Juandré Kruger – lank leef die koning!

Enkele verrassings is in week twee gelewer waarvan die grootste seker die 50-tal en meer punte is wat die Bulls teen die Cheetahs aangeteken het op laasgenoemde se tuisveld. Sowat van meesterlike voorspelerspel en aanvallende briljantheid is lanklaas by die Bulls opgemerk. Die ses drieë van die Bulls is ook ʼn rekord tot op hede vir die nuwe seisoen. Nog ʼn kenmerk van die Bulls is die ongelooflike verdediging waar die manne nie geskroom het om hulle lywe op die spel te plaas nie. Op een stadium het die Cheetahs 15 fases tussen die kwartlyn en die doellyn opgesit maar deurkomkans was daar nie.

Die arme Cheetahs het heel uit hulle diepte gelyk, daarvan getuig die feit dat die Bulls met 14 man op die veld – en later 13 man – twee drieë teen die een van die Cheetahs kon druk.

Na die tweede wedstryd kan van Juandré Kruger gesê word: “die Koning is dood: lank leef die koning”.

Baie mense het swaarmoedig gevra wat ons sonder Victor Matfield gaan doen – wel, Juandré Kruger het gewys wat gedoen kan word. Verlede Saterdag het hy die Sharks met die kous oor die kop huis toe gestuur en is hy as Man van die Wedstryd aangekondig; en die Saterdag moes die Cheetahs dit ontgeld.

As die eerste twee weke as barometer gebruik kan word is die Bulls beslis die span om dop te hou.

Die Lions het met ʼn skok besef dat daar tog ʼn graadverskil tussen die Curriebeker en die Super 15 is Na die naelskraapse oorwinning verlede week waar hulle met enkele punte teen die Cheetahs gewen het (wat terloops vir 20 minute met 14 man gespeel het), moes die waarskuwingsligte begin flikker het. Die Hurricanes het gewys dat Superrugby daaroor gaan om vir 80 minute en langer rugby te speel en om nooit op te gee nie. Ek is bevrees dat die Lions volgende week in Durban met ʼn begeesterde Sharks-span te doen gaan kry, wat sal poog om hulle Super 15 boot om te draai met ʼn oorwinning op sy tuisveld. Dit sal ʼn tweede neerlaag vir die Lions beteken, wat hulle selfvertroue sal skaad.

Wat die later wedstryde van die RSA-been betref was dit maar ʼn taai, fisiese affêre wat nie eens een drie tot gevolg gehad het nie. Ek weet nog nie of dit goeie verdediging van albei kante was nie of omdat dit bloot ʼn gebrek aan deurdringingsvermoë by albei spanne was nie. Ek glo meer dat dit laasgenoemde was.

Week twee van die superrugbyreeks het nog ʼn verrassing of twee opgelewer Die grootste hiervan was die onverwagse nederlaag van die gevreesde Crusaders teen die Highlanders. Soos reeds gesê lyk die Crusaders sonder Dan Carter en Richie McCaw na ʼn baie gemiddelde span en as hulle die spelpeil nie dramaties gaan verhoog nie wag daar nog baie nederlae op díé eens gevreesde span.
Alle eer aan die Highlanders wat hulle teenstanders voor aangevat en oorwin het en dan die bal wyd gespeel het.

Een van die kenmerke van vanjaar se Super 15 is dat die verdedigingspatrone van al die spanne dramaties verbeter en dat die aanvallende afrigter gedurig daarop bedag moet wees om hulle taktiek te verander.

Die skeidsregters straf sekere aspekte rondom die skrum en die losskrums meedoënloos, maar nog steeds gooi die skrumskakels die bal tydens die skrum onder die slotte se voete in en niemand sien dit raak nie.

Dan het Suid-Afrika se “gunsteling” skeidsregter Bryce Lawrence weer bewys waarom hy die titel as die swakste skeidsregter met soveel oorgawe dra, gelukkig was daar nie ʼn Suid-Afrikaanse span betrokke nie.

Ek sien nog steeds daarna uit om die Bulle in hulle gewraakte pienk truie te sien speel, maar ons sal geduldig op die oorsese reis wag.

Rugbygroete tot volgende week.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Polla Roux

Polla Roux is 'n oud-Westransvaler. Na draaie in die onderwys en korporatiewe wêreld, het hy vroeër vanjaar as Organisasiesekretaris by Solidariteit uitgetree.Hy het net meer as honderd Carlton-wedstryde agter die blad (1966-1976), het vir Noord-Transvaal gespeel en is na Springbokproewe genooi, maar sy loopbaan is deur 'n skouerbesering kortgeknip. Hy het gereeld as eerste liga-skeidsregter opgetree en was vanaf 1995 tot 1998 senior bestuurder by die Noordtransvaalse Rugby-unie en betrokke by die skep van die Bloubul-lied saam met Steve Hofmeyr.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Gemsbok ·

Goeie opsomming van die rugbygebeure. Dankie.

Panem et circenses, manna vir die volk.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.