Kan Suid-Afrika versoening verwerp?

dr-leopold-scholtz-kruispaaie

Dr. Leopold Scholtz. Foto: Reint Dykema.

Laas Sondag lees ek iets in Rapport wat my nogal taamlik ontstel het. Dit gaan om ’n reeks twiets van adv. Vuyani Ngalwana, voorsitter van die Algemene Balieraad.

Luidens ’n berig in die koerant het Ngalwana verlede week op Twitter laat weet dat hy genoeg het van “this politeness bullsh*t”. Hy het daarop laat volg dat wyle pres. Nelson Mandela se beleefdheid die oorsaak van die gemors is waarin die land verkeer.

“Politeness. You’re talking to the wrong black man. Reconciliation is not my thing. That failed. Now it’s time for war.”

Nou kan ’n mens natuurlik ewe emosioneel hierop reageer en Ngalwana met sterk skeltaal op sy plek sit. Ongetwyfeld sal dit jou emosioneel bevredig as jy dit doen. Maar help dit die openbare gesprek ’n millimeter vooruit? Help dit die land om nader aan die oplossing van sy probleme te kom?

Kom ons probeer ons – begryplike – emosie ietwat op die agtergrond plaas en bowenal rasioneel en genuanseerd daarop reageer, en dan kyk ons waar dit ons bring.

Dat Ngalwana die begrip “reconciliation” (versoening) verwerp, het my geheue laat teruggaan na ’n eeu gelede, toe Suid-Afrika ook ’n eerste minister – genl. Louis Botha – gehad het wat “konsiliasie” tussen Afrikaners en Engelssprekendes die hoeksteen van sy beleid gemaak het. Ook toe is dit deur sommige mense verwerp, onder wie genl. J.B.M. Hertzog.

In sy boek Trouwe Afrikaners (bl. 73) som Jaap Steyn die “konsiliasie”-houding van Botha en Jan Smuts só op: “Genls. Botha en Smuts en ander Sap-voormanne het ’n verenigde (blanke) nasie as ideaal gestel en alles probeer ontwyk wat twis tussen die twee taalgroepe kon veroorsaak of aanhelp. Alles wat die Engelssprekendes kon afstoot, soos ’n doelgerigte toepassing van taalregte, moes vermy word.”

Dis ook genoem ’n “eenstroombeleid”.

Hertzog se “tweestroombeleid” was die antitese hiervan. In 1911 het hy eksplisiet in ’n toespraak in Pretoria gesê: “Wij willen onze taal, omdat wij onze eer willen; wij zoeken onze taal te handhaven omdat wij onze rechten willen gehandhaafd zien; wij willen onze taal ge-eerbiedigd hebben, opdat onze volk zal ge-eerbiedigd zijn.”

Die verskil het in die praktyk daarop neergekom dat die Afrikaners terwille van die liewe vrede nie op hul grondwetlike regte aanspraak moes maak nie. Daarenteen kon daar vir Hertzog slegs versoening kom wanneer daar wedersydse respek was.

Nou moet ʼn mens die parallel natuurlik nie te ver deurvoer nie; daarvoor verskil die omstandighede darem te veel. Maar ʼn mens kan wel iets uit die geskiedenis léér.

Hertzog was destyds die leier van ’n vernederde, verslane en verarmde volk onder die hiel van arrogante veroweraars. Hy het besef – soos N.P. van Wyk Louw dit op ’n keer gestel het – dat die Afrikaners van skaamte sou sterf tensy hulle rondom ’n ideaal gemobiliseer kon word.

Daardie ideaal, waaraan die oorlewing van die Afrikaners opgehang is, was die Afrikaanse taal. Die destydse Grondwet het Afrikaans op papier gelyke regte met Engels gegee, maar daardie regte moes elke dag afgedwíng word.

Maar Hertzog was ook ’n praktiese politikus. Die ruggraat moes nie só styf gehou word dat hy bréék nie.

En dus het hy hom by die nederlaag van 1902 neergelê en aanvaar dat Suid-Afrika – al was dit voorlopig – deel van die Britse Ryk sou wees. Ofskoon hy emosioneel begrip vir die Rebellie van 1914 gehad het, het hy hom polities gesproke ver van dié onwettige daad gehou.

Vir die oorlewing van die Afrikanervolk was Hertzog se houding, ferm en tog soepel genoeg, van deurslaggewende belang. Dit het die weg gebaan vir die Nasionale Party se oorwinning van 1948 en Republiekwording van 1961.

Dat die Afrikaners terselfdertyd ’n apartheidsbeleid toegepas het wat hom teen die ekonomiese en demografiese rotse te pletter geloop het, is weer ’n ander saak.

Tussen Ngalwana en Hertzog is daar oppervlakkige ooreenkomste. Albei verwerp “rekonsiliasie”; albei kies stryd bo versoening. Maar wat ’n mens in Ngalwana se houding lees, is dat hy die hele fondament waarop die “konsiliasie” van 1994 gebou is, in die lug wil laat spring. Verwerp Mandela se beleefdheid; maak oorlog, sê hy letterlik.

As dit vir hom sou gaan om die bevordering van die swart Suid-Afrikaners se menslike waardigheid – iets wat, ondanks goeie bedoelings by sommige wittes, in die praktyk vertrap is – sou enige mens met ’n greintjie goeie wil nog ’n sekere simpatie daarmee kon hê. Immers, vir Hertzog het dit ook gegaan oor die herwinning van selfrespek. Niemand wat goeie bedoelings met ons land het, kan daarteen gekant wees dat swartes hul selfrespek probeer herwin nie.

Dit is ook nie nodig dat die herwinning van daardie selfrespek gepaard moet gaan met onderdanigheid teenoor wittes nie. ’n Gesonde trots in jou eie kultuur en identiteit, ja, ook in die kleur van jou vel, is ’n uitstekende ding.

Maar Hertzog het destyds streng geweldloos gebly. Hy het nóóít die begrip oorlog in sy mond geneem nie. Hy wou nooit die Engelssprekendes se regte wegneem of selfs verminder nie.

Trouens, sy persoonlike definisie van die begrip Afrikaner het Engelssprekende Suid-Afrikaners wat hul land se belange eerste stel, eksplisiet ingesluit. Dis iets wat die paar wilde, ekstremistiese Afrikaners van destyds hom nogal verkwalik het.

Vir sommige mense soos Ngalwana en ekstremistiese Afrikaners is dit dalk onaangenaam om te hoor, maar die Afrikaners en swartmense woon nou eenmaal sáám in die land. Geeneen van die groepe kan die ander wegdink nie.

Sommige swartes verkeer onder die illusie dat die Afrikaners verdryf kan word. Nou die dag kon gesien word hoe ekstremistiese swartes vir Kallie Kriel van Afriforum rondstoot en gil: “Gaan terug na Holland!”

Vergeet dit. Soos Dirk Hermann van Solidariteit al dikwels gesê het, die Afrikaners is net so inheems soos watter swart Suid-Afrikaner dan ook. Sommige van ons woon om persoonlike redes in die buiteland, maar dis geen oplossing vir die Afrikanervolk as sodanig of vir Suid-Afrika nie.

Moet iemand soos pres. Cyril Ramaphosa en Flip Buys nie dalk die voortou neem met ’n nuwe “konsiliasiebeweging” nie? Een waar die foute van ’n eeu gelede vermy en wedersydse erkenning, respek en behoud van identiteit sentraal staan?

Dink gerus daaraan.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

27 Kommentare

marco polo ·

Leopold, ek geniet altyd jou artikels en jou voorstelle is redelik, maar is daar nog redelike mense oor in SA in die regering en leierskorps? Van waar ek sit, ook in die buiteland, lyk dit asof versoening en beskaafdheid van die blankes se kant nie net tevergeefs was nie, maar ook ons ondergang beteken het. Die Afrikaan verstaan net mag en geweld, en deur beskaafd op te tree, word ons as swakkelinge gesien. Ek persoonlik is al lankal verby versoening en bly eerder in die buiteland waar ek verwelkom word en toegelaat word om my bydrae te lewer, sonder die albatros van ons verlede om ny nek.

Pietman ·

Baie waar Marco Polo. My doel is om die land te verlaat. Die nuwe SA is ‘n groot gemors en gaan nie verbeter oor die volgende 100 jaar nie.

A ·

Ek dink hy het maar net verwoord wat elke mens in Suid-Afrika voel. Ongelukkig. Vir my is daar te veel dinge wat vooruitgang en versoening onmoontlik maak. Een daarvan is die waardes wat verskil. Een groep wil dinge opbou die ander groep breek net af – ongeag die gevolge.

My ander vraag – is hy slegs teen die handjievol blankes wat oorgebly het gekant? Want gewoonlik as mens so voel is dit nie lank nie voor ander swart bevolkingsgroepe ook nie goed genoeg gaan wees om mee te versoen nie.

Met so ‘n onvergewensgesindheid en haat wat jy elke dag in jou omdra kan jy nie lank voortgaan nie.

Meeste blankes het nog nie besef dat ons enigste hoop op voortbestaan in hierdie land is wanneer ons werklik die knieg gaan buig voor die enigste Here. Meeste lewe nog te lekker en oppervlakkig. Maar ek voel tog dat daar van ons mense is wat besef – ons kan net hoop.

Zim ·

Maar dit het nie in Zim gewerk A? Of in Sirie? Sudan?

Nee wat, ons sal aktief betrokke moet raak eerder as om in die binnekamer te bly skuil.

B ·

Dankie. Ek glo as die politieke debat (waarvan die meeste ‘beheer’ nou onder die ANC is) volwasse en ewewigtig tov van almal se gevoer word, is dit grootliks die oplossing.
Solank as wat ‘Afrikanisme’ gepleeg word sal ons nie vooruit gaan. Ek probeer my bes, maar dan kan ek ook nie help om soms te wonder wat maak SA juis anders as enige ander land in Afrika, hoekom sal juis hier ‘n uitsondering wees? Net een aspek sal dit bepaal, die regte soort leierskap. (Opvoeding, ekonomiese groei ens is natuurlik voortvloeiend hieruit)

Tiaan ·

Dr Scholtz, jy het gevra ons moet gaan dink, ek dink toe so:
Botha en Smuts was in n bepaalde politieke magsposisie teenoor die Engelse.
Hulle beleid van konsiliasie het die onderdrukte Afrikaner voorsien van n vorm van mag. Later jare het daardie magsbalans geskuif en kon die Afrikaner sonder konsiliasie klaarkom en het hy onakhanklikheid geeis en dit gekry. Mandela was in n bepaalde politieke magsposisie teenoor die Afrikaner wat hom genoodsaak het om n moderne konsiliasie beleid te volg. Die politieke magsbalans het intussen verander, in so n mate dat ek myself nie wil verbeel dat Ramaphosa in 2018 nou eintlik enige politieke “goodwill”, van n krimpende minderheid wat binnekort minder as 5% van die bevolking gaan uitmaak, nodig het nie. In die politiek vra hulle nie wat is die mooi en edel ding om te doen nie, hulle vra wat gaan my magsposisie versterk? Wat my aanbetref was dit ook die motivering agter die skynvrede van die Madiba leierskaps tyd. Ons leiers het eers mag gedeel en toe later mag totaal oorgegee, om nou te wil hoop op erkenning is n skamele hoop, sonder n vorm van mag sal Ramaphosa jou uitluister net om later vir jou te lag, glo my ek het dit eerstehands ondervind! Ons volk kan weer n mag word maar dan moet ons rondom n ideaal verenig en 100 klein ideaaltjies gaan nie die ding doen nie een grote genaamd SELFBESKIKKING kan moontlik die wa deur die drif trek! So dink ek.

Riaan ·

Tiaan: As jy die magspel so goed verstaan (en ek stem saam met jou daaroor), hoekom dink jy sal die regering selfbeskikking vir hul “cash cows” en “scapegoats” toelaat?

Tiaan ·

Riaan dankie vir jou reaksie en ja jy is reg, as die haalbaarheid van selfbeskikking slegs afgehang het van die regerende elite, was dit n onhaalbare droom, maar as ons as volk self daarvoor verantwoordelikheid neem en die vermoee/mag intern ontwikkel om dit vir onsself toe te eien, met of sonder die toestemming van die owerheid asook oor die vermoee beskik om dit te beskerm tesame met die nodige internasionale erkenning hoef dit nie n droom te bly nie! Vraag is sien die kritiese massa binne ons volk dit raak en verstaan hul die noodsaak daarvan? Vryheid is en bly ons volk se voortbestaans vereiste, daarsonder kan jy kies, of jy word opgeneem deur die meerderheid in SA of deur die meerderheid elders. Daarvoor sien ek nie kans nie.

Suurdeeg Handevat Omgee Erdvark van Hoopplaas ·

Die harde werklikheid van ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid gaan die Suid-Afrikaanse nasie hard tussen die oë slaan. Eers dán sal Suid-Afrikaners besef wie en wat die werklike vyand is: ekonomiese wêreldkompeteerbaarheid en nie ras en die verlede nie. Daar is net één oplosssing: volhoubare naasteliefde en regverdigheid. Indien ons nie almal handevat nie sal ons ‘n verloor nasie wees. Die uitdaging is enorm in Suid-Afrika om ‘n opbouende verskil te maak vir ‘n beter toekoms. Kom ons gebruik die regte gereedskap: naasteliefde ten spyte van die verlede. Geen groepering in Suid-Afrika is heiliger as heilig nie. Wie sal die eerste klip gooi? Elkeen van ons kan dien as suurdeeg en moet ons nie wag op “leiers van bo met kleivoete” nie.

Hendrik ·

Samewerking kan net plaasvind indien die regering daadwerklik hul diensverskaffing aan S.A mense normaliseer soos dit hoort en alle diskrimenerend wetgewing teen wittes skrap.
Dit sal die gevolg he dat die meerderheid nie dienste afdwing deur geweld en wittes nie soos tweede rangse burgers behandel word nie. Die witmense is besig en sal planne maak om uit hierdie diskrimenerende omgewing te kom. Sessesie en imigrasie is die protes teen hierdie wetgewing.

Paul ·

Ek sien Beeld, Die Burger en Volksblad sê vanoggend hulle is die dankbaar vir die invloed wat Madiba nog steeds op die samelewing uitoefen. Nou wil ek graag weet, watter invloed, as hulle dit so puntsgewys kon noem, sou ek dit waardeer.

O ja, dit sal ook help as die aanslag teen Afrikaanse skole en wit mense in die algemeen gestaak word, grond wat die regering sonder vergoeding wil afvat, en natuurlik as sekere regters van die grondwethof, soos die Hoofregter nie sy mes vir wit mense en die Afrikaanse taal in het nie, om net enkele punte te noem.

Paul ·

Dr Leopold, dankie, die voorstel soos per jou laaste paragraaf is wat ons nodig het, nie die terug kabbel en verlange na Mandela se tydperk soos per Netwerk24 nie, ook nie Obama se beeldpoets van Ramaphosa nie, maar nuwe inisiatiewe soos per jou skrywe hier bo.

Paul ·

Graag vra ek, is daar enigsins ‘n moontlikheid dat so-iets ooit sal kan realiseer? Dr Leopold, dan neem ek aan iemand sal dit moet reel, voelers uitsteek en die twee bymekaar uitbring. Dit opsigself sal fyntrap kos en nogal ‘n lang proses wees. Hoe kry mens CR om by die tafel aan te sit, dit opsigself sal ‘n allamintige taak wees. Sal die ANC dit toelaat? Daar sal berge versit moet word.

Eish ·

Hoekom sou daar enigsins n wil bestaan om met n negeerbare minderheid te onderhandel?
Die gematigde swart meerderheid waarop menige geleerde, kommentator en politieke wetentenskaplike op peil getrek het, bestaan toe nie.
Waarop ons wel moet konsentreer is om al ons minderheidsorganisasies wat ons saak goedgesind is, onder een sambreelliggaam te kry soos die UDF in die vorige bedeling, ten einde aksies te sinchroniseer.
Buitelandse aktivisme te dryf tot daar sanksies ingestel word teen die helhool en eers dan, bring jy iets na die onderhandelingstafel.
Die anti-wit sentiment het ongekende hoogtes bereik en dit is tans n geval van oorlewing en selfverdediging en nie meer net die ander wang draai nie.
Die situasie tans is lewensbedreigend en verg n gesamentlike ingreep.
Net die Hemelse Vader kan die golf omkeer.

Henry ·

Ons Afrikaners sal vir seker nie so gelukkig wees om as ‘n groep “weg gedink” te word nie.

Ons sal veel eerder soos in Zim, Angola, Mosambiek en meeste van die ander Subsahara state se voorbeelde, weg ge-Afrikaniseer word. Soos dit veral gedurende die afgelope dekade in hierdie droewe land aan’t gebeur is en wat algaande alhoe groter spoed op alle terreine optel.

Allerlei slim stories om die onafwendbare ondergang te ontken, klink nes die mooi broodjies en teenwigte wat voor 1994 gesmous is en is eweso, van geen hulp vir mens of dier nie.

Twee keuses. Verdwyn saam met die sinkende skip, of swem/roei betyds so ver weg as wat jou vermoëns dit toelaat.

Ek wou-wou die Titanic en die dekstoele se geskuiwery as voorbeeld gebruik het. Maar ongelukkig kan ons ou skippie nie met so ‘n formidabele gevaarte vergelyk word nie. Ons skippie en wat ookal daarvan oor gebly het, is uiteindelik nie veel beter as oorle’ oompie Jan van R se twee-mas Drommedaris gevaarte van 1652 nie.

Is maar hoe dit is.
:-(

Rupert Ashford ·

Probleem is hierdie bereidwilligheid tot versoening moet van 2 kante kom. As van die vooraanstaande lede van ‘n gemeenskap soos regters al sulke uitsprake (wat mens van die laer opgevoede klasse sal verwag en vergewe) maak, is dit laat in die nag. In die boekie “who moved my cheese” is daar ‘n stuk wat handel oor die “handwriting on the wall”. Ek dink ons is daar. En laastens Leopold kan ons maar vir Mandela en sy “beleefdheid” hieruit hou. Enigste ouens met guts was Desmond Tutu en Patrick Lekota – hulle is die enigstes wat hulle monde oopgemaak het oor wat reg of verkeerd is, selfs teen hulle eie mense.

Paul ·

Ek het ‘n idee die meeste van ons regdenkendes sit deesdae by die huis.

John ·

As ek in die buiteland is, is ek ook skielik vreeslik slim en meerwaardig en vredeliewend. Hier is baie meer ter sprake as Afrikanerman of Afroman of taal… maar eerder godsdiens want dit is waaroor alles eintlik gaan. Om die nekke hang dit en hou die hand vas van gode en glo heiliges… Dit doem voor die geestesoog op wanneer die son saans sak. ‘n Dag soos vandag is mens-verheerliking… ‘n vals geloof wat die NWO sterk aanbeveel. Nice-wees werk nie op deeske aarde nie, nie eers na die knoop voor die preekstoel deurgehaak is nie. Die mag van die woord kom altyd te staan teen die mag van die Woord; dit sal die wereldpers wat smeek om bloed vir hoofopskrifte weldra agterkom… en ons ander ook. Baie meer is ter sprake as CR en Buys wat saam teedrink. Wie is baas en wie klaas en watter god word aanbid. Kan dit ‘n edele verhouding voortbring?

Gerhard ·

Kan Suid-Afrika versoening verwerp? Miskien moet die vraag eerder wees kan die ANC, CR en die swart meerderheid versoening verwerp? Die antwoord is natuurlik kan hulle, hulle doen dit al van TM se tyd. Daar is ook geen rede waarom hulle nou hoef te stop nie. Dit is net sekere Afrikaners wat hulself wysmaak die swart meerderheid moet met hulle versoen en onderhandel, niemand anders dink so nie.

Ou Ystervark ·

Ek stem saam met die kommentaar van mede-soogdier S H O Erdvark.
Probleem is dat die ANC het voor 1994 GROOT VERWAGTINGE by die stemvee gewek. Daardie beloftes het grootliks nie gerealiseer nie. Waarom nie? Omrede die drywers om Suid-Afrika te dryf tot ekonomies wêreldkompeteerbaarheid direk na 1994 nie met ware leierskap, strategie en passie aangespreek is nie. Nou het die sondes van ANC politieke beloftes hand-aan-hand met toenemende stemvee-werkloosheid die ANC ingehaal. Die dag van die werklose jeug se afrekening met die ANC het haas aangebreek. Nou is almal kwaad vir almal. Ook die ANC intern vir homself.

Vaalseun ·

In die 90’s is die meeste Duitsers wat buite Duitsland vermoor is, in Frankryk vermoor. Nie in ‘n land in Afrika of in Asië, waar ook baie Duitsers gewerk het nie. Dankie vir jou rustige ontleding Herman. Afrikaners is bevoorreg om in ‘n land te woon waar daar uitdagings is. Ek is hierdie jaar al deur 3 swart ontwikkelaars genader om vir hulle die tegniese ondersteuning vir groot projekte te verskaf. Geen vyandigheid, geen neerbuigendheid, geen dreigemente nie. Dis jou rol, want ons weet jy kan die werk doen – dis ons rol, want ons het die politieke konneksies. Kennis is mag, en Suid-Afrika se wetenskaplike en industriële groei en prestasies van die 50’s en 60’s was vir Amerika ‘n bekommernis. Veral omdat ons nie finansieël en vir wapens afhanklik van Amerika was nie. IMF en Wêreldbank lenings hou lande op hul knieë voor Amerika. Hulle het geweet dat sodra die ANC die Eskom lening aanvaar, hulle die septer oor Suid-Afrika sal kan begin swaai. Dis hoekom hulle nie geraas het toe die Eskom projekte begin agter raak nie. Die astronomiese rentes loop net op. Meer houvas. Daar is swart kundiges wat die situasie goed verstaan. Om weg te hol is geen oplossing nie, want jy verloor jou selfrespek. Elke ander land het sy eie sigbare en onsigbare gevare en probleme. Hier verstaan ons die probleme, want ons sien hoe dit ontwikkel. Die uitdaging is om dit te oorkom en te presteer. Dit skep respek, waardering en oorlewing.

Henry ·

Agge nee wat Vaalseun.

Meeste van die “slim” geld is laaaankal reeds uit hierdie droewe land met sy wankelende, uitgediende, marxistiese gelowigeite geneem. Die piete wat dit hul besigheid maak om more se koerant vandag te lees, sluk mos nie aan perdekuttels wat as vye aan hulle voorgesit word nie.

Selfs die destydse liggelowiges van die pre-1994’tigers het hul dure lesse reeds kort na ’95 geleer toe die werklike resultate/realiteite van die Wonderlike Nuwe Suid Afrika hulle tussen die oë getref het.

O ja en so van selfrespek gepraat, weet jy hoeveel selfrespek enersyds en dankbaarheid andersyds vanuit aandeelhouers geledere, hulle met die weg ge-hollery tot vandag toe in die proses gewen het???
Onvoorstelbaar, soos die Vlaminge dit so raak beskryf.

:-)

Wessel ·

Die punt word heeltemal gemis, dit gaan nie oor respek en versoening nie, dit gaan oor christelike teenoor kommunistiese beskouings. Die denkfout is dat daar gedink word dat die kommunis wil versoen, die kommunis wil oorheers en sy ideologiee afdwing.

Hierdie versoenings praatjies kom al vanaf die tagtiger jare, wat maar niks anders is ‘n proses van “sag maak” en later, aanvaarding van die kommunistiese ideologie is nie.

Vaalseun ·

Wessel, die demokrasie staan teenoor diktatorskappe en eenpartyregeringstelsels want die demokrasie last opposisie toe, d.w.s. demokrasie laat kritiek in eie geledere en teenoor ander stelsels toe. Dis in jou en my eie hande om die oortuigingswerk vir dit wat jy voorstaan en teenstaan in die openbaar te doen. Gaan kyk maar na die series The Making of a Dictator op DSTV History. Elke dag word ‘n potensiële diktator, kommunis, demokraat, Christen, Mohammedaan, ens. gebore. Al wat keer dat die diktator of kommunis nie uiteindelik oorneem nie is ek en jy en die res van die ingeligtes wat die gevare verstaan en dit bekend moet maak. Niemand anders nie. Dis een van die fantastiese kenmerke van Suid-Afrika na 1994 is dat ons hewig kan verskil en kritiseer, maar die punt is om daardie geleentheid te gebruik om ander van die waarde van jou standpunt vir hulle toekoms te oortuig.

Pietsepan ·

Daar is nie ‘n manier hoe mens met beleefdheid onderdrukking kan aanvaar nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.