Kaap van storms in stryd vir nuwe lughawe-naam

Kaapstad Internasionale Lughawe (Foto: CapeTown-Airport.co.za)

Die Wes-Kaap is al die afgelope 20 jaar die sirkus van die Suid-Afrikaanse politiek, en die herrie wat tans aan die gang is oor die hernoeming van die Kaapse lughawe wys die provinsie gaan nie maklik van sy reputasie as nasionale politieke hanswors afstand doen nie.

Met die spektakel oor die DA se pogings om ontslae te raak van die Kaapse burgemeester, Patricia de Lille, nog nie eens afgeloop nie (en nou wil die DA-leier, Mmusi Maimane, kabinetsverrigtinge oopgooi vir die publiek, maar die DA-vervolging van De Lille agter geslote deure hou – ja, regtig!) het ʼn nuwe klugspel hom in die Moederstad ontvou: die soeke na ʼn nuwe naam vir die Kaapstad Internasionale Lughawe.

As regerende party in Kaapstad en die Wes-Kaap is die DA blykbaar met stomheid of besluiteloosheid geslaan oor die kwessie. Tussen die stortvloed menings wat die party daagliks op die Suid-Afrikaanse media loslaat, was daar nog geen enkele een oor hierdie kwessie nie.

So ongemaklik as wat die DA se draadsittery seker moet wees, is hulle ten minste tans alleen op daardie draad, want elke ander groepering het ʼn mening oor ʼn nuwe naam vir die lughawe, en geen enkele een stem ooreen nie.

Daar is tans vier voorstelle wat nogal aftrek kry. Die eerste een kom uit Khoi-San-geledere en is ook my gunsteling: Krotoa, die oorspronklike naam van die Khoi-Khoi-vrou Eva, wat as brugbouer en latere simbool van wantroue tussen die Khoi en die Europese setlaars ook ʼn tipe volksmoeder vir bruin Kapenaars is.

Die tweede voorstel kom van die EFF. Hulle wil die lughawe hernoem hê na die pas ontslape struggle-veteraan Winnie Madikizela-Mandela, vir wie hulle ʼn sterk voorliefde gehad het. Die Wes-Kaapse EFF-lede is erg aggressief oor hul voorkeur, wat hulle verlede week ernstig laat bots het met die voorstanders van die Krotoa-naam, en met die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP).

Want, liewe lesers, die SAKP ondersteun ʼn derde alternatief. Hulle wil hê die Kaapse lughawe moet die naam dra van die SAKP se gunsteling- ontslape leier, Chris Hani. Die kanse dat hulle hiermee sukses gaan behaal, is waarskynlik so klein soos steun vir kommunisme aan die Kaap, maar die SAKP het in elk geval tot dusver die lekkerste kommentaar op die hele gekkespul verskaf.

Nadat SAKP-lede verlede week in ʼn taamlike onderonsie met die EFF en die Krotoa-voorstanders betrokke was, het die kommuniste vir die EFF en Krotoa-mense van “lumpen-gedrag” beskuldig. Vertrou die SAKP om sy teenstanders so ewe snobisties van laeklas-mentaliteit te beskuldig!

Die Wes-Kaapse ANC, wat deesdae maar ʼn klein rolspeler in die provinsie is, steun ʼn vierde opsie, wat my naasgunsteling is, naamlik om die Kaapse lughawe na oudpres. Nelson Mandela te vernoem. Hy was darem sowat 27 jaar (weliswaar teen sy wil) in die Kaapse metropool woonagtig, en met die land se voorste lughawe reeds na sy makker Oliver Tambo vernoem, is dit sekerlik net reg dat die tweede grootste een (en die poort na die land se voorste toerismestad) die naam van die land se bekendste boorling dra.

Die proses word bestuur deur die Lughawemaatskappy van Suid-Afrika (Acsa), wie se woordvoerder, me. Deidre Davids, streng opgemerk het dat die groep wat die hardste skree en hulself die swakste gedra, nie noodwendig die argument gaan wen nie.

Dit moet ʼn teleurstelling wees vir die DA, ANC, EFF, SAKP en Krotoa-ondersteuners, wat hulself tans gedra op ʼn manier wat die Kaap se reputasie van politieke belaglikheid absoluut gestand doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Theresa ·

Die landsburgers moet soos een man saamstem dat die naam tans heel neutraal is en GLAD nie hoef te verander nie.

rollie ·

Krotoa klink vir my na ‘n oulike naam, Khoi behoort vereer te word hulle het niks na hul vernoem nie.

JM ·

Hoekom die naam verander, los hom soos hy is want dit gaan net ‘n mors van geld wees om hom te verander. Gebruik liewers die geld vir diens lewering.

GM ·

Geldmors! En my jinne, die EFF gaan ook altyd so aan as hulle nie hul sin kry nie. Word groot! My kinders gaan nie eers so tekere as hul nie ‘n speelding kan kry nie.

Fortis ·

Hoor-hoor! Ek verwys ieder geval steeds in my omgangstaal na die Kaapstadse lughawe as DF Malan en trouens ook die Johannesburgse lughawe as Jan Smuts. Hulle was immers ware staatsmanne en nie die narre wat tans oor ons heers (maar wie se juk ons sal afgooi) nie.

Theresa ·

Joe, jy is skreeusnaaks. Moet sê dit was uit histerie wat dit snaaks was!

Paul ·

Hou die naam Eie aan die Kaap, heel beste egter, los dit soos dit is! Opportuniste wil nou politieke munt daaruit slaan.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.