Kaapse onafhanklikheid – wie se besluit is dit in elk geval?

Argieffoto van Kaapstad (Foto: Pixabay)

“Wil jy hê die Wes-Kaap moet wegbreek van Suid-Afrika, menende dat die Wes-Kaap nie meer deel van die Republiek sal wees nie, maar ʼn nuwe, soewereine staat sal vorm?”

Dit is hoe ʼn referendumvraag oor Kaapse onafhanklikheid moontlik kan lyk. In die aanloop tot die plaaslikeregeringsverkiesings is Kaapse onafhanklikheid in die politieke kollig geplaas. Senior politieke figure van regoor die politieke spektrum deel hul menings oor dié kwessie, en die media het uiteindelik wakker geword tot die werklikheid dat Kaapse onafhanklikheid regtig ʼn moontlikheid is.

Kaapse onafhanklikheid ʼn sekondêre vraag

Terwyl die fokus onvermydelik was op hoe mense oor die kwessie voel, is daar ʼn baie belangriker ideologiese stryd wat in die subteks uitspeel. Dit is ’n stryd wat nou onvermydelik op die spits gedryf sal word, en vir nou is Kaapse onafhanklikheid eintlik sekondêr tot hierdie stryd.

Op 3 Oktober 1994 het Suid-Afrika die Internasionale Verdrag oor Burgerlike en Politieke Regte onderteken. Artikel 1, Deel 1, lui: “Alle mense het die reg op selfbeskikking. Op grond van daardie reg bepaal hulle vrylik hul politieke status en streef vrylik hul ekonomiese, sosiale en kulturele ontwikkeling na.”

Op 4 Februarie 1997 het Suid-Afrika die huidige grondwet aanvaar. Artikel 235 lui: “Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van dié reg, die erkenning van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal nie.”

Ingevolge beide internasionale reg en die Suid-Afrikaanse Grondwet word die reg op selfbeskikking verseker.

Demokratiese wil van die Wes-Kaapse volk

In ʼn verklaring wat verlede maand aan die Cape Independence Advocacy Group (CIAG) gestuur is, het die ANC gesê: “Daar is geen ‘demokratiese wense van die mense van die Wes-Kaap’ nie, maar ‘demokratiese wense van die mense van Suid-Afrika’ indien ʼn behoefte aan enige referendum oorweeg word. Met ander woorde, alle mense van Suid-Afrika moet aan ʼn referendumproses deelneem indien enige opduik.”

Dit is baie betekenisvol. Die nasionale regerende party verklaar uitdruklik dat die mense van die Wes-Kaap nie die reg op selfbeskikking het nie. Hulle is nie alleen nie. Die EFF, ActionSA, die Patriotic Alliance en Al-Jama-ah het almal óf implisiet óf eksplisiet dieselfde stelling gemaak.

In die komende maande, namate druk stelselmatig deur politieke magte in die Wes-Kaap sal toeneem, sal dit fassinerend wees om te sien watter argument die ANC en sy vennote gebruik om hul posisie te regverdig. Gegewe dat die Wes-Kaap elke vyf jaar ʼn provinsiale regering verkies, en provinsiale kiesers duidelik in die verkiesingsrol afgebaken word, gaan ʼn argument dat hulle nie “demokratiese wense” het nie, moeilik verdedig kan word.

Provinsiale referendums sal kwessie van selfbeskikking dwing

Daardie druk sal nie net uit die Kaapse Onafhanklikheidsbeweging kom nie, maar ook vanuit ʼn breë alliansie van politieke partye en burgerlike organisasies. Gesamentlik is hulle die dominante politieke mag in die Wes-Kaap en sal hulle die steun van ʼn duidelike meerderheid van die mense van die Wes-Kaap geniet. Die DA is van voorneme om provinsiale referendums uit te roep, en hul Wysigingswet op die Verkiesingskommissie, wat die wetgewende hekkies sal verwyder wat hulle verhoed om dit te doen, sal na verwagting teen November vanjaar die parlementêre komiteefase bereik.

Die Vryheidsfront Plus (VF Plus), die African Christian Democratic Party (ACDP), Cope, die United Independent Movement (UIM), die Kaapse Onafhanklikheidsparty (CIP) en die Cape Coloured Congress (CCC) ondersteun almal ʼn provinsiale referendum om die demokratiese wil van die mense van die Wes-Kaap te bepaal. Met ander woorde, hulle erken dat die reg op selfbeskikking op die mense van die Wes-Kaap van toepassing is.

Interne vs. eksterne selfbeskikking

Sodra die DA referendums begin uitroep, gaan die ANC homself op die horings van ʼn groot dilemma bevind. Selfbeskikking neem twee vorme aan. Interne selfbeskikking, waar die “mense” die middele het om hul reg op selfbeskikking binne die konteks van ʼn groter staat uit te oefen; en eksterne selfbeskikking, waar daardie “mense” van die ouerstaat moet wegbreek ten einde hierdie reg sinvol te kan uitoefen. As ʼn algemene reël is ander lande net bereid om afstigting te ondersteun waar betekenisvolle interne selfbeskikking geweier is.

Die DA, as die provinsiale regerende party, vra vir meer provinsiale magte. Hulle het gevra vir mag oor polisiëring in die provinsie, vervoer, hawens en mees onlangs – belasting. Hulle vra dat die bemagtigende wetgewing vir provinsiale referendums grondwetlik gemaak moet word. Hulle word ondersteun deur ʼn oorweldigende meerderheid van die mense van die Wes-Kaap, en hulle het breë politieke en burgerlike ondersteuning. As die ANC hulle hierdie betekenisvolle interne selfbeskikking wat hulle vra, weier, sal dit vir die Wes-Kaap aansienlik makliker wees om internasionale steun vir eksterne selfbeskikking te verkry.

ANC beplan om provinsiale magte te verminder

Die ANC het ʼn wankelrige begin gemaak deur die onbeheerbare Bheki Cele toe te laat om verlede maand ʼn debat oor provinsiale afwenteling in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) te lei. In reaksie op wydverspreide misdaad en ʼn erg onderbefondsde en swak bestuurde polisiemag, het die Wes-Kaapse regering meer as 1 000 ekstra provinsiaal-befondsde polisiebeamptes aangestel, en ook om meer beheer oor SAPD in die provinsie gevra. Cele het gereageer deur te sê nie net gaan die ANC nie meer beheer toestaan nie, maar hulle wil die paar magte wat die provinsie tans het, verwyder.

ʼn Referendumuitslag wat toon dat die mense van die Wes-Kaap oorweldigend beheer oor polisiëring in die provinsie wil hê, en ʼn nasionale regering wat onwrikbaar weier om toe te gee dat beheer plaasvind, sal bewys dat die mense van die Wes-Kaap nie selfbeskikking het nie, ten minste nie oor daardie spesifieke kwessie nie.

Voeg referendumvrae by oor kaderontplooiing, rasgebaseerde beleid, belasting, federalisme en onafhanklikheid en dit sal vinnig baie duidelik word dat die Wes-Kaap NIE selfbeskikking het nie.

Die Kaapse Onafhanklikheidsdebat gaan selfbeskikking in die kollig plaas, en nie net in die Wes-Kaap nie.

“Demokrasie moet iets meer wees as twee wolwe en ʼn skaap wat stem oor wat vir aandete is,” of, soos Helen Zille dit verlede week aan Tito Mboweni op Twitter gestel het: “Waar mense nie vir die ANC stem nie, verdien hulle nie om onder ʼn mislukte staat te leef nie.”

  • Phil Craig is ʼn gesinsman, ʼn reeks-entrepreneur en medestigter van die Cape Independence Advocacy Group. Hy beywer hom vir die skepping van die “Kaap van Goeie Hoop”, ʼn eerstewêreldland aan die suidpunt van Afrika wat vryheid, veiligheid en welvaart vir almal bring wat daar woon, ongeag ras, godsdiens of kultuur.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

VaalDonkie ·

Dis die besluit van ons wat hier woon. Jy het nie toestemming nodig om af te stig nie. Jy mag dalk wel gevra word om fisies te baklei daarvoor. Maar dis ‘n ander saak.

Harley Davidson ·

Daar moet ‘n referendum gehou word en gebaseer op die uitslae kan onderhandel word met die regering maar dit is nie vanselfsprekend dat daar afgestig gaan word nie maar dit is n begin.

Harley Davidson ·

Die referendum moet net gehou word die mense sal self besluit en ek sal onmiddellik aansoek doen vir burgerskap die onafhanklikheid van die kaap van goede hoop is die enigste manier om weer ‘n ekonomiese krag te word aan die suidelike punt van Afrika

piet ·

Hier is baie anderskleuriges in die kaap. Op grond van wat ek sien in jou kommentare lyk dit nie asof jy baie goed oor die weg sal kom met hulle nie.

SlinkseKoljander ·

Julle het my stem, ANC kan gaan vrot op n ander plek.

Marius ·

Ek reken as ek reeds hier bly is ek klaar in . Laat die dinge begin gebeur want hier kom groooooot sports,
van die cANCer af .

Kirst ·

As die stellings in die artikel akkuraat is, begin dit klink asof selfbeskikking in die Kaap moontlik sal wees. Ek wonder net hoe ons die parasiete wat nog nie hier bly nie gaan uithou as dit wel ‘n werklikheid word. Nes hulle van buite ons grense na SA gestroom het gaan hulle van binne die huidige SA se grense na die Kaap toe stroom as lg onafhanklik raak.

Anoniem ·

Deporteer die ongewensde elemente terug na hul plek van afkoms en laat diegene wat ‘n bydrae kan lewer toe.

Anoniem ·

Stig asb net volkome af en stig ‘n volwaardige republiek, ek wil niks met die ANC gemors te doen hê nie.

Mellivora ·

Lyk my ek moet solank vir my ‘n eiendom iewers in die Wes-Kaap aanskaf.

Jaco ·

In 1768 het Frankryk die eiland Korsika by Oostenryk gekoop. In 1876 het Amerika weer Alaska by Rusland gekoop. So wats die kanse dat ‘n ander land die Wes-Kaap by SA kan koop?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.