Kan die ANC sy beleid fundamenteel verander?

Argieffoto

Sedert die ANC in 1994 die regeringsmag oorgeneem het, staan die sosiaal-ekonomiese aspekte van sy bewind in die skadu van twee onderling verwante begrippe: swart ekonomiese bevoorregting (die ANC noem dit swart ekonomiese bemagtiging), en korrupsie.

Laat ek reg aan die begin my kaarte op die tafel plaas. Ek is nie een van dié wat FW de Klerk van verraad beskuldig nie. Apartheid – altans die spesifieke apartheidsbeleid wat die Nasionale Partyregering in 1948-‘90 toegepas het – kan histories en rasioneel verklaar word, maar dit was ’n immorele beleid wat bowendien polities en sosiaal-ekonomies onhaalbaar was.

Afgesien van die vraag of De Klerk in 1990-’94 beter kon onderhandel het – hy kón – het hy hoegenaamd geen ander keuse gehad as om apartheid af te skaf en die verbod op die ANC/SAKP op te hef nie.

Baie van die linksgesinde kommentators begaan een fundamentele fout. Hulle neem aan dat, al is dit soms onbewus, aangesien die NP-beleid immoreel was, en aangesien die ANC/SAKP daardie immorele beleid beveg het, laasgenoemdes byna outomaties ’n beter beleid sou voer as hulle eenmaal aan die bewind was.

Dat dit ’n onlogiese redenasie is, word bewys deur die beleid wat die regering sedert 1994 in die praktyk gevoer het – swart ekonomiese bevoorregting en korrupsie.

Niemand by sy gesonde verstand kan ontken dat die apartheidsbeleid diegene met donker velle sosiaal-ekonomies agtergestel het nie. Natuurlik was apartheid se voorgangers, die Britse kolonialisme en segregasie, ook medeverantwoordelik, maar apartheid het ’n gróót rol gespeel.

Dit is dus uit sowel politieke, sosiaal-ekonomiese en emosionele oogpunt vanselfsprekend dat ’n regering wat deur swart mense oorheers word, ’n nuwe koers sou inslaan wat die sosiaal-ekonomiese ongelykheid tussen wit en swart sou aanpak. Die vraag was hóé.

As ’n mens ’n enkele maatstaf kon identifiseer wat die ANC/SAKP se aanpak kenmerk, dan is dit ’n rigiede kwotabeleid. Dr. Theuns Eloff, direkteur van die FW de Klerk-Stigting, verwys na “die olifant in die kamer” – die rassekwotas wat moet sorg dat alle lewensterreine die bevolkingsamestelling weerspieël.

Dit beteken dat daar vir elke 80 swart mense slegs 9 wittes, 9 bruines en 2 Indiërs op elke vlak in die samelewing moet wees.

Kom ons wees eerlik: In die jare dertig van die vorige eeu het dr. Hendrik Verwoerd, toe nog redakteur van Die Transvaler, ’n soortgelyke kwotastelsel ten opsigte van Afrikaners en Engelssprekendes bepleit. (Plus ’n verbod op die immigrasie van Jode!)

Natuurlik is dié idee stilweg laat vaar nadat die NP in 1948 aan die bewind gekom het. Dit was ekonomiese waansin, en diegene met ’n begrip van die ekonomie kon hom gelukkig daarvan oortuig.

Maar steeds is dit ’n sentrale aspek van die ANC-beleid.

In die struggletyd is ’n elite geskep wat ná 1994 die belangrike poste gevul het. Die arm swart massa se situasie is steeds ellendig.

Die ANC se rassekwotas is des te meer waansinnig omdat daar eenvoudig nie genoeg opgeleide en ervare swart mense is om al die geskoolde werk te doen nie. Enersyds is dit die erfenis van apartheid se agtergesteldheid. Maar apartheid lê darem nou al ’n kwarteeu agter ons, en die ANC het faliekant misluk om die land se onderwysstelsel sodanig te bedryf dat ’n gesonde “voorraad” opgeleide swart geskoolde werkers opgebou kon word.

Pleks daarvan het die ANC sy toevlug geneem tot ’n gevaarlik maklike en verleidelike metode: baantjies vir boeties. Wanneer daar besluit word wie ’n bepaalde belangrike vakature moet vul, word daar nie gesoek na ’n ervare persoon wat sy of haar kundigheid al bewys het nie; daar word nie gekyk na iemand met die regte opleiding nie; selfs eerlikheid en hardwerkendheid is nie relevant nie.

Nee, slegs twee kriteria word gebruik.

Een: Het jou vel die regte kleur om aan die rassekwota te voldoen? (Wat in die praktyk beteken dat wit- en bruin mense meestal nie hoef te bodder om aansoek te doen nie.)

Twee: Is jy ’n ondersteuner van die regte party (synde die ANC)? ’n Onderafdeling – sê maar vereiste 2(a) – hiervan is die vraag: Steun jy die regte faksie in die regte party?

Tot betreklik onlangs moes jy ’n Zuma-ondersteuner wees. Noudat pres. Cyril Ramaphosa millimeter vir millimeter vordering maak in die magstryd in die ANC, raak dit belangriker om ’n ondersteuner van die Ramaphosa-faksie te wees.

Die ineenstorting van byvoorbeeld die SAL, Eskom en die spoorwegnetwerk is die regstreekse gevolg.

Polities kan ’n mens dit alles verstaan en verklaar. Baie – die staatsmag en toegang tot groot rykdom – is immers op die spel.

Maar waar laat dit die morele beginsels waarmee die ANC- die NP-regering beveg het?

In die laat jare negentig het aartsbiskop Desmond Tutu – wat jy nie van oordadige simpatie vir die NP kon verdink nie – ’n waar woord gespreek. In 1994, het hy gesê, het die soustrein net lank genoeg gestop dat die wittes afgeskop en die ANC kon opklim; toe stoom hy weer voort.

Dat die agtergesteldheid van die swart mense aangepak moet word, kan niemand ontken nie. Geen land kan hoop om êrens te kom solank die skrynende armoede wat jy in die townships sien – ry maar langs die N2 van Somerset-Wes na Kaapstad en kyk self – sy aan sy met die welvaart in die tradisioneel wit buurte voortbestaan nie.

Dis bowendien ’n maatskaplike tydbom, en jy draai jouself ’n rat voor jou oë as jy meen dit kan nie die een of ander tyd ontplof nie.

Die vraag is hoe die probleem aangepak moet word. Die ANC se rassekwotas en baantjies vir boeties is beslis die verkeerde manier.

Luidens berigte dink Eskom daaraan om afgedankte wit tegnici te werf om te kom help. En moontlik gaan die SAL verkoop word.

Wat jy ook al doen, die ANC sal sy beleid fundamenteel moet verander. Uiteindelik sal hy sy obsessie met ras en kleur moet laat vaar. Hy sal nugter en prakties moet insien dat hy die land met ’n taamlike spoed na die soort afgrond lei, wat in die lande noord van ons min of meer normaal geword het.

Suid-Afrika hóéf geen mislukte staat te word nie. Maar dan sal die ANC sommige van die belangrikste aspekte van sy benadering drasties moet verander.

Miskien kan ’n taamlike skok by die stembus help om hom wakker te skud.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

23 Kommentare

apie ·

Lekker stuk Leopold, Netjies saamgevat. Wat opvallend is, gedurende Desembermaand is al die plakkershutte langs die N2 leeg, want al die inwoners is in die OosKaap vir die vakansie waar hulle baie beter huise het, selfs vee. Die strate in Bellville is stil oor daardie maand. Ontwikkeling in die Ooskaap sal baie help.
Die saak oor swart bevoordeling verbyster mens ook. Daar is net 2miljoen blanke mense in ‘n werkersmag waarin daar 17miljoen swart mense is. Hoe regstellende aksie nog enigsins op die tafel is vertel mens alles

Sowaar ·

Stem saam. Skrywer trap in dieselfde strik waarin toeriste trap omdat hulle nie bewus is van die buitelandse immigrante en migrasiepatrone tussen Oos en Wes Kaap nie. Dit lyk sleg daar want die inkomstes word op ander plekke spandeer, Oos Kaap, Zimbabwe, Malawi, Zambië, Soedan, ens. Verniet verblyf met verniet water, elektrisitei, dstv??? (Al daai satelietskottels).

Afrikaner ·

Die fout was dus toe nie FW se model nie, maar die ANC se model vas rasideologie. Dus FW ons verskoon jou dat jy vir ons gejok het oor ‘n tweede referendum en toe nie ‘n beter model onderhandel het nie, want jy het geweet ons sou dit nie aanvaar nie, jou wigte en teenwigte het niks beteken nie. Maar ANC ons is nou lekker vies vir julle omdat dit julle skuld is omdat ons sit waar ons sit, rasideologie en al en dat FW en kie dit nie kon voorsien nie, maar ons het darem.

Afrikaner ·

Leopold, jou eindrelaas oor wat die ANC sal moet doen en wat in hul koppe aangaan is ligjare van mekaar verwyder. Maar natuurlik was Aparheid immoreel. Die antwoord het egter by FW en kie destyds met die onderhandeling gelê en hulle het die kiesers versaak. Jy wil nou na die tyd kom pleisters plak. Beste wat kan gebeur is dat die ANC uit die kussings gelig word, verander, hulle? In jou lewe!

Afrikaner ·

1. Die wit mense word gesien en as die rede voorgehou waarom miljoene swart mense vandag toelaes nodig het en nie werk het nie. Vandaar die antagonisme.
2. As die ANC regering afstand van sy beleid en 1. hier bo moet doen, het hy niemand om die skuld op sy mislukkings te pak nie, en betreffende grondhervorming/die grond wat hy van wit mense wil afneem, watter ander wortel hang hy vir sy mense voor aan die stok?

Die ANC se hele ingesteldheid en dit wat hulle vir der jare aan hul mense verkondig sal moet verander, ook hul ideologie.

Kapenaar ·

Goeie artikel Leopoldt. Ek dink jy het die situasie baie goed opgesom.

JohanL ·

Weer ‘n keer dankie Leopold vir ‘n puik insetsel – wens dit kan vertaak word na Engels in in die nodige Engelse media (hard of elektronies verskyn).

Sal graag ‘n algemene insetsel van Leopold wil hoor met tema: “Was die Rooi Gevaar in die 80’s werklik of ‘n illusie wat geskep is”? As ons dink aan sosialisme en die invloed van die kommuniste/sosialiste op die ANC.

John ·

En nou glo ons geagte skrywer dat die ANC stemme by die stembus gaan verloor omdat hy beplan om plase te gryp en die nuwe mediese stelsel in te voer of gratis onderwys aan almal te verskaf en ‘n nuwe simfonie-orkes te begin en alle puttoilette te vervang en gratis voeding en sanitère produkte en tablette aanleerders te verskaf en alle Afrikaanse skole te verengels en koshuise vol te stop met vreemdes… kommentaar ver van jou land is na aan daardie volk se skade…

Nico K ·

Nie net FW nie, die meerderheid blankes was naief oor die nuwe SA. Hulle het werklik geglo dat die nuwe SA ‘n rasselose land gaan wees. Die vraag is natuurlik watter alternatief was daar vir die NP. Dit is nutteloos om nou aaroor te redeneer, maar ‘n volkstaat was ‘n moontlikheid, maar geen party wou dit steun nie. Nie eers die KP nie. So ons kritiseer FW, maar wat anders sou ons gedoen het.

Judge Dredd ·

‘n Skok by die stembus sal die ANC slegs meer radikaal maak – definitief nie beter laat regeer nie.

Sarie ·

Stem saam. Dan sal hul haastig met die meer radikale EFF in die bed spring en die trog vinniger leegvreet.

Afrikaner ·

Dr Leopold, ek lees hier bo dat jy dit wat WF gedoen het regverdig. Eerste ding eerste. Daar is maniere van doen en maniere van doen, en sekerlik was die een opsie destyds nié om soos WF dit gedoen het vir die kiesers en volk te jok nie, ook om toe nié ‘n tweede referendum te hou nie. Die optrede vandag van die ANC is ‘n ander gesprek en regverdig nog steeds, 24 jaar na die tyd nie dit wat WF gedoen het nie. Prof Hermann Giliomee het in sy boek oor die gebeure en FW se optrede destyds gesê hy kon dit nog sterker gestel het.

Rasper ·

Nee, hulle gaan nie verander nie. Die skrywer behoort dit te weet. Daar is nie genoeg woorde hier beskikbaar om my standpunt te verduidelik nie. En ek sal nie eers rassisties hoef te wees nie. Sonder dat ‘n daadwerklike, gekombineerde aksie vanaf Afrikaners om vir ‘n volhoubare selfbeskikking te beding nie oor gaan tot dade nie, is die beste plan vir Afrikaners om die land te verlaat. As apartheid verkeerd was, of die implementering daarvan verkeerd was, dan moet ‘n mens die sleg van dit laat gaan, en die goeie probeer implementeer. Ek is moeg om vir ‘n beter ANC regering te wag sodat dit met my volk moet beter gaan. Dit is nie ‘n plan nie, maar ‘n hoop met minder slaankrag as selfbeskikking ideale.

Jerry ·

Die ANC kan nie sy beleid van “reverse discrimination” verander nie. Dit moet alle koloniale strukture vervang en verandering teweeg bring wat die strewe na “liberation and sosialism in our life time” tot gevolg het. Die kommunistiese en sosialistiese ideologiee laat geen teenstrydige denke toe nie. Al wat van tyd tot tyd verander is die ANC se misleidingstrategie. Sodra die ANC weerstand ervaar teen NDR beleid en in n hoek gedryf word dan sit hulle doodeenvoudig n ander mombakkies op en maak ander geluide en vind ander maniere om voort te gaan met dieselfde beleid. Die meesterplan sal dus in der ewigheid nie verander nie, want dit kan nie verander nie, maak nie saak wat ookal gebeur nie, dit word alles net eenvoudig deel van die meesterplan, dit is hoekom dit n meesterplan is! Die meesterplan hou aan rol soos die golwe van die see, dit hou nooit op nie, dit raak net meer en meer totdat dit soos die see alles uiteindelik verswelg! Die meesterplan werk omrede dit alles vervang met presies die teenoorgestelde van dit wat dit vervang.

Afrikaner ·

‘n Ander alternatief is, sit die wit mense terug aan die stuur, as DIT nie die ANC skok nie, sal niks. (Nou that will teach them a lesson.)

ChrisE ·

Goeie leesstof mnr Scholtz. Jy het ‘n paar punte raakgevat oor die onderskeie beleide van die ou bedeling en die nuwe bedeling. Wat ek egter die ou bedeling krediet voor moet gee is, hulle het ‘n beleid gehad, of dit nou moreel reg of verkeerd was wil ek nie betwyfel nie. Die probleem met die huidige bewind is hulle het te veel beleide wat hulle gehelp het om aan bewind te kom. Wat was die ANC se beleid as “bevrydingsbeweging” behalwe om die vorige bedeling aan te val, diskriditeer en tot die skurke van die wêreld te maak. Dieselfde bevrydingsbeweging dink dat hulle op die ou geykte resep kan regeer. Dit is maklik om te “rule”, dit is baie moeiliker om te “govern”. Hulle het nie die leierskap en of intellek om te “govern” nie en word aan die neuse gelei deur ‘n sosiale staatsmodel (Marks/Lenin) aan te hang en te probeer deurvoer. Ongelukkig sal hulle nie uit die stoel gelig word deur ‘n politieke onvolwasse kieser nie. Dit was ook in die vorige bedeling te sien. Die “bevrydingsstryd” sal altyd voor die kieser se koppe gegooi word.

Afrikaner ·

Mag ek by voeg, die ANC is eendimensioneel, of sal ek sê, en niemand sal my daaroor kruisig nie, Afrika-dimensioneel. Hulle kan nie ‘n multikulturele en diverse land soos SA bestuur nie. Insig en visie ontbreek.

Gert ·

Ongelukkig is BEE en korrupsie nie die enigste probleme in hierdie land nie. Veel groter is die sosialistiese beleide van die ANC. So is daar die welsynstoelaes vir byna 20 miljoen werkloses, wat gefinansier moet word met slegs 7 miljoen belastingbetalers se geld, Daar is ANC “werkskepping” waar hopeloos te veel mense aangestel word in elke staatsdepartement, en hulle massiewe salarisse ook deur die paar belastingbetalers moet gedra word. Daar is die belaglike NGV, wat waarskynlik meer sal kos as die hele BBP. Daar is gratis tersiêre onderwys. Daar is “gratis” skole, ens. ens.
Selfs sonder BEE en korrupsie is hierdie regeringsbenadering onvolhoubaar.

Piet ·

Dit is jammer julle plaas nie my kommentaar nie, maar dit sal goed wees indien iemand n stuk skryf oor hoe baie wit Afrikaners swaar gekry het gedurende die apartheids jare. It was no walk in the park. In die land van die blindes is eenoog koning.

Henry ·

Daai eenoog konings woon en preek meesal buite hierdie droewe land se grense.

Stephan de S ·

Die artikel gee wonderlike rigting en perspektiewe in ons voortdurende debat…..mag ons tot die einde toe volhard met debat.
Ek sou op een punt verskil:die verwysing na die skreiende armoede langs die N2 teenoor die rykdom vd wit woonbuurtes. Sover my kennis strek lyk dit in alle nie-homogene ontwikkelende lande so. As mens deur n Europese bril—maw n ontwikkelde grootliks homogene gemeenskap—-kyk,sal jy wel dit opvallend vind.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.