Kan Christene protesteer?

Betogers in Sudan maak amok oor ‘n rolprent wat die spot dryf met die profeet Mohammed. Foto: AFP

Betogers in Sudan maak amok oor ‘n rolprent wat die spot dryf met die profeet Mohammed. Foto: AFP

‘n Groot deel Christene met ‘n Westerse kultuur-agtergrond, word tradisioneel as Protestante beskou. Hierdie benaming spruit voort uit die 16e eeuse Hervorming en verwys spesifiek na die hervormers se protes teen die Roomse praktyke en aansprake – veral ten opsigte van die universele gesag van die pous.

In die Nuwe Testament was die omgekeerde eerder die geval – toe was dit nie soseer Christene wat protesteer het nie. Dit was eerder die Christene se aksies wat tot protes-aksies deur nie-Christene gelei het, soos die gevalle in Hand.16, 17 en 19 tydens Paulus se Sendingreise. Dit was gewoonlik omdat heiden-sakemanne se florerende bedrywe (waarsêery, en die produksie van heidense afgodsbeeldjies) skade gely het weens die bekering van heidene tot die Christelike geloof.

‘n Mens kan sodanige aksies verstaan, omdat Christene toe orals ‘n minderheidsgroep was en boonop nog as ‘n Joodse sekte beskou was. Dit kan amper vergelyk word met die heftige reaksie wat jy van tyd tot tyd in Moslemlande kry wanneer die Koran of die profeet Mohammed belaster of benadeel word.

In Jesus se lering aan Sy dissipels het Hy beklemtoon dat Sy volgelinge soos sout en lig moet wees. Dit dui nie soseer op protes en reaksie nie, maar eerder op inisiatief. In Jesus se eie bediening het jy Homself feitlik nooit in reaksie of protes gesien nie. Hy het telkens die inisiatief geneem terwyl demone en Sy vyande in reaksie gekom het.

Daar was wel die keer by die tempel toe Hy met heilige toorn teen die ontheiliging van die tempel opgetree het deur die smouse met ‘n selfgemaakte sweep uit te dryf.

Dit lyk dus vir my of Christene se lewe en boodskap by tye so radikaal en rewolusionêr-anders as dié van die “wêreld” kan wees dat daar eerder teen hulle geprotesteer behoort te word as andersom.

Dit beteken egter nie dat Christene die verkeerde en onreg gelate moet aanvaar nie. Toe Paulus sien dat hy nie ‘n regverdige verhoor in die saak van die Jode teen hom kon verwag nie, het hy aanspraak gemaak op sy reg as Romeinse burger om in Rome verhoor te word. (Hand.25:11)

Christene is ook burgers van die land en behoort boonop voorbeeldige burgers te wees. Ons mág daarom – soos Paulus – aanspraak maak op ons demokratiese regte as wettige burgers van die land. Die feit dat ons deur ons aanvaarding van Jesus Christus ook burgers van ‘n ander koninkryk – Sy Koninkryk – geword het, hef nie ons regte as burgers van die land op nie.

Ons Christenskap en hemelse burgerskap mag egter nie deur ons aardse burgerskap verloën of verswelg word nie. Ook in ons protes-optredes moet ons Christenskap en ons getuienis deurbreek.

Die beeld van vreedsame proteste tydens die apartheidsjare kom voor oë waar sommige kerkleiers met hulle kerklike togas aan die proteste gelei het. Wat ek daardeur wil sê, is dat ek nie nodig sal hê om my “Christelike kleed” by die huis te laat wanneer ek deelneem aan enige protesaksie nie.

Dit is daarom vanselfsprekend dat enige protesoptrede nie ons getuienis as burgers van God se Koninkryk skade moet aandoen nie. Nog meer spesifiek – dit moenie oneer aan God bring nie. Inteendeel, soos alles in ons lewens moet dit Hom verheerlik.

Wanneer ‘n mens hierdie beginsel aanvaar, is dit nie nodig om voorskriftelik te wees oor wat aanvaarbaar is t.o.v. enige protes-aksie nie. My Christenskap moet nie daardeur verloën of gekompromitteer word nie.

Daardie keuse en besluit is elke indiwidu se eie verantwoordelikheid.

Daar is vanoggend berig dat ʼn groep mense, waaronder agt Suid-Afrikaners, tydens ʼn selfmoordbomaanval in Kaboel, Afghanistan gesterf het. Die aanval was glo uit weerwraak oor ‘n rolprent wat die spot dryf met die profeet Mohammed. Klik hier om meer te lees. – Maroela Media

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Isak Burger

Isak Burger is die voormalige president van die Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.