Jy is Dawid

ian-cameron-2018-03-19

Ian Cameron. Foto: Verskaf.

Deur Ian Cameron

Josie King het pas geleer sê “Ek is lief vir jou”, maar het op 18 maande in ’n bad met warm water geval en is ernstig beseer.

Wonder bo wonder het Josie baie vinnig begin herstel en tot haar ouers se verligting kon sy gou na ’n normale kindersaal geskuif word. Josie se ma het ná ’n paar dae gevoel dat iets nie reg is nie omdat sy elke keer wanneer sy water sien, só smag na die water, dat sy histeries geskree het. Een middag word Josie gebad en terwyl die verpleegster en haar ma haar versigtig was, suig Josie met alle krag die water uit ’n nat waslap. Josie se ma het die suster gesmeek dat Josie iets moes kry om te drink, maar die suster het verduidelik dat alles oukei is en dat dit normale gedrag is. Josie King is 2 dae voor haar ontslag, dood van dehidrasie.

Ene dr. Berwick het instruksie gegee aan verskeie medici om elk van die vorige 50 gevalle waar pasiënte beswyk het aan “beserings” en “siektes” in hul hospitale te heropen en te ondersoek. Daar het talle Josie King-insidente aan die lig gekom wat aangedui het dat die pasiënte nie noodwendig aan hul besering of siektes gesterf het nie, maar doodeenvoudig weens wanpraktyke oorlede is.

Hoekom deel ek hierdie ware verhaal en hoekom is jy “Dawid”?

Ek besef daagliks dat die tempo waarteen die wiele afkom in sekere dele van Suid-Afrika, nie gaan verander met die ophaal van ’n skouer of deur geen aandag te gee nie. Josie King se dors is geïgnoreer en, alhoewel sy vir ’n kort tydjie oorleef het, het sy stadig maar seker so verswak dat sy oorlede is. Almal het “aandag gegee” aan Josie, maar min is werklik gedoen om die oorsaak van haar probleem te vind en te behandel. Alhoewel Josie se ma gesmeek het vir hulp, gesmeek het vir water, moes sy telkens hoor, “Dit gaan oukei wees, dit is normaal”. Klink dit bekend?

Ralph Waldo Emerson het gesê, “Wie kan ’n beperking op die invloed van ’n mens plaas?” Is dit nie juis so dat ons onsself beperk en nie soos Dawid glo dat ons Goliat kan verslaan nie? Verandering moet onvermydelik gemaak word vir elke mens in jou gemeenskap wat die geleentheid kry om ’n nuwe werklikheid te skep – daardie persoon is Dawid.

Tydens ’n onlangse gesprek met Ben Freeth, boer van Zimbabwe wat alles behalwe sy geloof verloor het onder die diktatorskap van Mugabe, sê hy vir my dat hy oral rondom hom gehoor het hoe mense sê, “Dit gaan oukei wees, hierdie is net politieke praatjies, dit is normaal”.

Klink dit bekend? Ek voel ons moet besef dat die bedreiging ’n werklikheid is.

Party mense sou meen dat dit nie reg is om Zimbabwe en die huidige bedreigings in Suid-Afrika te vergelyk met dit wat Winston Churchill oor Adolf Hitler in die Tweede Wêreldoorlog gesê het nie. Churchill het eenvoudig gesê dat hy glo wat Hitler sê hy gaan doen, en dat indien dit nie gebeur nie, dit ’n bonus is. Hy moes egter gemeenskappe organiseer om met orde en sonder paniek hulself te kon beskerm. Dit beteken nie dat mense in ’n onverpoosde paniekerige toestand moet  lewe en slegs blikkieskos bymekaarmaak nie. Nee, dit beteken wel dat ons moet aanhou organiseer.

Die Hermanus-, Coligny- en Overvaal-debakels beskryf presies die dubbele strategie waarvolgens ons moet werk om te kan bou. Om Dawid te kan wees. Toe geweld voor die Hoërskool Overvaal uitbreek, kon kinders aangaan met hul skoolaktiwiteite met min of geen ontwrigting nie. Dit was nie weens terugsit en sê, “Dit gaan oukei wees, hierdie is politieke praatjies, dit is normaal” nie, maar weens ’n gemeenskap wat kon organiseer.

Presies hierdie sinergie het gesneeubal in Hermanus toe duisende die walvisdorp onder beleg probeer neem het. ’n Gemeenskap wat gewillig was en steeds is, om saam met owerhede te werk, maar nie ten koste van hulself en hul kinders se toekoms die verantwoordelikheid oorgelaat het aan die owerhede nie. Dít is ’n Dawid-gemeenskap.

Het die Dawids van die enkele drie insidente, katastrofes gerapporteer? Nee, hulle het soos Generaal Mad Dog Mattis, die traumatiese ervaring in ’n groeiervaring verander. Só vorm ons in ’n moeilike tyd selfstandige vennootskappe. Ons werk saam, maar daar waar ander nie wil saamwerk nie, gaan ons aan met die hernuwing van denke en bouwerk.

Leif Babin skryf in Extreme Ownership dat elke leier (en hier van toepassing op ’n georganiseerde gemeenskap) sewe basiese take moet voltooi om vorentoe te gaan en Dawid te kan wees.

  1. Evalueer jou hoogste prioriteit;
  2. Beskryf eenvoudig, duidelik en presies wat die hoogste prioriteit is;
  3. Ontwikkel en bepaal ’n oplossing, betrek sterk leiers en die gemeenskap;
  4. Delegeer en koördineer die uitvoering van die oplossing, bewerkstellig totale eenheid van poging;
  5. Identifiseer die vogende prioriteit en herhaal bogenoemde;
  6. Soos prioriteite verander, maak seker die leiers en gemeenskap dra kennis; en
  7. Voorkom dat een prioriteit ontaard in teikenfiksasie, onderhou die vermoë om ander uitdagings raak te sien en daarvolgens aan te pas.

Babin skryf verder dat ons elkeen verantwoordelikheid moet neem om mense te lei in ons gemeenskap.

Onthou, jy is Dawid.

  • Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

Rasper ·

Ek waardeer sulke skrywes. Maar die Afrikaners se ondergang, gaan sy eie skuld wees. Ons weier om die realiteit te sien. Ek moet gereeld hoor, “alles gaan OK wees.” Praat ons oor grondonteiening, moet ek hoor, “dit sal die grootste fout wees. Dit sal nie toegelaat word nie.” Praat ons oor die NHI, moet ek hoor, ” die privaat sektor is te sterk.” As mens praat oor emigrasie, moet ek hoor, “word kultureel vry. ‘n Mens is so vry as wat ‘n mens voel.” Ek is seker baie mense in tronke dink dieselfde, net om deur die dag te kom. Die enigste oplossing is ‘n onafhanklike grondgebied, of gebiede, wat gevat word, as dit nie gegee kan word nie. Ek besef daar kan nie 10 wimpy’s in ‘n plek soos Orania wees nie, maar dit is van die ekonomiese uitdagings waarvoor daar oplossing gedink moet word. Hou op om oplossing te soek binne ‘n Suid-Afrika soos hy tans staan. Want dan is jy net soos enige ander persoon wat sê, “toemaar, dit is net tydelik, die volgende president verstaan hopelik….” Ons as Afrikaners moet onafhanklik kom in elke opsig. Vir dit moet ons energie, tyd en geld gaan. Sonder dit, gaan mense in hulle hordes emigreer, veral as dit slegter word, en ander lande dit maklik gaan maak a.g.v die regereing se beleid. Die res gaan hier agterbly, en verarm. Dit is waar kulturele selfbeskikking ons gaan kry.

Rasper ·

Ek waardeer sulke skrywes. Maar die Afrikaners se ondergang, gaan sy eie skuld wees. Ons weier om die realiteit te sien. Ek moet gereeld hoor, “alles gaan OK wees.” Praat ons oor grondonteiening, moet ek hoor, “dit sal die grootste fout wees. Dit sal nie toegelaat word nie.” Praat ons oor die NHI, moet ek hoor, ” die privaat sektor is te sterk.” As mens praat oor emigrasie, moet ek hoor, “word kultureel vry. ‘n Mens is so vry as wat ‘n mens voel.” Ek is seker baie mense in tronke dink dieselfde, net om deur die dag te kom. Die enigste oplossing is ‘n onafhanklike grondgebied, of gebiede, wat gevat word, as dit nie gegee kan word nie. Ek besef daar kan nie 10 wimpy’s in ‘n plek soos Orania wees nie, maar dit is van die ekonomiese uitdagings waarvoor daar oplossing gedink moet word. Hou op om oplossing te soek binne ‘n Suid-Afrika soos hy tans staan. Want dan is jy net soos enige ander persoon wat sê, “toemaar, dit is net tydelik, die volgende president verstaan hopelik….” Ons as Afrikaners moet onafhanklik kom in elke opsig. Vir dit moet ons energie, tyd en geld gaan. Sonder dit, gaan mense in hulle hordes emigreer, veral as dit slegter word, en ander lande dit maklik gaan maak a.g.v die regereing se beleid. Die res gaan hier agterbly, en verarm. Dit is waar kulturele selfbeskikking ons gaan kry.

Eish ·

” Só vorm ons in n moeilike tyd selfstandige vennootskappe. Ons werk saam…”
Grondonteiening sonder vergoeding is oppad.
Geleenthede vir Afrikaansprekende Kaukasiërs vermider eksponensieël.
Die oppergesag van die reg gaan in toenemende mate n politieke agenda dien.
Geweld, misdaad en korrupsie gaan nie uitgeroei word nie.
Omgekeerde rassisme neem toe in velheid.
Ons gaan n verskerpte aanslag op skole en tersiêre inrigtings beleef.
Die privaatsektor gaan in toenemende mate lamgelê word deur stakings en antiwit wetgewing.
Bowenal gaan ons Christelike waardes, etos en geloof aangeval en gekriminaliseer word.
Dit het dalk tyd geword dat jul die volle omvang van die aanslag teen al wat wit is deeglik omskryf.
Dit het dalk ook tyd geword dat n enkele koördinerende organisasie op die been gebring word uit die vele wat ons minderheid verteenwoordig, ten einde meer doelmatig die aanslag die hoof te bied en te onderhandel vir selfbeskikking.
Landbouorganisasies, Instituut vir rasseverhoudings, Solidariteit, Afri ( of is dit nou afro) Forum ensovoorts kan uit een mond praat en kundigheid baie meer produktief aanwend deur saam te werk.
Die enigste plek waar ons, ons waardes kan uitleef, is in n eie gebied.
Integrasie kon nog nooit, nêrens ter wêreld suksesvol bestuur word nie.
Blankes verarm teen 7500 mense per jaar. Daar is reeds baie meer as 500 000 sonder hoop op straat.
Die tyd loop uit en ons kan eenvoudig nie die heeltyd reaktief optree nie.
Stig n verenigde front en begin proaktief optree.
Die tyd loop uit.

ZAR ·

Eish, daar is nie so iets soos omgekeerde rassisme nie, dis populistiese praatjies wat so met jou kop smokkel. Daar is net rassisme en rassiste. Dit kan nie omgekeer word nie, enige ras, klas of kultuur kan daarvan beskuldig word. As jy sê daar is omgekeerde rassisme is dit asof jy sê net witmense kan rassiste wees en nou is dit ewe skielik andersom, asof so iets nog nooit bestaan het nie(dis wat die hoofstroom media mense wil laat glo). Ons weet uit ons verlede sowel as in die hede dat dit nie die waarheid is nie. ‘n Rassis kom in alle kleure voor.

1+1 ·

Ons soek nie ‘n koning soos Israel nie, ons het ‘n Koning. Die ware kerk wat ‘n profetiese stem moet wees is baie stil oor die wat reg en geregtigheid verkrag.

Eish ·

Dankie vir die reghelp ZAR.
Natuurlik is jy in die kol met jou verduideliking.

John ·

… al die ysters, waarin? Ons eie kis? Die skrywe praat waar… behalwe dat ons nie in die dae van die Ossewa Brandwag leef met witmense wat saamwoon en leiers wat soek vir rigting en ondersteuning nie. Ek kan prioriteite lys en in goud raam. Die realiteit wis alles uit met die Afrikaners juis sonder mondstuk en leierskorps. AngloForum ploeter en preek. Solidariteit is bloot ‘n unie vir almal wat aan wil sluit; wat bloot net op nog ‘n SA vol bankhandbeswaardes nou weer terug op die Afrikanertrein. Orania is nie ‘n republiek nie en die Wes-Kaap is meer rasgemeng as elders in die land. Te laat vir trane, is die naam van my nuwe boek, binnekort op die rakke. Al die dwase aksies van die Afrikaners sedert 1980 is daarin vervat: Mylpale na die afgrond. En om nou langs die groot gat te wil uitspan is bietjie laat. Daar is ‘n lang lys van name van Afrikaners wat voor ‘n vuurpeloton hoort.

Casper Labuschagne ·

Ek word omring deur mense wat sê dat daar nie probleme sal wees nie. Die megaboere vanaf Kroonstad deur Viljoenskroon tot Bothaville is in hul noppies oor onteiening omdat hulle meer glo grond beskikbaar gaan hê na onteiening en boonop teenoor ‘n laer koste, juis omdat dit hulle is wat voedselsekerheid sal verskaf. Die sakemanne vertel hoeveel sakke vol geld hulle maak om goedere aan die swart gemeenskap te verkoop. Die deursnee salaristrekker is klaarblyklik net besorg oor Saterdag se groot braai en of die Bokke die naweek die mas gaan opkom en as die Bokke nie speel nie dan skreeu die mans vir die Cheetahs en die Evasgeslag deur die bank vir die Sharks, maar ek vermoed dit is eintlik bloot omdat die swart truie van die Sharks by amper enige uitrusting pas.

Probleme? Watse probleme, die slim mense in hierdie dorp sê almal daar is nie ‘n kans vir die spookstories van onteiening nie, hulle bly positief en per slot van sake stem hulle ook almal DA want dit is mos die DA wat Suid Afrika uit die kake van die ANC gaan red.

Klaarblyklik is dit net ek in hierdie dorp wat so negatief is…

Mrs H ·

Bou jou ark Noag! Casper, ek stem saam met jou. Noag was ook bespot met sy ark. Niemand het na sy waarskuwing geluister nie. Die waarheid was vir daardie mense dalk net te ondenkbaar, soos in SA vandag! Afrikaners het nodig om n “ark” te bou, en ek hoop die ark se naam is “Eendraght”?! Ons alleen ouers met klein kindertjies, kyk uit vir ons “movers & shakers”… In Jesus se Naam. Mag ons die klomp Afrikaanse Dawid-mense VANDAG ontmoet? Golliat kom nader, en die grond begin dreun, maar ek glo dat ons met kalmte binne ons sal oorwin sonder vrees, want die Dawids kom met n plan en is gestuur.

Eerste prioriteit is... ·

Die eerste prioriteit moet nou selfbeskikking wees, dan eers gaan ons vorentoe kan beweeg.

1+1 ·

Ek het uit die politiek van ons land een ding geleer en dit is “dat die’ wat baie het om te verloor, meer planne maak om te red wat daar te redde is, as die’ wat niks het om te verloor nie. Gevaarlike situasie want die EFF buit hierdie omstandighede uit en vergader al hoe meer mense rondom hom.

Maak ek ‘n denkfout as ek dit se?

Pietverdriet ·

Ek pleit by ons Afrikaanse leiers wat die middele en kapasiteit het om dringend voor 2019 se verkiesing te groepeer en ñ forum te stig wat die mening en ondersteuning van die ‘Europese immegrante’ te toets en aksies te mobiliseer wat selfbeskikking kan orkestreer. Hulle wat reken ons sal nie trek nie…….moet hulleself net afvra wat die gevolg sou wees as ñ spesifieke gebied bv. Wes/Noord Kaap, Australië of NZ was! Hoeveel mense sou dan skielik genoeg geld en moed gehad het om te ’emmigreer’! Indien ons leiers hierdie hoop vir ons kan beding sal hulle dalk verbaas wees oor die reaksie en ondersteuning wat sal oop bars.
Al wat ons wil sien is een advertensie wat onderaan staan – ‘Geborg deur VF+, Solidariteit, Afriforum, Afrisake, ens, ens.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.