Kan Brexit die Noord-Ierse konflik heraktiveer?

Argieffoto

Teen dié tyd is die meeste waarnemers bewus van presies hoe ’n komplekse proses dit is vir Brittanje om hom van die Europese Unie los te maak. En Brittanje was nooit eens volkome geïntegreer nie deur sy eie geldeenheid, die pond, te behou.

Die Brexit-proses het reeds premier Theresa May, die Britse premier, se regering onder groot druk. Die besluit het voorts verhoudinge met Skotland gekompliseer, deurdat die meeste Skotte deel van die EU wou bly, maar deur die meerderheid Engelse stemme saam uitgesleep word. Ook die meeste Noord-Iere wou deel van die EU bly – en dit is juis hier waar die ernstigste krisis tot dusver opduik, naamlik hoe die grens tussen Noord-Ierland en Ierland gaan funksioneer.

Ongeveer 20 jaar ná die Noord-Ierse vredesooreenkoms, is dit nog onseker hoe die grens wat tot deur huise loop, tussen Noord-Ierland en Ierland ná Brexit gaan funksioneer. Sedert die middel 90’s is die grens prakties oop, nie net weens die vredesooreenkoms nie, maar omdat Ierland en Brittanje beide lidlande van die EU was, en grense tussen lidlande normaalweg baie oop is.

Maar ná Brexit gaan die grens weer ’n grens wees, en verskillende bedrywe, waaronder die bierbedryf en die teel van resiesperde, vind geïntegreerd oor die grens heen plaas. Selfs net ’n oponthoud by die grens sal Ierland en Noord-Ierland se ekonomieë hard slaan.

Dit het pas bekend geword dat Ierland nou vasskop, en sê dat die grenskwessie nou gefinaliseer moet word alvorens hy sal toelaat dat enige ander onderhandelings onder die loep kom.

Een van die vrese is dat ’n bewaakte grens ou herinneringe kan laat opvlam en dat die Noord-Ierse terreur, waartydens sowat 3 500 mense gesterf het, weer kan posvat. Ander waarnemers meen die situasie het al so diep ingesink dat daar nie ’n gewapende opstand verwag kan word nie.

Om alles te kroon, is Franse boere erg ontstoke oor die moontlikheid dat Brexit-onderhandelinge tot ’n oop grens kan lei, omdat so ’n oop grens in effek tot ’n oop grens tussen die EU en Brittanje kan lei. Dié oop grens kan dan gebruik word om onder meer landbouprodukte die EU binne te bring via die lidland Ierland.

En eers ná die kwessie opgelos is, kan die uiters komplekse en belangrike onderhandelinge oor handelsooreenkomste tussen die EU en Brittanje volg. Trouens, baie voetwerk is al hieroor gedoen en die kompleksiteit word algaande vir die betrokkenes al duideliker. Aan beide kante is vrees dat die losmaakproses en nuwe ooreenkomste óf die een, óf die ander kant in die voet gaan skiet.

En dan is die toekomstige regsposisies van mekaar se burgers nog nie eens behoorlik aangespreek nie.  Hoeveel ander onverwagse kwessies gaan nog ter berde gebring word wat die proses net meer en meer kompliseer?

In die proses het die hele Brexit-kwessie al duidelik vir onderhandelaars aan weerskante van die tafel suur in die mond geword.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Kosie Kramer ·

Brittanje het druk op Ian Smith gesit, en Robert Mugabe ondersteun as verkose leier. Hulle het druk op die Uniegebou gesit en Mandela ondersteun as verkose leier. Dalk is dit nou die regte tyd om Brittanje te druk om Noord-Ierland terug te gee aan die Iere.

DewaldS ·

Skotland en Ierland moet bloot ‘n referendum hou of hulle wil sedeer van die VK. Die VK sal dit moet toelaat, anders is hulle hele Brexit aksie gedoem agv die dubbele standaard. Maar Skotland het mos daai referendum al gehou en het toe Nee gestem?

Maar in elk geval – ek kry die gevoel dat al die propoganda en al die slim woordjies waarmee narratiewe opgemaak kan word, nie die EU-projekkie gaan help om te oorleef nie. Die EU-leiers is ‘n spul burokrate wat toenemend vervreemd raak van die burgers in die lidlande. En geforseerde multikulti word toenemend deur die burgers raakgesien vir wat dit nog altyd was.

Imperialis ·

Die europese unie is niks anders as n groot koloniale moondheid wat ten alle koste keer dat sy kolonies onafhanklik word.

Therese van Schalkwyk ·

Wat ‘n interessante artikel! Grenslyn wat deur huise loop … sou soms nuttig kon wees. :-)

In die hele Brexit-saga moet die Britte wat daarvoor gestem het loshande die suurste smaak in die mond hê. Sowat van sukkel om iets uitgerig te kry! Dit is voorspel dat dit ‘n ruk gaan neem, maar die mense wat die leiding moet neem boesem werklik geen vertroue in nie.

Theresa May het dapper begin nadat Cameron dikbek weggehardloop het, maar om met ‘n venynige vent soos Jean-Claude Juncker te onderhandel, is seker nie maklik nie.
Stem saam met ‘Imperialis’ hierbo.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.