Kan die ANC homself nog werklik hervorm?

anc-verkiesing

Foto: Reint Dykema

Die ANC-alliansie is tans gewikkel in ’n steeds intenser wordende onderlinge burgeroorlog. En solank ene Jacob Gedleyihlekisa Zuma die leier van die alliansie is, sal dié burgeroorlog al meer politieke bloed laat vloei.

Die onmiddellike aanleiding is die (doelbewus?) uitgelekte sprake dat Pravin Gordhan, minister van finansies, weens “korrupsie” in hegtenis geneem kan word. Onderliggend hieraan gaan dit oor ’n magstryd: Wie slaan die kitaar? Wie het die mag om gunste en gawes uit te deel? Plat gestel: Wie bepaal wie voor in die ry mag staan om sy snoet in die trog te steek?

Kragtens die Grondwet mag Zuma net twee termyne as president hê – met ander woorde, tot 2019. Maar, net soos pres. Thabo Mbeki einde 2007 probeer doen het, wil hy die Grondwet omseil.

Destyds was Mbeki se taktiek om die presidentskap van die land af te staan, maar om leier van die ANC te bly – en so die werklike mag agter die troon te wees. Hy sou sy hofhouding in Luthuli-Huis hê en bevele uitdeel aan wie ook al in die Uniegebou sit.

Nou is Zuma se taktiek om iemand as opvolger te kry wat sy (finansiële?) belange nougeset sal behartig. Iemand soos sy gewese vrou, Nkosazana Dlamini-Zuma. Maar uiteindelik gaan dit oor iets nóg meer wesenlik as dit. Dit gaan oor, om ’n holrug geryde cliché te gebruik, die siel van die ANC. Dis essensieel dieselfde stryd as wat voor 1990 in die ANC gewoed het.

Destyds was daar tienduisende mense wat opreg gemeen het hulle moet veg teen apartheid, ’n stelsel wat volgens hul gevoel hul regte en menswaardigheid misken het. Hulle was in alle eerlikheid van mening dat hulle vir reg, geregtigheid en moraliteit in die politiek veg.

Baie van hulle is nou heeltemal ontnugter. Onder hulle is mense soos prof. Raymond Suttner, wat in die apartheidstyd kwaai deur die destydse Veiligheidspolisie gemartel is en ná 1994 selfs ’n ANC-parlementslid geword het. Nog een is Sipho Pityana, gewese direkteur-generaal van buitelandse sake.

Dié twee het die afgelope tyd nogal aandag getrek met hul ongenadige kritiek op die willekeur, magsmisbruik en gewetenloosheid waarmee Zuma en ’n beduidende deel van die ANC-alliansie die land ter wille van hul eie beursies in die rigting van die afgrond stuur.

Maar die ANC het voor 1990, soos nou, ook ’n ander vleuel gehad. Een wat toe al uitgeblink het in magsmisbruik en selfverryking. Dit het in 1984 aanleiding gegee tot twee muiterye onder MK-vegters in Angola, wat albei meedoënloos onderdruk is. Die leiers van die opstande is opgesluit, wreed gemartel en in talle gevalle eenvoudig gefusilleer.

Soos dit ’n tipiese Stalinistiese beweging betaam het, is die “skuldiges” dikwels geen kans gegee om hulself te verdedig nie. Hulle is wel ingeroep om hul straf aan te hoor.

Die kampwagte en -leiding was dikwels jeugdiges wat bowendien deur die Oos-Duitse Stasi opgelei is. Een van die ergstes was Gabriel Mthembu, wat as 19-jarige as bevelvoerder van die berugte strafkamp Quatro aangestel is. Weens sy buitensporige wreedheid het hy die bynaam “panelbeater” gekry.

Mthembu is later beloon deurdat hy ’n senior amptenaar in die Nasionale Intelligensie-Agentskap geword het. Hy is in 1999 weens korrupsie geskors.

Nog een van die voorbokke was Mzwai Piliso (oorlede in 1996). Die opleidingsinstituut van die Intelligensie-Agentskap in Mahikeng dra vandag sy naam.

In een van die dokumente van die ANC se veiligheidsafdeling is reguit geskryf: “Our guiding principle must be that ‘every new individual is suspect until proven innocent’.”

Dié feite was binnenskamers destyds bekend. Die ANC het destyds ’n kommissie van ondersoek onder leiding van Hermanus Loots aangestel om die oorsake van die muiterye te ondersoek. Die verslag was verrassend eerlik, en het talle wantoestande in die MK-kampe en die korrupte leiding aan die kaak gestel. Die verslag is egter selfs op die groot raadplegende konferensie te Kabwe in 1985 geheim gehou en eers in die jare negentig bekend gemaak.

’n Rekonstruksie van die muiters se oogmerke, soos opgeteken deur wyle prof. Stephen Ellis, die ANC-dissident Paul Trewhela en ek self en my vrou in ’n akademiese artikel, wys uit dat die opstandelinge groter verantwoordbaarheid van die leiding verlang het. Hulle is terugbetaal met wrede dwangarbeid en marteling.

Die narratief wat wyle Oliver Tambo, ANC-leier, onmiddellik ná die eerste uitlek van die gebeure (begin 1990) uitgedra het, was dat die rebelle “apartheidspioene” was. Die ANC het gedoen wat hy móés doen, was die ekskuus.

Oor die gruwelike menseregtevergrype, die relatiewe weelde waarin die ANC-leiding geleef het, die smokkel met diamante, die selfverryking van verskeie van die leiers – daaroor het Tambo en die ander rondom hom geswyg. Die enigste persoon wat dit in beperkte mate erken het, was die pas vrygelate Nelson Mandela.

Voor die Waarheids-en-Versoeningskommissie het die ANC getuig dat die persepsie “that abuses which took place were systematic or widespread is wrong. Those members of the security department of the Department of National Intelligence and Security (NAT) who abused prisoners did so in violation of ANC policy: there was nothing ‘systematic’ about such acts”. Dit in weerwil van die oorweldigende getuienis wat destyds al bekend was.

Die verste waartoe die ANC gegaan het, was om te erken dat “regrettable incidents occurred”.

Daarteenoor het vyf gewese ANC-gevangenes in die jare negentig getuig: “The mainspring of the 1984 mutiny … was the suppression of democracy by the ANC leadership.” Hulle het bygevoeg dat “it had become very dangerous to raise even a voice against the leadership”.

Tipies hiervan was die wyse waarop die Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) te Kabwe in 1985 gekies is: Die leiding het ʼn lys name onder die aanwesiges versprei met die “versoek” dat slegs mense op dié lys verkies word. Niemand buite die lys het inderdaad die paal gehaal nie.

Feit bly: Die hele geskiedenis van die ANC in ballingskap tot 1990 word in mindere of meerdere mate gekenmerk deur korrupsie, magsmisbruik, selfverryking deur die leiersklas, en, les bes, erge ondoeltreffendheid en onbekwaamheid. Dié eienskappe, waarvan die gewone Suid-Afrikaners deur die sensuur van die destydse regering niks geweet het nie, is ná 1994 naatloos voortgesit.

Dus: Die wortels van die stryd om die siel van die ANC wat hom tans binne die beweging afspeel, lê vierkant in sy ballingskap-tyd. Die groot vraag is gevolglik: Is só ʼn party werklik in staat om homself te hervorm?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

16 Kommentare

jongste oudste gewildste
Carel

Ek wens FW de Klerk en Pik Botha lees hierdie artikel.

Theuns

Leopold, uiters relevante kommentaar. Ek hoop jy stel jou kommentaar te boek vir ons nageslagte so dat hulle die waarheid kan weet! Jou kommentaar laat my gedagtes weer dwaal om die verlede, hede, en die toekoms. Dit wat die mense gedoen het in die verlede, aangevul deur jou huidige optrede moet tog jou toekomstige optredes
bepaal ? Waar kan jy n duideliker voorbeeld kry as jy na die ANC se optrede voor 1994 kyk en jy sien ‘n herhaling nou van daardie bose optrede? Daar was geen lesse geleer deur die ANC Kaders nie Groete.

Wicus

Stem saam Theuns.

Leopold, ‘n boek ASB wat die feite weergee.

Ons is in groter moeilikheid as wat ons dink, en dalk, net dalk, is hierdie die begin van redelikheid en selfstandigheid.

Terloops, ‘n kollega vertel my dat mans se getalle besig is om vrouens verby te gaan in die wêreld. As dit so is kom daar nog groter moeilikheid.

Koos

Dankie. Fantastiese artikel. Ja man. Jy vat ons ou manne ver terug

Leopold Scholtz

Vriende, dankie vir die vriendelike kommentaar. Ek kan noem dat ek en my vrou besig is met die voorbereiding vir ‘n boek oor die ANC/SAKP in ballingskap. Dis nog taamlik in die beginstadium; dus moet julle nie spoedig iets verwag nie. Groetnis.