Kampuskonflik: Het ek my stem verloor?

praat-mikrofoon

Argieffoto.

Deur Jahni Cowley

Ek is die afgelope week platgetrek met ’n virus wat veroorsaak het dat ek letterlik my stem verloor het. Dis nie die eerste keer nie, dis iets wat my al ’n paar jaar lank teister, waarskynlik die gevolg van ’n dekade se aktivisme en gepaardgaande harde stemtoon. Dis nooit lekker nie, inteendeel, dis moeilik om die frustrasievlakke te beskryf. Niemand skryf of tik so vinnig soos hulle kan praat nie. Vir ’n ma met klein kindertjies hou hierdie toestand natuurlik bykomende gevolge in, maar dis ’n artikel vir ’n volgende dag: “Hoe om beheer in jou huis te behou met woedende handbewegings”.

My stemloosheid die week kom op die agterent van die vlaag kampusgeweld wat ons land die afgelope paar weke teister. As vakbondorganiseerder verantwoordelik vir Solidariteit se lede by die kampusse, het ek eerstehands beleef hoe mense vasgevang is in ’n situasie wat hulle nie verstaan het nie, want die protesleiers se eise het al soveel keer verander dat dit vir almal moeilik was om by te hou. Die konflik het om almal se koppe gewoed, en die groot leemte was duidelik: Hoekom word ek, werknemer, nie hierin geken nie? Hoekom word daar gedebatteer (aan die een kant) en bakstene gegooi (aan die ander kant) oor kwessies wat my raak, maar ek het geen plek om my mening te lug nie?

Hoe het ek my stem verloor?

Stem verloor het baie fasette. Ons verloor vinnig en maklik ons stemme in ’n werkplek as ons nie bereid is om op te staan, hoe ongemaklik ook al, om standpunt in te neem nie. Nie noodwendig standpunt in te neem téén nie, maar om op te staan vir dit waarin ons glo. Selfs dieper, weet ons nog waarin ons glo? Het alle universiteitswerknemers paraat gesit met ’n goed genuanseerde argument vir sake soos die gebruik van Afrikaans op kampusse, vir veiligheid op kampusse? Die antwoord is nee. Die antwoord is dat ons, selfs met die lang waarskuwingstyd waarmee ons gesit het ná #FeesMustFall, nie heeltemal reg was nie, en eerder onmiddellik elders na eksterne leiding gesoek het, as binne onsself. En daardeur het ons ons stem verloor.

Een les te leer uit die kampusgeweld, is hoe noodsaaklik dit is om te weet wat om ons as werknemers aangaan, sowel in die mikro- as die makro-omgewing, ’n besluit te neem oor ons standpunt oor ’n saak, en gereed te wees om ’n argument te kan voer om ons standpunt te verdedig.

Ons is lank nie klaar nie, en die feit dat universiteitskampusse ’n politieke speelveld geword het, beteken nog baie ruimte om stem te vind en te praat. NP van Wyk Louw het gesê: “Die een Verskriklike wat ons moet vrees, is die stilte wat oor die wêreld sal neersak wanneer daar nie meer binne die volke gepraat sal word nie, gestry, geredeneer nie; en die volke self teenoor mekaar nors en stil en sonder gesprek soos groot roofdiere sal lê.” Laat ons ons stemme vind, en laat ons nooit ophou praat nie.

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

NP van Wyk Louw-sentrum

Meer oor die skrywer: NP van Wyk Louw-sentrum

Die NP van Wyk Louw-sentrum vir Gemeenskapstudies is ‘n toekomsgerigte ideesentrum wat fokus op die voorwaardes vir selfstandige en suksesvolle gemeenskappe.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

Piet Snot ·

“… om op te staan vir dit waarin ons glo …”
Ons is al so bang om ons monde oop te maak, want omtrent enigiets wat jy sê, maak jou ‘n rassis.
Ek’s sommer lus & gaan verf my gesig pers (maar agter geslote deure)!

Henk Booysen ·

Ons kan nog bou! Selfs met stormwinde hier om ons moet ons net aanhou bou en weet as môre die laaste dag is dan plant ons vandag nog ń boom. As jy besig is om te bou aan dit wat jy glo kan niks jou stuit nie.

Breytie ·

Tesame met alles wat in hierdie artikel gesê is, wonder ek of ons nie nog ‘n faktor hier moet bymeng nie, en dit is die aard van ‘n beskaafde Afrikaner. Ons is nie naastenby klipgooiers en afbranders nie, maar ons is selfs nie geneig tot opstand nie.

Daar is seker ‘n beskaafde manier van opstand. In einste NP van Wyk Louw se “Raka” het Koki in opstand gekom binne die verwagting van sy kultuur, met assegaai en spies, die edel vegter teen ‘n afskuwelike bedreiging waarvoor hy kans gesien het met die geloof dat hy hierdie vyand met sy bekende wapens sou oorwin. Maar Koki was nie grootgemaak om teen slinkse gemeenheid te veg nie, hy het nie geleer om sy vyand te ontmoet in sy vieslike, stinkende lêplek nie, hy was gewoond aan vyande wat soos hy, edel van inbors was, hy kon nie veg teen die verleidelike bandeloosheid van Raka nie, hy het nie die aanloklike krag van eiebelang en selfgenoegsaamheid verstaan nie.

Is ons Afrikaners voorberei om metodes van opstand te gebruik wat selfvernederend is? Is daar enige sin in om so iets aan te leer? Onderwerping aan ware gesag lei ‘n mens nà ‘n lang pad tot oorwinning, maar ons is gekonfronteer met ‘n Raka wat net rebellie en sinnelike genot het om opstand te toon.

John ·

“Vir ‘n Ma met klein kindertjies…” Ons moeders is tog so edel. Wie pas jou kinders op?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.