Kan ʼn morele oproep op Zuma slaag?

kgalema-motlanthe-ahmed-kathrada

Kgalema Motlanthe tydens Kathrada se begrafnis. Foto: Foto: Siyabulela Duda/DOC/GCIS

Deur Prof. Deon Rossouw, uitvoerende hoof van Die Etiek-instituut

Die morele oproep wat Ahmed Kathrada bykans ʼn jaar gelede op pres. Jacob Zuma gedoen het om te bedank, is onlangs ʼn tweede lewe gegee toe oudpres. Motlanthe die brief op Kathrada se begrafnis voorgelees het. Dat Kathrada se morele oproep op Zuma deur vele gedeel word, was duidelik uit die staande toejuiging wat die voorlees van Kathrada se brief ontlok het. Zuma se reaksie op die morele oproep was weereens – soos destyds – ʼn dawerende stilte.

Kathrada se morele oproep is maar een van vele soortgelyke morele oproepe wat sedert die konstitusionele hof se bevinding rakende Nkandla van binne sowel as buite die ANC aan Zuma gerig is. Maar dit is duidelik dat hierdie morele oproepe nie ter harte geneem word nie. En dit lei tot ʼn soort morele moedeloosheid (en morele moerigheid) wat wyd waargeneem kan word.

Vir ʼn morele oproep om te slaag en die ander party te oorreed om gehoor daaraan te gee, is daar sekere voorvereistes. Eerstens moet die twee partye dieselfde stel waardes deel, en tweedens moet daar ooreenstemming wees dat alle optrede ondergeskik moet wees aan hierdie gedeelde stel waardes. Die verwagting is dan dat die ontvanger van die oproep sy of haar gedrag sal wysig uit respek vir die gedeelde waardes wat albei partye onderskryf.

Wanneer ʼn morele oproep gerig word op grond van ʼn sekere stel waardes of morele norme, maar die ontvanger daarvan deel nie dieselfde waardes of norme nie, loop die oproep soos water van die spreekwoordelike eend se rug af. Dit maak hoegenaamd geen indruk, en het geen impak nie.

Dit blyk dat dit presies is wat gebeur het met Kathrada, Motlanthe en vele ander se oproepe dat Zuma die regte ding moet doen, en gaan aftree by Nkandla. Dit het soos water van ʼn eend se rug afgeloop – weereens.

Dit laat onvermydelik die vraag ontstaan: Is daar enige rede waarom Zuma en ander leiers hulle hoegenaamd hoef te steur aan morele oproepe? Is dit nie ʼn geval dat hulle die reg het om die rug te keer as hulle sou verskil met die waardes en norme van diegene wat die morele oproep rig nie?

Maar dis juis hier waar die probleem lê. Die veronderstelling wat gemaak word deur mense soos Kathrada, Motlanthe, en ander lede van die ANC, is dat daar in die ANC sekere gedeelde waardes is. Dit is die waardes wat die ANC deur sy vryheidstryd gerig het, en deur leiersfigure soos Oliver Tambo, Walter Sisulu, Nelson Mandela, Ahmed Kathrada en vele ander vergestalt is. En dit is juis hierdie stel waardes waarop mense in die ANC ʼn beroep doen wanneer hulle Zuma vra om die tuig neer te lê. Hulle is van oordeel dat hy nie net hierdie waardes verraai nie, maar dit ook aktief ondergrawe.

Dit beteken nie dat net mense wat deel vorm van die ANC grond onder hul voete het om ʼn morele beroep op Zuma te doen om sy skending van die ANC se gedeelde waardes te staak nie. Ons Grondwet gee elke Suid-Afrikaner die reg om ʼn morele oproep op Zuma en enige ander Suid-Afrikaner te doen. Want onderliggend aan die Grondwet is daar ook ʼn stel waardes wat die grondslag van ons samelewing vorm. In artikel 1 van die Grondwet word die waardes onderliggend aan die Grondwet uitgespel. Dit sluit waardes in soos respek vir die menswaardigheid en gelykheid van alle mense, nierassigheid, respek vir die oppergesag van die Grondwet en die howe, verantwoordbaarheid, en openheid.

In die geval van die president van die land maak ons grondwetlike bedeling dit baie duidelik dat die president nie alleen die Grondwet en die waardes wat daarin vervat is, moet eerbiedig nie, maar ook die verpligting het om altyd in die beste belang van ons land en die burgers op te tree. Artikel 96 van die Grondwet stel dit duidelik dat die president en ander lede van die uitvoerende gesag nie hul ampte mag misbruik om hul eie persoonlike belange te dien nie.

Dit beteken dus dat elke Suid-Afrikaner grond onder die voete het wanneer hulle ʼn morele oproep op Zuma en ander politieke leiers doen om nie die waardes onderliggend aan ons Grondwet te skend nie, en hul selfverryking ten koste van die beste belang van ons land te staak.

Dit raak toenemend duidelik dat Zuma hom nie aan morele oproepe uit die geledere van die ANC gaan steur nie. Dit is ewe duidelik dat hy ook nie gehoor gaan gee aan oproepe van burgers van ons land wat ʼn appél op hom rig om sy skending van die waardes onderliggend aan ons Grondwet, en spesfiek onderliggend aan sy amp, te staak nie.

Met die moontlikheid van nog ʼn mosie van wantroue in pres. Zuma op hande, weet almal dat so ʼn mosie net kan slaag as ʼn beduidende getal ANC-parlementslede die moed van hul oortuiging gaan hê om op te staan vir die waardes wat die ANC ʼn eens trotse party gemaak het, asook die waardes in ons Grondwet waartoe hulle wetlik en moreel verbind is by wyse van hul ampseed.

Dit val egter op dat daar in die media vele oproepe op ANC-parlementslede is om in hul eie belang die mosie van wantroue in die president te steun. Hulle word daaraan herinner dat as Zuma toegelaat word om aan te bly tot aan die einde van sy ampstermyn in 2019, die ANC bes moontlik sodanig gaan pak kry in die 2019-verkiesing dat heelwat ANC-parlementslede hul plekke in die parlement gaan verloor. In plaas daarvan dat daar ʼn morele beroep op ANC-lede gedoen word om op te staan vir die waardes van die ANC, of die waardes vervat in ons Grondwet, word daar nou ʼn beroep op hul eiebelang gedoen. Moet ʼn mens dit lees as ʼn aanduiding dat nie net die president nie maar ook die ANC die morele kluts kwytgeraak het, en dat ons daarom nie meer op hul waardes kan staatmaak nie, maar slegs op hul eiebelang?

Die voormalige minister van finansies het kort ná sy afdanking verlede week laat blyk dat hy hom deur sy gewete sal laat lei in ʼn stemming oor ʼn mosie van wantroue in die president. Is dit te veel gevra van ander ANC-lede in die parlement om hulle ook deur die waardes van die ANC, en die waardes vervat in die Grondwet, te laat lei wanneer hulle oor die toekoms van die president moet stem?

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

John ·

So, eintlik beweeg ons nou op die terrein van aksie want die morele terrein is ongelyk, eintlik vol slaggate en landmyne. Die ANC-Zuma-ondersteuners se hulle sal die rewolusie met bloed en ‘yster’ verdedig. Stemmery in die parlement gaan dus duidelik nie eers meer die ding kan doen nie. ‘Oorlog’ word gemeld op ann7. Ons hoop De Klerk het onthou om sy tv-lisensie en dstv te betaal om op die nuutste gebuigde ultra-skerm in ultra-kleur in sy ultra luukse beveiligde bomskuiling die opmars teen die demokratiese nee-vir-Zuma-optog te aanskou. Hou maar die rooi pilletjies naby vir indien iemand dalk per ongeluk ‘n asblik omskop.

Pim09 ·

Die ANC moet maar aanhou om die mense van die land te ignoreer. Hulle was almal verbaas oor die uitslae van die munisipale verkiesings verlede jaar. As hulle so aanhou gaan die 2019 verkiesing hulle heeltemal van hulle voete af slaan.

Koos1 ·

Ek dink Zuma se morele kompas is in die Brumida driehoek.
Om moreel op te tree vereis dat jy ander mense en sienings ook moet eerbiedig. Zuma en Mugabe het daai gedeelte bietjie kort.

Neewat ·

Nee, jy moet actually MORELE WAARDES he as ‘n morele oproep op jou gaan slaag.

John ·

Wat is morele waardes? Waarop is dit gegrond? Enige kopie van die Bybel in die hande van die regering.? Moet mens net geweld afsweer maar kan enige geloof, selfs ‘n totem-paal aanbid, dan is jy oulik. Ideologie en geloof is een. Gister was al die gelowe van die reenboog verenig in ‘n Christelike kerk vir een glo goeie man se dood omdat hy glo goeie drome ooreenkomstig Ghandi se oortuigings gekoester het. So ons Christelike geloof word deur glo goeie ANC-lede afgewentel tot op die vlak van gode en nie ons Hemelvader nie. Oom Kathy word besing en politieke twiste ontaard nou in ‘heilige’ oorloe. Dis skrikwekkend.

Heinrich ·

Om ‘n morele basis te hê, het jy ‘n tog ‘n handleiding daarvoor nodig. Op die ou einde, is dit nie maar net Christus navolgers VS voorvadergees navolgers nie? En ek weet nie so mooi van ‘n handleiding vir die voorvadergees aanbidders nie, maar die Bybel gee baie duidelike riglyne!

Rudy ·

Dis die domste vraag wat ek nog gehoor het. Watter morele? He he he he

Francie ·

Nee, Zuma het geen morele waardes nie, want hy het geen gewete nie.
Vir my loop die twee saam, en is inter-afhanklik.
Soos eerlikheid en integriteit.
Jy kan nie daarop roem om eerlik te wees nie, en ‘n leuen hoort onmoontlik nie by ‘n persoon van integriteit nie.
So is dit ook met Zuma en sy meelopers. Hulle het sonder blik of bloos die land besteel, en ons, wat nog altyd glo in die opregte intensies van ‘n persoon van daardie posisie, is aan die neus gelei.
Die gevolg daarvan sien ons elke dag, die armes het nog armer geword, en word met verskeie aksies vanuit die middelklas (sonder staatshulp) soms voorsien van kos; die getalle is oorweldigend.
Nog nooit in die geskiedenis was daar soveel mense gesien wat geen geld, kos of ‘n vooruitsig daarop het dat hulle later beter daaraan toe sal wees nie.
Dit kan jy gaan lê voor die voete van skaamtelose mense wat net nie genoeg kan kry nie.

Lewies ·

Die wit-regerings het hulle regeermag verloor om dieselfde redes waarom die ANC sy regeermag gaan verloor. Geen regering sal sy bewind verloor as hy regeer volgengs die wil van Hom wat hulle daar geplaas het nie. Moraliteit is maar een eienskap wat gehandhaaf moet word om aan bewind te bly. Deur die loop van die geweer is die ergste straf wat ‘n land kan tref. Gelukkig is ons nog nie daar nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.