Kan ons renosters in die laboratorium red?

bonné-in-die-kruger-deur-susan-scott

Bonné De Bod in die Kruger-wildtuin. Foto: Susan Scott/Verskaf.

Met die dood van die laaste noordelike witrenoster-bul op aarde, Sudan, is daar is nou talle vrae oor die toekoms van hierdie sub-spesie. Hoe het dit tot op hierdie punt gekom?

Die noordelike witrenosterbevolking het eens op ʼn tyd van Tsjad tot in die Demokratiese Republiek van die Kongo voorgekom, maar hul getalle het drasties afgeneem toe die stropingskrisis begin kop uitsteek het in die laat 1970’s en 80’s. Daar is dus ’n wanpersepsie dat renosterstropery ʼn nuwe tendens is wat eers in die jaar 2000’s begin het. ’n Bevolking van meer as 2 000 noordelike witrenosters in 1960 het tot net 15 in 1984 gekrimp, en vandag met Sudan se dood is daar net twee oor. Dit alles as gevolg van stropery, wat aangevuur word deur die vraag na renosterhoring en hierdie subspesie nou tot op die rand van uitwissing gedwing het.

Natuurlik kan ons ontsteld wees oor Sudan se dood, maar waaroor ons eerder ontsteld moet wees, is die feit dat die mensdom hierdie subspesie in die steek gelaat het. Daar moes in die eerste plek nooit net drie noordelike witrenosters oor gewees het nie. Hierdie is die perfekte prentjie van hoe moontlike uitwissing lyk, en ook ʼn voorbeeld van hoe Afrika besig is om haar erfenis te verloor. En as mens regtig tegnies wil raak, het hierdie spesie eintlik alreeds lank voor Sudan se dood uitgesterf, want daar is net twee koeie oor en hulle is albei verwant aan Sudan. Weens inteling kan hulle nie natuurlik voortplant nie, so die enigste manier om hierdie subspesie te red is in die laboratorium.

soedan-wit-renoster-01

Foto: Verskaf.

Die goeie nuus is dat wetenskaplikes vol moed is dat dit wel gedoen kan word. In hierdie stadium word daar verskeie opsies oorweeg, maar die een wat die meeste aandag geniet is in-vitro bevrugting. Die doelwit hier is om die eierselle vanuit die eierstokke van die twee koeie te oes en met Sudan se sperm te bevrug, waarna die bevrugte eierselle in ’n suidelike witrenoster ingeplant word wat dan as ’n surrogaat-moeder dien. En alhoewel dit alles belowend klink, is dit nog nooit vantevore gedoen nie. Maar soos hulle sê, daar’s altyd ’n eerste keer! Die ander opsie is kloning. Wanneer die woord “kloon” gebruik word, het meeste van ons die prentjie van Frankensteinagtige gedrogte, maar hierdie proses is nie meer so seldsaam nie. Met kloning word ’n liggaamsel (DNS) van ’n dier verwyder en in ’n ontkernde eiersel deur ’n hoogs wetenskaplike proses gemanipuleer, sodat dié sel begin verdeel en waaruit ’n embrio dan ontwikkel. Dié embrio kan dan weer in ‘n surrogaatmoeder ingeplant word en die dier wat gebore word, is ’n identiese weergawe van die oorspronklike.

Indien wetenskaplikes wel daarin slaag, kan genetiese diversiteit ’n probleem wees wanneer dit kom by die ontwikkeling en vrugbaarheid van die volgende geslag noordelike witrenosters. Daar is ook ’n debat aan die gang rondom hierdie kwessie. Ondersteuners van die wetenskaplike prosesse voel dat ons die navorsing moet doen en die verskeie tegnieke moet probeer omdat dit ook moontlik ander bedreigde spesies in die toekoms sal kan red. Ander voel weer dat die fokus en die inploeg van fondse eerder moet wees rondom die wilde renosters wat nog in hulle natuurlike habitat oor is.

sudan-wit-renoster-amy-vitale

Die laaste oomblikke van Sudan die laaste noordelike witrenoster-bul op aarde. Foto: Amy Vitale/Verskaf.

Hoe dit ook al sy, een ding wat ons hieruit kan leer is dat Sudan die laaste bul van sy spesies was… die laaste bul. Ons het dekades terug al besef dat die noordelike witrenoster in die moeilikheid is, en tog in hierdie moderne tyd van wetenskap en tegnologie het ons hulle situasie toegelaat om tot by hierdie punt te kom. Wat ons as Suid-Afrikaners moet besef, is dat ons hier in ons eie land elke dag drie renosters verloor weens stropery. Een elke agt uur. Ons wilde suidelike witrenoster sal uitsterf as iets nie drasties verander nie. Die onus rus op ons. Ja, ons veldwagters, staatsaanklaers, veeartse en wetenskaplikes werk almal hard om die noordelike witrenoster situasie te vermy, maar ons as die publiek moet emosioneel betrokke raak en hier is ’n paar praktiese voorbeelde van hoe jy dit kan doen:

1. Al heers daar chaos in ons land en inderdaad in die wêreld, het ons nogtans ’n verantwoordelikheid as die mensdom om alle lewende spesies te bewaar en te beskerm. Nie net is dit ’n mandaat van God nie, maar ook van ons Grondwet. Ons kan dus almal iets doen, maak nie saak hoe klein of “onbelangrik” dit mag lyk nie.

2. Hou aan om die renoster se storie te vertel en te deel op sosiale media. Dit is verniet en ’n ongelooflike platform om bewustheid te skep. Moenie ’n geheim maak van hoe jy voel oor wat besig is om met hierdie spesie te gebeur nie, en glo my individue in hoë posisies neem kennis.

3. Dit mag dalk oudmodies klink maar skryf ’n brief of stuur ’n twiet aan jou plaaslike parlementslid, dit werk! Indien jy nie weet wie dit is nie, volg hierdie skakel wat jou sal help.

En as jy steeds twyfel of jy as individu ‘n verskil kan maak… die bekende Dr. Ian Player het hierdie vraag aan my gestel: “Have you ever been in a room with a mosquito?

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Bonné De Bod

Meer oor die skrywer: Bonné De Bod

Die bekroonde rolprentmakers Bonné De Bod en Susan Scott is al drie jaar besig met die verfilming van die renosterstropingskrisis vir die dokumentêre prent, Stroop. Dié gedugte span is nou besig met redigering en die film sal na verwagting in 2018 uitgereik word. De Bod is bekend as die wildlewe-aanbieder op 50/50, aanbieder en vervaardiger van Rhino Blog, sowel as ʼn spesiale korrespondent vir die SAUK se Newsroom en kykNET se Grootplaas en #RenosterRadar op Groot FM 90.5.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

4 Kommentare

André Christof ·

Plaas dat die regering hulle op bewaring toespits, maar nou word Die Krugerwildtuin soos ‘n ‘hotel’ in die stad bedryf, als draai om geld en hul mis hul primêre doel, die basiese. Dan besef die regering nie dat hulle met bewaring, buiten vir die bewoners van die land, die wêreld ‘n beter plek sal help maak nie, ook vir die nageslag, kyk hoe lyk ons riviere, damme, in watter toestand is ons ekosisteme.

Dit laat my dink aan die ANC regering, soos per hul afgelope kongres in Desember 2017, se dryf om wifi in alle skole landswyd daar te stel, maar dan vergeet hulle dat hordes, dalk meeste skole in die landelike gebiede het nie eens ordentlike toiletgeriewe nie.

‘n Enorme taak lê vir almal voor, anders is die renoster in die laboratorium al uitweg.

Eish ·

Mensig! Dit is hartseer. Ons gaan verantwoording doen vir die verplettering van die skepping.

Sarel Strydom ·

Die uitsterf van spesies kan nie voor die Regering se deur gesit word nie maar voor elke persoon van ons wat uit gierigheid die wqereld om ons vernietig en dan te laat wakker skrik. Watter Spesie is volgende- Olifante?

Albaster ·

Ek wil n vierde punt byvoeg: laat ons jongmense in wetenskap en hoe tegnologie leer, dit is die toekoms. So kan ons voedsel produseer, mense gesond maak, dierespesies red.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.