Jy mag só terugslaan!

Deur Ian Cameron

ian-cameron-2018-03-19

Ian Cameron. Foto: Verskaf.

Dikwels ontstaan die vraag of Jan Alleman oor die vermoë beskik om misdaad te help bekamp.

“Ons hande is afgekap en die polisie help nie,” is ’n klaaglied wat gereeld voorgehou word deur ’n groot aantal gefrustreerde landsburgers.

Ek verskil van hierdie treurmare. AfriForum se veiligheidstrukture het in die afgelope jare, veral die laaste twee, eksponensieel gegroei. Die grondslag van AfriForum Gemeenskapsveiligheid lê in die hart van vrywilligers, 8 500 van hulle, wat aktief in 132 strukture hul gemeenskappe help beveilig om gemeenskapsweerbaarheid te bewerkstellig. AfriForum het sedert Maart 2018 tot en met die einde van November 2018 sowat 1 200 ernstige geweldsmisdaadsake hanteer en ’n groot getal daarvan in samewerking met die relevante wetstoepassingsagentskappe opgelos.

Gemeenskapsveiligheid het eenvoudig die plig van elke burger geword weens die konstante toename in veral geweldsmisdaad. Gemeenskappe se opleiding is die nuwe gonspraktyk wat veral in 2019 verder sal wortelskiet. Weens die risiko’s waaraan gemeenskapslede toenemend blootgestel word, bestaan die broodnodige behoefte om die strukture binne gemeenskappe verder te formaliseer en gesamentlike pogings tussen burgerlikes (wat privaat sekuriteit insluit) en die polisie (die goue driehoek van veiligheid) te versterk en te vermeerder sodat ingryping op voetsoolvlak toenemend suksesvol uitgevoer kan word.

AfriForum se resep vir die sinkronisering van die bogenoemde goue driehoek blyk suksesvol te wees, maar daar is ruimte vir verbetering. AfriForum se gemeenskapsveiligheidspan was direk betrokke in meer as 1 200 sake waarin honderde gewapende rowers opgespoor en in hegtenis geneem is. Altesaam 33 mense is terugbesorg aan geliefdes nadat hulle ontvoer is en 170 motorkapings is gehanteer. ’n Gemeenskapsinstansie wat 450 gewapenderoofsake kan koördineer, beskik uit die aard van die saak oor die vermoë om vrywilligers verder te bemagtig en te versterk.

Alhoewel ’n groot fokus van veiligheidstrukture sigbaarheid is, het die nood in gemeenskappe so geëskaleer, dat ons geen ander keuse het as om ’n meer gespesialiseerde rol binne die wetlike raamwerk te vervul nie. Daar is byvoorbeeld dorpe in Suid-Afrika wat die inisiatief geneem het en hul eie ambulans aangeskaf het en selfs PSIRA-geakkrediteerde sekuriteitsdienste aanbied.

Daar is af en toe ’n mite wat versprei word dat gemeenskapslede patrolliedienste slegs deur gemeenskapspolisiëringsforums en die polisie, moet of mag uitvoer. Hierdie mite is van alle waarheid ontbloot en ek stel dit onomwonde dat daar tans geen wetgewing bestaan wat enige gemeenskap verplig om as sodanig te handel nie. Die enigste vereiste vir patrollies om plaas te vind, is dat die patrollie wat onderneem word, binne die raamwerk van die wet moet geskied. Dit dien vermeld te word dat gemeenskapspatrollielede steeds slegs burgerlikes is en oor geen spesiale magte beskik nie. Daar kan slegs opgetree word soos bepaal deur wetgewing. Die polisie word gemagtig ingevolge die Polisiewet 68 van 1995 en wel artikel 18(2) daarvan om met enige instansie wat binne die raamwerk van die wet misdaad bekamp, saam te werk. In die beleidsraamwerk van gemeenskapspolisiëring, soos uitgevaardig deur die Suid-Afrikaanse Polisiediens is dit ook duidelik dat die polisie aangemoedig word om met alle instansies wat misdaadbekampingsaksies van stapel stuur, saam te werk en te ondersteun.

Hoekom deel ek hierdie kort suksesse en aanmerkings? Want jy kan en mag terugslaan!

  • Ian Cameron is hoof van gemeenskapsveiligheid by AfriForum.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Ben Opperman ·

KAN en MAG terugslaan beteken toewyding en opoffering…. dinge waarvoor baie mense eenvoudig net nie kans sien nie al is dit duidelik voor die handliggend.

JAN ·

Afriforum is besig met die grootste reddingsdaad ooit. Mag God nooit sy rug op on draai nie…..
Versoek’n skryfsel van julle slimkoppe: Wat is die storie van die onteiening van die Reserwebank? Wat is die implikasies – wat beteken dit alles.
Bv waar is ons goudreserwes?
Word die goud gebruik om skuld te betaal ?

IK ·

Alles goed en wel en my volle ondersteuning MAAR daar is ‘n moontlikheid dat ek (ernstig) beseer kan word of selfs dood en wat dan van my afhanklikes ens.? Ook die verhoogde premies op polisse ens. Ek glo egter dat hierna omgesien sal word?

GM ·

Aangesien die regering faal om sy burgers veilig te hou, sou ek sê ons moet eerder die reg hê om ons belastinggeld aan organisasies soos Solidariteit en Afriforum te gee. Hulle sou dit beslis beter kon aanwend.

1+1 ·

Dis die regte ding om te doen, moenie reg in eie hande probeer neem nie. Wees egter versigtig om saam met “PietvanGase” op patrollie te wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.