Kan vertrouensbreuk met regering herstel word – en wil ons?

Aan die einde van Julie het daar ʼn boodskap van die ANC aan sy lede uitgegaan om die ANC op sosiale media te ondersteun deur swart, groen en geel harte te plaas – die kleure van die ANC. Dit was nie lank nie of die poging het skouspelagtig teruggeplof. Enige poging om ʼn positiewe beeld te bevorder, is uitgewis deur die nuwe gonswoord in reaksie in die sosiale media #VoetsekANC. Terloops “voe(r)tsek” kom uit die Nederlands “voort zeg ik” en word verduidelik as ’n uitroep om iets of iemand weg te jaag.

Die term #VoetsekANC het in Suid-Afrika vir dae lank op Twitter die topplek beklee as die mees gewilde term en is gebruik deur wit en swart. Die gonswoord het telkens weer opgeduik gedurende Augustus en September soos wat die een korrupsie-onthulling ná die ander ontbloot is. Ná maande se inperking en die regering se hantering van Covid-19, begin dit stadigaan duidelik word dat die Suid-Afrikaanse publiek sy geduld en vertroue met die ANC-regering begin verloor.

Een van die kernelemente van ʼn goeie regering is die vertroue van die burgery in die regering en dit is ʼn sleutelpilaar waarop legitimiteit en volhoubaarheid van politieke en administratiewe stelsels gebou is.

Daar is internasionaal verskillende dimensies van vertroue:

  • morele vertroue, met die fokus op etiek en moraliteit;
  • ekonomiese vertroue, met ʼn klem op ekonomiese doeltreffendheid en onpartydigheid;
  • politieke vertroue, met die klem op politieke legitimiteit;
  • sosiale vertroue, met die klem op die bou van sosiale en maatskaplike kapitaal; en dan,
  • tegnologiese vertroue, wat konsentreer op hoe tegnologiese vordering bydra tot demokratisering.

Al die bogenoemde kan geëvalueer word deur te kyk na die vlakke van vertroue deur die meting van welwillendheid, bevoegdheid, prosedures en prosesse en, laastens, prestasie. Al die bogenoemde is internasionaal van toepassing – daar is lande en streke in die wêreld waar dit beter gaan, maar beslis ook waar dit slegter gaan.

Volgens die Edelman Trust Barometer in Mei 2020 is vertroue in regerings baie hoog te midde van die koronavirus-pandemie. Volgens die opname vertrou 65% van meer as 13 000 respondente van oor die hele wêreld hul regeringsinstellings. Dit het gestyg met 11% sedert die begin van die jaar voor die pandemie en is 17% hoër as in 2012. Meer interessant is dat vertroue in ander sektore laer is as dié vir regerings: besigheid (62%) burgerlike instellings (62%) en die media (55%).

Die punt wat gemaak word, is egter dat indien die verskillende dimensies van vertroue in moraliteit, ekonomie, politiek, sosiale kwessies en tegnologie op Suid-Afrika van toepassing gemaak word, sal die regering nie besonder goed vaar in die meeste dimensies op enige vertroue-indeks nie. Inteendeel. Die Covid-19-pandemie en die ernstige korrupsie met spesiale fondse wat die laaste paar maande ontbloot is, het waarskynlik die kameel se rug gebreek.

ʼn Goeie en konstruktiewe verhouding tussen die regering en die burgerlike gemeenskap is iets wat mettertyd en met daadwerklike optrede gevestig word. Van die kwessies wat die verhouding bevestig, sluit in, vertroue, integriteit, respek vir mekaar en dan die wil en verbintenis tot positiewe uitkomste.

Die Mandela-fase kan waarskynlik dien as voorbeeld. In dié tydperk was daar wedersydse vertroue, daar was respek vir mekaar se standpunte en bowenal was daar ʼn wil om mekaar tegemoet te kom en mekaar te probeer vind tussen die probleme en uitdagings van die tyd. Dit was opvallend hoe mense en partye uit verskillende politieke dampkringe en selfs uiteenlopende ideologieë verbind was tot die soek van oplossings. Daar was ʼn werklike wil en deursettingsvermoë om Suid-Afrika as suksesvol tot voordeel van almal te laat funksioneer.

Hoe dramaties anders lyk die prentjie nie 26 jaar later nie.

Jan Bosman van die Afrikanerbond.

Die verhouding tussen staat/regering/party en Suid-Afrikaners en dan Afrikaners in die besonder as deel van die burgerlike samelewing, het sedert 1994 deur verskillende fases gegaan. Die laaste dekades se hantering of ondermyning van Afrikaans, regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging, die verdagmakery van Afrikaners se geskiedenis – en veral die hantering van die grondkwessie – het waarskynlik vinniger begin lei tot ʼn vertrouensbreuk met die regering. Kwessies soos dienslewering, misdaad en ongebreidelde korrupsie het gelei tot ʼn groter en algemene burgerlike onvergenoegdheid by wit en swart. Die absurde voorstel van die verskuiwing van apartheid- en kolonialisme-standbeelde na temaparke help ook nie om die persepsies om te keer nie.

Die Nkandla-sage, die huiwering om op te tree teen hooggeplaastes en die voortdurende herontplooiing van korrupte en onbevoegde kaders en swak ekonomiese besluite, het die verdere vervreemding tussen regering en gewone Suid-Afrikaners tot gevolg gehad. Ten spyte van baie beloftes en voortdurende ondernemings tot optrede, het Suid-Afrikaners ʼn keelvolheid begin bereik met korrupte kaders. Kyk net na die bohaai oor die staatsvlug wat deur die ANC gekaap is om na Zimbabwe te vlieg. Onderhorigheid aan die ANC ten koste van die Grondwet het die norm geword. Selfs die siniese “elfde gebod”, naamlik, “Jy moet nie uitgevang word nie,” is ook nie meer ʼn sonde nie. Trouens dit wil voorkom asof dit mag lei tot bevordering.

Dit is in die internasionale samelewing telkens bewys dat wanneer mense afgestomp en ontnugter raak met hul politieke stelsel, hulle afvallig raak met die bestaande orde. As dit vir té lank toegelaat word om te sweer, kan wydverspreide en intense wantroue uiteindelik oorgaan in ʼn teenreaksie teen die politieke bestel. Tot dusver was die ANC se reaksie hierop om al hoe meer eie verantwoordelikheid te ontken, en was daar weinig, indien enigsins, sprake van enige aanspreeklikheid. Dan word vertroue tussen ʼn regering en sy burgery bitter moeilik herstel.

Suid-Afrika beleef tans ʼn ernstige vertrouenskrisis tussen regering en burgery. Dit is op ongekende vlakke sedert ons nuwe demokrasie in werking getree het. Vertroue in die opposisiepartye is ook nie watwonders nie en gaan ook getoets word. Om die burgerlike samelewing se vertroue weer te bou, is dit nodig dat daar meer deursigtigheid moet wees, beter beheer deur verantwoordelikheid, aanspreeklikheid, en dan veral strenger en groter respek vir die regstaat en die openbare belang.

Dit is die ideaal, maar tot dusver het die ANC en regering nie daadwerklik gewys dat hy enigsins daarin belangstel om die vertroue te herstel nie. Die komende dae en weke gaan die lakmoestoets vir die ANC, sy leierskap en uiteindelik ons regering wees.

 

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Jan Bosman

Meer oor die skrywer: Jan Bosman

Jan Bosman is Hoofsekretaris van die Afrikanerbond.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

5 Kommentare

jongste oudste gewildste
Vrijburger

#VoetsekANC!

Persheks

#TSEK ANC TSEK!!! Net so

Elize

Time to #VoetsekANC!

Irma

Daar is nie ‘n manier dat die Blanke die ANC gaan vertrou nie want hulle het ons eens mooi en geliefde Suid-Afrika opgeneuk.

#VoertsekANC!!!

Abe

In kort, Daar is geen, mmar geen manier, waar ek as individu ooit enigiets van die anc sal glo of vertrou nie. 26 jaar, ja, 26 jaar het hulle gehad om die van die land ‘n beter land te maak, wat het hulle vermag in die 26 jaar. NET MOOI NIKS. Nou na 26 jaar word apartheid nogsteeds die skuld gegee vir alles wat verkeerd is in die land, selfs die probleme wat covid gebring het word voor die voete van apartheid deur ons hoog geagte president Ramamparra geplaas. Die anc wil nie en kan nie aanvaar dat hulle heeltemal… Lees meer »