Kan die mensdom by omgewingsveranderinge aanpas?

Argieffoto

Die Wes-Kaap beleef sy derde agtereenvolgende lae reënvaljaar en plek-plek lyk dit regtig nie goed nie. Kaapstad moes baie streng waterbeperkings instel, maar tot dusver sukkel die stad om die inwoners by die daaglikse maksimum te hou.

Verskeie Wes-Kaapse politici, insluitend die burgemeester van Kaapstad, Patricia de Lille, dui aan dat Kaapstad nou in die greep van klimaatsverandering verkeer, en ook dat Kaapstad se bevolking te vinnig toegeneem het sodat die stad sy beplanning drasties moes aanpas.

Heelwat van Kaapstad se waterbronne, soos die Bergrivierdam wat met tonnels met die Theewaterkloofdam verbind is, word met landbou gedeel. Grootskaalse werksverliese staar die provinsie in die gesig as die stad, al is dit afgeskaal, aanhou water gebruik, maar die sluise word op landbou toegetrek. Landbou in die Wes-Kaap is ook ’n belangrike verdiener van buitelandse valuta, en as boorde nou hervestig moet word, gaan dit selfs met goeie neerslag ’n paar jaar neem om weer in volle produksie te kom.

Volgens vroeëre berigte sou Kaapstad teen die einde van Julie water uit reuse- ondergrondse waterdraende sandsteenruimtes begin onttrek. Voorts het De Lille aangedui dat daar reeds suiweraars aangeskaf is om die aansienlike hoeveelheid water uit 35 fonteine op Tafelberg drinkbaar te kry. Twee mobiele ontsoutingstoestelle sal volgens beplanning in Desember begin drinkwater lewer, terwyl Eskom ook so ’n aanleg by Koeberg beplan. Die skeiding van grys water vir sommige doeleindes word ook beplan.

Die Wes-Kaap is egter nie al gebied in die land wat deur geprojekteerde klimaatsveranderings geraak word, of nog geraak kan word nie.

Maar die mens sit ook nie stil nie. Danksy geneties gemodifiseerde mielies het die land vanjaar ’n rekordoes, al is die oppervlak wat beplant is kleiner as met die vorige rekord. Geharder veestapels word ook geteel.

Argeologiese opgrawings toon egter ook dat die mens, of dan sommige gemeenskappe, by klimaatsveranderings kon aanpas. ’n Internasionale studie het byvoorbeeld pas bevind dat die mense van die Middelsteentydperk by Howiesonspoort in vandag se Oos-Kaap, tydens ’n droë tydperk onder meer die pyl en boog ontwerp het. Die Vikings van Groenland en Amerika, of Vinland soos hulle dit genoem het, het nie aangepas toe ’n klein ystydperk aangebreek het nie, en die oorlewendes moes uiteindelik hul nedersettings ’n duisend jaar gelede ontruim. Net hier en daar is nog spore van hierdie vroeë kolonisasie van die nuwe wêreld. Hul volksgenote in Ysland het egter gediversifiseer en aangepas, en het as gemeenskap bly voortbestaan. Talle ander voorbeelde kan verskaf word oor hoe aangepas is, of ondergegaan is waar nie aangepas is nie.

Terwyl die Wes-Kaapse regering skynbaar vas oortuig is klimaatsverandering het reeds ingetree, wys die kosmo-klimatoloog Kobus Olckers daarop dat die son nou ’n son-minimum ingaan. Dit veroorsaak weer die soort kouer tydperke soos wat die Vikings uit Amerika en Groenland gedryf het.

Ongelooflik baie aspekte moet dus in gedagte gehou word wanneer vir die toekoms beplan word, en dit is nie altyd moontlik nie.

Maar dit is beter om soos die vyf wyse maagde voorbereid te wees.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

10 Kommentare

Dalene de Vente ·

Dagsê Jewel

Dankie vir jou valkoog. Ons vra om verskoning vir die oorsig, die berig is reeds gewysig.

Groetnis
Dalene nms. Maroela Media

Nico K ·

Hoewel ek nie wil ontken dat klimaatsverandering plaasvind nie, is hierdie droogte in die Kaap nie vreemd nie. Dit gebeur baie. In die Transvaal het ons lanklaas regtig ‘n droogte gehad. Ek onthou 1971/72, die laat 80’s en ‘n baie lang een wat van 1991 tot 1994 geduur het. In die laat 90’s en grootse deel na 2000 het ons baie goeie reenjare gehad.

John ·

Brrr! Gelukkig is die gang van sake nog in die hande van ons Hemelvader. In die dae van Josef was daar ook erge droogte aangeteken (sonder ‘n daaropvolgende ystydperk) en later van jare in die 1930’s ook in SA. Ons bou damme en skraap dit nie en dit word panne en swetterjoele mense plak in laagtes wat voorheen verbode was. Maar dis ook ok. Die pole ys toe en smelt weer om die soutbalans in die see te herstel, maar ons skree ten hemele vir wet en orde in die hemelruim soos op aarde. Die natuur dans nie na ons pype nie. Dis seker. Tans is die sonpole besig om te ruil wat die son se temperatuur laat styg, maar moet dit tog nie oorvertel nie… dan val die groot finansiele inspuiting wat hierdie mega-bangmaakstorie bring, plat. En ons boere wat byna self hul lande kon besproei het met al hul krokodiltrane oor die droogte, spog nou met gm-mielies waaroor gewaarsku word tov bewese kankergevare (en Monsanto verkoop toe gou sy firma). Soja is in feitlik in al ons gekoopte brood al gee dit skildklierprobleme met ‘n estrogeniese nawerking. Maar soos dit is, is SA mos die ‘hartedief van die heelal’; hier sal niemand siek word van giftige volmaakte oeste nie. Dis waar, ons is reeds geimmuniseer teen goeie insig.

Hannah ·

More John! Het jou kommentaar geniet. Terwyl die geliefde skrywer die 5 wyse maagde aanhaal en jy Josef se besturing van die droogte uitwys, sien ek my weg oop om ook die volgende Skrif ter tafel te le: 2 PETRUS 3:7 “Maar die Hemel en die Aarde van vandag, is bestem en word bewaar vir die vuur, ook deur die Woord van GOD, en word in stand gehou tot op die dag waarop die goddelose mense veroordeel en verdelg sal word.”

Natuurlik moet ons versigtig en met respek omgaan met wat die HERE vir ons hier gegee het…maar genadiglik is HY in beheer en sal HY altyd weer die sluise oopmaak – want HY weet ons het dit nodig.

Kom Ons Boks ·

Baie goeie artikel. Hopelik reen dit binnekort in die Wes-Kaap.

Johan ·

Infrastruktuur beplanning het uit sy aard lang aanlope. So weet mens dat alle beplanning gegrond moet word op demografiese projeksies watleer vir hoeveel mense, besighede en bedrywe (van landbou tot fabrieke) voorsien moet word tov water, krag, vervoer, riool edm
Maar elke faset hiervan vereis ‘n regering wat vooruit moet beplan, waarvoor die Afrika werkswyse van krisisbestuur net eenvoudig nie deug nie.
Water se aanlooptyd van beplanning tot voltooïng behels ‘n minimum van 25 jaar, kragsentrales vereis ongeveer 15 jaar se vooruitskouïng, riool omternt 5 jaar en paaie enigiets van 10 tot 20 jaar.
Die Weskaap se watertekort is dus nie ‘n nuwe probleem nie maar ‘n mislukking van nasionale regerings-beplanning wat nie die demografiese veranderinge (veral die massa migrasie vanuit die Oos-kaap en Transkei)betyds identifiseer het nie en nie daarvoor beplan het nie.
Kortom, hierdie probleem kom van lank voor die DA aan bewind gekom het; en was in die ander aspekte van mislukte beplanning grootliks die rede vir die bewindsoorname

Eish ·

Verskoon asb my vreeslike dom vraag. Wat het die pyl en boog wat tydens n droogte uitgevind is te doen met aanpassing by die droogtetoestand? Bokke geskiet daarmee vir hul water en so die droogte te bowe gekom? Die berging van volstruiseiers gevul met water op strategiese plekke klink vir my na n baie beter opsie.

Therese van Schalkwyk ·

Die mensdom kan nie eers by normale somer- en winterveranderinge aanpas nie.

In die somer is lugverkoelingstelsels in die huise van welgesteldes, winkels, kantoorgeboue én busse op ‘arktiese’ temperature gestel, en andersom in die winter.
En dan praat ons nie van buitengewoon ekstreme buite-temperature nie. Net effens ongemaklik en die blote aantrek van koeler of warmer klere kon die sakie regstel.

Die mensdom is te véél en te bederf, maar strewe daarna om langer en in groter weelde te leef.

Therese v S. ·

M.a.w. die mensdom pas eintlik gemaklik (letterlik!) aan by veranderende omstandighede,
MAAR altyd ten koste/tot nadeel van die omgewing.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.