Kaapse gemeenskap verdoem homself

Argieffoto: City of Cape Town Fire

Wat kan die owerhede doen as ‘n gemeenskap daarop ingestel is om homself te vernietig? Dis die probleem waarmee Kaapstad al lank worstel en dit word net erger.

Behalwe bende-oorloë, skole wat geplunder word, woonbuurtes wat afbrand en dwaalkoeëls wat ook talle jong en onskuldige slagoffers eis, sit die Kaap nou met ‘n treinvervoerprobleem. Dit bemoeilik daagliks sowat 400 000 tot 700 000 werkers se taak om by die werk te kom en maak hulle van busse afhanklik. Die Golden Arrow-busse is duurder, het ʼn veel kleiner dravermoë en kan eers van 08:30 af ingespan word.

Op hul beurt sorg die groot getalle werkers weer vir ʼn miljoen of twee mense se lewensmiddele. Baie van hulle verloor hul werk weens laatkommery.

Foto’s van oorlaaide treine in spitstyd is ʼn algemene gesig. Mense hang by deure uit, sit op die koppelings tussen waens en waag hul lewens selfs op die dakke van treinwaens.

Dis moeilik om die ingesteldheid van mense te peil wat dans as hulle kwaad is en wat treine afbrand omdat hulle laat is. ʼn Paar jaar gelede is Pretoria se stasie afgebrand en waens is ook al op Kaapstad se stasie brand gesteek. Daar is waarde in koperkabels, maar watter waarde verkry hulle uit gevandaliseerde of uitgebrande treinwaens?

Streep in die grond getrek

Metrorail, wat die Kaapse treindiens bestuur, loop al jare lank deur oor al die tekortkominge wat veroorsaak word deur kabeldiefstal, sinjaalbeskadiging, die tekorte wat ontstaan as waens afgebrand word en dies meer. Verlede week is die vernielsug uitgebrei toe twee substasies heeltemal buite werking gestel is.

Metrorail loop ten beste net 60% kapasiteit nadat meer as 60 treinstelle sedert einde 2015 vernietig is.

Die betrokke partye het nou almal ʼn streep in die grond getrek: Hiertoe en nie verder nie – ons het nou ekstra hulp nodig voordat die diens op die sentrale Kaapse lyn hervat sal word.

Die rolspelers is Metrorail, wat al jare lank onder kritiek en plundering deurloop, die ten volle staatsbeheerde Passasierspooragentskap (Prasa), die Spoorwegveiligheidsreguleerder (RSR) en die Verenigde Nasionale Transportunie (Untu).

Voorwaardes vir hervatting

Die voorwaardes vir die diens om hervat te word volgens Sonja Carstens van Untu onderstreep die erns van die saak. Volgens Carstens is dit die volgende:

* Twee polisiemanne wat eskort is vir die masjinis en twee vir die kondukteur;

* ʼn Ondersteunende polisieman in die middel van elke trein;

* Gewapende polisiemanne by omkeerstasies;

* Polisiemanne wat die treinpersoneel van die roosterkantoor af vergesel; en

* Gewapende wagte by die brandpunt treinstasies.

Dit geld die stasies op die sentrale (oostelike) lyn en sluit in, maar is nie beperk nie, tot Netreg, Bonteheuwel, Heideveld, Nyanga en Langa.

Bronwen Dyke-Beyer van Metrorail sê daar is ʼn verstandhouding met die Golden Arrow-busdiens om pendelaars in krisistye te vervoer, maar dit het praktiese beperkinge. Sy sê daar is daagliks 1 000 busse in spitstyd en die busdiens het net kapasiteit in die periodes buite spitstyd (van 08:30 af).

Spoorwegpolisie sal ontplooi word

Sipho Sithole van Prasa het Vrydag gesê die getal spoorwegpolisie sal op treine vermeerder word. Een van die vroegste optredes van Nelson Mandela se regering in 1994 – toe die kommando’s wat plase beskerm het ook ontbind is en onderwyskolleges gesluit is – was om die spoorwegpolisie só uit te dun dat daar tans volgens Sithole net 4 000 van hulle is teenoor die 15 000 van vroeër.

“Die land is onder beleg en dis veel erger as wat Prasa kan hanteer,” het Sithole gesê.

Die spoorwegpolisie se nasionale hoof Michael Mohlala het gesê hulle is gereed om Prasa by te staan “om die oorlog te wen”. Die geld wat Prasa aan private sekuriteit bestee, moet na die spoorwegpolisie gekanaliseer word om te sorg dat meer polisiemanne ontplooi word en dat die nodige toerusting beskikbaar is.

Prasa se hoof- uitvoerende beampte, Comet Molepo, sê hulle sal die memorandum van verstandhouding met die polisie finaliseer. Hy het bygevoeg Prasa se rol is die voorsiening van veilige treindienste, maar op die oomblik bestee hulle baie op sekuriteitsdienste. “Dit is nie deel van ons mandaat nie.”

Probleme strek baie dieper

Kaapstad se probleme strek veel dieper as net treindienste. Polisievoertuie wat aan die brand gesteek word – ook as hulle soektogte na dwelms en ongelisensieerde wapens onderneem – is deel van hierdie haas onregeerbare deel van Kaapstad.

Die vermoede bestaan dat baie sindikate en bendes kop in een mus met inwoners is omdat hulle geldelike hulp aan die mense verleen. Potensiële fluitjiesblasers word gewaarsku dat die bendeleiers weet wie hul vroue en kinders is en weet waar hulle skoolgaan.

Een van die klinieke in hierdie gebied moes onlangs sy 24-uur-diens tot 12 ure inkort omdat die polisie aanvoer dat dit te onveilig is om snags beskerming te verleen. Nooddienste boet werkers in en ambulanse word aangeval en beroof, soms nadat daar groot klippe in die pad gepak was. Polisiedienaars weier om hulle in sekere gebiede te vergesel en beskerm omdat hulle nie hul lewens wil waag nie.

Dis wat gebeur wanneer wet en orde ineenstort en strek natuurlik ook veel wyer as net Kaapstad, asof dit enige troos is.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Org Potgieter

Org Potgieter is ’n vryskutjoernalis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

suzie ·

Is ons almal nie maar ongelukkig oor een of ander iets nie? Maar hoe werk jou kop dan nou? Die treine is laat, om watter rede ook al en nou brand hulle die trein. Nou word daar gekla dat sommige mense hul werk kan verloor? Wie se skuld is dit? Die trein s’n? Die trein is ‘n voorwerp, ‘n iets en kan dit self nie bestuur of verdedig nie. Hoekom dit dan brand? Sorteer eerder die mense wat nie nie dink nie uit. Daar is in elk geval die spreekwoord wat sê: liewer laat as nooit en ek glo met die media dekking deesdae is “base” baie meer ingelig en op hoogte en sal seker bietjie meer verstaan oor die laatkommery.

Gemsbok ·

Mens wonder wanneer hierdie optrede gaan oorspoel na Kaapstad se meer gegoede woonbuurte.

HA ·

A nation that will not fear God is a nation that will self-destruct.

Veritas ·

Die ou NP regering was dikwels as ‘n polisie- of weermagstaat uitgekryt maar daar was effektiewe trein-
en busdienste. Die skuld was toe op die regering gepak wat kwansuis blanke pendelaars bevoordeel het. Vandag sien ons dat vandalisme en ander misdaad, hoogty vier. Wat het verander? Slegs die regering het verander en die res het min of meer dieselfde gebly. Dit blyk tog duidelik dat die probleme voortspruit uit die misdadige kultuur van die vandaliste en kriminele. Voordat die SAPD nie kragdadig optree en die howe swaar strawwe oplê, gaan hierdie wetteloosheid nie aan bande gelê word nie. Instromingsbeheer moet teruggebring word maar kan eers gedoen word indien werksgeleenthede in die Ooskaap geskep word. Dit is die regering se plig om toe te sien dat ‘n gunstige klimaat, vir ekonomiese uitbreiding, daar geskep word. Dit wil egter voorkom asof die ANC regering doelbewus voete sleep hieroor. Hierdie optrede veroorsaak die toestroming na en gepaardgaande wanorde in die Wes-kaap wat natuurlik die indruk skep dat die DP regering daar, nie die pyp rook nie.

Resultaat ·

Resultaat: ‘Elke land het die regering wat hy verdien’, dit sluit ons ook in.

Danie ·

Net twee derdes van die inwoners verdien dit. Dit res is die onskuldige slagoffers van ander se dom keuses. Dit is geld vir die afgelope 26 jaar se volgehoue swak en dom keuses.

Heinrich ·

Ek wou sê dat dit lyk vir my na ‘n georkestreerde poging om die Kaapse regering te destabiliseer, want dit het die ANC se modus operandi in hoofletters daaroor geskryf, maar van die mense in die plaaslike regering daar doen ‘n oortuigende werk om die ANC se werksetiek op hulle self van toepassing te maak.

christa ·

van laat kom kan daardie mense nie praat nie. Hulle is die tydsaamste mense wat op die aarde is. Hulle gesels met almal en geen tyd is van belang nie. Dit dus hulle mense wat self nie by die schedules hou nie.

Nico ·

Die antwoord is eenvoudig: Staak alle treindienste op hierdie roetes permanent!!! En waar skole ens. afgebrand of, gevandaliseer word, stoot die murasies om en herbou dit nie weer nie. Groot besparing !!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.