Kazakstan in opstand

Betogers en die veiligheidsmagte het slaags geraak (Foto: Alexander PLATONOV/AFPTV/AFP)

Kazakstan, die sentraal-Asiatiese staat, is selde in die nuus. Daar het egter nou opstande uitgebreek wat op die voorgrond oor ekonomiese griewe gaan, en spesifiek die drastiese styging in die koste van brandstof.

Dit is egter net die sneller vir die onluste. Dieperliggende oorsake is die ontevredenheid met die land se langdurige outokrasie en onderdrukking van die bevolking. Die betogers het sekere openbare geboue bestorm en ook gepoog om polisiestasies oor te neem. Dosyne is gedood en honderde beseer. Die opstande, veral in die grootste stad, Almaty, is reeds in so ʼn mate buite beheer dat Rusland – buurland en streeksmoondheid – bygestaan deur lande uit die streek, troepe gestuur het om die orde te herstel.

Kazakstan is oppervlakgewys naas Rusland die grootste voormalige deelstaat van die ou Sowjetunie en is die moederland van die Kazake, wat aan die Turkse volke behoort. Alle sentraal-Asiatiese state wat op “-stan” eindig se volke is etnies aan mekaar verwant en is in hulle meerderheid Moslems. Die land is yl bevolk en meestal semi-woestyn, maar is ryk aan olie en gas en dus nominaal relatief welvarend. Min van die welvaart bereik egter die bevolking.

Kazakstan is sedert sy onafhanklikheid in 1991 ʼn outokrasie met die langtermynpresident Nursultan Nazarbayev. Na sy uittrede in 2019 is hy na ʼn skynverkiesing deur sy vertroueling Kassym-Jomart Tokayev opgevolg. Nazarbayev het egter in ʼn magtige posisie as voorsitter van die nasionale veiligheidsraad aangebly en trek steeds die toutjies in die agtergrond. Die land het nog nooit demokrasie geken nie en betogings in die verlede is gou onderdruk. Nazarbayev het ook die aura van ʼn koning gehad en daar is standbeelde van hom opgerig. Selfs die hoofstad Astana is tot sy eer na Nur-Sultan herdoop.

Die generasie wat nog die Sowjetunie beleef het, was daaraan gewoond om die gesag van die leier te aanvaar. Daar was nooit ʼn sterk demokrasiebeweging nie, en die bietjie wat daar was, is hardhandig onderdruk. Wat vir Kazakstan geld, geld in ʼn groot mate vir die hele streek: Almal word deur soortgelyke outokrate en stelsels beheer. Die een uitsondering is Kirgistan wat in 2005 en weer in 2010 demokratiese revolusies gehad het wat die outokratiese leiers verwyder het. In Kazakstan het daar egter nou, 30 jaar na onafhanklikheid, ʼn nuwe generasie opgegroei wat nie meer in dieselfde mate inskiklik is as die ouer generasies nie, en wat boonop nie meer afhanklik van die staatlike media is nie.

Rusland sien sy eie veiligheid deur demokratiese, en gevolglik pro-Westerse, state in sy omgewing bedreig en hou dus sy hand oor die outokratiese regimes van die voormalige state van die Sowjetunie. Met die Armeense-Azerbeidjanse oorlog het Rusland – voorheen ʼn bondgenoot van Armenië – “neutraal” gestaan, maar eintlik vir Azerbeidjan bevoordeel, wat ʼn outokrasie teenoor Armenië is wat in 2018 sy demokratiese revolusie gehad het. Met die diktatorskap van Alexander Lukashenko in Witrusland is daar sterk bande en ook daar het Rusland gehelp om die demokrasiebeweging van 2020 te onderdruk. Ook die huidige dreigemente teen die Oekraïne moet in die lig gesien word om die land, wat reeds gedemokratiseer het, se toenadering tot die Weste te stop.

Sal die opstande suksesvol wees? Politieke gebeure geskied dikwels in golwe, oftewel deur middel van ʼn domino-effek: Wat in een land gebeur, steek die buurlande aan en versprei soos ʼn veldbrand. Dink aan die val van kommunisme in 1989/1990 wat ʼn wêreldwye drang na vryheid en selfbeskikking veroorsaak het; die Arabiese Lente van 2010 wat die hele streek geraak het, al was die uitkoms eerder beskeie. Soos reeds in ʼn vorige artikel verduidelik, is daar die afgelope jare baie min voorbeelde van suksesvolle revolusies. Die een uitsondering, Soedan, moet intussen ook as mislukking bestempel word. Die rede is dat die Weste na mislukkings in Irak, Sirië en Afganistan sy ywer vir demokratisering verloor het, terwyl Rusland en China al hoe meer as ondersteuners van outokrasieë optree. Aan die ander kant moet elke golf iewers begin, en Kazakstan is dalk die eerste dominosteen in die streek wat val. Baie sal ook van die rol van veiligheidsmagte afhang.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Sebastiaan Biehl

Meer oor die skrywer: Sebastiaan Biehl

Sebastiaan Biehl werk tans as ʼn analis in Berlyn, Duitsland. Hy is ook ʼn skrywer van romans en reisbeskrywings in sy vrye tyd en was op ʼn tyd (2001-2005) ook vir Solidariteit se media-afdeling werksaam. Sy kwalifikasies is BA algemeen, BA Hons (Politieke Wetenskap) en MA Politieke Wetenskap by Bloemfontein en RAU, onderskeidelik. Sebastiaan se gebiede van belangstelling is veral politiek, geskiedenis en reis.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

6 Kommentare

jongste oudste gewildste
VaalDonkie

Ag hier gaat ons alweer. NAVO druk hulle neuse oral in en dan blameer hulle vir Rusland, China, of die Arabiere. Ek sien op Amerikaanse media Kazakstan het blykbaar met COVID gepeuter. Seker net soos Sadam Hussein met goed “gepeuter” het maar hulle kon nooit die bewyse kry nie.

Marthinus

Kazakstan verskaf 40% van die wereld se uraan. En hulle besit die Baikonoer ruimteplatform.

Kokerboom

Met Poetin se veglustigheid en China se drang na wereldoorheersing skep dit ‘n massiewe tameletjie vir wêreldvrede