Kaapse Forum ontketen hewige debat

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

ʼn Verhitte – plek-plek kan ʼn mens selfs sê histeriese – debat het in Suid-Afrika losgebars na aanleiding van die stigting van Kaapse Forum, ʼn organisasie vir bruin mense wat hom vir federalisme en bruin minderheidsregte wil beywer.

Kaapse Forum en sy leier, Heindrich Wyngaard, het in die oë van hul kritici ʼn erfsonde begaan wat hulle nooit in der ewigheid sal kan afskud nie. Dit is dat die organisasie die breinkind van die Afrikanerbeweging AfriForum en sy leier, Kallie Kriel, is.

Soos die bruin joernalis, Maygene de Wee, dit in Rapport gestel het: “Jy is in die bed met AfriForum en klaar. Jy is deur Kallie Kriel se AfriForum aangewys om die voorsitter van Kaapse Forum te wees.”

En Bettina Wyngaard meen: “Dit maak eenvoudig net nie saak uit watter perspektief ek berigte oor Kaapse Forum probeer lees nie, dit bly lyk soos ʼn rasgebaseerde organisasie wat nie goed genoeg is om aan baas AfriForum se tafel te sit nie. Dit bly lyk soos ʼn organisasie wat die krummels van AfriForum se tafel afskraap.”

Sy noem Kaapse Forum ʼn “bruin tak” van AfriForum en beskryf Wyngaard as ʼn “gewillige en selfs trotse marionet”.

Afgesien van die meriete al dan nie van hul besware teen Kaapse Forum en sy verbintenis met AfriForum, help dit natuurlik nie om ʼn rasionele debat met dergelike emosionele skeltaal te voer nie.

Dus, kom ons los die – op sigself begryplike – emosie vir ʼn oomblik en bly saaklik.

Ek moet beken dat ek my asem skerp ingetrek het toe ek die oorspronklike nuusberig oor die stigting van Kaapse Forum sien. My heel eerste, byna instinktiewe reaksie was: Hoekom ʼn aparte organisasie vir bruin mense; hoekom kan bruin mense, wat konserwatiewe waardes met AfriForum deel, nie by laasgenoemde aansluit nie?

Die ongemak word gevoed deur die feit dat Kaapse Forum klaarblyklik nie die inisiatief van die bruin gemeenskap is nie, maar dat dit die breinkind van Kriel en AfriForum is. Is dit nie maar weer die wit “baas” wat graag bruin mense se verwantskapsgevoel met die blanke gemeenskap vir sy eie politieke strewe wil misbruik, maar nie die bruines as gelykes in die wit organisasie wil aanvaar nie?

Hierby kan ʼn mens dit egter nie laat nie. Te veel aspekte kom om die hoek loer wat verdiskonteer moet word.

Een: Is daar ʼn soort markondersoek onder die bruin gemeenskap gedoen om vas te stel wat hul behoeftes is? Is daar steun vir ʼn aparte bruin organisasie wat soortgelyke strewes as AfriForum bevorder?

ʼn Variant hiervan sou die vraag kon wees of bruin mense nie dalk meen hul identiteit en strewes sal – soos gewoonlik – weer ondergesneeu word as hulle by ʼn uitgesproke Afrikaner-organisasie aansluit nie. Let wel, ek weet nie wat die antwoorde op dié vrae is nie; die groot vraag is of AfriForum en Kaapse Forum die antwoorde het.

Ten tweede: Dis andersyds ʼn feit dat bruin mense deur die geskiedenis en die geringskatting wat hulle deur die eeue van blankes ervaar het, ʼn haas instinktiewe minderwaardigheidsgevoel teweeg gebring het. Dit gaan gepaard met ʼn (teenstrydige) gevoel van verwantskap met die wit gemeenskap, en in groot mate ook die Afrikaners.

Dis waarom hulle so oorweldigend vir die DA teen die ANC stem. Dis juis die bruin mense se stemgedrag wat regstreeks daarvoor verantwoordelik is dat die DA die regerende party in die Wes-Kaap is.

Sou dit nie ʼn bevestiging wees van ʼn vermoede dat daar juis ʼn behoefte in die bruin gemeenskap is om op politieke en kulturele vlak nader aan die wit gemeenskap en die Afrikaners te beweeg nie?

In die derde plek kan ʼn mens die saak ook só beskou: AfriForum is tradisioneel ʼn Noordelike Afrikanerorganisasie wat, anders as die Bolanders, geen natuurlike affiniteit met die bruin gemeenskap het nie.

Is die inisiatief om ʼn soort eie bruin AfriForum onder die bruin mense te stig nie juis behoorlike vordering in die ontwikkeling van die Noordelike afstand teenoor die bruin mense nie?

As ʼn mens die saak só beskou, is AfriForum se inisiatief inderdaad vordering op die lang pad na versoening tussen Afrikaners en bruin mense. In dié geval moet dit toegejuig word.

Immers, die reaksies van mense soos De Wee en Wyngaard wys tog hoe diep die wantroue en selfs afkeer by baie bruin intellektuele nog teenoor die Afrikaner-establishment is. Dis asof hulle nie kan aanvaar dat Afrikaners wat openlik vir hul regte opkom, werklik opregte simpatie vir bruin mense kan koester nie.

Dis asof mense soos bogenoemde twee deur die geskiedenis vasgeketting word. Is dit nie waar dat die posisie van die Afrikaners dramaties verander het nie, dat ʼn bondgenootskap tussen hulle en die bruin mense (afgesien van die vorm wat dit aanneem) ʼn natuurlike proses is nie? As dit bruin mense se situasie kan verbeter, waarom nie?

Ek ken albei die hooffigure in die affêre – Kriel en Wyngaard – goed. Met Kriel en veral Solidariteit se leier, Flip Buys, het ek ʼn verhouding van vertroue opgebou.

Ek weet dat hulle opreg is in hul strewe om ʼn regverdige plek vir die Afrikaners in die land te kry, sonder om na apartheid en rassediskriminasie terug te beweeg. Dis trouens ʼn strewe wat ek met hulle deel.

Met Wyngaard was ek jare lank kollegas by Die Burger. Hy was destyds nog baie jonk, maar ondanks sy onervarenheid het hy toe al blyke gegee van verrassende diep denke wat my dikwels nogal aangenaam verbaas het.

Kriel en Wyngaard behoort mekaar minstens op saaklike vlak te kan vind.

Terug by die vrae wat ek aan die begin gestel het: Moes daar dan nou ʼn aparte bruin organisasie gestig word? Kon Wyngaard-hulle nie maar by AfriForum aangesluit het nie?

Dis ʼn vraag wat ek nie kan beantwoord nie. Wat ek wel kan sê, is dat die konstruksie ʼn yslike gaping vir kritici gelaat het om Kaapse Forum af te skilder as die stertswaaiende hondjie wat op en af spring en so af en toe met ʼn been deur AfriForum beloon word.

Uiteindelik sal die vraag net deur die meerderheid bruin mense beantwoord kan word. Is daar ʼn behoefte aan ʼn aparte bruin organisasie of nie?

Intussen sal sowel Kriel as Wyngaard by wyse van spreke op eiers moet loop. Dis ʼn buitengewoon gevoelige saak dié wat met die grootste takt hanteer moet word.

Maar ek is seker hulle weet dit ook.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis maklik om te kritiseer. Intussen word die bruinmense eenkant toe gedruk deur immigrante van Afrika en die Ooskaap en geen “bruin leiers” het nog iets daaraan gedoen nie behalwe om in Rapport gal te braak oor Kaapse Forum.

Manie ·

Die Kaapse Forum moet hom dalk toespits op beide Kaapse Bruin en Kaapse Wit mense, aangesien die Kaapse kultuur deur beide vloei. Soos Leopold gesê het, Afriforum word meestal as ‘n noordelike burgerregte organisasie gesien.

groenboer ·

Ja, dit is straks tyd dat die kunsmatige skeiding tussen “wit” en “bruin” opgehef word – ons is almal Afrikaanders. :-)

Jaco ·

Kaapse Forum, Afriforum, Solidariteit, Vryheidsfront, DA, Cope, ACDP en en en. Almal het dieselfde doel, naamlik om van die ANC ontslae te raak. So waarom smelt hulle nie saam nie? Vergeet nou eers van die onderlinge klein verskilletjies (bv. ACDP is hier-Christelik em DA is sag op regstellende aksie) en verenig om vam van die ANC ontslae te raak. Leer ook sommer iets uit nogal die ANC se leuse: “together we can do more”.

annie ·

Die spreekwoord lui: minder is meer. Nie meer is beter nie. Kyk wat gebeur by US. Is iemand gelukkig? Nee, almal wil bedank want nou is daar glo ‘n geheime gekonkel. En so sal dit gaan met elke grootskaalse ‘saam’. Net moeilikheid volg. Solidariteit en Afriforum? Wie was hulle? Jaloesie is die oersonde; alive and well and thriving in SA.

Andrew ·

So het elke kant sy binne gevegte. Dan is dit n burger regte organisasie, weet nie hoekom begin die klomp moaners dan nie hulle eie ding nie. Hulle sal eerder kripeer van ellende as om op te staan en iets te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.