Kaders se korrupsie

Voorblad van die staatskaping-verslag wat op 2 November 2016 bekend gemaak is.

Ons word daagliks toegegooi deur die kaders se korrupsie wat onthul word. Die blootstellings van die Gupta-ryk se e-posse wys hoe diep die tentakels van die kanker in die staatsinstellings is.

Een van die onthullings die laaste ruk is die Guptas se aandadigheid aan die term “wit monopolie-kapitaal” wat in Londen deur ʼn groot openbare skakelfirma uitgedink en gedryf is. As dit maar net ʼn politieke poetsveldtog was, was dit dalk een saak, maar dit het rasdemagoë soos die jeugleier van die ANC, Collin Maine, en Andile Mngxitama van die Black First Land First-beweging (BLF), al die ruimte gegee en bemagtig om met haatspraak en rassistiese uitsprake hul eie agendas te bevorder en daardeur self vermoedelik verryk te word.

Ons neem kopskuddend kennis van elke dag se onthullings. Ons word effe ontsteld oor die bedrae wat ter sprake is. Ons weet as ons in ander wêrelddele gebly het, was die politici en sakemanne alreeds in die tronk. Suid-Afrika het egter ʼn land geword waar internasionale en Westerse norme en standaarde, kolonialisties is en daarom van geen belang vir ons is nie.

Die ooglopende korrupsie wat hier toegelaat is om te gebeur en waarvan die Zuma- en Gupta-families die begunstigdes is, bring nou ook ʼn ander perspektief na vore. Die Redakteur van Beeld, Barnard Beukman, skryf in sy rubriek: “Deur die e-posse wat nou die lig sien, word die ANC se slothoofstuk geskryf. Die groot bevryding is as ’n mitologiese bedrogspul onthul.” Die groot “struggle”, die bevryding wat die ANC se fondament is, word nou onder hom uitgeruk. Dit bring ander begrippe ook weer na vore wat die sogenaamde regstelling van die verlede uiters verdag maak. Regstellende aksie, kaderontplooiing, swart ekonomiese bemagtiging en ander was klaarblyklik toe alles die voorlopers van “wit monopolie-kapitaal”, oftewel staatstroping, deur kaders. In Engels is die beskrywing van dié korrupsie dalk meer toepaslik: “cadre stashing”. Dit alles is maar die uitvloeisel van die “struggle”.

Dit het nie alles vandag of gister gebeur nie. Dullah Omar, in 1997 minister van justisie, regverdig Alan Boesak wat skuldig bevind is aan bedrog deur te sê Boesak was bloot besig met “struggle bookkeeping”.

Smuts Ngonyame, ANC-woordvoerder in November 2006, sê hy het nie by die “struggle” aangesluit om arm te wees nie. Só verdedig hy die sowat R160 miljoen wat hy sou maak uit ʼn SEB-transaksie.

Dit alles was egter kleingeld in vergelyking met die bedrae wat nou ter sprake is. By politieke geleenthede word die lot van armes hoogheilig op die voorgrond gestel en word daar wondere verrig met begrippe en grondwetlike waardes wat dan besing word. Deur staatskaping en die aandadigheid aan staatskaping word dieselfde grondwet egter terselfdertyd vertrap en bespotlik gemaak.

Die kernwoord is die gebrek aan verantwoordbaarheid. In die Suid-Afrika van 2017 is dit waarskynlik te veel gevra. Ons kan maar net hoop dat ʼn korrupsie-waarheidskommissie onder ʼn nuwe regering en ʼn nuwe president alles sal oopvlek en dat almal wat gebaat het by staatskaping dan aan die pen sal ry. Die wiel draai stadig.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Verwonderd ·

Kan ‘n mens nie die Londense skakelfirma in ‘n groeps geding siviel dagvaar vir die verlies aan lewens wat hulle swak raad bewerk het agv die haat uitsprake wat deur die regering gemaak is nie. Die verlies van eiendom in Coligny…? Is daar nie middelle in die internasionale strafhof om die aanhitsers van volksmoord – soos bv hierdie firma kort te vat nie? Kan ‘n mens die regering by die mense regte komisie aangee?

Chris ·

In gesprekke/woordewisselings wat ek al gehad het, is my uitlatings befrons en het tot hewiger gesprekke gelei. Ek is nie ‘n wrokdraer van die Boere Oorlog nie. Dit het gebeur en wat gebeur het sal ons ewig bybly. Wat tans in die wêreld aangaan is om die minste te sê kommerwekkend, en nog erger wat in die land aangaan. Ek sal nie verbaas wees oor die bewerings wat gemaak word waar is nie. Gaan kyk na elke kolonie waar die Britte regeer het, na onafhanklikheid is die betrokke land in ‘n Ekonomies en maatskaplike gemors. Praat nie eers van die veiligheidsaspek nie. Dit is deur en deur wêreldwyd en nie net in Afrika nie, bewys. Ek is vas oortuig daarvan dat ons land nie ‘n uitsondering is nie. Ons “politici” is van sulke swak inbors, dat enige vreemde moonheid se agente regeringsamptenare kan omkoop en manipuleer. Ek het nou die dag ‘n video van ‘n Ghanese burger gesien. Hy sê daar dat as jy in Afrika vinnig wil ruk word sonder om daarvoor te werk, raak betrokke in die Afrikaan sê politiekery. Botswana se onafhanklikheid is ‘n klug. Dit is ‘n oop geheim dat De Beers die land beheer, besit en befonds. Die ou reel van “devide and rule” geld weer in Suid Afrika. Nog geen “bevrydings/terroriste ” organisasie kon ‘n land na oorname goed bestuur nie. Die geskiedenis spreek vanself.

John ·

IS is ‘n terroriste-organisasie wat uit sekere onderduimse oorde steun kry en ‘n skrikbewind voer. Gaan dit, as die groep bv Sirie oorvat, skielik in ‘n oulike demokratiese bestel verander, ‘n sterk ekonomie daarstel en al die vorige inwoners terugnooi. Nee. Die ANC was ‘n terroriste-organisasie met lede wat na erge dade en planne, gevang en tronkstraf opgele is, maar deur sekere lande ondersteun is, in der mate dat die SA-regering oorgegee het. Het die ANC na sy oorname skielik verander in ‘n demokratiese, mensliewende regering wat goeie bestuur najaag en sy vorige vyand en die arm inwoners omarm. Ook nee. Dis kaders en mk’s, rewolusie-praatjies, kommuniste en comrades… en slinkse vergaderings en planne en geld wat die land uitvlieg… Het die ANC verander of is die oogmerke steeds dieselfde onder die leiding die destydse mk-opperleier nogal. Hoe lui die spreekwoord: ‘n Jakkals verander van haar maar nie van snaar.

Luister ·

Die ANC se einde is naby. Hulle wou mos vir God versoek, deur te sê; ANC sal regeer tot Jesus terugkom. Kry vir julle!!

koos1 ·

2 dinge wat ek wil sê.
1. Wys jou hoe diep is Zuma en die Guptas in mekaar op gekruip. Hy gebruik tot selfs hulle spindokters se verskonings in sy toesprake (of was dit deur die Guptas vir hom geskryf?)
2. Helle Zille is knie diep in die moeilikheid oor haar tweets, maar Guptas en Zuma gebruik die Britte nog steeds om hulle agendas te bevorder? Het ons steeds te doen met 2 stelle reels?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.