Kap die heilige boomstamme af, maar verwyder ook die hoogtes

Deur ds. Schalk Strauss

Die NG kerk Moreletapark. Foto: Google Streetview.

Op 25 en 26 Februarie het die veelbesproke Moreleta-beraad by die NG kerk Moreletapark plaasgevind.

Tussen 400 en 500 beswaarde lidmate en leiers uit die NG Kerk en breër kerklike gemeenskap het byeengekom om die “pad vorentoe” te bespreek. Hoewel die byeenkoms gevolg het op die Algemene Sinode van die NG Kerk se 2019-besluit oor selfdgeslagverhoudings, gaan dit oor meer.

Die beraad kan inderdaad as die skeurpunt beskou word van twee paaie ten opsigte van Skrifbeskouing wat te ver van mekaar af beweeg het. Die beraad het by meer as een geleentheid erken dat daar nie middelgrond is om mekaar te vind nie en dat versoening nie meer moontlik is nie.

In aanloop tot die beraad is daar heelwat moeite deur liberaal-gesindes binne die NG Kerk gedoen om die beraad binne ’n bepaalde negatiewe lig te stel. In die Kerkbode is briewe geplaas wat pleit dat die eenheid ten alle koste behou moet word en wat vra of die kerk ooit bekommerd is oor dié wat loop omdat die Kerk nie “beweeg” nie. Op die vooraand van die beraad word ’n koerantuitknipsel uit die Kerkbode van Desember 1986 uit die argiewe opgediep waarin berig word oor ’n dreigende kerkskeuring wat uiteindelik tot die stigting van die AP Kerk gelei het. Hierdeur is beraadgangers onmiddellik in bepaalde kategorieë geplaas: eenheidsbrekers, verstoktes en skeurmakers.

Wie egter die beraad bygewoon het, sou hierdie soort etikette vreemd gevind het. Hier was ’n groep gelowiges byeen wat nederig-eerlik na oplossings gesoek het vir die “vasgelooptheid” wat hulle in hul eie kerk beleef. Hoewel die Algemene Sinode by monde van sy algemene sekretaris, dr. Gustav Claassen, die beswaardes gekapittel het omdat hulle kwansuis nie eens die opsie “om te praat” oorweeg het nie, is die vraag tereg gevra: Hoeveel keer moet ons dan nóg praat as ons nie gehoor word nie? Onder beraadgangers was daar die belewenis dat daar van die ander kant af slegs ’n bereidheid is om te luister wanneer daar “gesê word wat ons wil hoor”.

Verskeie opsies is tydens die beraad oorweeg. Uiteindelik is daar saamgestem dat ’n multidimensionele benadering die mees sinvolle en verantwoordelike weg vorentoe is. Gemeentes is aangemoedig om te doleer en leergeskille met die Algemene Sinode te verklaar. As verdere stap is streeksinodes aangemoedig om dit te oorweeg om hul bande met die Algemene Sinode op grond van artikel 37 van die NG Kerk se kerkorde te verbreek en om ook nuwe netwerke met enersdenkende en behoudende kerke te vorm.

By meer as een geleentheid is die byeenkoms as ’n soort hervormingsgeleentheid beskryf. Daar is saamgestem dat daar grondig herbesin sal moet word oor Skrifgesag en Skrifverstaan, aangesien dit ten grondslag van die probleem lê. Daar is bely dat strukturele eenheid ’n afgod binne die NG Kerk geword het en dat daar nuut oor eenheid gedink moet word. Die begeerte na ’n ware, geestelike eenheid gegrond op Skrif en belydenis, is uitgespreek, terwyl die vier pilare van die reformasie, naamlik Soli Christi, Sola Gratia, Sola Fide en Sola Scriptura, herbevestig is.

Ds. Willem Badenhorst het beraadgangers aangemoedig om, diep bewus van hul eie gebrokenheid, tog in gehoorsaamheid aan God die waagmoed aan die dag te lê om die toekoms in die geloof tegemoet te gaan. Dit is ’n oproep tot hervorming en tot hernude gehoorsaamheid aan die Woord van God. Dit is ’n oproep wat wys dat die uitdaging vir beswaarde lidmate binne die NG Kerk, baie groter is as om bloot die regte “opsie” as reaksie te kies.

Die groot vraag is dus: Hoe ver is die beswaardes bereid om te hervorm? Hoe konsekwent is hulle bereid om te wees?

Die gevaar is dat die hervorming kan lyk soos dié van koning Joas oor wie geskryf word: En Joas het gedoen wat reg was in die oë van die HERE … net die hoogtes is nie afgeskaf nie (2 Kon. 12:2-3). Beswaardes is ideaal geposisioneer om nie net die heilige boomstamme af te kap nie, maar om ook die spreekwoordelike hoogtes te verwyder.

’n Skrifbeskouing wat verskil van dié wat tans deur die Algemene Sinode van die NG Kerk gehandhaaf word, het op baie meer betrekking as net die kwessie van selfdegeslagverhoudings. Daarom is dit nie net nodig om ’n bepaalde standpunt oor Skrifbeskouing in te neem nie, maar sal daar ook grondig besin moet word oor die implikasies van so ’n Skrifbeskouing vir ander aspekte van die teologie en kerkregering. Dit bepaal uiteindelik ook die aard van die “nuwe netwerke” wat gevorm sal word en die wyse waarop daar oor kerkgrense heen na eenheid gesoek sal word.

Hier sal fyngetrap moet word om nie in dieselfde slaggate te beland wat tot die huidige krisis gelei het nie. Hier sal fyn geluister moet word na die Skrif om seker te maak daar word nie net geluister na daardie dinge wat die ander oor streel nie. Paulus se raad aan Timótheüs was dalk nog nooit so aktueel nie: Maar bly jy in wat jy geleer het en waarvan jy verseker is, omdat jy weet van wie jy dit geleer het en dat jy van kleins af die heilige Skrifte ken wat jou wys kan maak tot saligheid deur die geloof in Christus Jesus (2 Tim. 3:14-15).

Wat uiteindelik sal gebeur, sal net die toekoms kan leer.

Bid vir jou familie en vriende in die NG Kerk wat hulle te midde van hierdie stryd om die waarheid bevind.

Hierdie artikel is met die vergunning van die AP Kerk geplaas.

 

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

16 Kommentare

Jaco ·

gay huwelike, lotto speel, saamwoon sonder om getroud te wees, rook, drink
al hierdie goed is vir die NG Kerk aanvaarbaar
so tragies hoe hulle mense mislei

OW ·

As jy dink die sondes wat jy noem,net in die NG Kerk voorkom maak jy die fout van jou lewe.Geen Kerk op aarde is perfek nie,want die mens is nie perfek nie.Die ander Kerke word nooit van gehoor nie.Waar is die Engelse kerke,Katolieke Kerk,Charismatiese Kerke,Afrikataal Kerke,noem maar op.Hulle is nooit in die media nie.As ek jy is sal ek mooi dink, voor ‘n oordeel uitgespreek word.

JouPa ·

Satan is altyd besig om God se kerk te probeer verdeel. Dit is hoekom die sooo belangrik is om terug na die Woord te gaan en die Woord eerste te stel as daar ander “lig”/opinies probeer insluip

Danie ·

In 1986 het die NGKerk “begroot” om mense te verloor. Hulle het daarom ook nie omgegee dat dit gebeur nie. Sal maar sien om hier proses hom weer herhaal.

Spook ·

Die familie, dis nou die proponent en sy pa, wat die kerk hof toe gesleep het en hulle standpunt op die kerk deur die hof afgedwing het, het reggekry wat niemand nog ooit kon regkry nie. En dit is om die NG Kerk te vernietig. Skeurings was daar al baie, maar vernietiging?

Geluk manne! Voorwaar ‘n grootse prestasie in sommiges se oë.

RB ·

Spook,
Hulle gaan maai wat hulle gesaai het. God laat Hom nie bespot nie!
Vreeslik is dit om te val in die hande van die lewende God.
In plaas van hof toe hardloop moes hulle liewer die waarheid in God se Woord gaan lees het.
Nie moeilik om te verstaan.
Hy is gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde.
Sonde tòè is sonde nou – KAN NIE geregverdig word nie.

Wielspore ·

NG kerk of enige ander kerk is ‘n instansie of medium om jou geloof in uit te leef, die werklike kerk is jy, die persoon wat nou hier lees. Dit is jy wat die verhouding met God het, nie die Ds of kerkraadslede of ander lidmate, hierdie mense het hul eie unieke verhoudings met God. As ‘n lidmaat gay is, of rook, of ongetroud saamwoon is dit ‘n saak tussen hom en God. Ek kan nie iemand voorskryf in wat hy moet doen of probeer weerhou om ‘n kerk binne te gaan. Binne my gesin bedien ek my vrou en kinders met raad om hulle toe te rus tot die toekoms en hulle kan self op eie wil besluit wat hule wil doen en watse weg hulle wil loop, hulle bly nog steeds my vrou en kinders.
Bybel kennis is ‘n wenner!

Frank ·

Die kerk is die liggaam van Christus, ons die ledemate en Christus die hoof. Dis ons plig as mede-ledemate van daardie liggaam om oor mekaar te waak en te vermaan tydens hierdie stryd op aarde. En ja, deel van jou doop belofte aan God was om jou kinders in die vrese van die Here groot te maak. Verder mag ons nie in isolasie die Here dien nie, maar is dit ons plig om na ‘n ware kerk (NGB29) in ons omgewing te soek en daar ons geloof uit te leef. Onder andere Heb 10:25 praat die Here oor die “samekomste van die heiliges”.

Paashaas ·

As jy in Israel vermetel aanhou met sonde, is jy uitgeroei. Die bal is nie in God se rigting gepass nie

Fluisterwind ·

1 Korinthiërs 6:10 “Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards of dronkaards of kwaadsprekers of rowers sal die koninkryk van God beërwe nie.”

Die verskil tussen gelowiges en ongelowiges is net…..GENADE!

Hoe lyk jou dankbaarheidslewe noudat God jou uit die hel gehaal het?

Paashaas ·

Ds laat gay troues toe, want menseregte oorheers die Skrif.

Frank ·

MM, is julle stelsel stukkend of wat?
Ek lewer gereeld kommentaar maar dan word seker maklik omtrent 70% van my kommentare verwyder. Weet dis julle proregatief om dit te verwyder na goeddunke maar daar is WERKLIK niks met my skrywes verkeerd nie. Ek maak seker eks nie rassisties, of homofobies wat ookal nie. Ek’t byvoorbeeld hieronder iemand geantwoord en verduidelik wat die Here bedoel onder die woord “kerk”, en omdat ons ledemate is en Hy die hoof, hoe ons met mekaar behoort om te gaan. Dat die doop belofte van ons kinders sê dat ons ons kinders in die vrese van die Here moet grootmaak ens. Dis alles REG!!
Besig om erg dik te raak vir julle!!

Gawie ·

Frank, jou boodskap is nie verwyder nie. Gaan kyk maar, dit is daar. Ek was ook onder die indruk dat van my boodskappe verwyder is, maar kom toe agter dit vat partykeer net langer om geplaas te word, want die mense by Maroela het duisende boodskappe om te modereer.

Michael ·

Al pad vorentoe is by die hek uit want die plakkers omring die kerk grens agv van hulle ondersteuning aan die plakkers,wat onaanvaarbaar was maar hulle nuwe denkrigtings is vir my die laaste spyker in die doodkis

Gawie ·

Ek is bly daar is kerkleiers wat besluit het: “tot hier toe en nie verder nie”. Te lank het die kerk gebuk gegaan onder die afgod van ‘eenheid’ soos genoem, en dan word allerhande dinge wat teen die Skrif indruis toegelaat of oorgesien, want “ons wil nie die mense vervreem nie”. Jesus het dan self gesê Hy gaan verdeeldheid bring.
Sterkte Broers, ons bid vir julle.

Paashaas ·

Ds, mense, lidmate, kap fisies die heilige boomstamme af! Dan gaan jul lewe. Glo my. Kap die kersboom af. Kap die kerktoring af. Kap die internasionale lidmaatskap af. Verwyder die fariseers se suurdeeg uit die kerk. Die suurdeeg het nou so suur en oordadig geword, dat jul God se Skrif verlaat het. Om nou daardie suurdeeg te verwyder is amper onmoontlik, sonder om die kerk toe te maak en voor te begin. Bg artikel gebruik n groot omhaal van woorde, om by die Skrif verby te seil. (en n slang seil nè)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.