Kan ons na God as vroulik verwys?

Deur prof. Kobus Kok

(Foto: Yannick Pulver/Unsplash)

Die NG kerk is weer in die sop. Op Facebook gons dit hierdie week nadat een van die twee vroulike predikante wat die nuwe proponente van Stellenbosch se legitimasieplegtigheid behartig het, onder meer na God as “haar” oftewel in vroulike terme verwys het. Een van die dominees noem “[dat] God drie-enig háár verbond bevestig, of sý verbond, hoe jy dit ook al sien…”

Op Facebook merk mense op: “Wat gaan aan met die NG Kerk?” …. “SATAN SE WERK!!!” en nog ander meen “Dis nou wat daarvan kom as mens eers vrouepredikante toelaat”. Ander skryf “Hierdie video beeld die skokkende verval in die NG Kerk pragtig uit”.

Het ds. Melanie Thirion van die Stellenbosch legitimasieplegtigheid buite die lyne beweeg van dit wat binne die Bybel en vroeë kerk oor God gesê is?

Kom ons kyk en dink na.

Die bekende en geliefde biskop Klemens van Alexandrië, ’n leermeester van Origenes, was ’n invloedryke vroeë kerkvader wat geleef het rondom 150-215 n.C. Daar is verskeie geskrifte van Klemens wat vir ons behoue gebly het. Een so ’n geskrif handel oor die sogenaamde “Redding van die ryk man”.

In hoofstuk 37 praat hy in roerende vroulike terme oor God: “En God self is liefde; en uit liefde vir ons het hy vroulik geword. In sy onuitvoerbare wese is Hy Vader; in sy medelye met ons het hy moeder geword. Die Vader het deur liefde vroulik geword; en die groot bewys hiervan is Hom wie Hy self verwek het; en die vrug wat deur liefde voortgebring word, is liefde.”

Vir Klemens is God in sy wese Vader, maar in sy medelye, moeder. Beide Vader en Moeder is metaforiese taal. In die antieke paternalistiese wêreldbeeld was die vaderbeeld altyd dominant en primêr, veral by die Jode en die eerste Joodse Christus-volgers. Maar tog in die Ou en die Nuwe Testament word die ervaring van God en sy handelinge soms ook op boeiende en poëtiese taal uitgebeeld in vroulike terme, konsepte en metafore (sien Psalm 36:7; Psalm 75:1; Psalm 63:7; Psalm 91:4; Rut 2:12; Mattheus 23:37; Lukas 13:34).

Ek onthou dat ek destyds as student by ’n gerespekteerde professor wat deur baie seer in die lewe was, se kantoor ingestap het. Teen sy muur was ’n skildery van Rembrandt se Verlore Seun. Een dag het hy oor Henri Nouwen gepraat en hoe dié daarop wys dat in Rembrandt se skildery die hand van ’n man en die hand van ’n vrou uitgebeeld word. Vir Nouwen is dit simbolies van God se twee kante. Die moederlike kant van God as metafoor is net so belangrik as die vaderlike kant van God met kenmerkende metafore soos rots en burg.

Uiteindelik is beide kante by implikasie metaforiese taal. Lakoff en Johnson se sosiokognitiewe metafoorteorie verduidelik hoe dit wat ons oor die onbekende (soos God) wil sê, altyd saamhang met iets wat vir ons bekend is (soos ’n vader/pottebakker, rots, herder, vaste burg, ensovoorts). Dus, ons vat ’n bekende konsep van ’n rots en verduidelik dan wie God is om die punt te illustreer van soliede basis. Die kerkvaders beskryf God metafories in terme van vroulikheid om die punt te maak dat God geboorte geskenk het aan sy eersgebore Seun, homself oor ons ontferm, dat hy ons koester, en dat hy met sy vroulike kant soos ’n hen haar vlerke oor ons vou en ons beskerm. Klemens was nie in stryd met die gesaghebbende Christelike geskrifte nie.

Waaroor ons diep moet nadink, is dat alle spreke oor God by implikasie kultureel-gebonde metafore is. In die antieke paternalistiese kulturele wêreld, soos die antieke Mediterreense antropologie ons wys, was daar ruimte vir manne en ruimte vir vroue – en was dit meer afgebaken en geskei as vandag. Mans was sterk en vroue het versorg (met enkele uitsonderinge). Vir die Jode en eerste Joodse Christus-volgers was dit belangrik om ’n sterk God te hê. Maar soms het hulle ook ten diepste die vroulike aspekte van God met metafore uitgebeeld. Let wel, beide kante, maar met ’n dominante manlike voorkeur wat ons in antieke Mediterreense antropologiese terme moet verstaan omdat dit die ontstaanskonteks was.

Die Bybel en vroeë kerk se gebruik van vroulike metafore help my baie in my gebedslewe en wandeling met God. Ek bid byvoorbeeld Psalm 91:4 en dan sal ek byvoorbeeld, sê maar tien minute, net stilstaan by die vroulike konsep van God se vlerke wat soos ’n moeder hen my van alle kante ontvou. Maar, as ek eerlik is, meng ek verskillende metafore in my gedagtes as ek so bid. Ten diepste dink ek steeds aan God as man heel bo, maar meng dit met metafore wat vroulik is asof dit dan uit God die Vader se hand uit kom. Vir my word God nooit heeltemal vrou nie. Dink bietjie na oor wat in jou eie gedagtes gebeur as jy met die hen-tekste in die Ou Testament bid.

Daar is tans ’n internasionale golf van feministiese, post- en antikoloniale ideologie wat inherent deel is van die Zeitgeist waarin ons leef. Hierdie ideologieë is gefundeer op ’n filosofiese basis wat inherent tradisionele gesagstrukture wil uitdaag en dekonstrueer met die oog op ’n nuwe vorm van gelykheid en wedersydse respek. Vroue in kerklike leierskap getuig dikwels hoe moeilik dit vir hulle in die Afrikaanse paternalistiese stelsel is. Bemoedigend vir my is dat Suid-Afrika jare voor is by lande soos België as dit kom by vroue in kerklike leierskap.

Stef Bos droom in een van sy liedere dat die wêreld op sy kop is en vroue aan die mag, en sê: “Het was mooier dan ik dacht… de wissel van de wacht…” Ook ek dink dis tyd dat vroue in kerklike leierskap ’n sterker rol speel. In hierdie opsig inspireer lande soos Skandinawië mens baie. Daar kom ook ’n tyd, soos by laasgenoemde, dat feministe meer gebalanseerd en inklusief raak. Aristoteles het al duisende jare gelede opgemerk dat met ’n goue balans en respek mens baie verder kom as met ekstreme.

Ek dink nie dominee Melanie Thirion het probeer om feministies-ekstremisties uit te daag nie, maar het eerder gepoog om inklusief te wees. Ek vind dit egter baie jammer dat gelowiges in die naam van God op byna ekstremistiese wyse simboliese geweld teen haar pleeg.

Voor ons mekaar kruisig, moet ons miskien Richard Rohr se insigte bedink. Hy skryf êrens dat met hierdie tipe dinge mense dikwels besig is om hul eie onopgeloste skadu’s te projekteer. As iets jou baie ontstel, gaan dink dus eers wat binne jóú aan die gebeur is en met watter onopgeloste skadu’s jy eintlik mee besig is wat nog nie heeltemal “klaargemaak” het nie.

Ons mag ’n klankbord wees vir mekaar, maar ons moet mekaar nie met veerpyltjies kruisig nie.

  • Kobus Kok is professor in Nuwe Testament-studies en mededirekteur van die Navorsingsentrum vir Vroeë Christendom (RCEC) aan die Evangeliese Teologiese Fakulteit (ETF) in Leuven, België.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

Pampoen ·

In stede van ‘n aantal geleerdes, sal ek my eerder berus met wat in die Bybel staan.

Johannes ·

Bly by die Woord en los julle slim stories. Jesus self het ons leer bid “Ons Vader wat in die hemel is…” nie ons moeder nie! Niemand betwyfel God se moederlike eienskappe van vertroosting nie, maar God word nooit as moeder aangespreek nie!

Jakalas ·

Jesus het telkemaal na sy Vader verwys: “sit aan die regterhand van my Vader… Vader laat hierdie beker my verby… Vader vergewe hulle”.

Hierdie artikel is progessiewe kanker, dit kom vanuit die ideologie van humanisme, en is nie Bybels nie. Kyk wat het feminisme aan die Europese en spesifiek die Scandinawiese kerk gedoen:

https://www.christiantoday.com/article/lesbian.bishop.wants.to.remove.church.crosses.so.muslims.wont.be.offended/66831.htm

https://friendlyatheist.patheos.com/2019/12/04/church-of-sweden-unveils-controversial-artists-lgbtq-altarpiece/

Jaun ·

Die professor speel ‘n twyfelagtige spel. In die laaste gedeelte van sy skrywe probeer hy insunieer dat mense wat ongemaklik is met ‘n verwysing na God as ‘n haar die fout by hulself moet soek.

Ja, God het ‘n moederlike aard ook, maar in Sy wese is Hy bowenal manlik – let wel in Sy wese, nie in Sy geslag nie. God is verhewe bo onderskeiding van geslagte. Die feit dat God éérste ‘n man geskap het in Sy beeld gee vir ons ‘n aanduiding dat Sy wese en aard eerstens manlik is.

Jesus verwys altyd na God as “die Vader”. Dis twyfelagtig as “geleerdes” nou na al die eeue vir ons wil oortuig dat die Onse Vader dalk eerder Onse Moeder moet wees. Dit is Godslastering.

Geleerd beteken nie bekeerd nie.

Jaun ·

Kort voor lank word “die Seun” seker “die Dogter” …

Francois Le Cochon ·

Nee, volgens die Nuwe Wereld Orde moet daar net verwys na “‘n persoon”. Om na geslag te verwys word alreeds in Europa as diskriminerend beskou.

OW ·

Dit wat God God maak,soos sy liefde,genade,geregtigheid,heiligheid,oordeel,kan netsowel deur ‘n vrou openbaar word.En wat Jesus as ons Verlosser betref,daar is nooit enige verband in die Bybel tussen sy manlikheid en sy verlossingswerk nie.

Riaan ·

As alles dan nou metafore is, waar trek ‘n mens die lyn? Het Christus dan nou metafories aan die kruis gesterf?! Is die hemel en die hel nou net metafore? Is ons sondes en God se genade net metafore? Wanneer gaan God ook nou n metafoor wees? Julle (Kobus Kok en sy maatjies) gooi die Bybel by die deur uit en stel die kerk oop vir aanvalle vanuit die wêreld, want julle wil so graag inklusief wees om die wêreld tevrede te stel. Lekker liberaal en onbybels ter wille van die wêreld vir wie julle tog so bang is. Wys vir n slag ruggraat en verdedig die Bybel. Julle doen meer kwaad as goed, met julle wêreldgelykvormige, liberale slapgeit…

OW ·

Riaan,alles is nie metafore in die Bybel nie.Beeldspraak kom wel in die Bybel voor om dit beter te probeer verduidelik vir die leser of gehoor.Jesus het ook metafore(beelde) gebruik om sy gelykenisse te vertel en te verduidelik.Die boek Openbaring is vol beelspraak.Dit gee ons ‘n kyk in die ewigheid in wat nie in taal of beelspraak ooit volledig beskryf kan word nie.Ek kan jou verseker dat alles in die Bybel beslis nie matafories is nie.
Sterkte.

Riaan ·

Ek weet en stem 100% saam. My vraag is aan almal wat alles as metafories sien. Daniel het ook baie metafore, veral rondom die eindtye. Spreuke en Prediker is vol metafore en beeldspraak. Maar, God die Vader is nie n metafoor nie. Ek wil aan die metafoor-sieners vra waar trek n mens die lyn. Die gevaar is dat ons naderhand God die Vader self as n metafoor gaan begin sien. Bly dat meer mense soos jy darem die Waarheid ken!

Alexander ·

‘n Mens begryp mense se totale ontnugtering met die leiers in die kerk.

Hulle is so slim soos die houtjie van die galg, maar hulle verstaan nie die onberekenbare skade wat hulle in die kerk aanrig nie.

Boonop verstaan die proffie en die ds nie mooi dat hulle openbaring verruil het vir hulle eie tydgebonde projeksies van wie God is nie. Hulle glo mos nie dat die kerk die waarheid bely nie – dis alles nog ‘n nederige ontdekkingstog en die resultate daarvan voorlopig.

Die mense is in elke geval ver agter die tyd. As hulle inklusief wou wees moes hulle aer, haer, zir ens ook gebruik het. Hoe diskriminerend en liefdeloos dat hulle net ruimte wil laat om God as vroulik of manlik aan te spreek.

Intellektuele arrogansie het nie brieke nie. (En die lidmate ly daaronder)

Bytjienw ·

Die Bybel sê God het die mens (Adam) na Sy beeld geskape en daarna het God vir Adam ‘n metgesel (Eva) geskape.

Vrijburger ·

‘n ‘Woke’ sedeprekie en akademiese gegorrel wat maar net weereens vir my bevestig waarom die kerk in ‘n hedendaagse verligte Europa bykans verdwyn het.

Tinus ·

Persoonlik dink ek die geleerde en die prediker beweeg op baie,baie dun ys.Die NG Kerk behoort hieroor sterk standpunt in te neem,wat gaan aan??

MakersMark ·

Jesus het gelukkig self tot die Hemelse Vader gebid. En daar word na die Drie Eenheid verwys as God die Vader, God die Seun, en God die Heilige Gees. Genoeg gesê.

Anna-Marié ·

Julle krap nou waar dit nie jeuk nie. Wat wil die NGK nóg doen om gelowiges te vervreem en onderling te verdeel!

Boris ·

Sola scriptura – Die Skrif alleen is gesaghebbend vir die geloof en praktyk van die Christen. Die Bybel is volledig, gesaghebbend en waar.

Mat 1:21 en sy sal ‘n seun baar, en jy moet Hom Jesus noem…

Joh 1:18 Niemand het ooit God gesien nie; die eniggebore Seun wat in die boesem van die Vader is, dié het Hom verklaar.

Joh 14:8 Filippus sê vir Hom: Here, toon ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.

Joh 14:9 Jesus sê vir hom: Ek is so lankal by julle, en het jy My nie geken nie, Filippus? Hy wat My gesien het, het die Vader gesien. En hoe sê jy: Toon ons die Vader?

Luk 11:2 En Hy sê vir hulle: Wanneer julle bid, sê: Onse Vader wat in die hemele is,…

Volgens my is Vader en Seun die term vir die manlike geslag – punt.

Stof ·

Laat ons gou taalkunde, teologie en tradisie byekaarbring.
God is gees. Hy is geslagloos.
DIe grootste rede waarom al oor die sesduisend jaar na Hom as mankik verwys word, is nie omdat Hy enige geslag besit, of enige geslag bevoordeel nie. Die rede is taalkundig en tradisioneel.
Taalkundig is daar ‘n swakheid in feitlik alle tale waar daar slegs manlike of vroulike terme na mense en items in die taalskat vervat is. Die neutrale terme (dit, ens.) het egter in taal, gewoonlik ‘n degraderende implikasie.
Dit is daar waar tradisie dus ingetree het om hierdie turksvy aan te spreek. Omdat die tradisie van die outeurs van die Bybel, sowel as die mense wat oor eeue hulle geloof uitgeleef het, patriargaal is, is die manlike term dus gekies om Vader aan te spreek, of na Hom te verwys. In vele kulture sou dit selfs as Godslasterlik beskou word om na Hom as vroulik te verwys.
Kyk dus na die kombinasie van taalkunde, teologie en tradisie, en die verklaring is glashelder.

Tinus ·

Wat vir my glashelder is Stof, is dat jy nie n benul het waar an jy praat nie. Die Skrif is n Heilige gees geinspspireerde boek met geen tradisies ens om God die Vader te definieer nie.

Wiehan ·

Ek het jare terug, toe die NG kerk begin “liberaal” word oor gegaan na die Hervormde Kerk. Tot vandag nog nie spyt nie. So NG lidmate, as julle ongemaklik is met wat verkondig word, waarom nie oorgaan na een van die susters kerke nie.

Pietertjie ·

Artikels soos hierdie dwaal-lering is nodig, sodat die kaf van die koring geskei kan word. Die reaksie van lesers spreek boekdele!

KKok ·

Dit gaan my verstand te bove dat mense nie ordentlik lees nie. Het ek in my artikel dan nie eksplisiet gesê dat God vir my n man is en dat selfs waar die Bybel of vroee kerk vroulike beelde soos die hen en haar vlerke gebruik, woorde en konsepte waarop ek dikwels bid, ek nie weg kan kom van die primêre Vaderbeeld in my gedagtes nie? Ek het dan so mooi myself broos gemaak deur jou n kykie te gee in my gebedslewe en dan erken ek dat God nooit vir my heeltemal vroulik word nie, selfs as ek die vroulike metafore van die Bybel bid. Die vroulike beelde soos o.a. die Hen en haar vlerke, sien ek dan komende uit God die Vader se hand. Hoe meer duidelik en genuanseerd kan mens tog nou wees. Mense, lees net vir n slag mooi met begrip wat iemand skryf. Asb! Ons is tog almal in staat om krities en onderskeidend te lees. Dis hierdie tipe vlakkerige lees van tekste wat maak dat ons op n byna Middeleeuse wyse mense brandstapel toe wil stuur.

Pieter9 ·

Die Prof haal almal aan behalwe Jesus Christus self: wat van Joh. 17 en die gebed in Getsemane….daar is te veel om te noem. Net die wat die Heilige Gees in hulle het verstaan die Woord…die ander skryf joernale en gee Klas.

Clary ·

“Het ds. Melanie Thirion … buite die lyne beweeg van dit wat binne die Bybel en vroeë kerk oor God gesê is?” In hierdie vraag kom die kern van die probleem na vore. Die Bybel is nie woorde OOR God nie. (Ongelukkig is dit baie mense se siening van die Bybel en die ontstellende is dat geleerde teoloë die leiding neem hiermee). DIE BYBEL IS DIE WOORDE VAN GOD SELF. Wanneer ons deur God se genade ons skeefgetrekte beskouing van die Skrif weer regtrek in lyn met God, sal daar eensgesindheid wees.

Edward ·

God is manlik, nie Vader/Moeder, Seun/ Dogter en Heilge Gees nie; maar Vader, Seun en Heilge Gees. Ons kan poëties, of metafories na God verwys as met vroulike eienskappe, maar sekerlik nie fisies nie, dan kry God vyf gesigte en nie drie nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.