Julius Caesar, Cyril Ramaphosa en grondhervorming 

piet-le-roux

Piet le Roux die uitvoerende hoof van die Sakeliga. Foto: Morné Prinsloo/Sakeliga Onteieningberaad.

Ondanks die intensiewe aandag wat grondhervorming in Suid-Afrika tans geniet, is daar een feit waarop ons gerus meer gereeld kan let: grondhervorming is allermins ʼn nuwe verskynsel.

Dit deurspek die ganse geskiedenis – maar veral die verbande tussen ons bestaande situasie en die antieke geskiedenis is interessant. Rome en Griekeland, algemeen (heel tereg) die geboorteplekke van die Westerse samelewing geag, het lank met hierdie selfde saak geworstel.

Gegewe die kwesbare status van ons demokrasie, behoort ons dan ook veral onsself toe te skerp op plekke waar grondhervorming en politieke onstuimigheid besonder naby saamgeloop het, soos die opkoms van een van Rome se laaste demokratiese verkose leiers, en een van sy eerste outokrate: Julius Caesar.

Een van Julius Caesar se eerste politiese skuiwe, in 59 v.C., was die instel van ʼn wet op grondhervorming wat groot hoeveelhede grond aan die talle grondlose Romeinse burgers van die tyd belowe het.

Ondanks ernstige prosedurele gebreke, was die wet net doodeenvoudig te gewild onder die laer klasse van Rome om te stuit. Die Romeinse elite het probeer om Caesar se mag te breek maar sy politieke kapitaal – in groot maat te danke aan hierdie beleid – was voldoende om Romeinse konstitusionele beperkinge te oorrompel.

Selfs nadat sy termyn as konsul oor was, kon Caesar die vervolging vir die talle ongerymdhede tydens sy termyn vryspring. Hy het suksesvol, bygestaan deur populisme en geweld, reeds toe begin voorberei vir sy rol in die uiteindelike einde van die Romeinse republiek – en die begin van die outokratiese Keiserryk – in 49 v.C., ʼn skamele tien jaar later.

Grondhervorming was nie die enigste faktor wat gelei het tot die einde van Romeinse demokrasie nie – maar dit was ʼn noodsaaklike komponent daarvan. Dit was ʼn sterk gif in die groter konkoksie wat die Republiek doodgemaak het: ʼn staat wat bemagtig was om grond te konfiskeer – en ʼn outokratiese leier wat daardie grond weer op sy beurt kon ruil vir steun.

Die Suid-Afrikaanse staat en die outokratiese, soms selfs totalitêre ANC, is goed op dreef om ook so ʼn giftige bestanddeel aan te maak.

Wat ons vandag te doen staan, is om te keer dat die geskiedenis homself – al is dit duisende jare later – bloot herhaal. Die goeie nuus is dat die teengif in die kleine reeds sigbaar is: in die opbloei die afgelope paar jaar van ʼn sterk netwerk van burgerlike organisasies wat invloed uitoefen, beskerming bied en alternatiewe daarstel. Ons moet hierdie organisasies – hierdie gemeenskapskrag waartoe elkeen van ons kan bydra – sterker maak as wat die outokrate ooit kan word.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Piet le Roux

Piet le Roux is die uitvoerende hoof en direkteur van die sakeregte-organisasie Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jerry ·

Die goeie nuus is inderdaad dat die teengif werk in n klimaat waar die ANC probeer om die rand weer op te tel ten einde die ekonomie weer op dreef te kry en ook terwyl wetstoepassers, wetstoepassing en die regbank nog onafhanklik van die staat staan. Dit mag egter n totale ander teengif verg wat ontwikkel moet word indien staatskaping en plundering weer herhaal word en daarmee saam die wetstoepassers, wetstoepassing en regbank nie meer onafhanklik van die staat staan nie en waarvan ons die vroee tekens daarvan ook reeds gesien het. Hopelik is die burgerlike organisasies na wie die skrywer verwys, ook daarvoor gerat, anders mag die geskiedenis inderwaarheid homself bloot herhaal!

Paul ·

Piet, dit is hoekom Cyril jou nie saam Davos toe gevat het nie.

John ·

Die probleem van ‘n ou met twee tonge is dat die giftigste een die ander een oorheers. Die ANC glo vas Mandela se beeld het in die buiteland se brein vasgeslaan en ingebed geraak sodat Cyril se ” We are the darling of the world”-idee for ever after geld. Soos in Zim, gaan die ‘volk’ die oorhand neem en ‘omdat ons so verontreg is’ moet ons plase inval. En wat kan die prez dan doen.. aai tog…

Gert ·

Ongeag hoeveel keer in die geskiedenis dit gebeur het, dit bly verkeerd en diefstal, en die gevolge is altyd dieselfde: ineenstorting van die hele samelewing.

H ·

Ek stem Gert, en ons weet almal hoe die ANC omgaan met die geskiedenis; slegs hulle weergawe is korrek, maak nie saak of enige feite of bewyse dit weerlê nie…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.