Katalonië: Spanje slaan terug

katalonië

Foto: AP Photo/Manu Fernandez

Gebeure in Katalonië is tans werklik geskiedenis wat voor ons oë plaasvind en wat die kans het om ’n gevallestudie vir afskeiding (of hoe om dit te verhoed) te word. Dit bied ook lesse oor goeie en slegte politieke geleenthede en tydsberekening. Wie uiteindelik gaan wen, is nog glad nie ’n uitgemaakte saak nie. Dit is eerder soos ’n oorlog waar beide kante verskeie veldslae en skermutselings wen, maar waar eers ná die tyd bepaal kan word watter veldslag die beslissende een was om die oorlog te wen of te verloor.

Net weer ’n vinnige herroep van die onlangse gebeure: Op 1 Oktober het die onwettige referendum oor afskeiding van Spanje in Katalonië plaasgevind, wat die Spaanse regering reeds voor die tyd, en veral op stemdag self, hewig probeer keer het – met geringe sukses. Meer as 90% van die deelnemers (ten spyte van belemmering was daar ’n 43% deelname) het vir onafhanklikheid gestem. Weens die hardhandige polisieoptrede teen mense wat net van hulle demokratiese reg gebruik wou maak, was die internasionale simpatie van die media en talle burgers veral aan Katalonië se kant. Almal, veral die EU-lidlande, was oorbluf en het hulle asem opgehou. Katalonië was skielik wêreldnuus en het ’n gevaarlike brandpunt in die andersins redelik geordende en rustige Wes-Europa geword.

Volgens die referendum-wet van die Katalaanse parlement sou onafhanklikheid binne 48 uur ná ’n meerderheidstem vir afskeiding uitgeroep word. Dit was onwettig volgens die Spaanse Grondwet, maar afskeidings vind selde volgens grondwetlike prosesse plaas – wel op grond van politieke konflik en die skep van feite wat dan erken moet word. Die mandaat vir onafhanklikheid was met die deelname van minder as 50% wankelrig, maar die meeste historiese besluite word ad hoc en weens ’n sameloop van omstandighede geneem en nie volgens ’n lang uitgewerkte plan nie. Slowakye en Kosovo het byvoorbeeld al twee sonder ’n referendum onafhanklik geword en in laasgenoemde geval ook sonder erkenning deur die moederland. Of dink maar aan die val van die Berlynse muur en die Duitse hereniging waarvoor ’n raamwerk eers geskep moes word in antwoord op verrassende en vinnig ontwikkelende gebeure.

Die Katalaanse streeksleier Carles Puigdemont het egter nie dadelik ná die referendum tot die uitroep van onafhanklikheid oorgegaan nie, maar aangekondig dat hy Maandag 9 Oktober die Katalaanse parlement sou toespreek en by implikasie onafhanklikheid sou verklaar. Dit is toe met nog ’n dag uitgestel na 10 Oktober. Terugskouend blyk dit ’n fout te gewees het, want in die nege dae tussen die referendum en sy toespraak voor die Katalaanse parlement het Spanje en die anti-onafhanklikheidskamp die inisiatief uit Puigdemont se hande geneem: Groot pro-eenheid-betogings het oor die naweek van 6-8 Oktober plaasgevind en die EU het ’n geslote front teen Katalonië, met Frankryk as die voorloper, opgebou. Meer nog, Spaanse maatskappye het hulle onttrekking uit Katalonië aangekondig. Die momentum het geleidelik teen afskeiding gedraai. Met die toespraak voor die parlement op 10 Oktober, wat die wêreld en veral die onafhanklikheidsgesinde Katalane met spanning afgewag het, het Puigdemont koue water op die opgeboude emosies vir onafhanklikheid gegooi. Hy het probeer om sy ondersteuners gelukkig te hou en nog steeds die deur vir onderhandelings met Spanje oopgehou deur onafhanklikheid te verklaar, maar dit dadelik op ys te sit en Spanje tot onderhandelings op te roep. Pleks om beide kante te bedien, het hy almal verwar. Sy ondersteuners was teleurgesteld en het verraai gevoel, en Spanje se regering het die aanbod op onderhandeling van die hand gewys en bly herhaal dat daar geen onderhandelings sal wees nie omdat onafhanklikheid buite die kwessie is.

Intussen het die Spaanse regering op Saterdag 21 Oktober nog verder gegaan en aangekondig dat hulle artikel 155 van die grondwet gaan implementeer, wat Katalonië se outonomie wegvat. Dit beteken die regering word onthef en die parlement se magte gaan besnoei word. Spanje sal ook beheer moet neem oor Katalonië se instellings soos die polisiemagte en televisiekanaal. ’n Nuwe verkiesing vir die Katalaanse parlement word ook beoog, met die hoop dat die pro-eenheid-partye sal wen. Die aanwending van artikel 155 sal Vrydag deur die Spaanse senaat goedgekeur moet word. Die Spaanse eerste minister, Mariano Rajoy van die konserwatiewe Volksparty, regeer met ’n minderheidsregering, maar hy het die steun van sowel die Sosialiste asook die liberale Ciudanos (die burgers) in sy optrede teen Katalonië.

Die Katalaanse regering gaan nou op Donderdag 26 Oktober in reaksie daarop vergader en moontlik ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring uitroep, ’n dag voor die senaat artikel 155 in werking wil stel. Dit sou hulle enigste opsie wees as hulle weer die inisiatief wil neem en nie die Spaanse regering hulle sin wil laat kry nie. Net soos met die onverdraagsame optrede voor en tydens die referendum het die inwerkingstelling van artikel 155 die effek om Katalonië te verenig, maar ’n eensydige onafhanklikheidsverklaring beteken ook ’n sprong in die donker in.

Dit blyk moeilik te wees om ná die eskalasie van die konflik nog te onderhandel, want die posisies is onversoenbaar met mekaar. Daarby moet ook in gedagte gehou word dat die Katalaanse regering ’n breë koalisie is van mnr. Puigdemont se burgerlik-gematigde alliansie “Junts pel Si” (Saam vir Ja) en verskeie linkse tot links-radikale pro-onafhanklikheidspartye wat by enige toegewing teenoor Spanje die koalisie sal beëindig.

Spanje beroep hom op of die grondwet, Katalonië op die demokratiese wil van die kiesers, en al twee sit in die spreekwoordelike glashuis en gooi met klippe. Juridies is Spanje in die sterker posisie, want die Katalaanse regering het inderdaad buite sy mandaat opgetree, maar hofuitsprake beteken min as dit nie afgedwing kan word nie. As Katalonië sy onafhanklikheid eensydig verklaar en die meerderheid van die bevolking staan daarby, en die instellings – insluitende die veiligheidsmagte – aanvaar die gesag van die Katalaanse regering, kan Spanje dit hoogstens met militêre geweld ongedaan maak, wat niemand egter wil hê nie. Andersom, as die eensydige onafhanklikheidsverklaring deur Katalonië se burgers en sy instellings geïgnoreer word en die gesag van Spanje aanvaar word, is dit betekenisloos.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk as navorser, argivaris en toergids vir die Orania Beweging in Orania, is ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling en skryf is veral politiek, geskiedenis, reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

3 Kommentare

Heinrich Matthee ·

Dit is ‘n vreemde demokrasie as ‘n Spaanse party wat 8.5% van die Katalaanse stemme gekry het – en in ‘n minderheidsregering sit- ‘n verkose Katalaanse streeksregering kan afsit, hul media kan snoer en hul demokratiese aktiviste in die tronk kan gooi. Die meerderheid Katalane steun egter nie onafhanklikheid nie, wel volgens meningspeilings meer ekonomiese en kulturele selfstandigheid binne Spanje. Dit is die roete van die burgemeester van Barcelona, wat ook haar stad se eie rol bevorder. Die Baskiese leier kritiseer nou Rajoy se nie-demokratiese hantering van gewone opposisiepolitiek. Die Katalane sal tans meer bereik deur groter selfstandigheid en voldonge feit binne Spanje, in alliansie met ander groepe binne en buite Spanje, as deur volle onafhanklikheid met swak instellings en EU-isolasie. Die rukwinde van die geskiedenis kan Spanje en sy bure egter nou behoorlik deurmekaarwaai.

Heinrich Matthee ·

Dit is soos voorspel Spanje se grootste politieke krisis in dekades. As die Spaanse regering dialoog weier met die Katalane, soos al meer as 15 keer tevore, moet hulle nie verbaas wees as die voorstanders van onafhanklikheid in ‘n hoek voel en eensydig afstig nie. Dit sou nie die beste omstandighede wees nie, weens Katalaanse interne verdeeldheid, Katalaanse verstrengeldheid met die EU, en EU-lidstaatregerings se steun aan Spanje. Nietemin, die Katalane se nuwe staat sou dan met kwesplekke hier en daar wel ekonomies voldoende lewensvatbaar wees, volgens Jospeh Stieglitz, Nobelpryswenner vir ekonomie. Dankie vir ‘n stimulerende stuk, Sebastiaan.

Nico K ·

Ek weet nie in watter mate onafhanklikheid vir Katelane werklik nodig is nie. (Let wel, ek weet nie. Is daar so groot diskriminasie teen hulle?) Maar die tragiese is dat daar geen moontlikheid vir ‘n volk is om af te skei nie, tensy dit met groot geweld en ‘n vernieting van die land gepaard gaan. (Dink aan Suid Soedan en Bosnië.) Selfs die Baske kon met ‘n geweldadige stryd niks reg kry nie. So die Spaanse onsimpatieke houding beteken maar net dat minderhede steeds uitgelewer is aan hul regerings.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.