Jou stem in verkiesings weeg swaarder as wat jy dink

(Argieffoto: Henk Kruger/African News Agency)

Dit is nou ’n uitgemaakte saak dat die verkiesing wel vanjaar sal plaasvind nadat die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) daarin misluk het om dit tot 2022 uitgestel te kry.

AfriForum het as vriend van die hof toegetree en ons betoog van meet af was dat daar nie ’n regsbeginsel is om die uitstel te regverdig nie. Ons is verheug dat dit tewens só deur die Konstitusionele Hof vertolk is en dat die verkiesing veilig in die lig van Covid-19 kan voortgaan – iets waarvoor die OVK immers voor hierdie uitspraak kennelik gereed was.

Die OVK kan nog die parlement nader om die verkiesing uitgestel te kry, maar dit sal ’n tweederdemeerderheid daar verg en dit is onwaarskynlik dat hulle, in die lig van die algehele onwenslikheid en onlewensvatbaarheid van só ’n proses, dit wel sal doen.

As ons egter ons blik op die kern van die verkiesing werp, naamlik om te stem, is daar interessante tendense wat hulself uitspeel. Volgens navorsing deur Ipsos het slegs 20 miljoen uit die 39 miljoen stemgeregtigde kiesers in 2019 se algemene verkiesing gestem (dus, slegs ʼn bietjie meer as 50%). In beide die 2016 plaaslike verkiesing en 2019 se algemene verkiesing was die stempersentasie laer as in vorige verkiesings.

Die Ipsos-data toon dat die ANC se steun ’n taamlike afname sedert 2019 toon en tussen 2020 en 2021 wys dit ’n vermindering van sowat 15 persentasiepunte vir die regerende party in die komende verkiesing. Die OVK se eie data en ander navorsing toon dat veral die swart jeug (en jeug in die algemeen), maar ook ouer swart mense – juis die mense wat tydens die vorige bedeling van verkiesings uitgesluit is – al hoe minder stem. Ipsos se eie navorsing wys etlike redes uit hoekom mense nie in die komende verkiesing wil stem nie. Dit wissel van ’n gebrek aan belangstelling in plaaslike verkiesings tot armoede en werkloosheid. Dit dui straks in die algemeen daarop dat mense nie dink om te stem ’n verskil aan die kwessies sal maak wat hulle ten nouste raak nie. Dit geld eintlik vir alle etniese en kultuurgroepe.

Sommige respondente het ook aangedui dat hulle vir enigiemand behalwe die ANC sal stem en dit verklaar die daling in die ANC se verwagte steun. Daar kan ook met redelike sekerheid verklaar word dat baie ANC-kiesers wat nie vir ander partye wil stem nie, bloot op stemdag wegbly uit ontevredenheid en in afwagting dat die regerende party “sy sake in orde sal kry” (soos om werk te skep, beter dienste te lewer en minder korrup te wees). Wanneer die ANC weer aan hul verwagtinge sal voldoen, is egter ’n ope vraag; dit kan lank neem, óf nooit gebeur nie. Hierdie tendense, wat al vir etlike jare besig is om neerslag te vind, het daartoe gelei dat die ANC nie slegs in die metro’s hul greep verloor nie, maar ook in etlike landelike munisipaliteite, soos reeds in 2016 gesien.

Hoekom dan nog steeds stem?

Desondanks is hierdie gegewens nie slegte nuus nie. Indien al hoe minder mense stem en boonop minder mense vir die ANC stem, beteken dit die poel kiesers wat wel stem ’n disproporsionele stem uitbring wat baie sterker is as net die een stem wat hulle sou uitbring indien almal in die land wel sou stem. Die groep mense wat wel gaan stem se stemme weeg dus swaarder, sou die hele land se stemgeregtigde kiesers stem.

Dit gee minderhede (wat pro-rata meer getrou stem) ’n groter sê oor die samestelling van hul munisipale rade, veral in plekke wat taamlik bestrede en die politiek meer vloeibaar is. Maak geen fout nie: Daar sal na afloop van hierdie verkiesing weer rade met ’n sekere politieke samestelling wees en hulle sal magte en bevoegdhede hê om besluite oor ons alledaagse bestaan en belastinggeld te maak. Dit sluit die goedkeur van begrotings in en, les bes die aanstel van amptenare, munisipale bestuurders en burgemeesters. Dit is baie beter om meer gematigde, bevoegde en minder korrupte raadslede en amptenare in hierdie posisies as die ANC se kaders en EFF se ontaarde heethoofde te hê.

Ons by AfriForum glo egter nie dat verkiesings en stemmery die aller-oplossing vir munisipaliteite, Afrikaners en ander gemeenskappe asook die land as geheel bied nie. Ons gaan weldra in ons sesde plaaslike verkiesing (en die twaalfde verkiesing in totaal) sedert 1994 stem en steeds gaan die agteruitgang voort. John Steenhuizen, DA-leier, het ook onlangs in ’n toespraak in Potchefstroom erken dat die DA nie dadelik en alleen die probleme kan oplos nie. Hy het burgerlike organisasies soos AfriForum uitgesonder as vennote om die gety te draai.

Ons filosofie van selfbestuur, waar gemeenskappe self begin om sovêr moontlik hul eie plaaslike probleme op te los te midde van ’n verswakte staat, word dan getrou met beter openbare administrasie en groter ruimte om te opereer. In hierdie stadium lê die wortel van die kwaad by die ANC se munisipale besture wat weens eie gewin, korrupsie en kleinlike politiek weier om saam met die burgery te werk om uitdagings die hoof te bied. Die raadgewende ooreenkoms tussen AfriForum en die opposisiebeheerde Modimolle-Mookgophong-munisipaliteit (Nylstroom) in Limpopo is ’n voorbeeld van belowende samewerking wat verder uitgebrei kan word indien die politieke landskap verander – en dit kán as ons bereid is om ons deel te doen.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is die strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

14 Kommentare

jongste oudste gewildste
koos10

Ek sou wou sien dat die wet verander in die sin dat ‘n verkiesing met minder as 60% of 70% mense wat stem, word nie geldig verklaar nie. En mense wat nie gaan stem nie, moet ‘n dag verlof vat, of onbetaalde verlof, of minder grant kry?
Mense gaan gedwing word om die jab te kry, maar ons kan nie mense dwing om hulle reg waarvoor hulle baklei het, af te dwing nie?

B-Man

Slegs mense met belastingnommers en skoon oudits by SARS hoort eintlik stemgeregtig te wees.

Hendrik

Ons stem elke jaar vir ons leiers in ons gemeenskap. Dit is vir my nogal snaaks om elke 5 jaar in beide plaaslike en nasionale verkisings hoe die mense rondskarrel en mekaar uithaal oor hul menings. Demokrasie is nie net gaan stem nie maar om aktief deel te neem aan die besluitneming in jou gemeenskap. Wel dit is maar seker so buite die selfregeer gebiede.

Willem Wikkelspies

Hoekom kry kriminele ook kans om te stem? Dit behoort te wees dat mense wat skuldig bevind word van ‘n misdaad vir die volle tydperk van hulle vonnis (ongeag of hulle parool kry) nie mag stem nie.

Willem Wikkelspies

Die (O)VK was forseer om hulle hand te wys en dit is duidelik dat daar ernstige vrae is oor hulle onafhanklikheid. Dit wil eerder lyk of hulle na die ANC se pype dans.
So hoe vertrou mens die (O)VK om ‘n onpartydige uitslag bekend te maak wat nie eers ge’masseer’ is deur die ANC na hulle wense nie.
Ek staan steeds dat ons ‘demokrasie’ gekaap is, so hoekom stem? Dit maak in elkgeval nie saak nie.