Kampusgeweld kan lei tot tweede Marikana

marikana

Argieffoto

Die huidige vlaag studente-protesaksies toon direkte ooreenkomste met die Marikana-insident van Augustus 2012. Indien die studente-protesleiers voortgaan om kwaad te stook en geweld en anargie te verromantiseer, kan dieselfde tragiese gebeure as tydens die Marikana-insident ook op kampusse afspeel.

Die aanloop tot die gebeure op kampusse die afgelope paar weke is tot dusver dieselfde as dié van Marikana. Soos die betogers op kampus, is die Marikana-betogers toegelaat om die Wet op Oproerige Byeenkomste te oortree.

Tydens die Marikana-optogte het geweld en plundering na elke massa-byeenkoms uiteindelik opgebou tot op die punt waar dit nie meer vreedsaam ontlont kon word nie. Die parallelle tussen Marikana en die kampusgeweld van die afgelope ruk, is ook duidelik sigbaar in dié sin dat buitestaanders met ʼn sterk politieke agenda poog om individue wat regstreeks by die konflik betrokke is, te oortuig dat hulle vir ʼn edel saak veg.

Betogers word deur hierdie individue oortuig dat oproer en nie vreedsame onderhandelinge nie, die enigste uitweg is. Die EFF en die Workers and Socialist Party (Wasp) is redelik sentraal tot die huidige gebeure op die verskeie kampusse en so was hulle “toevallig” ook tydens die Marikana-gebeure betrokke.

Die “wenners” na Marikana was juis hierdie militante groepe wat eers agter die skerms werksaam was en van agter hul verskuilde agendas op die voorgrond getree het ná die tragiese gebeure wat wêreldnuus geword het.

Mametlwe Sebei, die leier van Wasp, het tydens ʼn onderhoud met The Star in Januarie 2016 bekend gemaak hulle gaan vanjaar anargie skep om die ANC tot ʼn val te bring en dat die universiteite hul fokusarea sal wees. So het Wasp, effe arrogant, ook krediet geneem vir al die studente-opstande sedert 2015. Gepaardgaande is die EFF se radikale betrokkenheid op al die kampusse alombekend en gerugte doen gereeld die rondte dat opstokers betaal word om geweld aan te hits.

Tydens Marikana was dit juis die jonger garde wat meer beïnvloedbaar was, wat die leiding tydens die gewelddadige optogte geneem het. Hierteenoor het ouer lede van verskeie belanghebbende partye ʼn gedeelde kommer gehad dat die gedrag, optrede en wyse van geskilbeslegting nie aanvaarbaar is nie. Laasgenoemde het nou met die kampusgeweld ook duidelik na vore gekom, toe die leierskap van die Solidariteit Beweging saam met ander belanghebbende partye byeengekom het om ʼn gesamentlike oplossing vir die kampusgeweld te vind.

Die huidige verskynsel op kampusse, waar edele eise voorgehou word, maar onstabiliteit die einddoel is, wek die meeste kommer, aangesien dit bykans onmoontlik is om aan al die eise te voldoen en dit dan tot onophoudelike geweld lei, wat onherstelbare skade tot gevolg het.

Die Marikana-onrus het vir ʼn verdere 18 maande voortgeduur soos wat sy vernietigende uitwerking en verskuilde agendas aan die lig gekom het. Die Marikana-tragedie het ook die klimaat geskep vir die vernietigende staking van vyf maande in die platinumbedryf wat daarop gevolg het. Wat beteken dat, volgens die parallelle, die studente-oproer nog lank kan voortduur.

Diegene met verskuilde politieke agendas, wat studente tot oproer en geweld opsweep, moet nou geïdentifiseer en geïsoleer word om die vernietigende rimpeleffek daarvan te keer. Gewelddadige protesaksie benadeel uiteindelik diegene, wat vir die verskuilde agendas geval het, die meeste. Die Marikana-stryders word tot vandag toe negatief geraak deur die krimpende mynbedryf, werkloosheid, die afname in mynboubeleggers, onophoudelike onstabiliteit, ʼn toename in misdaad en die fisiese vernietiging van infrastruktuur, om net ʼn paar voorbeelde te noem. Dit gaan die studente se voorland wees, soos reeds die geval is by die NWU-Mafikeng kampus na die brandstigting.

Die onlangse sterk uitsprake van professor Cheryl de la Rey, vise-kansellier van die Universiteit van Pretoria, dat geen verdere onrus meer geduld sal word nie en dat die oppergesag van die reg herstel sal word, moet verwelkom en ondersteun word. De la Rey se onlangse besluit om die geskorste EFF-lede egter weer op kampus toe te laat, is in teenstelling met haar kragtige uitspraak, maar mens glo steeds dit sal geld sodra daar weer onrus is.

As mynbouhoofde en senior polisielede by Marikana egter dieselfde houding ingeneem het om die oppergesag van die reg te laat geld, sou Marikana nooit gebeur het nie. Die groot opstokers by kampusse wil ʼn tweede Marikana hê om op die emosie en onstabiliteit wat daarna gaan volg, te teer. Dit kan nie toegelaat word nie.

Parallelle en raakpunte met Marikana:

Proses by universiteite tot op hede

  1. Oorspoel van ʼn geskil na soortgelyke omgewing
  2. Eise kom edel en regverdig voor
  3. “Slagoffers” word vaandeldraers van die eise
  4. Daar word met oproeriges onderhandel buite die bestaande strukture
  5. Verskuilde politieke agenda agter die eis
  6. WASP (Workers and Socialist Party) en EFF in die agtergrond
  7. Onwettige oproerige byeenkomste word nie verhinder nie en geweld volg ná elke byeenkoms
  8. Oproerigheid versprei en neem toe
  9. Atmosfeer vir onderhandelde skikking nie meer gunstig nie

 Universiteite is nou op dié punt.

Marikana-gebeure wat moontlik by universiteite kan volg:

  1. Tragiese gevolge wat wêreldnuus word
  2. Populistiese groeperinge tree op die voorgrond en verklaar oorwinning
  3. Verdere onstabiliteit volg
  4. Permanente negatiewe gevolge vir hoofstroom-rolspelers
  5. Atmosfeer geskep vir volgende eise en aksies

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Gideon Du Plessis

Gideon du Plessis is hoofsekretaris van Solidariteit.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Wynand ·

Ru julself reg mense – julle gaan baie eise teen julle kry indien studente wat nie aan hierdie gemors deelneem nie gaan seerkry. raak ontslae van die rugraatlose Rektore en kry iemand wat die job kan doen – en vinnig ook.

John ·

Ons polisie is na’ die Marikana-onluste te bang om eers te koes vir ‘n klip. Ek mag dalk die enigste een wees, maar ek glo ‘n mens moet luister as die polisie se: gaan huistoe. So is ek as kind geleer. Die mense by Marikana het vir moeilikheid gesoek en nou soek die vroue groot geld. Die polisie sal nie op die studente skiet nie al brand hulle die rektor se kantoor af. Dit is swart-beswaardes, onthou? Die anargiste wil he die wit studente moet kwaad word. Ek hoop die ouers hou hul hande op die jonges. Die rektore & kie moet self die kastaiings (of hul skilderye) uit die vuur, wat hulle laat vlamvat het, gaan krap.

anna ·

Julle gaan sleg tweede kom met hierdie gemors en dit geld vir ou Cheryl ook wat agteroorbuig om die eff te akkomodeer.Net nog n pateet van n rektor.Lyk my nie een het rugraat nie.

saarkie ·

Slaprug Rektore word aangestel met n doel:
1. Sodat huidige regering sy doel kan bereik,
2. Hoe minder normes waardes en beginsels die Rektor het hoe makliker bereik regering sy doel
3. Minister, regering en Rektor luister na molesmakers
4. Regering word ingeroep as die “held” wat kampusse moet ” red”
5. Hoe doen hy dit
6. Skrap alle tradisies om almal akkommodeer!!
Sterkte!

JC ·

Uitstekende artikel.
Kom ons beveg hulle, nie met swaard nie, maar met ons breinkrag en intellek.
UV gaan verloor in die hof oor sy inbraakmaking op Afrikaans se gebruik as instrument van moedertaalonderrig, as synde ‘n grondwetlik beskermde reg. Dit sal die eerste oorwinning wees vir ons Boere wat nou moet veg vir ons taal, soos in die verlede!
Ons kan hulle (die linkses, individue sonder waardes, en anargiste) vernietig met ons intellek. Kom ons doen dit!

heilette ·

Ek is ‘n student aan die NWU-Potchefstroom kampus en ek kan julle verseker dat die kampus verskeie voorsorgmaatreëls in plek gestel het om ons studente en die kampus se veiligheid te verseker. Die sekuriteit is baie opgeskerp en die toeganklikheid van die kampus is van so ‘n aard dat enige een nie kan toegang verkry nie. Gedurende sekere tye van die dag word van die hoofingange gesluit en ek neem aan dis sodat betogers nie toegang tot kampus kan verkry nie. Ek as damesstudent het nog nie een dag onveilig gevoel op my kampus nie en ek haal my hoed af vir die universiteit dat hulle so vinnig en so goed reageer het om maatreëls in plek te stel en ons te beveilig. #dankiePUK #myNWU

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.