Kan Trump die Korea-vraagstuk eens en vir altyd oplos?

Die Noord-Koreaanse diktator, Kim Jong-un, tydens ʼn militêre optog in Pyongyang, Noord-Korea (15 April 2017). Foto: AP Photo/Wong Maye-E, File

Later hierdie maand sal ’n historiese ontmoeting tussen president Donald Trump van Amerika en Kim Jong-un van Noord-Korea plaasvind. Die meeste Amerikaners is egter grootliks onbewus van die historiese konteks van hierdie ontmoeting. In Amerika staan die Koreaanse oorlog as die Vergete Oorlog bekend en peilings toon dat min Amerikaners goed ingelig is oor hierdie belangrike oorlog wat tussen 1950 en 1953 plaasgevind het.

Tog het die Amerikaners se betrokkenheid in Korea, Asië en eintlik die hele wêreld wesenlik geraak. Korea was van 1910 tot 1945 ’n kolonie van Japan. Tydens die Tweede Wêreldoorlog is die land deur die Amerikaners beset en uiteindelik in twee verdeel, weens ou verdelingslyne onder strydende faksies in die land. Die verdeling is ook gedoen om Amerika se invloed in Asië op die lang termyn te verseker en ’n pro-Amerikaanse land het in die suide van die Koreaanse skiereiland tot stand gekom.

Kommunistiese magte het beheer oor die noordelike Korea bekom en Kim Il-sung, wat saam met die kommuniste tydens die Chinese burgeroorlog geveg het, het beheer oor Noord-Korea bekom. Toe noordelike magte op 25 Junie 1950 Suid-Korea binneval, was Amerika daar om sy kapitalistiese bondgenoot teen die kommunistiese gevaar te beskerm. Oor die volgende drie jaar sou meer as een miljoen mense, waaronder meer as 30 000 Amerikaanse soldate, in hierdie bloedige stryd sterf. Die oorlog het oor veel meer as Korea gegaan, dit was ook ’n oorlog tussen die kapitalistiese Weste en die kommunistiese magte wat China – en tot ’n mate Rusland – ingesluit het.

Die verdeling van Korea en die uitkomste van die Koreaanse Oorlog het die oorsake vir die Koue Oorlog herbevestig en selfs lank nadat die Sowjet-Unie verkrummel het en die Koue Oorlog tot ’n einde gekom het, het die skaakmatsituasie tussen Noord- en Suid-Korea en tussen dit wat die twee lande en hul onderskeie bondgenote verteenwoordig, staande gebly.

Vir baie Amerikaanse presidente was die beste scenario die behoud van die status quo. Donald Trump het egter vroeg in sy presidentskap bewys dat die status quo nie juis sy soort ding is nie. Toe Noord-Korea verlede jaar al hoe meer missiele begin toets het en die bedreiging dat hulle ’n kernwapen kon ontwikkel, begin toeneem het, het Trump die skroewe stywer om Kim Jong-un begin vasdraai met verwoede nuwe sanksies, druk op China om betrokke te raak, en selfs harde dreigemente van oorlog.

Trump se strategie het duidelik tot dusver gewerk. Noord-Korea verkeer onder enorme druk en Kim Jong-un het geen ander keuse gehad as om tot onderhandelinge in te stem nie. Suksesvolle onderhandelinge tussen hom en Trump kan tot langtermynvrede op die Koreaanse skiereiland lei en kan magsverhoudinge in Asië vir altyd verander. Mislukte onderhandelinge kan nuwe onsekerheid en selfs konflik tot gevolg hê. Beide leiers is onvoorspelbaar en geen voorspelling kan oor die uitkoms van hul onderhandelinge gewaag word nie. Wat seker is, is dat die uitkoms wel ’n groot impak op die res van die streek en die wêreld kan en gaan hê.

  • Hierdie nuuskommentaar word deur Pretoria FM verskaf. Luister daagliks na Klankkoerant op Pretoria FM vir die jongste nuuskommentaar.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Suid Korea van Afrika ·

Net soos wat Suid Korea en vele ander lande verspreid deur die wereld as strategiese bondgenote vir westerse lande gesien word, kan ons ook ons teenwoordigheid hier in Afrika posisioneer as n bondgenoot vir die westerse lande. As ons nie meer hier is nie, het die Westerse beskawing geen meer bondgenoot, al is dit net n gemeenskap en nie n land nie, in Afrika.

V ·

Stem saam. “As” ons ooit selfbeskikking het, moet ons, onself toespits op vervaardiging soos Suid Korea en China. Ons is meer as die helfde in afstand nader aan Amerika as China en Korea, en al die grondstowwe is op ons kontinent. Met al die verwikkeling rakend gronhervorming, hoop ek nie “as is verbrande hout nie”.

Tech ·

As ons die land se ekonomie op moderne hoe tegnologie bou dan het ons nie eers baie spasie nodig nie.

John ·

…. as ons destyds nie so aan die slaap was nie en toe ‘n beter toekoms onderhandel het, kon dinge anders gewees het. Nou sal die ANC maar nooit enige gebied afstaan nie en hoe meer dit sou ontwikkel hoe meer vyandigheid sal volg. Net ‘n erge gebeurtenis sal so ‘n aksie toelaat en dan sal meer as die helfte van die witmense steeds nie na die gebied skuif nie weens materiele redes en baie ander sal binne die eerste week hul ou werkers aanvra of barmhartige samaritane speel a la dominee se gewetenspel… en daar gaan ons alweer…

Appel ·

Ons gaan nie n keuse he nie want hierdie land brand nou vinnig af met almeer betogings wat al geweldadiger word. Ons beweeg nou in die rigting van failed state en anargie. Hulle gaan ons binnekort uitjaag. Kyk die man van pretoria wie se familie nou oorsee is as gevolg van anargistiese misdadigers se dreigemente.

nico k ·

Die kommentaar hierbo het so bietjie afgedwaal van die berig en ek wil net terugkom na Korea. Daar is vandag nog ‘n gevoel onder die Amerikaners dat die oorlog in Viëtnam ‘n groot fout was. My mening is dat die enigste fout was dat die Amerikaners ophou veg het. As hulle Suid Viëtnam kon behou sou daardie land vandag net so groot ekonomiese sukses as Suid Korea gewees het. Maar as gevolg van die Amerikaners se onttrekking was Viëtnam vir 40 jaar in ekonomiese chaos. Daar is baie mense (ook Afrikaners) wat baie negatief is omdat Amerika sy invloed orals wil afdwing. Maar Suid Korea is ‘n bewys watter voordeel Amerikaanse inmenging vir so land gehad het. Vandag is Suid Korea een van die sterkste ekonomië. En ek is seker daarvan dat geen van Amerika se kritici graag in Noord Korea wil woon nie.

Walrus ·

Die kommentare bo het beslis nie afgedwaal as jy na die bree prentjie kyk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.