Kan Christene ontsteld wees oor Kurt Darren se wit/swart-stelling?

Kurt Darren en die sanger Matthew Mole voor hul optrede by die Uniegebou in Pretoria Foto: @kurtofficial, Twitter

Kurt Darren en die sanger Matthew Mole voor hul optrede by die Uniegebou in Pretoria Foto: @kurtofficial, Twitter

Kurt Darren moes ‘n ope brief skryf nadat hy erge kritiek ontvang het oor die uitlating voor sy optrede by pres. Jacob Zuma se inhuldigingseremonie dat ons in Suid-Afrika nie meer “in swart en wit” moet dink nie. Jaco Strydom lewer nou uit ‘n Christelike oogpunt sy kommentaar hieroor.

‘n Mens kan dalk verstaan dat party mense ongelukkig is oor Kurt Darren se opmerking dat ons nie meer in “wit en swart” moet dink nie, maar jy sou dink meeste Christene sou darem saamstem.

In die tyd van die nuwe Testament was daar ‘n klomp moeilike Joodse ooms wat tipies wit/swart gedink het. Paulus het dit egter anders verstaan. Vir hom was eenheid net moontlik wanneer diversiteit omhels word. In Kol 3:11 sê hy: “Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.”

Dis hoogtyd dat ons ophou om diversiteit te sien as Suid-Afrika se grootste probleem, dit het die potensiaal om ons grootste seën te wees!

Wat ons nodig het is meer vredemakers en minder haatpraters.

Groeiende rassehaat kan geen voordeel inhou vir enige land nie. My vraag aan die wat dit aanblaas (aan albei kante van die kleurgrens): op watter goeie uitkoms hoop jy? Wat hoop jy gaan gebeur as mense mekaar meer haat in hierdie land?

Rassisme is ons grootste vyand, nie mense van die een of die ander ras nie.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Strydom

Jaco is betrokke by ECHO, ’n geloofsgemeenskap wat geleenthede en ondersteuning bied aan jongmense in nood en probeer om weer die eenvoud van kerkwees te herontdek. Hy skryf rubrieke vir onder andere Beeld en Kerkbode. Lees sy artikels op ECHO Jeugontwikkeling se webwerf.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Hanno Visagie ·

Kulturele en volksverskeidenheid:- Die Here het grense tussen nasies en tussen volke gestel, en verwag van ons om dit te eerbiedig (Hand. 17:26). Dit is ‘n voortsetting van die taalverwarring wat tydens die bou van die toring van Babel ingestel is (Gen. 11:5-8). Dit was verkeerd in die oë van die Here dat die Babiloniërs ‘n wêreldstaat met net een taal wou instel, daarom het Hy vir elke groep sy eie taal gegee. Hulle het uitmekaargespat en elkeen in sy eie woongebied onder sy eie regering gaan woon. Hieruit het verskillende volkskulture ontstaan. Die erkenning van hierdie verskeidenheid is die enigste grondslag vir gesonde verhoudings tussen volke. In die evangelisering van die wêreld word ons ook na elke volk en taal gestuur sodat hulle verkieslik in hulle eie taal geëvangeliseer kan word. In die eindtyd gaan daar egter onder die aanstigting van die Satan, die Antichris en die valse profeet ‘n wêreldstaat met net een regering, een godsdiens en een ekonomiese stelsel geskep word (Op. 13:1-18). Die opkomende nuwe wêreldorde beywer homself hiervoor. Dit sal ‘n ernstige vergryp teen God se orde van onafhanklike en selfbeskikkende volke wees, daarom sal die Here Jesus die bose lewenswyse en samelewingsorde van die Antichris tydens sy wederkoms vernietig. http://www.bibleguidance.co.za/Afrartikels/Fundamentalisme.htm

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.