Kaapse Forum is vir almal

Heindrich Wyngaard (Foto: Facebook)

Deur Heindrich Wyngaard

In die Kaapse kantore van AfriForum in die noordelike voorstede van die Skiereiland, waar die Kaapse Forum ons nou ook kom tuismaak het, versier helderkleurige glasmatjies die tafels in die raadsale en kuierhoekies.

Elkeen van die matjies bevat ʼn Afrikaanse woord en dié se betekenis daarby. Dit sluit in “kamma”, “snoesig”, “boeretroos”, “koesterkos”, “prontuit”, “rondomtalie”, ensovoorts. Woorde wat die lekker loslittige speelsheid van ons taal illustreer. Maar die een wat oombliklik my aandag getrek het – tot nou afwesig van my woordeskat – is “kotiljons”.

Kotiljons (s.nw.), lees dit op die glasmatjie, is ʼn “outydse dans waar dansmaats gereeld volgens ʼn ingewikkelde patroon ruil”. In my geestesoog stel ek my die prentjie voor: twee dansmaats, al in die rondte, terwyl diegene wat hulle dophou sukkel om vas te stel wie nou eintlik lei en wie in beheer is.

Dit stel op ʼn sekere manier die verhouding voor tussen AfriForum en die nuutgestigte Kaapse Forum – “nuutgestigte” in die sin dat die organisasie reeds as ʼn maatskappy sonder winsbejag geregistreer is en groot mediadekking geniet het. Die amptelike bekendstelling vind egter eers komende Woensdag plaas.

Ons sal by dié geleentheid opnuut ʼn poging aanwend om aan die publiek, media en kommentators te verduidelik wat Kaapse Forum is – en níé is nie. In’t kort: dit is ʼn burgerlike organisasie, soortgelyk aan AfriForum, maar gewis nie ʼn duplikaat soos wat heelpaar meningsvormers skyn te dink nie.

AfriForum se primêre besorgdheid is die Afrikaner-gemeenskap binne die diverse Suid-Afrikaanse bevolkingsopset. Hieroor is die organisasie onapologeties en dit is ook reg so, want die vervreemding wat Afrikaners ervaar, is daar vir almal om te sien. Dit weergalm in regeringsbesluite en die uitsprake van politici: “Julle het genoeg, julle het nog altyd gehad, sorg vir julleself!” Dit is wat AfriForum ook goed regkry vir sy lede, en ook nie-lede geniet dikwels die vrugte daarvan. Geen “afsonderlike ontwikkelings”-beleid of “ons is ʼn eiland op ons eie”-ingesteldheid nie.

Ter aansluiting hierby is Kaapse Forum ʼn organisasie wat hom daarvoor beywer dat ál die Kaap se inwoners na ʼn beter toekoms moet kan uitsien. Nie slegs Afrikaner-Kapenaars of bruin Kapenaars soos wat sommige dit wil hê nie. Waarskynlik word die mistasters oor die stigting van die Kaapse Forum mislei deur die aanvanklike koerantopskrif wat dit wou hê dat dié verwikkeling beteken “Bruinmense kry hul eie AfriForum”. Die oorgrote meerderheid openbare reaksie hierop beskou dit in ʼn negatiewe lig.

Gevolglik, soos dr. Leopold Scholtz dit vroeër hier gestel het, het ʼn “verhitte”, “plek-plek (…) histeriese” debat op die verskyning van die berig in die Sondagpers gevolg. Sosiale media was voor in die soms vulgêre koor – en toe volg rubriekskrywers en politieke kommentators. Wit, bruin én swart; in Afrikaans en in Engels. Hoe durf Heindrich Wyngaard die bruin mense aan AfriForum “uitverkoop”? wou hulle weet. Waarom nie één organisasie nie? Hoekom hierdie hedendaagse “driekamerparlement”-neiging? Is bruin mense nie goed genoeg dat hulle aan AfriForum self kan behoort nie?

Nou moet ʼn mens dit net eers beklemtoon dat Kaapse Forum ʼn organisasie vir álle Wes-Kapenaars is – ʼn organisasie wat hom beywer vir groter outonomiteit (besluitneming, beheer) deur gemeenskappe in die provinsie wat, soos elders in die land, gebuk gaan onder die onbeholpenheid van ʼn sentrale ANC-geleide regering.

Groeiende federalisme kom in hierdie verband ter sprake, maar die denkfout wat seëvier (selfs by diegene van wie ʼn mens meer insig verwag) is om “groeiende federalisme” sonder meer met afstigting en Kaapse onafhanklikheid gelyk te stel. Dit kan mos niks anders wees nie, glo hulle. Die motivering vir hul standpunt is dat meer en meer wit landsburgers dan af Kaap toe trek en vanselfsprekend hulleself Orania-styl wil “afsny” van die res van die land. Die “geheime plan” sou verder wees om sodoende die groot getalle mense, wat uit die ellende in voormalige tuislande in die ooste van die land probeer ontsnap, uit te hou.

Omdat Kaapse Forum ook openlik sê ons wil spesifiek die historiese vervreemding van bruin gemeenskappe teenwerk of help herstel, beteken dit vir kritici ons wil die bruin mense se omstandighede uitbuit deur hulle as (mis)bruikbare sotte in te span in ʼn spel waar ʼn bekende bruin openbare figuur die marionet sal wees en AfriForum die poppemeester. “Bloedgeld”, “witmensgeld” of “apartheidsgeld” sou in hierdie narratief die 30 silwerstukke wees waarmee ek my mense verloën.

Gerieflikheidshalwe word dan blykbaar vergeet dat dié beskuldiging afwesig is wanneer AfriForum slaggate of ʼn watersuiweringstelsel tot voordeel van alle inwoners van ʼn dorp herstel of dat swart landsburgers die organisasie vrywilliglik om hulp, met byvoorbeeld hofsake of grondgeskille, nader.

Waarom dan nie dié “helpende hand” aanvaar wanneer AfriForum dit uitreik na Wes-Kaapse gemeenskappe – en in die besonder bruin gemeenskappe – ter wille van groter selfstandigheid nie?

Dié selfstandigheid sal hulle in staat stel om beheer te neem oor aspekte van hul daaglikse bestaan, soos veiligheid en behuising. Waarom nie ruimte laat vir die twee organisasies om in die gees van versoening ʼn eiesoortige kotiljons te dans nie?

  • Heindrich Wyngaard is die uitvoerende voorsitter van die Kaapse Forum. Hy is ook ’n Afrikaanse joernalis en meningsvormer.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

annie ·

Is die gerugte waar dat Leopold bereid is om terug te keer na SA as die hoofleier van die Kaapse Front? Dit sal die begin wees van ‘n groot terugkeer van almal wat haastig die land verlaat het. Watter heerlijke groepie ongelukkiges sal dit nie wees wat hul fondse saamgooi om ‘n nuwe-nuwe SA te stig en op te bou vir die nuwe volk wat daar sal kom woon nie; in vrede en geluk. Waar is die nuwe snoesige tuisland geleë? Pres Scholtz en sy eerste eersteminister, Van Wijngaard, moet asb dringend grense trek dat ons kan inkoop en kom bou. Die paleis natuurlijk eerste.

B-Man ·

As ek dit reg het, het ou Leopold agter liefde aan getrek Nederland toe.

MT ·

Dankie Annie; dit was nou ‘n lekker stukkie lees!

As naspers rubriekskrywer het LS reeds in die verlede gepleit vir samesmelting in die Wes-Kaap, en is jou voorstelle nie vergesog nie.

Ek kan in my geestesoog hom goed sien as ‘n moderne Strandloper.

anniekiewiet ·

Dit bly interessant-hartseer dat, soos in die berig gesê word, mense gou is om hulp te vra by organisasies soos Afriforum, maar nooit sal erken dat bv Afriforum probeer om almal by te staan nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.