Jy mag die Here jou God nie versoek nie

gebed-03

Foto: Pixabay.com

Deur Schalk Strauss

Dit is al weer sulke tyd: Suid-Afrika se geestelike honger massas het ’n behoefte na die volgende opkikker vir die siel – ’n massa-gebedsgeleentheid. Hierdie keer word dit vir 24 Maart by Mitchells Plain in Kaapstad beplan. Verlede maand het koerantopskrifte die geleentheid aangekondig met: God is kwaad vir Kaapstad. In ’n video word gelowiges van oor die hele land opgeroep om hierdie geleentheid by te woon en selfs aangemoedig om sommer ook hul sambrele saam te bring. Die sondes van Kaapstad moet bely word, dan sal God dit laat reën. Die droogte word dus as die oordeel van God beleef.

Wanneer die teologiese onderstrominge van oproepe soos hier ontleed word, is dit duidelik dat die voorveronderstelling van God wat volgens die reëls van die vergeldingsteologie optree, as vertrekpunt geneem word. Soos in die geval van Job se vriende word daar dan geredeneer dat daar noodwendig ’n direkte verband is tussen iets soos rampe/teëspoed en die mens se optrede hier op aarde. As die mens goed leef en aan God gehoorsaam is, kan seën verwag word, maar ongehoorsaamheid lei tot God se straf en sy oordeel wat Hy soms ook in die vorm van natuurrampe soos groot droogtes in sy grimmigheid uitgiet. Wie hierdie argument konsekwent deurvoer, moet uiteindelik erken dat God se soewereiniteit in gedrang kom, aangesien sy optrede ten diepste gesien word as ’n direkte gevolg van of reaksie op die mens se optrede.

Só ’n teologie laat egter geweldig baie vrae. Dat sonde dikwels hoogty vier in ’n stad soos Kaapstad, kan nie ontken word nie, maar is die omvang van Kaapstad se inwoners se sondes dan groter as byvoorbeeld dié van Pretoria of Johannesburg se inwoners? Of daardie agttien op wie die toring van Silóam geval en hulle gedood het — dink julle dat hulle meer skuldig was as al die mense wat in Jerusalem woon? (Lk. 13:4) Waarom tref God se straf/oordeel dan nie ook ander goddelose wêreldstede/lande/volke nie? Dalk is die gedagte dat Kaapstad met stede soos Ninevé of Sodom en Gomorra vergelyk moet word. Die vraag is dan: Moet ons nou tot die gevolgtrekking kom dat ál die inwoners van Kaapstad goddeloos is en dus onder die oordeel van God staan soos dit die geval met Ninevé was?

Of vergelyk ons Kaapstad met Sodom en Gomorra? Wanneer Abraham vir God vra of Hy steeds sy oordeel oor die stad sal voltrek selfs as daar net tien regverdiges in die stad gevind word, antwoord God: Ek sal dit ter wille van die tien nie verwoes nie (Gén. 18:32). Hieruit is dit duidelik dat God sy kinders anders as die goddeloses hanteer. Wanneer ons konsekwent met hierdie toepassing is, dan moet ons op grond van die koerantopskrifte tot die gevolgtrekking kom dat daar blykbaar nie eens tien regverdiges in die Kaapstad is nie, óf ons moet tot die gevolgtrekking kom dat God Hom in die geval van Kaapstad nie eens steur aan die regverdiges wat daar wel in die stad mag wees wanneer Hy sy oordeel loslaat nie. Indien laasgenoemde waar is, moet ons aanvaar dat God sommige van sy kinders ’n deel van die straf op hulle sondes laat dra? Is die straf van God se kinders dan nie volledig deur Jesus Christus aan die kruis op Gólgota gedra nie?

Wanneer ons toelaat dat ons nadenke oor God deur ’n onderliggende vergeldingsteologie beheers word, het dit ook ’n invloed op hoe ons oor dinge soos verootmoediging dink. Verootmoediging was nog altyd ’n integrale deel van die Christelike erediens. Gelowiges kry weekliks geleentheid om hulle voor God te verootmoedig ná die aanhoor van sy wet. Hierop volg God se genadewoord van vryspraak waarin Hy gelowiges wat deur Jesus Christus hulle toevlug tot Hom neem, van sondevergifnis verseker. Wie egter sy geestelike lewe volgens die beginsels van die vergeldingsteologie inrig, vind nie berusting in God se vryspraak tydens die erediens nie, maar eerder in sy eie optrede. Vandaar die behoefte na meer – amper soos ’n kind wat voel hy moet ekstra klasse neem omdat hy van mening is dat die onderwyser se vermoë onvoldoende is.

Terselfdertyd moet ons ook vra of liturgiese voorgangers in hulle hantering van die liturgie, in besonder die element van verootmoediging, genoeg doen om die belangrikheid en noodsaaklikheid daarvan te beklemtoon? Rammel ons nie te maklik die liturgiese momente af sodat die impak daarvan verlore gaan nie? Erger nog, is ons mense se behoefte na verootmoediging nie dalk ’n gevolg daarvan dat verootmoediging in baie kerke nie meer deel van die liturgie uitmaak nie?

Uiteindelik is ’n duidelike verstaan van die erediens en die soenverdienste van Jesus Christus noodsaaklik. Daarsonder loop ons die gevaar om God deur ons massa-verootmoedigingsaksies te versoek. Toe Satan die Here Jesus uitgedaag het om van die tempel se dak af te spring om uit te vind of God inderdaad sy engele aangaande Hom opdrag sal gee, was dit ten diepste ’n versoeking om die betroubaarheid van God se beloftes in twyfel te trek. Satan se voorveronderstelling was dat God nie betroubaar is nie en daarom getoets moes word.

Tydens die erediens ontvang gelowiges hierdie Goddelike belofte in antwoord op hul verootmoediging: Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie, en: So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons (Ps. 103:10,12). Wie dit hoor, maar steeds insinueer dat massa-verootmoediging die enigste manier tot ware vryspraak is, spreek nie net twyfel uit in die egtheid van God se beloftes tydens die erediens nie, maar erken ten diepste dat God met sy kinders na húlle dade en nie na Christus se dade nie, handel.

Wanneer egter vanuit ’n teologie van genade oor hierdie dinge geredeneer word, m.a.w. dat God nie met sy kinders na húlle dade handel nie, maar na Christus se dade, sal verootmoediging tydens die erediens baie meer prominent wees as enige verootmoediging op Mitchells Plain of selfs by die Voortrekkermonument. Dit sal nie ’n aksie wees wat as soenoffer aangebied word nie, maar eerder een wat opnuut aan die Soenoffer vasgryp!

  • Ds. Schalk Strauss is die redakteur van Die Boodskapper, ‘n publikasie van die AP Kerk. Hierdie artikel is oorgeneem en aangepas uit die Maart-uitgawe van Die Boodskapper.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

11 Kommentare

Jerry ·

Ds. Schalk baie mooi verwoord en aangehaal. Hopelik is hier vir jou stof tot nadenke. Jesus Christus het die wereld kom belig met die waarheid. So het hy byvoorbeeld die foute van die profete (mense geinspireer deur God se werke) kom regstel. Hy het Abraham, die vader van die gelowiges se besnydenis verander na die doop sodat dit vir seuns en dogters geld om gereinig te word. Jesus het ook gese dat God straf nie mense nie, hulle eie boosheid straf hulle en in God se volk se geval, hulle eie ongehoorsaamheid. Dus beteken dit dat ons deur ons eie toedoen van kwaad doen gestraf word of goed doen nie gestraf word. Mense brand mense, nie God nie. Natuurrampe maak mense dood wat hulle nie aan die natuur se waarskuwings steur nie, nie God nie. God het die skepping gemaak en God se skepping het wette wat as jy dit nie nakom nie dan straf jou ongehoorsaamheid jou. Ek hoop dit is duidellik genoeg! Volg Jesus met wie die heilige gees was, se wee, dan sal jy nie God se skeppingsopdragte en wette oortree nie. Die punt is, ons straf onsself!

Spook ·

Mense brand mense nie god nie?Het jy al Lev 27 vers 28 en 29 gelees?

Eish ·

Hy is nie n mens dat Hy van gedagte sal verander nie. Hy is dieselfde gister, vandag en more.

Ek neem vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle; die lewe en die dood, die seën en die vloek het ek jou voorgehou. Kies dan die lewe, dat jy kan lewe, jy en jou nageslag,
DEUTERONÓMIUM 30:19 AFR53
Dan , die laaste boek in die Bybel, Openbaring 22:14 ” Salig is die wat Sy gebooie doen, sodat hul kan reg hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad.”
1 Petrus 2:16
” as vry mense en nie asof julle die vryheid het as n dekmantel vir die boosheid nie, maar as diens knetter van God.”
Ek verkies om liefs die Woord te volg dan enie hedendaagse Prediker, professor, predikant, biskoppe, kardinale, pouse, dissipels, profeet ef pastoor se verklaring.
Dit gaan makliker wees om te antwoord voor die Troon van rekenskap deur aan te haal uit die Woord dan enige van bogenoemdes se verklarings.

Genieve ·

Ek het nie saam met dit gestem dat God kwaad is vir kaapstad nie,omdat daar soveel sondes is nie, die mense moet die woord lees en regoor SA word sondes gedoen elkedag om so uitspraak te maak is baie gewaarlik en kan eendag teen jou tel.Ja ons God is ook n God van wraak maar om te se Hy is kwaad vir kaapstad het my verstan te bowe gegaan.

Jerry ·

Dankie Eish, n ou is nooit te oud om te leer nie. Duidellik ken jy net soos Ds. Schalk jou bybel. Daar is egter n verskil tussen ken en verstaan!

dejager ·

Ek is nie slim genoeg om al die argumente hierbo verwoord te verstaan nie.Ek het al geleer dat as jy vanwee jou slimmigheid verdwaal dit moeiliker is om die pad te vind as wat jy van dommigheid verdwaal.
Ek dink dit is wonderlik as ń hele stad hulle sondes laat staan en hul hulp by God soek.Al is daar ander stede wat dalk sondiger is laat Kaapstad dan die eerste wees wat na God draai.Ek dink die meeste wat dit gaan doen ,doen dit om hulp by God te vra nie omdat hulle die droogte as ń straf sien nie.As jy jou gebed verhoor wil hê moet jy eers jou lewe regmaak.
Dit gaan oor ń terugkeer na God.
Mag hierdie aksie geseënd wees en mag ons hemelse Vader elkeen hoor wat om sy hulp roep

ChrisE ·

Ek het nie enige besware van mense wat sulke saamtrekke of geleenthede bywoon om te bid of vir sonde vergifnis te smeek nie. Die vraag kom egter by my op waar is die mense wanneer dit goed gaan? Hoekom word daar nie op groot skaal bymekaar gekom om God te loof te prys en te aanbid nie. God is ons stuurwiel nie ons noodwiel nie. Ons moet onsself eers verootmoedig en smeek vir vergifnis en kwytskelding van ons oortredings teenoor Hom ons medemense alvorens ons enige iets van Hom kan of durf verwag. Ons leef op Sy genade, barmhartigheid en seen. Wees dankbaar vir wat ons het. Ek het ook vrae oor persoonlikhede wat hulself veroorloof om namens God te praat en uitsprake te maak.

Gertryda ·

Ek is ook nie so slim om saam te redeneer nie maar glo dat God nooit straf of ongelukke ens veroorsaak nie maar dis wel die duiwel wat n hand in SA sake het
Glo en vertrou is al wat ek sêen bid soos nog nooit tevore nie
Dankie vir die mense wat alles vir ons so goed uiteensit

V ·

Laat my dink aan Jona en Ninevee. Wonder eintlik maar net… As die mense van Ninevee nie besluit het om hulle tot God te bekeer nie, en in sak in as vir 3 dae te vas nie… Sou die Here hulle nie vernietig het nie? Die mense was ook nie Jode nie, sou hulle miskien ‘n moeilike tyd beleef het voor die aankoms van Jona. Toestande wat hulle miskien kon help verstaan dat hulle vergifnis van God wel nodig het? Die Bybel beskryf nie eintlik die toestand van Ninevee voor die aankoms van Jona nie, behalwe dat hulle sonde voor die Here opgestyg het. Almal moet kom na die Here vir vergifnes, miskien is dit die keer Mitchell’s Plain se beurt? Ek weet nie.

Binnekamer ·

Daar is niks mee verkeerd om in jou binnekamer vir God om vergifnes te vra en om Hom dan ook sommer te vra vir dinge nie. Sê Hy dan nie in sy Woord dat ons na ons binnekamer moet gaan om met Hom te praat nie? Jesus het dan self Homself afgesonder om te gaan bid. Daar is niks mee verkeerd om ‘n gebedsbyeenkoms te hê nie, maar God gaan nie kragtiger werk in die openbaar as in my binnekamer nie.

Paul ·

Ek vra ook die vraag, hoekom die Kaap omgewing? Dan is daar n volgende vraag, is dit nie waar die blankes vir die eerstekeer voet aan land gesit het nie? Dan lees ek in die Woord van God “Esta 9 vers 11 en 12, Josua 23 vers 12 en 13 en Rigter 2 vers 2. Dan kom nog n gedagte by my op oor beloftes en geloftes wat met God gemaak is deur dieselfde mense en andere wat gevolg het na Suid Afrika en dan lees ek Deuteronomium 23 verse 21 tot 23. Laasgenoemde Babel teks is die
vertrêkpunt vir ons, want ons het ons rug op God en sy voorwaardes gedraai en nie andersom nie. Verskil maar van my, maar wat God se Woord sê is wet en niks sal dit verander nie. Die tyd vir belydenis en smeking vir vergifnis het aangebreek om hierdie land weer n Christen land te maak.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.