Kan Duitsland se nuwe kanselier ‘n Groene wees?

Annalena Baerbock (links) en Robert Habeck is die voorsitters van die Groenparty. Foto: (Guido Kirchner/dpa via AP)

Die opgang van die Groenparty in Duitsland lyk tans onstuitbaar. Hulle is in meningspeilings met sowat 22% kort op die hakke van die Christen-Demokrate (CDU), maar terwyl laasgenoemde steun verloor, neem die steun van die Groenes net toe.

Terwyl die Groenes vroeër randeiers was en net in uitsonderlike gevalle koalisies met hulle aangegaan is, val vandag feitlik alle partye oor hulle voete om vir die Groenes ogies te maak. Na die volgende verkiesing oor minder as twee jaar is alles moontlik, maar dat die Groenes deel van die regeringskoalisie sal wees, is amper ʼn uitgemaakte saak. Moontlik stel hulle selfs die kanselier.

Deesdae is eintlik almal vir hulle: die media en meningsvormers, die kunstenaars en verhoogpersoonlikhede, intellektueles en wetenskaplikes en selfs die maatskappybase en ekonome, wat vroeër skepties was. Die Groenes is op die kruin van die sogenaamde Zeitgeist, nadat hulle vir dekades gehelp het om die Zeitgeist links te skuif.

Die Groenparty vier tans hulle 40ste verjaarsdag en daarom loon ’n kyk terug om die sukses te probeer verstaan. Die party wat in Januarie 1980 gestig is, was ʼn bont versameling van hippies, kommuniste, ontnugterde sosiaaldemokrate maar ook enkele burgerlikes en selfs konserwatiewes wat bekommerd was oor die vernietiging van die natuur. Behalwe vir die omgewingsbeskerming was pasifisme, internasionalisme en feminisme belangrike vraagstukke vir die Groenes.

In die 1980’s was die party in ʼn gissingsproses waarin die ekstreem-linkses ná lang binnegevegte die oorhand gekry het. Die party was net in uitsonderlike gevalle deel van koalisieregerings met die Sosiaaldemokratiese Party (SPD) op provinsiale vlak, maar deurentyd in die parlement verteenwoordig danksy hulle getroue kiesers. In die laat 1980’s was die Groenes heeltemal teen die Zeitgeist, toe hulle teen die vereniging van Duitsland gekant was en ook nie juis opgewonde was oor die val van kommunisme en die herlewing van nasionale selfbeskikking nie. Hulle het, ook as gevolg daarvan, in die 1990-verkiesing hulle plek in die parlement verloor.

In die 1990’s het die gematigde vleuel geleidelik hulle invloed verhoog en die party geprofessionaliseer, sodat hulle in provinsiale regerings meer en meer die natuurlike koalisievennoot van die SPD geword het. In 1998 het die Groenes vir die eerste keer op nasionale vlak saam met die SPD van kansellier Gerhard Schröder regeer. ʼn Groene, Joschka Fischer, het selfs minister van buitelandse sake en vise-kansellier geword en die Groenes het deur ʼn redelik pragmatiese beleid (in vergelyking met hulle ontstaansjare) gewys dat hulle ook kan regeer. Dit was ook in dié tyd waar die media hulle liefde vir die Groenes ontdek het.

Die party se steunvlakke was egter deurentyd iewers tussen 6% en 9% en hulle ondersteuners was veral in universiteitstede in Wes-Duitsland, maar min op die platteland en in die nywerheidsgebiede. Sedert klimaatverandering en alles wat daarmee saamhang die nommer een onderwerp in die media is (ook danksy talle Groen-aanhangers onder die redakteurs en joernaliste) gaan dit net vorentoe vir die party.

Hulle grootste oorwinning tot dusver was die verkiesing tot die Europese Parlement in 2019, waar hulle 20% van die stemme gekry het en sedertdien hoog bly in die meningspeilings. Verder is hulle ook goeie bemarkers: ʼn Jong, hip en aantreklike leierskapsduo wat al die regte goed sê en gedurig op televisie is. Die kleur groen staan al lankal in die openbare waarneming vir alles wat goed is: natuur, gesondheid, volhoubaarheid. Ook die ander element wat met die Groenes verbind word, die steun vir sogenaamde minderhede (almal behalwe wit heteroseksuele mans) en vir multikulturalisme word deur die meningsvormers as moreel goed beskou.

Inderwaarheid is die fokus op die omgewingstema net die een deel van die Groenparty. Soos Victor Orban, die eerste minister van Hongarye, dit treffend gestel het: die Groenes is soos ʼn waatlemoen: groen aan die buitekant en rooi aan die binnekant. Inderdaad is die beleid van die Groenparty duidelik links en sosialisties: sterk gerig op staatsbeheer, voorskriftelikheid, hoë belasting, beperkinge van vryheid en boonop internasionalisering en die verwydering van tradisionele waardes en norme.

Alhoewel meeste Westerse lande intussen ook Groenpartye het, bly dit veral ʼn Duitse verskynsel. Buite die Weste is hulle glad nie ʼn faktor nie. Dit hang ook daarmee saam dat dit ʼn verskynsel van die post-moderne, oorversadigde samelewing is, waar al die “brood en botter”-vraagstukke reeds aangespreek is.

Dit is ook denkbaar dat die Groenes net so vinnig weer val soos wat hulle nou opstyg. Kiesers is nie meer so lojaal aan partye soos in die verlede nie, en laat hulle deur die modes lei. Die meningsvormers, wat die Groenes so opgehemel, kan hulle weer laat val as die gety draai. Dit sal veral die geval wees as mense sien dat baie van die Groenes se eise en voorstelle baie duur, onrealisties en teenproduktief is. Op talle dringende probleme, soos die migrasiegolf, die wêreldekonomie, staatskuld, misdaad, morele verval, lewenskoste, ensovoorts, het die Groenes geen antwoord nie.

As die golf van voorspoed en globalisering taan en mense weer na hulle onmiddellike belange moet kyk, sal die Groenparty se opgang ook verby wees.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Feite ·

Hierdie mening begin op n lekker noot met almal wat oor hulle voete val vir die groen party, maar eindig tragies wanneer die groen party oor sy eie voete val. Dit laat my nogal dink aan VF/Solidariteit/Afriforum wat aanvanklik die geelwortel uitgehang het met die visie van n volkstaat waarvoor duisende mense by hulle aangesluit het. Groot was die ontnugtering toe genoeg mense reeds as lede aangesluit het, moes uitvind dat dit nie gaan realiseer nie en dat selfbeskikking sonder n volkstaat hul voorland is. Nou gaan die ontnugtering nog groter wees wanneer mense uitvind dat daar nie grond vir selfbeskikking gaan wees nie!

MJO ·

@Feite – die artikel gaan oor die groenes in Duitsland en nie die skrywer wat ‘n lid is van die VF /Afriforum /Solidariteit. Hou by die “feite” asb (sic…excuse the pun).

Nico K ·

Feite, dit is darem nou heeltemal ‘n ander onderwerp wat jy aanspreek. Die feit dat ‘n volkstaat nie grealiseer het nie is nie die VF se skuld nie. Hulle was nooit in enige posisie om hul beleid te probeer uitvoer nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.