Kapitaal – ons vriend of vyand?

Argieffoto

Argieffoto

Kapitaal is ʼn ekonomiese konsep wat gereeld misverstaan, en soms, in sekere geledere selfs geminag word. Waar die meeste ekonomiese begrippe gewoonlik nie ʼn wenkbrou in alledaagse geselskap sal laat lig nie, is dit nie die geval met die begrippe “kapitaal” of “kapitaliste” nie.

In sekere geledere, veral linkse politieke groepe, word ons vertel dat die eienaars van kapitaal, oftewel die kapitaliste, uitbuiters van die mensdom is, en dat opbrengste wat kapitaliste op kapitaal verdien het ʼn onregmatige buit is.

’n Meer onlangse akademiese aanval op kapitaal en kapitaliste is deur die ekonoom Thomas Piketty, in sy werk Capital in the Twenty-First Century wat in 2013 vrygestel is, van stapel gestuur. Op bladsy 522 van Piketty se veelbesproke teks lees ons byvoorbeeld: “It is not right for individuals to grow wealthy from free trade and economic integration only to rake off the profits at the expense of their neighbors [sic]. That is outright theft.”

Piketty se groot gevolgtrekking is dat kapitaliste met behulp van hul kapitaal onregmatige rykdom uit die res van die samelewing ingepalm het, en dat dié uitbuitery net verder gaan vererger.

Die oplossing wat Piketty in sy boek voorstel, is dat die wêreld se belastinggaarders met ʼn gekoördineerde globale rykdombelasting moet saamspan om die “onregmatige” rykdom bo ʼn arbitrêre afsnypunt weg te neem en rykdom ten sterkste te reguleer.

Só ʼn aanval op kapitaal en kapitaliste is natuurlik niks nuuts nie, dit woed al lank sedert Karl Marx, en diegene soos Jean-Jacques Rousseau wat hom beïnvloed het, en nou Piketty, in die prentjie getree het. Plaaslik hoor ons byvoorbeeld ook gereeld van sogenaamde “wit kapitaal” wat as skurke en uitbuiters uitgemaak word.

Ek glo dit gaan nie te ver om te sê dat in sekere geledere in Suid-Afrika, en in die wêreld, kapitaal en kapitaliste gehaat word nie. Ongelukkig word die impak van die haat, minagting en miskenning van die rol van kapitaal en kapitaliste nie algemeen besef nie. Om kapitaal en kapitaliste weg te wens sal uiteindelik neerkom op niks minder nie as ekonomiese selfmoord.

Die skielike verdwyning van alle kapitaal, soos die fabrieke, masjiene, insetgoedere en ander sakekapitaal, sal ʼn katastrofale menslike tragedie wees waar ons almal dadelik weer na ʼn oorlewingsbestaan toe sal terugval. Verskriklike armoede, en ʼn tekort aan die mees basiese benodigdhede, sal hoogty vier – nie ʼn mooi prentjie nie. Op langer termyn sal grootskaalse inmenging by die vryekapitaalstruktuur, soos Piketty se plan teweeg sal bring, ook nadelig wees.

Deel van die moeilikheid is dat kapitaal ʼn moeilike begrip is om vas te vat. Praat ons byvoorbeeld van bankkapitaal, kapitaalgoedere, of beleggingskapitaal? Waarna ek hier verwys, is ekonomiese kapitaal wat beskryf kan word as die goedere, masjinerie, fabrieke en ander faktore wat insette tot finale verbruikersgoedere en -dienste verwerk. Dit is dié kapitaal waarop al die ander kapitaal, soos bankkapitaal, uiteindelik berus.

Kapitaalgoedere is uiters belangrike insette tot die finale produkte en dienste wat op die mark beskikbaar is. Dis die produkte en dienste waarop ek en jy eintlik ons hardverdiende geld wil bestee. Wanneer ek en jy meer produkte en dienste met elke rand kan koop, is ons reële inkomste hoër en ons is beter af.

Dit wat vandag beskikbaar is om te koop, en môre beskikbaar gaan wees, hang af van die gehalte en gevorderdheid van die kapitaalstruktuur. Ons kan geensins hierdie kapitaalstruktuur as ʼn gegewe aanvaar nie. Die enigste manier waarop dit tot stand kom, is deur spaargeld op ʼn oordeelkundige wyse aan te wend.

Kapitaalgoedere, en nuwe kapitaalvorming vanuit spaargeld, maak dit moontlik dat produktiwiteit en die aanbod van goedere en dienste op die mark kan toeneem – en gevolglik dat ons meer en beter goedere en dienste met ons rande kan koop.

As ʼn enkele voorbeeld, dink maar net aan die dramatiese toename in die beskikbaarheid van selfone in Suid-Afrika. Hierdie geweldige voordeel, waaraan baie mense in Suid-Afrika vir betreklik min geld nou deel kan hê, was danksy die vorming van nuwe kapitaal.

Ongelukkig aanvaar baie mense die huidige kapitaalstruktuur as ʼn gegewe. Selfs van die hoofstroom ekonomiese denkskole ag die kapitaalstruktuur, wat eintlik ʼn heterogene groepering van allerlei verskillende kapitaalgoedere is, min of meer soos ʼn enkele “black box”-masjien, of ʼn homogene massa.

Tog is dit nie wat ons op die mark sien nie. Wanneer ons na individue kyk, bestaan iets soos ʼn homogene kapitaalstruktuur en ʼn onveranderende “kapitalisklas” nie regtig nie.

In werklikheid sien ons voortdurend gevalle waar suksesvolle entrepreneurs wat winste maak, gekapitaliseer word terwyl onsuksesvolle entrepreneurs wat verliese ly hul kapitaal verloor – die kapitaalstruktuur is uiters dinamies en die deelnemers daaraan wissel gereeld. Piketty, wat ook die idee propageer dat die kapitaalstruktuur homogeen is, vertel dus nie die hele storie nie.

Kapitaliste belê spaargeld in die hede om eers later ʼn opbrengs te verdien – op vrye markte is die opbrengs geensins gewaarborg nie. ʼn Selfs belangriker punt is dat ʼn kapitalis se opbrengs hoofsaaklik afhang van die waarde wat verbruikers aan sy finale produkte of dienste koppel.

ʼn Kapitalis-entrepreneur, wat sy kapitaal regmatig bekom het, is dan eintlik ʼn dienskneg van die verbruiker. Weens mededinging is ʼn kapitalis-entrepreneur se “bevoordeelde” posisie op vrye markte baie meer onseker as wat kapitaal se kritici, soos Piketty, voorhou.

Hierdeur sê ek natuurlik nie dat daar geen probleme met die hedendaagse globale ekonomie bestaan nie. Baie kapitaliste in hedendaagse markte staan nie op hul markmeriete alleen nie.

Regulasies, lisensiëring, belastinggeld-reddingsboeie, subsidies, belastingvoordele, en monetêre beleid, is enkele elemente wat die kapitaalstruktuur kunsmatig tot voordeel van sekere markdeelnemers kan verdraai. Sulke voorbeelde kan nie as ʼn regverdige klagte teen alle kapitaal of teen die idee van kapitalisme gebring word nie, maar wel teen regerings se grootskaalse inmenging by vrye markte.

ʼn Gesonde kapitaalstruktuur, wat op die vrye mark ontstaan, onderlê ʼn gesonde ekonomie en ʼn samelewing se rykdom. Daarsonder is ekonomiese vooruitgang nie moontlik nie. Regmatige kapitaliste is nie die uitbuiters van die mensdom nie, hulle speel inderdaad ʼn baie belangrike ekonomiese rol en hul bydrae is tot ons almal se voordeel.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Gerhard van Onselen

Meer oor die skrywer: Gerhard van Onselen

Gerhard van Onselen is ʼn senior navorser by Sakeliga.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

5 Kommentare

Disselboom ·

Is bly vir hierdie artikel. Dis besonder toepaslik op die oomblik, met ‘n Afrikanervolk wat in ontkenning is van hoe sosialisties hy maar lekker aan die staat se spene gesuig het in die 20ste eeu, en nou moet leer hoe om met een van die sterkste wapens van ons tyd, naamlik kapitaal, te werk te gaan nie, Hoe jy dit bymekaarmaak, hoe jy dit aanwend, hoe hefboomkragte aanwend om dit te versnel.

Strategies het ons die onderliggende intellektuele en vaardigheidsvermoëns om te oorleef en weer te oorwin en Suid-Afrika tot orde te bring. Die wapentuig wat ons meer van moet leer, is kapitaal. Dis die been van die strategie vir ons voortbestaan waaraan ons baie aandag moet gee – om kapitaal saam te span. En bereid te wees om eers fondse in kapitaal in te stoot – risiko’s en al – en dan na persoonlike gerief en die volgende vakansie te kyk.

Pietman ·

Stem saam Gerhard en Disselboom. Die arme verontregte sosialiste fokus met groot jaloesie en haat slegs op die suksesse van kapitale belegggings. Die mislukkings word nooit aan die groot klok gehang nie. Hulle vergeet van die risiko element wat onlosmakend deel van kapitale beleggings is. Ook vergeet hulle van die ongerief van uitgestelde toekomstige verbruik wat elke spaarder of belegger moet aanneem.

Leonard van der Dussen ·

Dit is ‘n skerp opmerking van Disselboom om kapitaal as ‘n wapen te beskryf. Daar kan meer gedoen word in die samelewing om selfstandig te word – en om ideale soos eietalige instellings te hê – as daar kapitaal saamgevoeg word wat volhoubare en sterk sake oprig. Kapitalisering en onafhanklikheid – om jou eie besluite te kan neem – loop hand aan hand. Daardie vryheid kom egter nie sonder dat daar eers mense moet wees wat die dapperheid het om die aanvanklike risiko te neem om die kapitaal saam te voeg en in te stoot nie – en dis op hierdie risiko-deel om ‘n ding te begin wat daar nog nie genoegsame bereidheid is nie.

Wicus ·

Ek kan my nie indink hoe ek sal funksioneer in ‘n sosialistiese bestel nie. Die vrye wil van die mens is volgens my mening die beste dryfkrag na uitnemendheid. Dit sluit dan onderneminsgees en spandering in. Die man wat waag en insit moet beloon word.

Wat my egter pla is die super rykes. Voeg bv Facebook werklik soveel waarde toe dat die stigter een van die rykstes is? Vra dieselfde vir bv selfone. Op die einde kan ons nie selfone of Facebook eet nie. Was dit ook nie geld wat die Boererepublieke se eindes beteken het nie en waarskynlik agter die 94 oorgawe gesit het, of waar mis ek die punt?

Danie Acker ·

Daar is wel ‘n problematiese kant van kapitalisme, naamlik rykes wat ryker word en armes armer. Dit is nie volhoubaar nie. En HUB’s wat buitensporige vergoeding verdien. Toename in gulsigheid. Dan praat ek nie eers van die element van “korporatiewe kommunisme” waar korporatiewe instellings soos kommunisme inpalm en regeer ten koste van kliënte nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.