medisinale waarde van plante, maar veral hul diep nederig holistiese lewensuitkyk, kom nou by my op met die lees van jou stuk…….dit moet heerlik wees om in jou klas te kan sit, te kan luister na iemand wat wyd en oop dink……

Pieter

Ek ken ‘n prsoon wat die verband tussen die natuur en grondwater wetenskaplik bewys het, maar sy navorsing word vergruis. Dit ontsetel vele spesisliste wat nie wyer wil dink en kyk nie, omdat dit hulle onnosel sal laat voorkom. Hulle weet eintlik niks nie.