Katalonië: Wipplank van emosie en rede

Katalane hou ‘n betoging vir hulle onafhanklikheid van Spanje in Times Square, New York in die VSA in 2013. Foto: Wikimedia Commons.

Emosie in die politiek is begryplik. Sonder emosie sou die politiek hard, gevoelloos en sonder siel wees. Daarmee sou jy ’n belangrike faktor in die kollektiewe menslike bestaan ignoreer.

Maar emosie moet met rasionaliteit getemper word. As negatiewe emosies, soos woede, vrees en hebsug, die belangrikste (of selfs enigste) dryfvere vir politieke gedrag by die kiesers en politici word, kan dit buitengewoon gevaarlik wees.

Dan kry jy dat die Rottevanger van Hameln, die groot verleier, mense agter hom laat aanstroom. Voorbeelde is Adolf Hitler, Wladimir Lenin, Mao Zedong, Robert Mugabe en Jacob Zuma.

Die afgelope tyd was die Spaanse provinsie Katalonië en sy regering sterk in die nuus met die plan om die streek eensydig te laat afskei. Wat is die samespel van emosie en rede hier, en hoe is dit van belang vir Suid-Afrika en die Afrikaners?

Kom ons begin deur ’n paar feite te noem.

Ten eerste, die Katalane beskou hulself al eeue lank as ’n aparte etniese groep – ’n volk, as jy die begrip verkies. Hulle praat ’n eie taal, verwant aan Spaans, min of meer soos Afrikaans en Nederlands.

Ten tweede, in die verlede is hulle deur die Spaanse sentrale regering verdruk. In die tyd van die regs-populistiese diktator Francisco Franco is mense selfs verbied om Katalaans buitenshuis te praat.

Ten derde, die Spaanse regering van die konserwatiewe premier, Mariano Rajoy, het die onlangse referendum met buitensporige geweld deur die sentrale polisie probeer voorkom. Toe dié woorde geskryf is, was die beplande toespraak van die Katalaanse leier, Carles Puidgemont, in die streekparlement nog nie gelewer nie, en dit was dus onbekend of hy sy dreigement sou uitvoer om Katalonië eensydig onafhanklik te verklaar.

Al dié sake illustreer die emosionele sy van die saak. Afgesien van wat ’n mens se eie oortuiging is oor sake soos nasionalisme, liberalisme, sosialisme, etniese selfbeskikking en volkstate, kan niemand wat die kwessie suiwer probeer bekyk, dié emosies as irrelevant eenkant toe vee nie.

Dis weliswaar subjektiewe emosies, maar deurdat hulle nou eenmaal bestaan, word hulle deel van die objektiewe werklikheid.

Maar die emosie moet, soos hierbo gestel is, deur die werklikheid getemper word.

Die Katalaanse bevolking is duidelik tot op die been oor afskeiding verdeel. ’n Peiling in Junie het gewys dat 41% vír onafhanklikheid was en 49% daarteen. Dit maak dit twyfelagtig of die fondament vir só ’n drastiese stap voldoende is.

Dit is bevestig deur die uitslag van die referendum.

Volgens die Katalaanse regering het 90% van diegene wat gestem het, vir afskeiding gekies. Maar die opkoms, ook volgens die Katalaanse regering, was net 43% (daar was talle oproepe om die referendum te boikot). Wat beteken dat afskeiding gesteun is deur slegs 39% van die stemgeregtigde Katalaanse burgers.

Die naweek wat op die referendum gevolg het, het ’n verdere bevestiging gebring.

Honderdduisende Katalane (die polisie praat van 350 000; die organiseerders van 930 000) het die strate van Barcelona en ander kleiner stede volgestroom om teen ’n eensydige afskeiding te protesteer. Dis Maandag voortgesit.

As die Katalaanse bevolking só verdeeld is, is dit die moeite werd om jou – op sigself begryplike – nasionalistiese emosie voorrang bo rasionaliteit te laat kry? Dit terwyl die eensydige afskeiding bowendien regstreeks teen die Spaanse grondwet indruis?

Daar is natuurlik ook ’n ander kant van die munt. Rajoy se harde, onversoenlike houding en die geweldpleging deur die polisie was eweneens die gevolg van sý emosionele reaksie.

Enige verstandige leier wat sy emosie deur sy rede laat temper, sal weet dat daardie soort reaksie bloot meebring dat mense hul hakke in die grond slaan en weier om toe te gee. ’n Wyse politikus weet dat dialoog, onderhandeling en bereidheid tot kompromis op die duur veel beter resultate lewer as ’n wedersydse gegil en gebruik van polisieknuppels.

Trouens, wat in Spanje gebeur het, kan gerus deur ’n akademikus geboekstaaf word om as handboekvoorbeeld in ’n kursus in geskiedenis, politieke wetenskap of sosiologie te gebruik van hoe om dinge nié te doen nie. ’n Mens verstom jou daaroor dat leiers wat veronderstel is om hul koppe te gebruik só domonnosel te werk kan gaan.

Feit is voorts dat ’n Katalaanse afskeiding, veral ’n eensydige een wat teen die grondwet indruis, ’n gevoelige klap vir sowel dié streek as die hele Spanje sal wees. Katalonië is min of meer die welvarendste streek in Spanje, maar ’n stuk of 17 groot maatskappye en ’n string kleineres het reeds te kenne gegee dat hulle hul aan die provinsie sal onttrek as die afskeiding voortgaan.

Bowendien moet Katalonië verwag dat hy geen enkele betekenisvolle erkenning van elders in die wêreld gaan kry nie. Frans Timmermans, visevoorsitter van die Europese Kommissie (die Europese Unie se “regering”), het reeds in ’n toespraak in die Europese Parlement gesê enige afskeiding moet binne die wet en met inagneming van die reëls van die Spaanse demokrasie en regstaat plaasvind.

Wat beteken dat die Katalaanse en Spaanse regering om die tafel moet gaan sit en ’n ooreenkoms sluit voordat eersgenoemde erkenning uit die buiteland kan verwag.

Let wel, dié artikel lewer geen waarde-oordeel oor die onafhanklikheidstrewe van ’n belangrike deel van die Katalaanse bevolking nie. Hier word wel die politieke parameters gedefinieer waaraan dit vir sukses sal moet voldoen.

Wat nou van die Afrikaners? By baie van ons mense is daar immers ook ’n versugting vir ’n eie staat, ’n eie regering, ’n eie gebied waar ons ons taal en kultuur kan uitleef.

Soos verlede week in die reaksies op my artikel oor ’n Afrikaner-volkstaat op dié webwerf geblyk het, is dit ’n kwessie wat heftige emosie uitlok.

Volkome begryplik. Maar as jy iets in die politiek wil bereik en nie bloot aan die kantlyn wil staan en skreeu nie, moet jy binne die grense van die haalbare bly. Soos ek verlede week aangedui het (en niemand kon my rasionele argumente weerlê nie), is dit tans (let op die voorbehoud) nie praktiese politiek nie.

Moenie dat emosie, hoe begryplik dit ook al is, jou dade oorheers nie.

Voorlopig moet ons werk vir die maksimum haalbare binne die grense van die huidige stelsel. Wat die toekoms betref – wie kan sê wat werklik vir ons voorlê?

Hierdie plasing is deur ʼn onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Nico K ·

‘n Land met goeie regte vir minderhede is seker beter as ‘n klomp klein onafhanklike landjies. So die vraag is word daar nog steeds teen Kateloniërs gediskrimineer. Is ‘n gedesentraliseerde regering met redelike streeksmagte nie ‘n beter oplossing nie. Ek wonder net hoekom is die Kateloniërs nou skielik so kwaad vir die Spanjaarde. Ons weet die Baske het jarelank ‘n geweldadige stryd gevoer, maar dit toe gelos en die situasie aanvaar. Wat het die Kateloniërs nou skielik kwaad gemaak. (Die baie militante houding van die regering het die situasie natuurlik nie verbeter nie.)

Hendrik ·

Miskien het die hulle genoeg gehad van die parasitiese gedrag van die ander provinsies in Spanje. Dieselfde senario speel hom maar ook af in S.A en Afrikaners werk hulle mik af om maatskapye aan die gang te hou. BEE, kwotas en regstellende aksie wat menige Afrikaner se loopbane en werk beinvloed gee vir ons maar dieselfde gevoel. Hoekom dink jy word die konsep van selfbeskikking en selfstandigeheid so baie bespreek in S.A. Ons soek weereen oplossing en ons sal dit kry.

JC ·

Dankie Leopold, dit is nie NOU ‘n oplossing nie, maar in die toekoms soos wat Afrikaners besef dat die enigste manier om ‘n volkstaat te he(onshet alreeds twee outonome Afrikaner gebiede) is om ons territoriale konsentrasie te konsolideer. Wat vir ons voorle, en ons pragtige taal, en kultuur, EN KINDERS, word goed geillustreer deur Mogoeng se ondeurdagte en ULTRA VIRES “bevele” oor Engels as die enigste taal van rekord in die SA Howe-daarom se ek-dank die Here vir Orania- hulle het ons almal se ondersteuning nodig, en voortaan sal ons heet heel waarskynlik, of ‘n groot segment van ons, Oraniers. Ai, dit klink so mooi en gepas op die tong. Dit maak my bitter opgewonde! Sien ook DZ se houding oor minderheids/groepsregte in SA vir minderhede, en hulle tale en kulture. Nie dat ons, ons noodwendig aan haar siening daaroor moet steur nie, want sy kan weliswaar nie ons reg op selfbeskikking wegraap nie, maar dit is net weereens tekenend daarvan dat wat betref ons strewe om self-beskikking en verwesenliking, en onafhanklikheid,ons liefs nie moet staatmaak op die swartes se ondersteuning nie. Die scenario kan elkeen wat sy geskiedenis ken in elk geval insien, te oordeel aan die ANC se houding detyds met die KODESA onderhandelings. Anders gesien, indien mens verkies om die beker eerder halfvol as halfleeg te sien, is die feit dat volgens navorsing grondwette slegs ongeveer ‘n 20 jaar leeftyd het, goeie nuus, indien mens geneig isom bietjie naief te wees, of dalk nie? ?

Boerseun ·

Dankie JC, the wind of change are blowing en die grondwet aanbidders kan dit net nie aanvaar nie

Verwonderd ·

Dit is tog vanselfsprekend dat ‘n mens binne ‘n raamwerk van ‘n funksionerende demokratiese resgsstaat wil en kan leef. Die vraag is of dit nog werklik haalbaar in SA is? Of die Katalane op dieselfde uiterste staan is te bevraagteken, of vat hulle net miskien minder nonsens van die meerderheidsgroepering as ons?

Gerhardus Petrus Padda ·

Leopold, elke mens het vooroordele, maar as mens belangstel in die waarheid, is daar maniere om objektiewe waarheid te bekom, net soos om die parallax fout uit te skakel deur uit n ander hoek na die proefbuis te kyk.

Die mag van die Katolieke Kerk was gebreek eerstens deur tegnologie, naamlik die Gutenbergse drukpers, en tweedens deur Luther wat weer met nuwe oe na die Bybel gekyk het en gesien het hoe die Kerk Jesus se boodskap verdraai het en misbruik het vir eie mag en rykdom.

Daar is parallelle met vandag.

Sosiale media is besig om massa media grootliks te vervang en te desentraliseer.
Die internet het inligting gedesntraliseer.
3D Drukkers kan vervaardiging desentraliseer.
Bitcoin kan geld desentraliseer.
Outomatisasie kan arbeid en selfs spesialis arbeid heeltemal vervang.

Al hierdie tegnologie maak dit moeliker vir die huidige staatsvorm om te oorleef, en al hoe kleiner eenhede kan volhoubaar oorleef en selfs floreer.

Al hierdie tegnologie gaan ook belasting wegvat van die staat, net soos Luther die “indulgences” van die Katolieke Kerk weggevat het.

Ek voorspel dat ons net nog meer wegbreek en desentralsiasie gaan sien, nie minder nie.

Leopold Scholtz ·

Beste vriend Padda, solank die mens feilbaar is (en dit sal nooit, ooit verander nie), sal daar geen manier hoegenaamd wees om by die volle, objektiewe waarheid te kom nie. Ek sal nie daar kom nie, en jy, in alle vriendelikheid, ook nie. Ek lei af uit jou stuk dat jy meen die sosiale media kan daardie objektiewe waarheid weergee. Inteendeel, as ek die totale nonsens sien wat elke Jan Rap en sy maat in die kubberruimte insmyt, kompleet met gruwelike onbeskoftheid (ek beskuldig jou nie daarvan nie), meen ek die sosiale media is in sekere opsigte ‘n onding. Maar goed, ons moet dit maar verduur. Intussen, dankie vir ‘n prikkelende bydrae!

Gerhardus Petrus Padda ·

Nee Leopoldt, ek meen nie dat sosiale media die “volle, objektiewe waarheid” weergee nie. Maar ek glo wel dat elke persoon se bydrae n deel van die waarheid is, en dat dit elke mens se eie verantwoordelikheid is om self die waarheid te ontdek.

Massa media het n monopolie op media gehad, net soos die Katolieke Kerk n monopolie op die Bybel gehad het. Sosiale media het daardie monopolie verbreek. Daar is meer chaos nou, en party mense het gehou van die eenvoudige orde (propaganda?) wat massa media vir hulle gegee het. Net soos party mense hou van die “orde” wat politikuste beloof.

Ek glo net dat elke persoon verantwoordelik is vir sy eie waarheid, en dat daardie waarheid nie deur ander mense op jou afgedwing kan word nie. Ons gaan per punt van sake alleen voor Jesus staan op die oordeelsdag. Hy gaan nie vra aan watse volk jy behoort het nie, of aan watter Kerk jy behoort het nie.

Eish ·

Die Afrikaner deesdae leef met opgekropte emosie wat eenvoudig getemper is deur die rooihete oord van vergelding. Synde dit nie n natuurlike, logiese proses is wat deur feite en beredenering tot bekering van emosionele foutoptrede lei nie, is dit slegs vrees wat hom weerhou van irrasionele besluitneming en
“A man convinced against his will, is of the same opinion still.”
Dit gaan uiterste selfbeheersing verg, soos tereg opgemerk word in die artikel, om n leefbare situasie uit te beitel in die huidige onleefbare omgewing.
Verder, gaan dit tyd neem ten einde iets op te bou van niks af, waarby ons almal kan baat vind ten spyte van geografiese verspreiding. Weereens, die enigste werkbare oplossing tans is Plan B van die Burgerregte groep.

Die remmende faktor, onbetrokkenheid om verskeie redes. Afriforum hoop om 200 000 lede teen jaareinde te hê wat n onbeduidend klein persentasie van die bedieningsgroep is.

Dit is ons achiellesheel, onbetrokkenheid, wat eintlik maar selfsug is teenoor die saak vanweë ingekorte middele tot oorlewing agv die huidige bestel. Dan ook in n mindere mate, die ervaring van moue oprol vir take wat ons lank as vanselfsprekend aanvaar het, is intimiderend.

Gerhard ·

Met al die probleme wat ‘n Volkstaat inhou kan ek sien dat baie sal dink dit is nie moontlik nie en dalk is hulle reg. Dit is dalk al te laat. Dit sal eendag verseker te laat wees veral as jy te lank wag daarmee. Tog wens ek daardie selfde mense kan insien dat ‘n Volk nie kan oorleef as ‘n minderheid oral waar hy hom bevind nie. Dit het nog nooit in die geskiedenis bebeur nie want dit kan nie werk nie. Selfs die Jode kan dit nie doen nie en daarom bestaan Israel. As jy so daarna kyk moet jy tog kan insien dat so moeilik as wat dit klink dit die enigste ideeis wat dalk nog net kan werk. Die alternatief is lelik en ek hoop die mense kan gouer eerder as later besef waar dit gaan eindig.

Hendrik ·

Gerhard daar is nooit ” ‘n te laat nie” en ‘n mens begin met klein treetjies , soos in ‘n 100m, Die tree word net al hoe groter daarna. Die groot probleem wat ek opmerk is die mense gemaksugtig is en nie wil opstaan en werk nie.

John ·

Die een ding waar rondom ons praat, is dit wat ons destyds gedwing het om oor te gaan tot ‘n fatale besluit, nl totale oorgawe aan die vryheidsbeweging sonder om ‘n agterdeur en ten minste die agterplaas oor/oop te hou, en die ding is ‘n vrees vir konfrontasie. Die ANC het dadelik ‘n magstaat begin skep terwyl Mandela in die buiteland liefies gaan wuif het vir die goedgelowige gee-gee-massas. Vreemde uitlanders het vanaf dag een hul ingewurm in topposte en Engels moes noodwendig hul kommunikasie vergemaklik en die buiteland het dit gesteun. Nou gaan die weermag ingesluip word in ‘n verdraaide slinksheid om nooit weer op te pak nie… om net rus en vrede te bewaar… nee, om te keer dat hierdie ongelukkigheid van ons ~ die versugting na ‘n rusplek vir ons voet ~ nie die groter plan laat skipbreuk ly nie.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.