Kaapse onafhanklikheid – ’n rasionele perspektief

Deur Phil Craig

(Foto: Facebook)

Emosies loop hoog wanneer gesprekke na Kaapse onafhanklikheid draai. In sulke omstandighede is helder denke, oop gemoedere en ingeligte debatte dikwels die eerste oorlogslagoffers. Ongeag perspektief, is daar eenstemmigheid dat Suid-Afrika diep in die moeilikheid is en dat die status quo onhoudbaar is. Vir burgers van die Kaap is afstigting voorgehou as ‘n moontlike oplossing en daar is duidelik ‘n mate van gewilde ondersteuning vir die idee. Beide dié vir en teen kan sekerlik erken dat die meriete daarvan ten minste die moeite werd is om te bespreek?

Kontekstualisering

Hierdie artikel is geskryf vanuit ‘n ondersteunende perspektief. Dit sal wonderlik wees as iemand wat teen afstigting gekant is, reageer met ‘n goed beredeneerde argument daarteen. Maar dan ’n argument wat handel oor die werklike meriete van die argument en vanuit die perspektief van die mense van die Kaap.

Teenstanders van afstigting het tot dusver byna uitsluitlik probeer om die voorstanders en hul motiewe te beswadder terwyl hulle die meriete systap. Verder stel hulle ook hul saak vanuit ‘n Suid-Afrikaanse perspektief. Kaapse onafhanklikheid gaan nie oor wat die beste is vir Suid-Afrika nie. Dit gaan oor die beste belange van die Kaap en sy mense.

Terwyl ons voorspraak doen vir onafhanklikheid, laat ons eerstens begin deur te stel dat die onafhanklikheidsbeweging, net soos die Kaap self, ‘n breë kerk is met ’n paar taamlik onsmaaklike karakters in die geledere. Natuurlik, indien jy ‘n uitgesproke rassis is en die vooruitsig aangebied word om ‘n Afrikaland te stig waar die meerderheid van die burgers nie swart is nie, sal die aanloklikheid van onafhanklikheid onweerstaanbaar wees. Ekstremiste is die eerste aan boord in enige saak. Nie net is dit te maklik vir teenstanders van onafhanklikheid om ‘n hele beweging te stereotipeer volgens die sienings van ‘n swaksinnige minderheid nie, dit is ook inherent oneerlik.

Min, indien enige, Volkswagen-eienaars beskou Adolf Hitler as enigiets anders as ‘n gruwel vir die mensdom, maar hulle kan steeds erkenning gee aan die meriete van die motorprojek wat hy byna ‘n eeu gelede gekweek het. In 2019 het die VW Groep ‘n 14%-markaandeel in Israel gehad.

Laat ons ook die oënskynlike heiligheid van die Suid-Afrikaanse Unie aanspreek. In ‘n land waar die gebeure van 1652 ‘n ewige teenwoordigheid in ons daaglikse politieke diskoers is, terwyl ‘n menigte regs- en beleidsposisies uitsluitlik bedink is om diepe wettige ongeregtighede wat in 1913 uitgevaardig is, die hoof te bied, kan ‘n koloniale besluit geneem in 1910 (met ontneming van die regte van swart en bruin Suid-Afrikaners aan die kern daarvan) nie as heilig of taboe verklaar word nie.

Meriete van Kaapse onafhanklikheid

Wat bring Kaapse onafhanklikheid dus tot die tafel? Meer as enige iets anders bemagtig onafhanklikheid die Kaapse kiesers om hul eie regering te kies. Sodoende sal die Kaap die waardes weerspieël van die mense wat die Kaap “huis” noem. En wanneer dinge nie goed gaan nie, sal die mense van die Kaap die vermoë hê om hul eie regering tot verantwoording te roep. Mens sou hoop dat diegene aan weerskante van die debat oor onafhanklikheid aanvaar dat dit nie net waardige doelwitte op sigself is nie, maar ook ‘n noodsaaklike komponent is van demokrasie.

Dit is ook belangrik om daarop te let dat hierdie nie net kiesers met suur druiwe is nie. Die kwessie is nie dat die politieke party wat deur die Kaap verkies is, nie gewen het nie – dit is dat die politieke party wat die Kaap verkies, nooit kan wen nie. Die ANC regeer Suid-Afrika sedert 1994 maar hulle het nog nooit die meerderheid steun in die Kaap gehad nie. Erger nog, as elke enkele stem in die Kaap sedert 1994 vir enige ander party as die ANC was, sou die ANC in elk geval elke nasionale verkiesing gewen het. In hierdie scenario sou die ANC op nasionale vlak die Kaap vir 26 jaar wettiglik regeer met 0% van die Kaap se stemme. Sekerlik beskou niemand dit as funksionele demokrasie nie.

Baie teenstanders van onafhanklikheid wys op die verdelende aard van afstigting. Alhoewel dit inderdaad ‘n ernstige bron van kommer mag wees, is dit ook belangrik om te besef hoe sterk die verdeeldheid tussen die Wes-Kaap en die res van Suid-Afrika reeds is. Skep onafhanklikheid onnodige verdeling, of sal dit eerder help om die bestaande spanning op te los?

Ooglopende etniese- en taalverskille ter syde gestel, het die inwoners van die Kaap verskillende ideologiese oortuigings met 67% wat kapitalistiese partye verkies terwyl 73% van die res van Suid-Afrika in die breë sosialistiese partye verkies. Aangesien onafhanklike kundiges amper eenparig saamstem dat die meeste van Suid-Afrika se ekonomiese en sosiale probleme deur sosialistiese en rasgebaseerde beleid veroorsaak of vererger word, is hierdie geen geringe saak nie.

Ekonomies gesproke, is daar iemand wat nie glo dat die Wes-Kaap sou floreer indien dit bevry sou word van die nasionale regeringsbeleid nie? Of dat, indien dit dan gevolglik ‘n volledig ontwikkelde land sou word, die bevolking – veral die armes en gemarginaliseerdes – nie beter daaraan sou toe wees nie?

Miskien is die teenstanders van onafhanklikheid se argumente in hierdie verband self fassinerend. Daar is geen menigte van gekwalifiseerde ekonomiese kundiges wat in die tou staan om bewerings van verhoogde ekonomiese welvaart te ontduik nie, maar daar is ‘n luidrugtige refrein wat wil weet hoe ‘n onafhanklike Kaap ekonomiese migrante vanuit die res van Suid-Afrika gaan hou.

Aanspreeklike regering, opregte demokrasie, verhoogde ekonomiese welvaart en uiteindelik die uitwissing van armoede maak ‘n redelik oortuigende argument ten gunste van onafhanklikheid.

Uitdaging – teenargumente uitgenooi

Daar sou veel meer oor die praktiese aspekte van onafhanklikheid geskryf kon word, maar dit blyk in hierdie stadium verstandig te wees om die bespreking tot die werklike meriete van onafhanklikheid te beperk in die hoop om ‘n ewe gefokusde weerleggingsargument van sy teenstanders te trek.

Dit is een ding om te dink dat Kaapse onafhanklikheid voordelig sou wees vir die inwoners van die Kaap, maar dat dit net nie prakties is nie. Dit is egter iets heel anders om te glo dat onafhanklikheid inherent sleg sou wees vir Kaapse burgers, ongeag of dit haalbaar is of nie. Indien ons ‘n rasionele gesprek wil hê moet ons seker wees dat ons die bal speel en nie die man nie.

Is daar iemand wat bereid is om ‘n beredeneerde argument te voer oor waarom die mense van die Kaap beter af sal wees deur in ‘n unie met Suid-Afrika te bly?

Ek gee die vloer.

  • Phil Craig is ‘n gesinsman, ‘n reeksentrepreneur en medestigter van die Cape Independence Advocacy Group. Hy beywer hom vir die skepping van die “Kaap van Goeie Hoop”, ‘n Eerste Wêreldland aan die suidpunt van Afrika wat vryheid, veiligheid en welvaart bring vir almal wat daar woon, ongeag hul ras, godsdiens en kultuur.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Simon

Sit die spul terug tot op die anderkantse oewer van die Visrivier. Maar hoe sal die grens getrek word? Soos dit tans is, of soos met Republiekwording?

Pieter Rubeus

Die afstigting van die Kaap of die Westelike Provinsie is lankal onder vele bewegings in die orde van die dag. Een van die bewegings wat in Mosselbaai gesetel is: http://www.ulacongress.com het al meer as ‘n kwart van die stemme. Daar is baie verskillende reaksies van mense rondom afstigting maar die feit bly staan, as daar nie afstigting is soos wat in die grondwet voorkom nie sal ons nooit werklik van die ANC ontstlae raak nie en ‘n regering daarstel wat werklik vir die mense werk. Ek is 100% vir afstigting.

Wilhelm

Ek stem 1000% saam… niemand, maar niemand sal ‘n rationele argument kan voer vir hoekom dit beter sal wees vir die Wes Kaap om by die RSA te bly nie. Die DA kruip weg en John Steenhuisen probeer hard om dit te ignoreer, tot hulle eie nadeel. Die VF+ het reeds aangedui dat hulle ten gunste hiervan is. Daar is tans reuse groei in al die WesKaap onafhanklikheids bewegings, daar is groot veranderinge op pad!

James

1. Ek ondersteun die idee van ‘n onafhanklike Kaap. 2. Ek verskil oor hoe dit uiteindelik, tot stand sal kom – en hier is my argument: Geen grondwetlike proses – al word dit in beginsel ondersteun deur die VN se beleid in die verband sal gebeur nie. Al sou 90% van die Kaap sou wou stem t.g.v. ‘n sesessie, sal die ANC nooit toelaat dat so ‘n referendum in die eersste plek plaasvind nie. Dit sal gebrandmerk word as sedisie, met ‘n onderdrukking daarvan – met geweld indien nodig. Dus in my opinie – die idee om bloot via ‘n… Lees meer »

Altus

Ek woon tans in Natal maar as die Kaap afskei trek ek dieselfde dag soentoe.