Kameroen en Paul Biya: Die tragedie van leierskap in Afrika

kameroen-vlag-teen-muur

Kameroen. Foto: Public_Domain_Photography/Pixabay.com

Kameroen in Wes-Afrika was onlangs weer kortliks in die nuus oor die presidentsverkiesing. Die land is eintlik simptomaties vir wat alles in Afrika verkeerd loop. Dit is nie ʼn heeltemal mislukte staat soos Somalië of die Demokratiese Republiek van die Kongo nie, maar nog minder ʼn suksesverhaal soos Rwanda of Botswana. Dit is maar net die gemiddelde Afrika-staat met sy bekende en frustrerende politiek wat so min rede tot hoop gee.

Om by die verkiesing te begin. President Paul Biya, wat al sedert 1982 regeer, het (wat niemand verbaas het nie) weer met ʼn oorweldigende meerderheid gewen. Hy het 71% gekry, teenoor die hoof opposisiekandidaat Maurice Kamto met ’n skamele 14%. Die stempersentasie was laag, net onder 50%, veral in die Engelssprekende westelike streek, wat in opstand is teen die onderdrukking deur die Franssprekende meerderheid. Daar het blykbaar net tussen 5% en 16% gestem en die opposisie het die verkiesing daar geboikot en probeer ontwrig.

Dit is nou mnr. Biya se sewende termyn en hy is reeds 85 jaar oud. Natuurlik kan daar geen sprake wees van ʼn vry en regverdige verkiesing nie. Die regering het talle magsmiddele om die uitslag in sy guns te laat swaai, soos beheer oor die media en ʼn uitgebreide staatsdiens wat lojaal aan die president is. Nogtans is dit nie die geval dat die uitslag op groot skaal bekook is nie, of dat kiesers met die geweer teen die kop gedwing is om te gaan stem nie. Vir ʼn korrupte leier om vir dekades aan bewind te bly het jy ook ʼn bevolking nodig wat dit toelaat en hom stilswyend steun. In Afrika word die leier dikwels herhaaldelik gekies omdat mense hom ken en vrees dat ʼn nuwe president dalk nog erger is (“Better the devil you know than the devil you don’t“). In die rare gevalle waar daar ʼn demokratiese bewindsverandering in ʼn Afrikaland plaasgevind het, byvoorbeeld in Kenia in 2002, waar Mwai Kibaki vir Daniel arap Moi ontsetel het, was die verdere verloop van sake ook maar ontnugterend, met onvervulde beloftes, verkiesingsbedrog en etniese geweld.

ʼn Ander wesenlike rede vir die gereelde herkiesing van dieselfde leiers, is die patroon in Afrika om gevestigde mag te eerbiedig en te steun. Die leier se legitimiteit kom nie deur die bevolking en deur die stembus nie, soos in ʼn ware demokrasie, maar uit sy posisie as leier, soortgelyk aan ʼn koning wat regeer omdat hy koning is. Dit geld ook vir die onlangse verkiesing in Zimbabwe, waar Emmerson Mnangagwa verkies is omdat hy reeds die president was, ongeag daarvan dat hy vir dekades mnr. Mugabe se regterhand was en skuldig is aan volksmoord.

Daar is enkele gevalle van goeie leiers (in die konteks van Afrika), wat hul mag gebruik om hul land te hervorm en te ontwikkel, soos Paul Kagame van Rwanda of, in ʼn mindere mate, Yoweri Museveni van Uganda, wat egter ook sorg dat hulle aan bewind bly.

Besonder wrede en eksentrieke leiers, wat aan grootheidswaan ly en dink hulle het ʼn besondere missie, kom ook dikwels in Afrika voor, waarvan Idi Amin van Uganda altyd die ikoniese voorbeeld is. Maar die oorgrote meerderheid leiers in Afrika is soos mnr. Biya: kleptokrate wat hul land plunder en met ʼn harde hand sorg dat hulle en hul kliek aan bewind bly. Hulle is egter ook slim genoeg om te weet dat uitermatige wreedheid en radikale optrede te veel media-aandag sal trek en tot sanksies sal lei, en sorg dat al hul misdrywe binne die vir-Afrika-aanvaarbare konteks geskied en onder die radar bly. Voorbeelde van dié tipe leiers is volop. Min mense buite Kameroen weet van mnr. Biya, al is hy een van die langs regerende leiers, juis omdat hy die boot nie te veel skud nie. Hy is ook buigbaar genoeg om sekere toegewings te maak, soos die oorskakeling van ʼn eenparty- na ʼn veelpartystelsel in die nadraai van die wêreldwye aandrang op vryheid en demokrasie in die 1990’s. Dit het egter in praktyk geen uitwerking op Kameroen se politieke kultuur gehad nie, soos die onlangse verkiesing weer bewys.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.