Junie is ’n herinnering en wekroep vir positiewe verandering

bonne-plastiek-herwin

Bonné by hope plastiek wat herwin word. Foto: Verskaf.

Junie is ʼn spesiale maand. Daar is ʼn merkbare verandering in klimaat soos die winter naderkruip. Verby is die dae van dou en ons word vroegoggend begroet met ryp in ons tuine. Ons sukkel om warm te bly, so die laaste ding waaraan ons dink, is die natuurlike omgewing.

Maar Junie word wêreldwyd opgedra aan die omgewing, so ons het nie eintlik ʼn keuse anders as om aandag te skenk nie. Ons het Wêreldomgewingsdag en Wêreldoseanedag, sowel as ʼn Wêrelddag vir bewusmaking teen verwoestyning en droogte. Alles in een maand!  So om na Junie as Wêreldomgewingsmaand te verwys, is dus heel gepas.

Vanjaar se tema is “Wen die oorlog teen plastiekbesoedeling” en daar word ʼn donker prentjie in die media hieroor geskets. Wetenskaplikes meen ons verdrink in die gemors met agt miljard ton plastiek wat op aarde is. Die oseane snak na asem en teen 2050 sal daar meer plastiek as visse in die see wees. Stel jouself voor.

Gegewe my beroep as ʼn omgewingsjoernalis, was ek seker altyd in ʼn mate bewus van die impak van plastiek, maar dit was spesifiek tydens ʼn storie wat ek vir die nasionale uitsaaier gedoen het waar my oë werklik oopgegaan het.

ʼn Seeskilpad het op die strand uitgespoel en ʼn groep marinebioloë het besluit om ʼn nadoodse ondersoek uit te voer om die oorsaak na te speur. Toe hulle die skilpad se maag oopsny, was die eerste ding wat ek gesien het, ʼn plastieksak gevolg deur ʼn bottelprop en toe ʼn ballon. Nie wat jy verwag om binne ʼn inwoner van die see te kry nie, maar jellievis, plastieksakke en ballonne lyk alles soos kos vir ʼn honger seeskilpad. En selfs al kon hulle die verskil uitken, as hulle eers ʼn hap gevat het, kan hulle dit nie uitspoeg nie as gevolg van hul stekelrige keel. Hul kele is oortrek met doringagtige uitsteeksels wat tot in hul mae gaan om hulle te beskerm teen jellievisstertjies, ʼn indrukwekkende aanpassing vir sulke gevaarlike kos! En natuurlik kan ek nie anders as om renosters te betrek nie… hierdie uitsteeksels bestaan uit keratin, dieselfde proteïne in ons hare en naels en natuurlik in renosterhoring.

Dit gaan egter nie net oor die diere nie, maar oor die feit dat ʼn behoorlike funksionerende oseaan van kardinale belang is vir ons, die mens, se oorlewing. Die asemteug wat jy op hierdie oomblik neem, kom direk van die oseaan af. Met die oseaan wat 70% van die wêreld se suurstof verskaf, is daar suurstof van oseaanplante in elke asemteug. Ek weet dit is genoeg statistieke om ons vir ʼn hele ruk teen die planke te hou. Maar dit is duidelik dat ons ons aksies moet verander, nie net vir lewe onder die seevlak nie, maar vir ons eie ook.

As ons na die geskiedenis kyk, 18 jaar gelede en ook in Junie, het die ergste omgewingsramp ons kuslyn hier in Suid-Afrika getref. Dit was die MV Treasure-olieramp waar 400 ton olie in die see gestort is en die wêreld se grootste Afrika-pikkewynkolonie bedreig het. Dit het egter terselfdertyd ook gelei tot die grootste voëlreddingspoging wat nog ooit van stapel gestuur is. Vrywilligers het van wyd en syd gekom om te help en 90% van die oliebesmeerde voëls is gerehabiliteer en weer vrygelaat. Wat ʼn ongelooflike storie om iets tragies in iets positiefs te omskep!

Nog ʼn groot ommekeer, waarskynlik die grootste van almal, is die gat in die osoonlaag. Die voormalige Amerikaanse presidentskandidaat en omgewingskampvegter, Al Gore, reken dit is die rede hoekom ons ʼn positiewe invloed en selfs totale ommekeer aan klimaatsverandering kan maak in sy dokumentêre rolprent An Inconvenient Truth.

bonne-herwinblikke-sunset-strand

Bonné meen herwinning kan ook help om die golf van plastiekbesoedeling te stuit. Foto: Verskaf.

Beide suksesstories het al verskeie dekades terug gebeur, maar dit is belangrik om te weet dat albei gewerk het omdat mense saamgestaan het. Hetsy in die vorm van vrywilligers soos in die geval van die MV Treasure-olieramp of in die vorm van lande en maatskappye wat chemikalieë in yskaste, lugversorgers en spuitkannetjies uitgefaseer het. As ons dus na ons welslae in hierdie twee gevalle kyk, kan ons sekerlik dieselfde met plastiek doen.

Ek voel altyd oorweldig en baie keer skuldig as ek die lang lyste lees van hoe om ʼn beter lewe te leef ter wille van die planeet. Dit is oorweldigend en op die ou end implementeer ek niks, net voorstelle. Tog, my voorstelle is eenvoudig en doenbaar, want selfs ek doen dit!

Plastiek is deel van ons daaglikse lewe en ek dink dit is onrealisties om te verwag dat ons heeltemal daarsonder kan klaarkom, maar ons kan definitief kies om die kraantjie toe te draai vir enkelgebruikplastiek. Ek is seker die meeste van ons is gemaklik daarmee om plastiek te koop en dit te gebruik omdat dit herwinbaar is, maar wat ons moet besef, is dat nie alle plastiek herwinbaar is nie. Indien ons dus nie daarsonder kan klaarkom nie, moet ons dit soveel kere as moontlik gebruik voordat ons dit weggooi.

Strooitjies is op die oomblik in die spervuur… selfs koningin Elizabeth het dit verban. En dit maak sin, want hulle word een keer gebruik. Daar is bamboes-opsies, maar as ek eerlik moet wees, gaan dit vir my moeilik wees om dit saam te dra, te was en te onthou vir my volgende skommeldrankie by die gim. Ek kies eerder my glasfles om gim toe te neem en drink my skommeldrankie of water daaruit.

Nog iets waarvan ons almal bewus moet wees, en moet verander hoe ons dit gebruik, is plastieksakke. Ek het voorheen hiervoor betaal as ek gaan inkopies doen het en om myself beter te laat voel, dit gewas en weer gebruik vir iets anders. Maar toe ontdek ek, soos baie ander, die herwinbare sakke wat gerieflik by kasregisters verkoop word – ek het nou ʼn hele versameling daarvan, die meeste met natuurtemas!

Hierdie voorstelle mag dalk nie na veel klink nie, en dit voel altyd of ons handomkeer moet verander om na die planeet om te sien, maar elke bietjie help. En wie weet, jy mag dit dalk net geniet en hierdie wenke verder as net Junie vat.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

2 Kommentare

Lapland ·

Die omgewing is baie belangrik, dis ons en ons nageslag se enigste blyplek. Ongelukkig is ons nou so gebombardeer met uitdagings net om te oorleef gewegemoordadige misdaad, ekonomiese probleme, politieke scapegoating, dat ons almal nie aan die omgewing die nodige prioriteit gee nie.

PC ·

Die kernrede agter plastiekbesoedeling en amper alle ander vorms van besoedeling en omgewingsprobleme is bevolkingsaanwas. Dit is polities inkorrek om enige land daaroor aan te spreek, dan is jy mos n rassis of diskrimineer teen hulle menseregte. Die lande wat wel hulle bevolkingsgroei intoom hou en hulle natuurlike hulpbronne oppas kan nie die vrugte oor die langtermyn dra daarvan nie want hulle moet mos polities korrek wees deur om immigrante van lande wie se bevolkings oorgroei in te neem. So vernietig polities korrektheid die omgewing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.