Met Menseregtedag wat onlangs herdenk is, is dit belangrik om weer na die Handves van Regte te kyk. Dit laat onmiddellik die gedagtes spring na die onlangse veldtog deur die Nelson Mandela-stigting om die openbare vertoon van die voormalige republiekvlag te verbied. Die stigting voer aan dat die vlag deur sommige as beledigend ervaar kan word. As daar na die Handves van Regte in die Grondwet gekyk word, sal jy sien dat Suid-Afrikaners oor verskeie regte beskik. Jy het die reg om nie gemartel te word nie, nie aan slawerny onderwerp te word nie en om nie sonder ʼn verhoor aangehou te word nie. Daar is niks in die Handves van Regte wat jou teen beledigings beskerm nie.
Plaaslik en internasionaal het daar ʼn kultuur van fyngevoeligheid ontwikkel. Dit het só erg geword dat verskeie Amerikaanse en Kanadese universiteite selfs al so ver gaan om universiteitsdosente deur studente te laat voorskryf hoe hulle aangespreek moet word. Die tradisionele meneer en mevrou is blykbaar nie omvattend genoeg om as aanspreekvorme te dien nie. By Suid-Afrikaanse universiteite word die taalbeleid deur politieke retoriek bepaal. Ook net omdat universiteitsbesture ʼn skielike skuldgevoel ontwikkel wanneer hulle deur studente van wit bevoorregting beskuldig word.
Die kultuur van oordrewe politieke korrektheid is grootliks veroorsaak deur ʼn gebrek aan robuuste debat. Daar is ʼn oormatige sensitiwiteit om nie iets te sê wat iemand dalk kan ontstel nie. Moet tog net nie verwys na die positiewe bydrae wat Afrikaners voor 1994 gelewer het nie, moet asseblief nie sê dat jy nie wit-bevoorregting geniet nie en moet wraggies nie noem dat jy verkies om in Afrikaans onderrig te word nie. In plaas van reguit praat en mekaar se standpunte uitluister, het ons sedert 1994 ʼn omgewing geskep van suutjies trap sodat ons mekaar nie ontstel nie. Geen wonder dat ons 24 jaar later wakker skrik en tot die besef kom dat daar uiteenlopende standpunte oor geskiedenis en grondbesit bestaan nie.
Evelyn Beatrice Hall is bekend vir die biografie wat sy oor die Franse filosoof, Voltaire geskryf het. In ʼn latere publikasie getiteld Friends of Voltaire, neem sy die volgende standpunt in: “Ek stem nie saam met dit wat jy sê nie, maar sal jou reg om dit te sê, tot die dood toe verdedig.” Dit is eerder die tipe standpunt wat politieke partye en organisasies moet inneem sodat robuuste debat bevorder word en die klimaat van drakoniese politieke korrektheid beveg. Die Grondwet is daar om jou regte te beskerm. Nie jou gevoelens nie.
- Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.
Amen.
Gevoelens van swartmense is duidellik een van daardie ongeskrewe regte wat wel beskerming geniet in die breer SA se samelewing agv die onreg van die verlede as gerieflike verskoning en om die vooroordeel teenoor witmense uit te buit. Dit het ongelukkig die norm in SA geraak en ons moet nou maar daarmee saamleef omrede daar nie veel is wat gedoen kan word om dit te verander nie.
Alhoewel hierdie 100% waar en reg is, is dit gebaseer op die aanname dat vrye spraak en robuuste debat ‘n goeie ding is. Dit is, natuurlik, maar gewoonlik nie vir diegene wat magsposisies beklee nie. Ongelukkig is daar baie meer redes vir magtiges om oneerlik te wees, as om goeie en redelike beginsels na te streef. Veral in ‘n politiese omgewing soos die wat in Suid-Afrika geskep is.
dit geld asb vir almal nie net die wittes nie. Dankie