Kan en mag ons Godsdiens werklik van enige iets losmaak?

Deur ds. G.J. (Gert) Erasmus

Argieffoto (Foto: Steve Buissinne/Pixabay)

Daar het talle vrae en verskillende reaksies die afgelope twee weke in die media opgeduik oor die nuwe konsep van die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens. In reaksie op die artikel oor die Christelike perspektief op die Vuurwapenwet (28 Mei 2021) is daar talle vrae geopper of moet ’n mens nie maar éérder Godsdiens uit hierdie bogenoemde saak, oor die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens, los nie?

In reaksie op sommige vrae geopper, is die volgende as antwoord: Om vir ’n oomblik, in die lig van al hierdie uiteenlopende reaksies en kommentaar (van die afgelope drie weke) stil te staan, bring dit ons uit by twee kernvrae waaraan ons onsself moet gaan toets:  Kan ’n mens – en mág ’n mens – Godsdiens losmaak van dít wat op aarde gebeur? Wat ons baie fyn na moet oplet in hierdie twee vrae se antwoorde is die twee verskillende reaksies wat dit tot gevolg kan hê en wat weer op húl beurt uitloop op twee verskillende eindes.

Kan ’n mens – en mág ’n mens – Godsdiens losmaak van dít wat op aarde gebeur?

Die Skrif leer ons in Psalm 119:105 dat “U woord is ’n lamp vir my voet en ’n lig vir my pad”. ’n Kernwaarheid wat ons dring tot geloofsnederigheid omdat God die pad vir ons aanwys met die vraag: Wie bestuur jóú lewe? Wie is in beheer van jóú lewe? Is jóú lewe (die lewe wat j‎y nóú leef) werklik in jóú hande? Daarom is die kernvrae “Kan ’n mens… en mág ’n mens…” juis van kardinale belang in dít wat op aarde gebeur – óók in die lig van die omstandighede oor die nuwe konsep van die Wysigingswetsontwerp op die Beheer van Vuurwapens.

In die bogenoemde teks word daar gehandel oor ’n lewenswaarheid, naamlik, hoe kyk j‎‎ý‎ as gelowige deur die bril van God se Woord óf as religieuse/godsdienstige landsburger na die omliggende omstandighede in ons land? Want wat een is en nie twee nie, is dat jóú manier van kyk ’n direkte effek het op hoe jy as gelowige/landsburger reageer op/oor sake.

Dit word op ’n eenvoudige manier opgesom in drie kernsake waarby elke mens as kroonskepping van God nie by verby of los kan kom nie en dit is dat alles in jóú lewe en hoe jý‎ daarop reageer neerkom op drie sake in die lig van Psalm 127: om (i) te herken (eien/raaksien), om (ii) te erken (besef) en om (iii) te bely (oorgaan tot aksie/uitleef).

Psalm 127 sê vir ons sonder die Here is alles tevergeefs. Sonder die Here in jóú lewe (wat juis aan Hom behoort) is alles en sal alles ’n gejaag na wind wees (Prediker). Die Here se grootheid en almag staan soos ’n paal bo water. Dit hoor ons in die volgende woorde:

  • Is twee mossies nie vir ’n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel (Matt. 10:29-30).
  • Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al (Ps. 139:4).
  • Klim ek op na die hemel, is U daar, gaan lê ek in die doderyk, is U ook daar (Ps. 139:8).
  • Vlieg ek na die ooste, of gaan woon ek in die verre weste, ook daar lei u hand my, hou u regterhand my vas (Ps. 139: 9-10).

Bedoelende: Ons kan selfs géén treë vooruit of agteruit gee as God dit nie bepaal nie.

Dit laat ons met ’n diep besef van geloofsnederigheid. ’n Diep besef van geloofs-“kleinheid”. ’n Oorkoepelende besef van God se grootheid.

Dit is juis die kern waarop Psalm 127 fokus dat sonder die Here alles tevergeefs is. Daar is drie kerngeloofsake (waarop alles in jóú lewe neerkom) waaroor daar in die eerste twee verse van dié psalm gefokus word en wat die tafel vir ons dek as dit gaan oor lewensvrae, lewenswysheid en dit waaroor baie mense worstel: Kan ’n mens – en mág ’n mens – selfs durf sê dat Godsdiens losgemaak kan word van dít wat op aarde gebeur?

Psalm 127: 1-2 géé vir ons die antwoord. Dit is ’n geloofspadkaart wat ons beskerm sodat ons nie sal verdwaal in die gevaarwaters en dryfsand van valse denke of valse persepsies wat daar tans in die wêreld heers oor dít wat juis (moet) vasstaan nie. Want God is juis die Gewer van alle goeie gawes (Jakobus 1:17). As Gewer gee Hy nie net die geloofspadkaart nie, maar Hy wys óók die geloofspad vir ons aan.

Hieruit sien ons drie vaste dinge oor wie God is en wáárom ons nie Godsdiens kan en mag losmaak van dít wat op aarde gebeur nie:

  1. Hy is die eintlike Boumeester sê vers 1a: “As die Here die huis nie bou nie, tevergeefs werk die wat daaraan bou;”.
  2. Hy is die eintlike Bewaarder sê vers 1b: “…as die Here die stad nie bewaar nie, tevergeefs waak die wagter.”
  3. Hy is die eintlike Arbeider/Gewer sê vers 2: “Tevergeefs dat julle vroeg opstaan, laat opbly, brood van smarte eet – net so goed gee Hy dit aan sy beminde in die slaap!”

Drie keer word hier beklemtoon wie die Here in ons lewe is. Dit is hoe ons na die lewe rondom ons en in onsself moet kyk. Ons moet deur die bril van sy Woord na alles rondom ons kyk. Ons het aan die begin vir mekaar gesê dat jóú manier van kyk noodwendig ’n direkte effek het op hoe jy as gelowige/landsburger reageer op/oor sake.

Kan ’n mens – en mág ’n mens – durf sê dat Godsdiens losgemaak kan word van dít wat op aarde gebeur?

In die eerste plek: ’n Mens kan in sy vryheid, já, maar dan kom jy ongelukkig by ’n einde uit wat bitter gevaarlik is waarin jy God en sy Hand in jóú lewe miskyk (i) om nie die gevaar rondom jou raak te sien nie, (ii) om nie te besef watse gevaar rondom jou afspeel nie, en (iii) om nie waarlik oor te gaan tot die uitleef van jou geloofsroeping nie.

In die tweede plek: ’n Mens mag nie sê dat Godsdiens losgemaak kan word van dít wat op aarde gebeur nie, want dan sal jy nié by die regte einde uitkom om (i) die gevaar te herken en in die regte lig raak te sien wat rondom ons gebeur en dat God die eintlike Boumeester is, (ii) om dáárin te erken en te besef dat God is die eintlike Bewaarder is, en (iii) om waarlik te bely en oor te gaan tot geloofsaksie dat Hy die eintlike Arbeider/Gewer is.

Wanneer ons besef dat alles sonder die Here tevergeefs is, sal daar baie duidelik op die vraag “Kan ’n mens – en mág ’n mens – Godsdiens losmaak van dít wat op aarde gebeur?” sal die antwoord ’n duidelike nee wees. Want sonder die Here is alles tevergeefs (Ps. 127). Want Hy is die eintlike Boumeester, die eintlike Bewaarder en die eintlike Arbeider/Gewer.

Met die talle vrae en verskillende reaksies die afgelope twee weke, vra jouself éérder die vraag af waar jý staan in die lig van dit wat rondom ons afspeel en gebeur oor die herkenning, erkenning en belydenis (oorgaan tot positiewe aksie)?

Daarom het ons die opdrag vanuit ons geloofsroeping om nie net die gevaar in die eerste plek te herken en in die tweede plek te erken nie, maar om in die wêreldse omstandighede óók die waarheid in die derde plek te kan bely dat sonder die Here alles tevergeefs is.

  • Gert Erasmus is leraar verbonde aan die Gereformeerde kerk Pretoria-Magalieskruin asook medewerker van Begrond, die Instituut vir Christelike Grondslagstudies.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.