Kan Suid-Afrika koalisie?

(Argieffoto: Reint Dykema)

Twee weke voor 29 Mei is daar steeds geen duidelikheid oor die uitkoms van die verkiesing nie. Die byna daaglikse meningspeilings wys dat dit hoogs vloeibaar bly. En tog is daar aanduidings wat wys in watter rigting die land beweeg.

Alle peilings gedurende die laaste maand wys dat die ANC nasionaal minder as 50% van die stemme gaan kry. Dit is grootliks te danke aan die huidige sterk steun van die MK-party (MKP), wat nasionaal op ongeveer 10% staan. MKP het ook die EFF seergemaak met laasgenoemde se steun wat van ʼn hoë 18% aan die einde van 2023 na slegs omtrent 8-9% tans geval het. Die DA se steun lê rondom 23% en dié van die IVP 3.5%. Die VF+ is ook konstant om en by 2%.

Volgens die jongste gepubliseerde meningsopnames wat News24 daagliks deur die Social Research Foundation laat doen, lyk die moontlike benaderde uitslae oor twee weke soos volg:

ANC 43%, DA 23%, MK 10%, EFF 8%, IVP 4% en die ander saam 11%.

Baie dinge kan egter nog in die volgende twee weke gebeur. Die ANC het sy groot (ervare) kanonne, soos Thabo Mbeki en Kgalema Motlanthe nader getrek om te help stemme werf. Die DA het sy federale voorsitter, Helen Zille, Suid-Kaap toe gestuur. Die MKP worstel met interne probleme, maar kry steeds publisiteit uit hofsake en rusies. Die EFF is (ten minste vir hulle) stiller as gewoonlik. Die Veelpartyverdrag (VPV) word nie afsonderlik gemeet nie, maar kan steeds, met die hulp van ActionSA en die VF+, tot 30% van die stemme trek. Selfs met steun van die ander sentrumpartye soos Rise Mzansi, BOSA en die Patriotiese Alliansie (PA) sal die VPV egter nie maklik meer as 35% bereik nie.

Uit die benaderde voorspelde steun (wat waarskynlik nie meer as 10% weerskante toe gaan verander nie), is die een sekerheid wat ons het, dat daar na 29 Mei ʼn koalisie gaan wees.

As die ANC op nasionale vlak om en by 43% kry, is sy beste koalisie-opsie waarskynlik die IVP en van die ander kleiner partye (soos Good). Hierdeur kan die IVP die premierskap van KwaZulu-Natal (KZN) en die adjunkpresidentskap kry (afhangende hoe MKP en die EFF daar vaar).

As die ANC egter onder 40% val, is die opsies meer beperk. Die EFF is nie sy eerste opsie nie (en mag hom volgens die jongste peilings ook nie help om oor die 50% merk te kom nie). Die DA is ʼn moontlikheid, maar dit sal vir beide die ANC en DA gevaarlik wees, omdat dit ondersteuners aan albei kante kan vervreem. ʼn Regering van nasionale eenheid (RNE), met alle partye wat 3% of meer behaal het, sal dit vir beide die ANC en die DA “veiliger” maak. Só ʼn RNE sal die EFF en MKP moet uitsluit. En die DA en kleiner partye kan, op voorwaarde dat ʼn goeie koalisieooreenkoms gesluit word, nie maklik hiervoor “nee” sê nie.

ʼn Ander moontlikheid (wat nog nie in die media baie oorweging geniet het nie) is die moontlikheid dat die ANC nie in die twee weke wat daarvoor toegelaat word, ʼn koalisieooreenkoms gesluit kan kry nie.

Die Grondwet bepaal in art 51(1) dat die Nasionale Vergadering (NV) nie later nie as 14 dae na die uitslag van ʼn nasionale verkiesing, ʼn sitting moet hou en artikel 86(1) bepaal dat daar tydens hierdie eerste sitting ʼn president verkies moet word.

In ʼn ongepubliseerde artikel waarin hulle oor hierdie en ander sake skryf wys prof. Koos Malan en Ilze Grobbelaar-du Plessis (laasgenoemde van die regsfakulteit aan die Universiteit van Pretoria) oortuigend daarop dat die president nie noodwendig met ʼn meerderheid van die lede van die NV (201 uit 400) verkies hoef te word nie, maar slegs met ʼn meerderheid van die stemme wat uitgebring word.

As daar byvoorbeeld drie kandidate genomineer word en kandidaat A kry 190 stemme, kandidaat B kry 120 stemme, en kandidaat C kry 65 stemme (en 25 lede is afwesig of bly buite stemming), word kandidaat A verkies omdat hy/ sy meer as die totaal van die ander twee kandidate (185) gekry het. Indien kandidaat B egter byvoorbeeld 140 stemme kry (en B en C saam meer as die 190 van kandidaat A kry), word kandidaat C uitgeskakel en ʼn volgende stemming gehou. Die kandidaat wat dan die meeste kry, word as president verkies.

Indien die ANC binne die toegelate twee weke ʼn koalisie-ooreenkoms met ander partye kan sluit, is die som maklik. Dan sal mnr. Cyril Ramaphosa 201 stemme kry, omdat die ANC en al die koalisiepartye vir hom sal stem. Daardie koalisie-ooreenkoms sal dan ook bepaal wie hy as adjunk-president sal aanstel en hoe die koalisiekabinet daar sal uitsien. Die verkiesing van die NV se speaker en adjunk-speaker tydens daardie sitting sal ook maklik wees.

Indien die ANC egter nie binne die twee weke ʼn koalisie-ooreenkoms kan finaliseer nie, word die prentjie meer ingewikkeld. Hierdie scenario kan veral ontwikkel as die ANC minder as 45% kry en ʼn koalisie met meer as een party moet sluit. Die sitting van die NV en die verkiesing van die president (asook die speaker en adjunk-speaker) kan nie uitgestel word nie.

Die enigste opsie vir die ANC is dan om ʼn minderheidsregering te verklaar, op grond daarvan dat geen ander party of koalisie meer as byvoorbeeld 43% van die steun kan monster nie. Om die president verkies te kry met 43% of 172 stemme, is (soos hierbo uiteengesit) nie onmoontlik nie, maar moeilik.

Die sentrum-opposisie (die DA, ander lede van die VPV en partye soos Rise Mzansi en BOSA) sal nie genoeg stemme hê om dit teen te staan nie. Dieselfde geld van die MKP en die EFF saam. En dit is hoogs onwaarskynlik dat al die opposisiepartye sal saamstaan om die ANC se kandidaat te stop of hulle eie kandidaat verkies te kry.

Die ANC sal dus, om mnr. Ramaphosa verkies te kry, wat genoem word ʼn “vertroue en ondersteuningsooreenkoms” met een of twee partye moet sluit. Dit is minder as ʼn koalisie-ooreenkoms en beteken dat daardie partye saam met die ANC sal stem vir die president (en waarskynlik die speaker en adjunk-speaker) en daarna nie mosies van wantroue in die president en die kabinet sal steun nie. Om sulke mosies te laat slaag, is moeiliker as om die president te verkies, aangesien die Grondwet stipuleer dat dit die meerderheid van die lede in die NV nodig het (naamlik 201).

Dr. Theuns Eloff. (Foto: Skermgreep, Pieter Cloete)

Indien die ANC dit regkry om as minderheidsregering ʼn president verkies te kry, sal dit vir elke besluit in die NV op ʼn ad hoc-basis steun van ander partye moet kry. Dit maak veral die goedkeuring van wetgewing en ʼn begroting moeilik, maar nie onmoontlik nie. Die ander moontlikheid is dat die ANC ná die verkiesing van ʼn president, maar voor die aankondiging van die kabinet, weer probeer om ʼn formele koalisie-ooreenkoms gefinaliseer te kry. Indien dit nie slaag nie, kan koalisiegesprekke voortduur en op enige tydstip aangekondig word. Die gevolg daarvan sal waarskynlik wees dat sommige ANC-ministers en -adjunkministers hulle poste ten gunste van verteenwoordigers van die koalisievennote sal verloor.

Dit is duidelik dat ʼn baie interessante en onvoorspelbare tydjie vir die land voorlê. Daar sal waarskynlik eers teen einde Junie ʼn mate van duidelikheid en sekerheid kom. Die goeie nuus is dat die ANC se dertig jaar van hegemonie op nasionale vlak beëindig sal word, en dat benewens die Wes-Kaap, daar ook nie-ANC geleide provinsiale regerings in Gauteng en KwaZulu-Natal sal wees.

Ons demokrasie sal aan die ander kant van hierdie proses sterker uitkom.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Theuns Eloff

Theuns Eloff is ʼn onafhanklike kommentator.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Andrew ·

Net jy vind dit intererresant. En dit is vir 30 jaar al n onvoorspelbare tydjie. Soos ek verstaan teken die pres die nationale gesondheids wet , en dit was voorspelbaar 30 jaar terug.

Witbaard ·

Los maar die somme vir die slimmes. Maak net seker jy gaan stem en trek jou kruisie op die regte plek.

Republikein in die Wes Kaap ·

Die ANC sal waarskynlik die radikale roete kies en eerder met die EFF en MK saamwerk. Dis sal makliker wees om te bestuur as ‘n kombinasie van sentraal-links tot regs.

Michael ·

Die anc is te arrogant en glo hulle gaan soos altyd met ‘n meerderheid wen en sa se agteruitgang sal voortgaan. Waar is de klerk en sy bende se checks en balances nou?

annie ·

Koalisie? Net op die rugbyveld… soort van. Eloff wil homself skynbaar weer vestig as ‘n ‘naam’ sedert sy baas hom haastig ontval het. De Klerk se mantel het dalk toe op sy skouers neergedaal. Hy hoop dalk sy vorige kraal is vreeslik bly. En skape bly skape; storm oor ‘n slaggat-besaaide pad toe-oog agter ander aan, so asof ‘n móét. Eloff glo skynbaar ook hy is gebore en getoë vir onderhandelinge (Die ANC wag met ope arms op hom.) en die volk het hom broodnodig. Mensig! Deesdae praat baie Afrikaners glo gereeld met hul oorlé naastes of voorsate in ‘n soort van grillerige gebedsritueel, sonde of te not. Doen Eloff dit ok?

Hendrik ·

Dit huidige demokratiese model werk nie vir SA. Die Republiek se dae is getel en die land sal na die verkiesing amptelik Msanzi genoem word. Die enigste oplossing vir die gemors is sesessie of federale state. Voor dit gaan ons eers soos Zim raak. Lekker stem almal, dis ‘n goeie vakansiedag vir my.

Wakkerslaper ·

Ons beter hoop en bid die ANC wen met 50% plus. Wil julle nou wragtag ‘n ANC/EFF of ANC/MK koalisie regime aan bewind hê? Gaan maak net die somme – die steun vir die “veelparty handves” partye haal saam nie eers 28% nie. So hoe gaan dit help?! Ons was gewaarsku… herhaaldelik… Dit is nou tyd om die realiteite maar te aanvaar…

Republikein in die Wes Kaap ·

@Hendrik, die Unie van SA, later republiek, was reeds in 1910 gedoem. Dis bewimpel deur Britse politici, ‘n paar verloopte en geleerde Boeregeneraals en magshonger Britse mynmagnate. Gewone burgers in die twee Boererepublieke en twee kolonies is nooit geraadpleeg. Wittes is vir 80 jaar vertel die Unie/republiek was ‘n groot sukses, terwyl etniese groepe uitgesluit was. In 1990 het die koek platgeval. Sedert 1994 is vir ons vertel die republiek is lewensvatvaar, ons moet net “reg” stem. Die republiek was en sal nooit werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.