Kan die stryd teen Isis gewen word?

isis

Argieffoto.

Suid-Afrikaners, wat lank aan ’n rebellie en terreuroorlog blootgestel was, is terdeë bewus dat so ’n stryd hoofsaaklik in die harte en gedagtes van mense woed en nie soseer op die oorlogsfront nie.

Die radikale Isis het egter van die patroon van vele Moslem-gebaseerde terreurgroepe voor hom, soos die Swart September en ander Palestynse groepe asook die latere Al Kaïda, geneem wat min aandag geskenk het aan die oorneem van grondgebied, wat dan verdedig en bestuur moes word. Soos Isis sy kalifaat beset het, het Hamas die Gasa-strook beset, wat later met verkiesings en ’n ooreenkoms effektief sy eie geword het.

Onmiddellik het Hamas ’n blok aan die been gehad. Die oomblik wat ’n vuurpyl vanuit die Gasa-strook op Israel afgevuur word, is die mense en infrastruktuur in die gebied aan weerwraakaanvalle blootgestel. Die Palestyne het die internasionale gemeenskap probeer opvorder om die Israeli’s se hande af te kap, maar hieraan het Israel hom, te midde van internasionale verdoeming, min gesteur.

Isis, wat nie so in die internasionale oog was nie, het so amper ongemerk ’n reuse-gebied in Sirië en Irak onder sy beheer gekry. Die omvang daarvan is eintlik misleidend, want dis grootliks onbewoonde woestyngebied en is nie effektief beset nie, maar het groot stede ingesluit, soos Mossul in Irak, en Rakka in Sirië – stede wat albei op die een of ander manier hoofstadstatus geniet het.

Met teenoffensiewe is Isis in albei stede nou onder druk, al word die laaste vestings verbete verdedig.

Maar terwyl dié aanslag teen Isis stoom opgebou het, is eers Frankryk en toe Brittanje met meer klassieke terreuraanvalle geteister – dié soort operasies wat nie ’n eie grondgebied vereis nie en waarin enigiets tot ’n kombuismes ’n wapen is. Met dié dat selfmoord nie ’n probleem vir die aanvallers is nie, word die vermoë om burgerlike ongevalle te voorkom heelwat bemoeilik.

Waarnemers wys egter daarop dat Isis, terwyl hy op grondvlak opgerol word, sy tentakels na verskillende wêrelddele uitgebrei het. In sommige gevalle het hy bestaande organisasies oorgeneem en hoewel die ou naam steeds gebruik word, onder die Isis-vaandel laat vaar. In Nigerië het Boko Haram in effek geskeur omdat ’n deel Isis se vaandel aanvaar het. In die Filippyne is die Abu Sayyaf effektief deur Isis oorgeneem, en skielik het die regering ná jare van lae-intensiteit-oorlogvoering, te kampe met ’n organisasie wat op ’n heel ander skaal opereer. So word tussen 500 en 1 000 mense as gyselaars aangehou.

Ook in Afganistan en Pakistan waar die Taliban jare lank die stryd gevoer het, is daar nou ’n Isis-teenwoordigheid. Ook in die Russiese republieke van Tsjetsnië en Dagestan het die tentakels ingedring. Dan moet lande soos Algerië en Libië nie vergeet word nie.

Dit blyk werklik dat hoe meer Isis op die fronte waar hy as strydmag probeer manifesteer slae kry, hy elders steun en daarmee gepaard ’n operasionele vermoë kry. Hoe meer die Weste hom na ander wêrelddele wegstu, hoe meer kom nestel Isis aan die bors van die Weste.

Sekere oorloë word eerder met die kop en hart as wapens gewen.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

marous ·

Die waarskuwings oor ‘n heilige oorlog is jare gelede uitgereik , maar Europa en die Weste het dit afgelag , en gaan steeds voort om hierdie lande in chaos te dompel vir hul eie gewin. Diegene wat barbarisme skreeu oor ISIS se vergeldings dade , rep geen word oor hoe daar gebruik gemaak word van die modernste oorlogs tegnologie waarteen daar nie terugbaklei kan word nie. Die Weste se menseregte beleid het maak dit kinderspeletjies om vergeldingsaanvalle op hul voorstoepe uit te voer . Die magtige nasies gaan deur enkeles tot raserny gedryf word , en dit begin nou eers.

Ashlee ·

Verstaan nie wat jy se nie. Heilige oorlog was gevoer jare voor die geboorte van Jesus, en het nog nooit gestop.

Hannah ·

So sal ek nimmer vergeet hoe ‘n kollega by geleentheid vertel toe sy op Stellenbosch studeer het en Prof Sampie Terreblanche vir hulle gese het dat die Muslims die wereld wil oorneem…hoe hulle (die studente) hom uitgelag het! Somtyds wonder ek…

Chris ·

Ek verstaan nie die konsep ISIS nie. Ons word dmv die media oor die Islamitiese Staat ingelig. Ek vra myself die vraag af waar is die staat. Is dit ‘n afgesprede grondgebied soos bv Sirië, Irak of Saudi Arabia. My mening is dat dit deur iemand fabriseer is om paniek patriotisme of regverdiging vir oorlog geskep is. Geen land het, kon of sal ooit ‘n terroristiese oorlogvoering kan wen nie. Dit is maklik om terreur aanvalle aan ISIS toe te dig. Ek glo dit word befonds en deur mense gedryf wat ons die minste verdink.

Daniel ·

Chris ek ondersteun jou gevoel van die befondsing.
Herman, goed geskryf. Ek glo Europa het hulle deure oopgemaak vir sogenaamde vlugtelinge wat onder ISIS ” baie swaar ” gekry het maar ek is baie seker dat daar meer ISIS lede as sogenaamde vlugtelinge na Europa was. Baie van hulle was volwasse mans maar is geregistreer as kinders en is sodoende toegang verleen. Ek beskou ISIS as die militante vleuel van Islam. Hulle is voortdurend besig om Europese landsburgers te oortuig dat Islam die enigste geloof is, veral as daar finasieële vergoeding ook nog by is. Sodra hy oorgeskakel het, is die res maklik om ‘n selfmoord-bommer daar te stel. Ek het nêrens gesien dat die Arabiese lande van die Siriese vlugtelinge ingeneem het nie. Nou wonder ek hoekom nie? Vir my is die hele aksie net om Europa en die VSA te beman en stelselmatig die land te begin oorneem. Islam lede in gesagshoudende en senior poste is maar net die begin daarvan. Dit sluit beroepe in soos in die verdedingsgroepe, regsstelse, medici, polisie, burgermeesters, lektore, onderwysers, …….. Om ‘n terroriste groep vas te trek is nie maklik nie want hulle gebruik intimidasie, omkopery en bedrog soos wat hulle dit nodig ag, sonder om sleg te voel oor hulle optredes of dade. ISIS is ‘n Ideologie wat aangehang word deur diegene wat graag as deel van ‘n groep gesien wil word om selfbeeld/aansien te bevorder.

Leendert ·

Niks sal stop nie, van die vroegste tye af het die obskures rondgesluip, bendes gevorm, eeue later terreur groepe, tussendeur het lande teen mekaar oorlog gemaak, stamme, kolonialiste het die wêreld ingevaar, nou is ons waar ons is, net die name van die groepe en radikales verander, so sal daar vorentoe ook nuwe name opduik, name wat hulle wil hê moet onthou word, vir hul saak staan, intussen raak hulle al militanter, meer bizzar, sypel oral in, en maak van die nuutste tegnologie gebruik.

Chris ·

Mense sal sê ek is ‘n sameswerings idioot “conspiracy idiot ” Die volgende vrae het by my opgekom na aanleiding van wat hier ter plaatse en in die buiteland gebeur het. Dit was vir my te terloops dat die hordes uit hul gate uitgekruip het en Ingeland wou binneval net voor die Brexit stemmery. Wat was een van die hoof vraagstukke van die EU, vreemdelinge toegang. Toe kom die Franse verkiesing. Skielik is daar terreur in Frankryk, voor die verkiesing. Die Ingelse beplan ook verkiesing, en is daar ook terreur aanvalle. Dit is vir my net te toevallig. Verlede jaar is al wat “stewdents and lêrners” kwaad en “fees/fleas must fall” . Wat het intussen gebeur. Ministers en meelopers word links en regs “gehire en gefire ” die ekonomie is ten gronde die land gaan oor die af grond. Die Rand val met so paar sente en woerts, daar spring hy weer terug. Het iemand dalk meer insae as ek. Duidelik

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.