Kan Suid-Afrika iets uit die Siriese situasie leer?

jacob-zuma-2

Pres. Jacob Zuma by die gedenkdiens vir die struggle-veteraan, Chris Hani, in Boksburg (10 April 2017). Foto: GCIS

Omstandighede in die burgeroorlog-geteisterde Sirië en in Suid-Afrika het byna ongesiens so begin plooi dat daar sterk ooreenkomste ontwikkel het. Daar is egter ook genoeg verskille, soos die opstand in Sirië wat tot geweld oorgegaan het, sodat ons moet duim vashou die ooreenkomste makeer die pas.

Albei lande beskik oor presidente wat in hul eie lande verkies is, al word die proses in Sirië nie as ’n ware demokratiese produk beskou nie.

Sowel pres. Basjar al-Assad as pres. Jacob Zuma lei partye wat ’n tradisie het van sterk te wil wees, en waar verdeeldheid soos in eenpartylande hanteer word.

Teen albei is daar ’n wye opstand, en in albei gevalle is die opposisie erg uiteenlopend en onderling nie op goeie voet met mekaar nie. In hul opstand teen die onderskeie bewinde staan die opposisie egter taamlik eendragtig saam.

In albei lande is die bevolkings erg heterogeen, en skroom die presidente nie om die etniese faktor te manipuleer nie.

Afgesien van Rusland, Iran en enkele organisasies, het Al-Assad se bewind min steun in die buiteland. Die ANC se buitelandse teenspoed kom nou in hoofsaak in die simboliek van rommelstatus wat twee graderingsagentskappe nou al op omvattende terreine aan Suid-Afrika toegeken het.

Albei presidente klou soos nete aan hul ampte, terwyl daar vir albei veel aantrekliker opsies sou wees om die politiek te verlaat en af te tree. Trouens, vir albei is dit beter om te gaan omdat die vasklouery ernstige probleme kan oplewer – in Al-Assad se geval aanklagte van misdade teen die mensdom, en in Zuma se geval 783 aanklagte van onder meer bedrog.

Albei het nou nog die kans om in mindere of meerdere mate die terme van hul uittrede te beding. Al-Assad sal in Rusland ’n welkome toevlug kan kry, en Zuma in een van die Sadek-lande. Dit is selfs moontlik dat Zuma ’n soort spesiale amnestie kan beding en ongesteurd op Nkandla kan aftree, maar aanduidings is dat die publiek dit nie sal duld nie. Die ondersteuning wat van opposisiepartye nodig is hiervoor lyk skraal.

Tot hoe ver sou Zuma bereid wees om te gaan as sy tweede en laaste termyn as staatspresident in 2019 ten einde begin loop, en die moontlikheid van tronkstraf hang steeds oor sy kop? Dit is ondenkbaar dat hy ook chemiese wapens op selfs kinders sal inspan. Maar daar hang tog ook iets onheilspellends oor Zuma se geneigdheid nou om sy stempel met groot magsvertoon van die gewapende magte te demonstreer, soos tydens die onlangse parlementsopening, en pas verlede week met die opposisiesaamtrek by die Uniegebou.

Wat wel soos ’n paal bo water staan, is dat geweld nie nou deur Zuma se opponente oorweeg word nie. Een van die opposisieleiers, Bantu Holomisa van die UDM, het wel gesê dit kan nie toegelaat word dat die opstand in protesoptogte stagneer nie – die gesamentlike opposisie moet onder een dak byeenkom en oor verdere opsies besluit. Dit klink darem nie of geweld een van die opsies is wat oorweeg word nie.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Rynhardt ·

Kan SA iets leer uit die Siriese situasie leer? Herman dit is baie maklik om te beantwoord.Hoe kan Zuma en Anc iets uit die Siriese situasie leer as SA ontwikkel het tot n boewe-staat?? Hoe kan Zuma en Anc iets leer as n onbekwame minister van finansies (hy het in verlede met belastingbetalers se geld blomme gekoop vir sy vrou), nou die land neem na groot hoogtes?? Hoe kan Zuma en Anc iets leer as hul broederbond-vriende, die Guptas en China voorkeur kry?? Hoe kan Zuma en Anc iets leer as transformasie en nogmaals transformasie voortduur?? Hoe kan Zuma en Anc iets leer as hy en kabinet weier om te bedank aangesien hul SA in ellende gedompel het?? Het Zuma en kie. verder enige iets geleer?? Ek laat dit oor aan kommentators om self te besluit.

Verwonderd ·

Ja nee… Wat ‘n “band of brothers” het zuma nie in sy brics bondgenote nie? Die prominente lande wanneer dit kom by volksmoord en vergryppe… Ek wonder of rusland ook sal kom help en in die bloed van onskuldige minderhede PROBEER bad, siende wat hy nou in Sirieë regkry, wanneer nommer 1 se opsies klaar is?

vermeende ·

Herman mooi gese maar nee!
As SA nie uit Zim kan leer of n les leer uit Zuma se debakel in 2015 toe Previn geskuif was nie, of uit Venezuela kan leer wat rommelstates beteken nie dan glo ek nie dat SA enige iets uit Sirie kan leer nie.

Johann ·

Suid Afrika moes geleer het voor die grondwet destyds onderhandel is. Ons sit nou met die gemors. En dit gaan laaank vat, indien ooit, om die gebreke in die grondwet reg te stel.

Leendert ·

Jip, en ek sien Cyril Ramaphosa sê, of jy nou daarvan hou of nie, radikale ekonomiese transformasie gaan gebeur. Noujatoe, dit nou uit die tweede perd se bek.

Daan ·

Die basis van Sirie is: dit gaan oor gas lyne. As die gaslyn oor een deel van Sirie gebou word is die weste afhannklik van Rusland van gas en as dit oor n ander deel gebou word kan die gas in dollar verkwanse word. Dit gaan oor om die dollar te beskerm. Stel joui voor lande soos suitsland en frankryk moet hulle gas in roebel aanskaf, hoe sterk sal die russiese ekonomie word en amerika kan dit nie toelaat nie. Dit gaan oor om die FED se dollar te beskerm, moet jou nie steur aan al die stories nie.

Willie ·

Daan, bly om te sien daar is ander lesers wat nie al die hoofstroom media se propoganda vir soetkoek op eet nie.

John ·

Volgens my ‘n swak vergelyking. Godsdiensverskille tussen Moslems is in Sirie die grondoorsaak plus uitlandse groepe wat die oorhand soek. Daar is ook nie ‘n sterk binnelandse opposie wat kan oorneem nie anders was ingrype deur vreemde moonthede nie aangevra nie… en laasgenoemde met uiteenlopende ideologiee. Die volle waarheid gedy nie en die gevolge in Sirie gaan Israel direk raak. Daardie krisis is groter as wat ons lukraak kommenteraar ooit uiteen kan sit… ‘n bol lyn wat deur die eeue so gekoek geraak het dat die begin en einde deur die Hemelvader alleen vasgevat kan word..

Loeis ·

Dit lyk inderdaad nie of opposisie partye / groepe geweld as opsie oorweeg nie.

Maar dit is wel opmerklik hoe die ANC se veterane (waarvan sommiges te jonk is om veterane te kan wees) voor die ANC se hoofkantoor wag gestaan het tydens die protesoptogte. Wapens was sigbaar. Dan het ‘n voeltjie gefluit oor ‘n blykbaar privaat gepanserde voertuig wat die Guptas se huis opgepas het.

Dr Groenewald van VF+ volg hierdie sake op, aangesien privaat weermagte onwettig is. Intussen moet opposisie partye oppas dat ‘n Shell House slagting hom nie herhaal nie want die ANC en hul meesters dink blykbaar nie in ewe vreedsame terme nie.

TTh ·

Lees eerder soos ‘n tipiese CNN berig, Zuma kan nie vergelyk word met Assad nie en Sirie en SA het niks in gemeen nie, behalwe as die VSA die RSA uitmekaar skiet ten einde ‘n vastrapplek te kry na hul volgende ‘teikenland’ byvoorbeeld Botswana… en nie Zuma en die ANC aan bewind was nie, maar byvoorbeeld ‘n regse blanke president ondersteun deur 90% van die bevolking van die RSA.

Renier ·

Kan hulle iets leer? Moenie met die uitverkorenes mors nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.