Kamala Harris is Demokrate se ‘aanvalshond’

Joe Biden. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

In Julie het die demokratiese presidensiële benoemde, Joe Biden, gesê hy sal sy visepresidentskandidaat kies en begin Augustus sy keuse aankondig. Natuurlik het die Amerikaners asem opgehou. Die eerste week van Augustus het gekom en gegaan sonder ’n aankondiging. Die Obama-keuses en die ultra-linkse Bernie Sanders-keuses het nogal ’n gestoei afgegee wat taamlik intens was. Daarna is aan ons gesê dat Biden sewe kandidate op die kortlys gehad het, waarvan die gunstelinge die volgende is: sen. Elizabeth Warren, sen. Kamala Harris, Susan Rice (voormalige nasionale veiligheidsadviseur van Obama), kongreslid Val Demings, kongreslid Karen Bass, en kongreslid Tammy Duckworth – almal vroue van kleur, behalwe Warren, wat vir die grootste deel van haar lewe beweer het sy van Indiaans- Amerikaanse afkoms.

Biden se belangrikste kriteria vir keuring was eerstens “Doen geen kwaad”. Tweedens moet dit ‘n vrou wees en derdens moet dit ‘n vrou van kleur wees wie se identiteitspolitiek duidelik belangriker is as meriete of kwalifikasies. Voorgenoemde het Warren effektief uitgeskakel.

Rice, met die Benghazi-ramp steeds soos ’n albatros om die nek en waaroor sy herhaaldelik gelieg het, haar veelvuldige buitelandse beleidsmislukkings en haar medepligtigheid in die onregmatige vervolging van Michael Flynn, het nie die paal gehaal nie. Demings, voormalige polisiehoof in Florida en ’n leier in die Trump-vervolging, is as ’n lastige probleem beskou, gegewe die militante Defund the Police-beweging en Biden se ongunstig verslag oor die hervorming van strafreg. Bass, voorsitter van die Congressional Black Caucus, wat luidkeels protes aangeteken het en leiding in die huis van verteenwoordigers geneem het betreffende George Floyd se dood, is uitgesluit weens haar noue bande met Kuba en openlike steun aan Marxisties-beheerde regerings. Warren se wit vel diskwalifiseer haar en Duckworth, ‘n gestremde, maar sterk en energieke vrou van kleur (sy het albei haar bene tydens die oorlog in Irak verloor), was ongelukkig nie bekend genoeg nie.

Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Carolyn Kaster)

Kamala Harris het dus oorgebly – sy wat slegs 2% (844 stemme) in die Demokratiese presidensiële voorverkiesings gekry het. Waarom iemand kies wat die slegste gevaar het in die verkiesingsveldtog en lank voor die Iowa-koukus uitgesak het? Hoewel haar eie party haar nie ten gunste was weens haar gebrek aan uitmuntende prestasies, staan sy nou tweede in die ry vir die Withuis, asook die troon self, gegewe Biden se kognitiewe agteruitgang. Harris is deur ’n paar groot nuuskanale voorgehou as ‘n (gematigde) vlerksleper by en bearbeider van sentriste, maar dit is sy allesbehalwe. Volgens Joshua Lawson, ’n federale personeellid, wys ’n gedetailleerde assessering deur Voteview dat Harris se stemrekord meer links is as 97% van die Demokrate in die 116de senaat en meer liberaal as 99% van die senaat in sy geheel. Van die huidige lede van die Amerikaanse senaat is Harris meer liberaal as senator Bernie Sanders.”

Die land, nee die wêreld, behoort bekommerd te wees oor iemand wie se veldtog deur The Wall Street Journal-rubriekskrywer, Kimberley Strassel, beskryf word as “’n deurmekaar gemors weens binnegevegte, lekkasies, oorbegin en finansiële probleme.” Haar veldtog, wat berug is vir die swak behandeling van personeel, was net so rampspoedig as haar beleidsvoorstelle, soos, onder meer: die uitskakeling van private gesondheidsversekering (totdat die media haar hieroor gekonfronteer het); gemeenskaplike gesondheidsorg (Medicare for All); om state en gebiede, via die departement van justisie, te dwing om beperkings op aborsies te verwyder; gesondheidsorg vir onwettige immigrante (sy het geglo dat dit nie ’n misdaad is om die grens onwettig oor te steek nie); die verbanning van sekere soorte vuurwapens ingevolge uitvoerende gesag; en die Green New Deal. Joshua Lawson het beweer dat Harris se “Klimaatplan vir die volk” – om teen 2030 100% koolstof-neutrale elektrisiteit aan die ganse Amerika te verskaf – sal impliseer dat alle nuwe busse, swaarvoertuie en voertuie geen gasse meer sal uitlaat nie. Alle nuwe geboue moet dus ook koolstofvry wees.” Haar voorstel om hidrouliese breking en oopseeboorwerk te verbied, sal die land, ironies genoeg, 9 miljoen werkgeleenthede kos. En dít is basies haar probleem.

Joe Biden en Kamala Harris. (Foto: AP Photo/Andrew Harnik)

Bedrewe daarin om radikale gesprekspunte te uiter, gee Harris blykbaar gee oorweging aan hoe haar belastingvretende beleide gefinansier sal word nie, en ook nie wat die gevolge van haar radikale beleid op die VSA se mense sal wees nie. Ironies genoeg het haar staat (Kalifornië), middel Augustus ‘n aantal kragonderbrekings gehad wat 3,3 miljoen huishoudings geraak het – sodanig dat goewerneur Gavin Newsom, die hoofvoorstander van sonkrag, (gegewe die honderde sonkragstasies in die staat), erken het dat sy energiebeleid radikaal hersien moet word om in die behoeftes van ‘n bevolking van 40 miljoen te voorsien.

Strassel noem Harris heel gepas “die definisie van politieke middelmatigheid”; Steve Hilton, ankerman van Next Revolution op Fox News, het haar beskryf as ‘n narsissistiese tiran wat haar seile na die wind span, nie ’n eie standpunt het nie, maar tog die Biden-boerpot gewen het. Ja, sy is ‘n vrou van kleur, maar dat sy “geen kwaad doen” nie, is ‘n heel ander storie. Sy word deur ’n Biden-raadgewer beskryf as iemand wat die meeste boksies aftik. Min mense vertel jou egter watter boksies dit is. In hierdie artikel poog ek om dié boksies oop te maak vir die publiek om te ondersoek.

Die Demokrate het Kamala Harris gekies as die veghond van die Party. Sy is uiters knap met die skep van insidente wat vinnig opslae maak en sal, sonder om ’n oog te knip, haar ten doel stel om Trump se naam swart te smeer. Indien Trump sou terugslaan, sal haar kritici weer eens gebrandmerk word as rassiste, seksiste en vrouehaters om alles wat Trump sê of bereik, te weerspreek. Haar gewetenlose oorlog teen regter Kavanaugh het tydens die TV-uitsending van die senaat se geregtelike verhoor baie aandag getrek en haar aanvalle op hom het sy gebruik om haar presidensiële veldtog ’n hupstoot te gee. As een van die voorbokke, was haar bedoeling om Kavanaugh te vernietig nog voordat sy eens geweet het wie hy is. Sy het senaatverhore in ‘n sirkus omskep en haar haar betogers – almal leë blikke, nes sy – met haar giftige uitsprake teen die kandidaat, na die heilige sale van die senaat gelok wat dit laat voorkom het dat sy bewyse teen hom het. Sy dra haar feministiese “Believe all Women”-mantra soos ‘n ereteken op die lapel van haar senatorskap, en probeer blatant om Kavanaugh met haar bitsige, geveinsde ondervraging in ‘n lokval van meineed te lei.

Ondanks die feit dat sy die presidensiële wedloop hopeloos verloor het, het sy haar merk gemaak deur Biden daarvan te beskuldig dat hy ‘n rassis is, haar met segregasioniste vereenselwig en geïmpliseer het dat Tara Reade, wat Biden van seksuele aanranding beskuldig het, geglo moet word. Tog het sy niks gedoen om agter die waarheid betreffende Tara Reade se aantygings van seksuele aanranding te kom nie al was daar beduidend meer bewyse as enigiets wat al teen Kavanaugh se kop geslinger is.

Hoewel sy as staatsprokureur in 2010 baie hovaardig teenoor vrouekwessies was, het sy haar geskaar aan die kant van Katolieke leierskap in Kalifornië ​​en glo 300 priesters beskerm teen 1 000 slagoffers se beweerde aantygings van seksuele aanranding. Sy het die bekendmaking van die nodige dokumente om hul sake te verdedig, gekeer en gesê dat sy die identiteit van die slagoffers moet beskerm. Prokureurs en ander distriksprokureurs het dit as ’n skynrede beskou.

Kamala Harris en haar man Doug Emhoff. (Ftoo: AP Photo/Andrew Harnik)

Volgens Associated Press (AP), Joey Piscitelli, woordvoerder van die Noord-Kaliforniese afdeling van die SNAP (Survivors Network of those Abused by Priests) het sy haar misnoeë daaroor uitgespreek: “Sy het niks gedoen nie”. Terwyl Harris beweer dat sy ‘n voormalige aanklaer en die prokureur-generaal van Kalifornië is, bewys haar geskiedenis die teendeel. Haar onwilligheid om te vervolg het waarskynlik te make met haar lang verbintenis met die Katolieke Kerk en hul ruim skenkings aan haar politieke veldtogte. Soos deur die AP uitgewys: “Katolieke verteenwoordig groot stemblokke in die stad en die staat, en is verantwoordelik vir en maak ongeveer ‘n kwart uit van die bevolking in beide die metrogebied in San Francisco en die hele Kalifornië.”

‘n Kenmerk van Harris se politieke loopbaan was politieke bevordering bo enige flentertjie etiek wat sy mag hê. Waarom sou iemand wat haar medekandidaat ‘n rassis, ‘n segregasionis en ‘n geïmpliseerde seksuele oortreder noem, nou skielik saamspan vir die presidentskap van die Verenigde State?

Harris is ‘n dogter van immigrante-ouers. Haar vader is ’n emeritusprofessor in ekonomie van die Stanford-Universiteit en haar oorlede Indiese moeder was ‘n prominente kankernavorser. Sy het aan eliteskole en -universiteite gestudeer. Ja, sy is ‘n vrou van kleur, maar sy het baie min in gemeen met gematigde Amerikaners – allermins van gewone Afro-Amerikaners wat die oppergesag van die reg en grondwetlike waardes (intrinsiek aan die grondvesting van Amerika) respekteer. In die aanvaarding van Biden se benoeming, het Harris gewys dat sy haar siel aan die hoogste bieër sal verkoop, ongeag, net soos sy haarself geriefshalwe aan die voormalige speaker van Kalifornië en die burgemeester van San Francisco, Willie Brown, verkoop het in ‘n onvoorwaardelike seksuele verhouding ( terwyl hy getroud was) – alles om vinnig te vorder van staatsprokureur, na prokureur-generaal van Kalifornië tot senator in die kongres.

Die presidentskap is net die laaste sport op die gladde leer na uiterste mag!

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Rhoda Kadalie

Die rubriekskrywer Rhoda Kadalie is afgetree en woon tans in die VSA. Sy is die voormalige direkteur van Impumelelo Sosiale Innovasiesentrum, menseregtekommissaris en akademikus.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Kokerboom ·

Dankie Rhoda vir ‘n, soos altyd, uitstekende insiggewende artikel. Dis altyd verrykend om jou skrywes/artikels te lees

Niklaas ·

Ek sien Biden veroordeel Trump weens die hantering van die Covid 19 virus. Asof Trump blameer moet word . Nou wonder ek of ou Bewerasie Biden die pandemie se gevolge baie beter kon hanteer of selfs verhoed het ?

Human ·

Rhoda jy klink soos ‘n plaat wat vashaak. Skryf ‘n slag ‘n relaas oor Don Tantrum Trump se deugde en kennis van hoe om ‘n land soos die VSA ordentlik te regeer, oeps nie maklik, dalk heeltemal ontmoontlik, want al wat oor hom geskryf kan word is dat hy ‘n liegbek, korrupte narsis is, wat as President baie gevaarliker is as enige toekomstige President wat by hom gaan oorneem.

Jack ·

Hoe weet ‘n mens ‘n politikus lieg? Sy lippe beweeg. Politiek verg mense met ‘n groot ego, ‘n dik vel en ‘n swak geheue. Om van ‘n politikus te verwag om altyd die waarheid te praat is baie naief.

Watter ander Amerikaanse president het al sy werk gedoen sonder om ‘n sent vergoeding daarvoor te aanvaar. Ek weet net van Trump. HY skenk sy hele salaris aan ‘n vereniging van oud soldate, mense wat deur die linkses in die VSA verguis word.

Wat het Trump gedoen wat baie gevaarlik is? Dis nou behalwe om te wys hy is ‘n veel beter president as Obama en Clinton. Kyk as dit by liegbekkery kom stof Obama en Clinton vir Trump ver vooruit.

Human, jy dink seker ook dat JZ783 en Ramapromises goeie presidente is?

Autobahn ·

Soos Biden is Harris deel van die transnasionale elite Fascisme.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.