Kan swak stadsbeplanning mense eensamer maak?

sosiale-media

Argieffoto. Foto: Childrensministryonline.com

In die meeste Westerse samelewings is daar ’n skerp toename in eensaamheid. Navorsing in die VSA, Europa en Australië het reeds bewys dat die aantal mense wat erken dat hulle gereeld eensaamheid beleef, voortdurend toeneem.

Ons leef in ’n tyd waarin sosiale media soos Facebook, Twitter, WhatsApp, Instagram en alle ander virtuele forums mense se enigste sosiale verwysingsraamwerk word. Jou persepsie oor sosiale aanvaarding word bepaal deur die aantal mense wat van ’n plasing van jou op Facebook hou. Die spoed waarteen iemand jou op WhatsApp antwoord bepaal sy lojaliteit jeens jou.

Die mens is ’n sosiale wese. Ons vermoë om te sosialiseer is egter aan die afneem. Die redes hiervoor is uiteenlopend en velerlei. Meer en meer mense skakel nie meer by gemeenskapsinstellings soos kerke, sportverenigings en gemeenskapsdiensorganisasies in waar hulle nuwe vriende kan maak nie.

’n Onlangse studie in Amerika het bewys dat meer en meer jongmense na skool by hul ouers aanbly, sukkel om ’n lewensmaat te vind en ook nie daarin slaag om uiteindelik te trou en deel van ’n groter familieband te word nie. Baie van hierdie mense se sosiale ruimte word tot enkele familielede en die wêreld van slimfone en die internet beperk.

Die toenemende individualisering van Westerse gemeenskappe het sonder twyfel meegebring dat baie mense nie eers meer weet wie hul bure is of wie die ouers van hul kinders se beste skoolmaats is nie. In die gejaagde moderne hoogs produktiewe lewe is ons veel meer gefokus op prestasie, monetêre uitsette en ongelukkig oordrewe materiële middellae dat ons vergeet wat die waarde van goeie vriende en lekker goeie ou sosiale ervarings is.

Steve Price, ’n kenner van moderne stedelike ontwerp in die VSA skryf egter in ’n onlangse artikel dat swak stadsontwerp as oorsaak vir mense se verswakkende sosiale vaardighede nie onderskat moet word nie. In lande met goeie stedelike ontwerp waar openbare ruimtes deeglik by residensiële en sakebuurte ingewerk word, is daar laer vlakke van eensaamheid. Pierce skryf dat hoë vlakke van ontmoeting, interaksie en kommunikasie tussen mense wat redelik naby aan mekaar woon en werk tot goeie sosiale vaardighede aanleiding gee en uiteindelik eensaamheid teenwerk.

Twee van die oorsake vir swak stedelike beplanning is eerstens die persepsie dat ’n groot huis op ’n groot erf ’n beter leefstyl as ’n wooneenheid in ’n goed beplande digter woonbuurt met goeie openbare ruimtes kan verseker. Tweedens ervaar stede regoor die wêreld die uitdaging van die koste om volhoubare woonbuurte te ontwikkel. Dit is goedkoper, makliker en veral vir ontwikkelaars meer aantreklik om openbare ruimtes soos parke, gemeenskapsentrums, fietsbane en stadspleine uit die ontwikkeling van nuwe woonbuurte te laat.

In albei hierdie gevalle is daar korttermynvoordele soos die persepsie van rykdom wanneer jy ’n groot erf besit en natuurlik die finansiële voordeel vir munisipaliteite en privaatontwikkelaars wanneer openbare ruimtes beperk word. Op die langtermyn is die instandhouding van dienste oor lang afstande en die verlies aan sosiale interaksie egter ’n duur prys wat vir swak stadsbeplanning betaal moet word. Ook Afrikaners ervaar vandag vervreemding en eensaamheid binne woonbuurte waar sosiale interaksie baie keer uiters beperk is.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Jaco Kleynhans

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is Uitvoerende Hoof van die Orania Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

13 Kommentare

Loeis ·

Westeringe het ook al minder kinders, wat die ouer persone dikwels alleen laat wanneer hulle lewensmaats sterf, en die groeppe waarby hulle tuis voel, al minder en kleiner maak. Daarteenoor groei die Moslem bevolking in Europa met ‘n tempo, en die swart en ‘Hispanic’ bevolking in die VSA. Suid-Afrika is in ‘n soortgelyke situasie.

Dan is daar faktore soos misdaad (wat die laaste jare baie in Europa toegeneem het), wat dalk ook daartoe bydra dat mense (daar, sowel as hier) letterlik en figuurlik mure om hulsef bou, en so tot hulle eie isolasie bydra.

Soms dink ek die weste het homself en sy eie humanisme vir sy ondergang te blammeer.

Eish ·

Duidelik n Westerse, internasionale onderbou in die artikel waar eksterne faktore soos stadsbeplanning bydra tot eensaamheid. Hierdie helhool egter, omarm ons eensaamheid met albei arms aangesien dit dui daarop dat jy veilig tuis is en alle slotte en grendels kon sluit en opstel. Hier vermy ons kerk aangesien jy voorgelê word en jou lewe op die spel is indien jy heelhuids terugkeer van n diens. Hier in Afrika help die gemelde tegnologie ons om bande te behou met onse ewenaaste wat aan dié kant van die draad staan. Openbare plekke is n taboe indien jy weet wat goed is vir jou en nie wil huistoe loop nie. Ons vry sommer aanlyn en bestel pizza en KFC op ons slimfoon. Drive thru’s is uiters gevaarlike plekke waar jy vinnig n kroeggeveg kan optel. Ons gevangenisse is so ontwerp dat jy nooit eensaamheid sal beleef nie en deesdae is dit bitter eenvoudig om daar te beland. Dus, geniet ek maar my eensaamheid.

TESS ·

Ons maak elke dag keuses of ons alleen wil wees of saam met mense. Die rede hoekom meeste mense seker alleen is is omdat ons dit net te gevaarlik of te veel moeite is om na werk nog jou lyf uit te sleep om dan daardie BAIE MISKIEN regte mense te sien. Soos Eish moet ek erken ek is eerder alleen.

Breytie ·

Skeiding tussen ouers en kinders lei tot skeiding tussen volwassenes. Selfs wanneer hulle in ‘n openbare ruimte bymekaar is, weet hulle nie hoe om na mekaar uit te reik nie. Dit begin by geboorte wanneer ‘n baba deur vreemde hande van Ma weggevat word om gewas te word!! Bid jou dit aan. Op drie maande gaan hulle bedags babahuis toe en op drie jaar na die kleuterskool. Daarna begin hulle met formele skool. Intussen kyk die gesin elke aand TV en bitter min tyd word bestee aan gesprekvoering. Dit is gladnie verbasend dat mense eensaam is nie.

John ·

Orania-burgers kan ongelukkig nie objektiewe menings lig oor die buitewereld nie, selfs al reis hulle die wereld vol. Hoekom so besorg wees as hulle wegvlug van die buite-wereld?

Gerhard ·

Orania is die enigste normale plek in die hele SA. Ek sou se hulle is meet objektief as meeste Suid-Afrikaners.

Wereldreisiger ·

John jy weet duidelik nie wat daar aangaan nie. Dit is n stukkie eerstewereld in n derdewereld Afrika see.

Theresa ·

Ag nee John. Dalk groen oog monster sindroom? Los ander mense uit as hul elders wil gaan woon sonder om oorsee te trek. Jy kan mos bly waar jy is en ander kan kies waarheen hul wil gaan. Baie mense wat daar woon, is dolgelukkig.

Ernst ·

Jaco, jy is n uitstekende skrywer en het soveel insigte. Jy sal n baie goeie hoof van n akademiese eenheid bu n universiteit wees, soos n sentrum vir westerse studies.

Reinhardt ·

Ek kan nie fout vind met hierdie artikel nie!! Uitstekend! Ek is so bly dat iemand vir n slag hieroor skryf. Stadsbeplanning is my groot liefde, ek het dit eers hierdie jaar besef, na bykans 6 jaar se werk.

Die voorstede is die grootste fout wat ons kon maak met ons stede. Dit werk eenvoudig nie. Alles is te ver van mekaar af en jy het n motorkar nodig vir alles wat jy wil doen. In die verlede was alles stap afstand van mekaar af. Hoekom? Want dis al wat ons kon doen. Nou is ons bederf met motorkarre en motorfietse en ons besluit om 30km buite te sentrale sakekern te woon. Goed en wel, maar toe besluit almal om dit te doen. Nou wat? Nou sit jy 5:30 op N1 in spitsverkeer en dit vat jou 60min om in die stad te kom, dan moet jy nog betaal vir parkering ook.

Nee wat, daardie eksperiment het gefaal. Ons moet eerder nader aan die stad begin woon, in kleiner woonstelle. “‘n Woonstel?!” Hoor ek hoe kerm die massas. Ja, woonstel. Dit is al wat jy nodig het. As die stad goed beplan is, dan sal die stad sorg vir jou werk, genot, vermaak en plesier. Maar ja, dit n ongelooflike groot onderwerp wat nie opgesom kan word in 200 woorde nie.

Theresa ·

Goeie artikel – dankie, Jaco. Mens leef anders vandat daar drasties minder veiligheid in enige omgewing op enige gegewe tyd is. En ja, as die tegnologie vermaak in ‘n veiliger omgewing inbring (soos tuiste) des te beter. Bestel sommer wegneemkos ook en viola! Nie nodig om te ver te gaan en onnodig gepes te word op die pad nie; aangehou te word by ‘n ATM of geskiet te word omdat jy dit buite in straat gewaag het nie. Daar is sekerlik minder eensame gewone mense in plekke met puik veiligheid vir landsburgers – of maak ek ‘n fout?

John ·

Hoekom kla mense dan Orania voel soos ‘n aftree-oord waar sekere ooms jou die heeltyd dophou… skinder hoeveel bier in jou inkopiesak is en tel hoeveel keer jou brakkie vandag geblaf het… Afrikaners gaan nie meer by mekaar kuier net omdat hulle soos sardientjies geblik is nie. Spaar my van ou afgetrede ooms se bemoeisieke betrokkenheid veral as hulle geen stokperdjie het nie en ons in ‘n 6vt x 6vt moet saamkoek, dan verkies ek eerder 6vt onder….

Ken2 ·

John, kry iets konstruktiefs om jouself besig te hou. Jy soek nou probleme waar daar nie probleme is nie. Onlangs afgetree sonder n plan vir pret?

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.