Katalonië se pad na staatskap is steil (en Spanje weet dit)

Kortom, Katalonië kan homself onafhanklik verklaar, maar dit bly ʼn futiele oefening indien die wêreld jou nie as sodanig erken nie. Foto: AP Photo/Emilio Morenatti.

Deur Eugene Brink

Die Kataloniese president, Carles Puigdemont, het toe met taamlik baie bravade Katalonië se onafhanklikheid van Spanje aangekondig en met die amptelike proses begin om dit van stapel te stuur. Maar hy het kort daarvan gestop om dit met onmiddellike ingang van krag te maak. Hy wil eers tyd toelaat om verder met die Spaanse regering te beding.

Hiermee het hy ʼn soort middeweg gekies deur waarskynlik die meerderheid van die Katalaanse bevolking gerus te stel dat hy ernstig is oor onafhanklikheid, terwyl hy vir die buitewêreld en veral die Spaanse regering gewys het dat hy nie dadelik die mees ekstreme opsie – naamlik sesessie – sal gebruik nie en nog wil onderhandel. Sy waarskynlike bedoeling – en iets wat soortgelyk is aan die Skotse poging tot onafhanklikheid – is om eintlik groter streeksmagte en outonomie vir Katalonië te beding deur die mees drastiese opsie as ʼn (gekwalifiseerde) werklikheid voor te hou.

Dit kan straks in sy gesig ontplof en hom dalk dieselfde pad as die voormalige Britse premier David Cameron laat loop. Hy en Katalonië kan op die ou einde niks uit hierdie poging kry nie en volgende pogings kan dan ook in die kiem gesmoor word – óf toekomstige Kataloniese leiers gaan net nie weer kans sien om hierdie perd op te saal nie.

Katalonië se pad om ʼn onafhanklike staat te word is met vele massiewe dorings besaai. En die Spaanse regering se reaksie op Puigdemont se besluite bevestig dat hulle nie veel dink daarvan nie. Hulle het dit prontuit verwerp en enige oproepe om mediasie van die hand gewys. Volgens hulle bly die onlangse onafhanklikheidsreferendum oor Katalonië onwettig en ongeldig.

Geen absolute reg

En daar lê die eerste probleem met sesessiepogings en veral eensydige verklarings van onafhanklikheid: Die moederstaat (oftewel “rump state” soos dit in Engels genoem word) moet die gebied wat wil afskei, ten minste ter wille wees in hul poging om weg te breek. Gevestigde state word steeds as die primêre rolspelers in die wêreldpolitiek beskou en hul soewereiniteit weeg baie swaarder in die internasionale reg (en in die harde, koue realiteite van die geopolitiek) as die inbreukmaking daarvan.

Daar is nie ʼn ongekwalifiseerde reg tot sesessie in die internasionale reg nie en Spanje se grondwet – nes Suid-Afrika s’n – bepaal dat Spanje en sy grondgebied “onverdeelbaar” is. Die probleem met die misbruikte term “selfbeskikking” in soveel internasionale verbonde en handveste (soos die VN s’n) is dat dit baie vaag omskryf word. Derhalwe kan dit enigiets beteken van die stig van ʼn vakbond of drukgroepe tot sesessie, terwyl sommige verbonde sesessie uitdruklik verbied as ʼn selfbeskikking-opsie en daar in talle rigtinggewende dokumente daaroor gefrons word. Op suiwer regsgronde gaan Katalonië nie hierdie stryd wen nie.

In sekere stukke internasionale wetgewing word bepaal dat humanitêre redes ʼn regverdiging vir sesessie is. Dit is wat in die 60’s in die geval van Biafra in Nigerië gebeur het. Nadat die vooruitstrewende Ibo-groep deur die minder voorspoedige Hausa’s in ʼn verenigde en nuut onafhanklike Nigerië onderdruk en later in ʼn burgeroorlog uitgemoor is, het die streeksleiers in Biafra, waar die Ibo’s oorwegend woon, hulself eensydig onafhanklik verklaar en Ibo’s gemaan om weg te trek vanuit die res van Nigerië en veral die noorde waar die Hausa’s die meerderheid is. Die sentrale regering het die streek geïsoleer deur middel van voedselblokkades en verder militêr aangeval. Hoewel Afrikastate baie behoudend is wat sesessie betref, het vier state op die vasteland wel vir Biafra as onafhanklik erken en almal het – met goeie reg – humanitêre redes daarvoor aangevoer. Dit was nie naastenby genoeg om die vergrype te stop nie en Biafra is drie jaar later weer by Nigerië ingelyf.

Dit gaan oor wie jy ken en wie jy is

Maar regsgronde is nie wat bepalend is in sulke gevalle nie. Dis veel eerder politieke redes en maneuvreerdery wat die sukses van sesessiegevalle bepaal.

Spanje is ʼn taamlik belangrike land in Europa en ook die wêreld, en kan op baie vriende staatmaak in hierdie stryd om die status quo te handhaaf – selfs invloedrykes buite die Weste. Dit het ook ʼn historiese vrees vir verbrokkeling, en Brittanje, Frankryk en pres. Donald Trump het reeds aangedui hulle steun nie Katalaanse onafhanklikheid nie. Ek is onlangs op ʼn radioprogram gevra hoekom sekere prominente Westerse state dan vir Kosovo in 2008 as onafhanklik verklaar het, maar nou teen Skotse en Katalaanse onafhanklikheid gekant is. Die eenvoudige antwoord is dat realpolitik die septer swaai.

Serwië is ’n stoere bondgenoot van Rusland, en die VSA en trouens die hele Weste is die Russe se strategiese mededingers. Die VSA en talle meeste Westerse state het dus nie twee keer gedink om ʼn pro-Russiese bondgenoot te verswak deur die wegbreek van een van sy stukke grondgebied te ondersteun en erken nie. In die geval van Katalonië is Spanje ʼn bondgenoot van Amerika en meeste Westerse state en hulle sal nie vir Katalonië bo Spanje steun nie. Ditto in Skotand se geval.

Serwië is ook nie ʼn lid van die Europese Unie (EU) nie en is verder weg geleë van Wes-Europa, en daarom sou Kosovo se afskeiding nie veel politieke en ekonomiese spanning in die hartjie van Wes-Europa en die EU veroorsaak nie. Die bykomende regverdiging was die yslike skending van menseregte wat Kosovo aan die hande van die Serwiese owerhede in die jare 90 gely het.

Katalonië kan hulle nie op die skending van hul menseregte beroep nie en is geografies in die hartjie van Wes-Europa. Indien dit wel wil wegbreek, gaan sy naburige state hom nie erken as ʼn staat nie en dit boonop vyandiggesind wees. Dis nie ʼn ideale begin of volhoubare grondslag vir ʼn nuwe staat nie. In die geval van Suid-Soedan en Eritrea se suksesvolle afskeidings het die state waarvan hulle weggebreek het – onderskeidelik Soedan en Ethiopië – hulle onomwonde as nuwe state erken en selfs die proses gefasiliteer (al is daar vandag steeds vyandigheid tussen hulle). Maar met Katalonië is dit klaarblyklik nie eens naastenby die geval nie. Die streek kort ʼn invloedryke eksterne beskermheer en borg, soos Kosovo en Suid-Soedan byvoorbeeld vir onder meer Amerika gehad het, om ʼn onafhanklike staat te kan word en weg te breek van Spanje. Dit is merkbaar afwesig en daar is nie enige tekens dat ʼn prominente rolspeler die streek se pogings in die toekoms gaan steun nie.

Brexit en die mislukte Skotse referendum het ook Europeërs se vlak van geduld met wegbreekpogings laat daal en met die sekuriteit-situasie in Wes-Europa wat in uiterse spanning verkeer, kan ’n mens hulle nie daarvoor blameer dat hulle afwysend teenoor nog ʼn wegbreekpoging en oënskynlik onnodige ontwrigting reageer nie.

Die ander feit wat baie keer in Kosovo se geval misgekyk of doelbewus geïgnoreer word, is dat baie state Kosovo nié erken nie. Dit het ʼn bepalende invloed daarop gehad dat dit steeds nie ʼn lid van die Verenigde Nasies is nie (wat as ʼn soort “geboortesertifikaat” vir staatskap dien). China, Indië, Rusland en ook Spanje – om maar net ʼn paar te noem – het steeds nie erkenning aan Kosovo gegee nie en daarom bly sy staatskap slegs ʼn pseudo-een wat erg bestrede is.

ʼn Futiele oefening

Kortom, Katalonië kan homself onafhanklik verklaar, maar dit bly ʼn futiele oefening indien die wêreld jou nie as sodanig erken nie. Vra maar vir Somaliland wat in 1991 eensydig van ʼn ineengestorte Somalië weggebreek het en sedertdien as ʼn de facto-staat bestaan, maar geen van die regte en voorregte van de jure-staatskap geniet nie. Hul grense word nie internasionaal erken nie en hulle word nie as ʼn onafhanklike staat deur hul vriende en vyande behandel nie. In Katalonië se geval sal hy as ʼn blote karikatuur en bogeyman in Europa behandel word.

Indien Puigdemont slegs groter afgewentelde magte wou beding, beter hy egter hoop dat Spanje skrik en oor iets minder as volledige staatskap wil beding. Die Spaanse leiers weet egter Katalonië se pad na staatskap is vol yslike hindernisse en sal daarom waarskynlik nie gedruk voel om selfs oor iets minder te beding nie. Die beste scenario sal egter wees indien die Spaanse regering wel na ʼn groot deel van die Katalaanse bevolking luister en ʼn groter mate van outonomie daaraan toeken.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Eugene Brink

Meer oor die skrywer: Eugene Brink

Dr. Eugene Brink is die strategiese raadgewer vir gemeenskapsake by AfriForum.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

15 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johannes Meintjes

Hoe vorder die Afrikaner se selfbestuur en selfbeskikkingspad hier in die Nuwe SA? Is dit maar net geluide en ‘n veeleisende houding of is dit tasbare, oortuigende, goed gekommunikeerde en ‘n deelnemende proses tot datum?

Marinus Schoeman

Dankie Dr Brink vir hierdie helder en insiggewende artikel!

Hendrik

Johannes almal praat oor selfbeskikking en skryf ook uitstekende rebrieke daaroor, maak ek dink hulle skuil agter Plan B.

Frans C

Uit die geskiedenis van Kata lonië is dit duidelik dat die gebied deel was van verskillende
ryke en ook eers deur oorlogvoering onder Spaanse beheer gekom het.So is Katalaans nog steed die moedertaal van 40% van die inwoners.

Die voordeel is dat hul reeds ‘n eie geografiese gebied het met ongeveer 7 miljoen inwoners,terwyl die Afrikaner verspreid woon oor Suid Afrika.

John

Die vangwoord hier is ‘ontwikkeling’. Sodra enige van hierdie plekke na iets begin lyk wat as vooruitstrewend beskryf kan word, dan word die wolwe losgelaat. So sal dit orals gaan want begeerte en jaloesie dryf Afrika se ambisie. Engeland het Lesotho en Swaziland somerso as geskenk gegee vir sekere swart stamme… want niks het destyds daar aangegaan nie, maar toe die boere in die noorde wil nesskop en stories oor diamante en goud die Britte se ore bereik, toe spring hulle regop, geweer in die hand. Mens hoop nie daar ‘ghlug’ olie onder sekere mense se voorstoepe nie… want…