Keerpunt vir Suid-Afrika

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Pres. Zuma en Gordhan. Die foto is in 2011 geneem. Foto: Flickr/GovernmentZA

Wanneer historici later terugkyk op gebeure, kan hulle dikwels ʼn datum identifiseer wat – al is dit maar met die voordeel van ʼn terugblik – as ʼn keerpunt gesien kan word. Miskien sal Vrydag, 14 Oktober 2016, vir Suid-Afrika só ʼn keerpunt wees.

Dit is die dag waarop Pravin Gordhan, minister van finansies, die hooggeregshof vir ʼn verklarende bevel gevra het dat hy, in sy hoedanigheid as minister, nie kan inmeng in ʼn dispuut tussen die Gupta-familie se maatskappye en die banke wat hul rekenings gesluit het nie.

Agter dié skynbaar tegniese kwessie skuil politieke dinamiet wat pres. Jacob Zuma op die allerminste ernstig kan beskadig of potensieel selfs tot ʼn val kan bring.

Lesers sal onthou ʼn groep banke – Absa, Standard Bank, First National Bank en Nedbank – in April die Gupta-maatskappye se rekenings eensydig gesluit het. Geen redes is bekend gemaak nie.

In die lig van die beweerde greep wat die Gupta-familie op verskeie lede van die regering (onder wie Zuma self) het, was dit te verwagte dat daar kwaai protes vanuit die ANC hieroor sou wees.

Min hiervan het na buite uitgelek, met die uitsondering van ʼn verklaring van Mosebenzi Zwane, minister van minerale bronne, dat die kabinet besluit het om ʼn regterlike kommissie van ondersoek na die banke se stap om die Guptas se rekeninge te sluit, aan te stel. Dit het sterk gelyk na politieke intimidasie om die banke te dwing om die Guptas se rekenings te heropen.

Die volle verhaal hieragter moet nog uitgepluis word, maar Zuma het ʼn dag of twee later sy eie verklaring uitgereik, met die strekking dat Zwane op eie houtjie en sonder die toestemming van die kabinet opgetree het. Mens kan aanneem prominente lede van die ANC het Zuma se arm kwaai gedraai.

Hierdie episode het opnuut die ernstige verdeeldheid in die ANC blootgelê. Staatskaping deur die Guptas en hul klaarblyklike greep op Zuma en ʼn beduidende deel van die kabinet, is al maande lank ʼn onderwerp wat druk bespreek word.

Dié kwessie het ekstra plofkrag verkry toe die uittredende Openbare Beskermer, adv. Thuli Madonsela, aangekondig het sy ondersoek die kwessie van staatskaping en voor haar finale uittrede ʼn verslag daaroor wil uitreik.

Sy het uitvoerige onderhoude met allerlei rolspelers gevoer, onder wie verskeie mense wat reeds in die openbaar te kenne gegee het die Guptas het hulle kabinetsposte in ruil vir finansiële gunste aangebied.

Só het dié twee sake – die Madonsela-ondersoek en die banke se sluiting van die Gupta-rekenings – verlede week saamgevloei.

Een van die mense met wie Madonsela gepraat het, was die president. Sy het altesame 42 skriftelike vrae oor sy bande met die Guptas aan hom gestel. Hy het geweier om te antwoord, maar beloof om skriftelik te reageer. (Wat hy nie gedoen het nie.)

Die volgende wat Madonsela hoor, is dat Zuma en sy minister van openbare werke, Des van Rooyen, die hooggeregshof genader het om die openbaarmaking van haar verslag te keer. Omdat die twee sake eers op 1 November saam aangehoor word, beteken dit die verslag sal tot dan agter slot en grendel bly.

Dit is duidelik dat Zuma en Van Rooyen taamlik desperaat is om te keer dat die wyd-gerespekteerde Madonsela se verslag uitgereik word. Enigiemand met ʼn greintjie verstand kan met ʼn stok aanvoel dat hulle, om dit sagkens te stel, nie baie welriekend uit die verslag tevoorskyn sal tree nie.

Die ander saak, wat hiermee saamhang, is amper nog erger.

Die groot struikelblok in die vermoedelike staatskaping en grootskaalse korrupsie in die regering is Gordhan. Dis logies dat hy dus uit die weg geruim moet word en Zuma se handperd in die nasionale vervolgingsgesag, adv. Shaun Abrahams, was maar alte gewillig om hom hiervoor te laat misbruik.

In die lig van Abrahams se totale gebrek aan geloofwaardigheid, het byna niemand hom geglo toe hy verlede week met ʼn pokergesig ontken het sy besluit om Gordhan van korrupsie aan te kla, is die gevolg van politieke druk is. Zuma se vermoedelike taktiek was dat die aanklagte teen Gordhan hom die opening sou gee om die minister in die pad te steek.

Hy het klaarblyklik nie gereken op die enorme openbare storm wat daarop gevolg het nie en teruggedeins. En toe kom Gordhan met ʼn meesterskuif.

Gordhan het die hooggreregshof met sy eie aansoek genader – die verklarende bevel waarna aan die begin van dié artikel verwys is.

Om sy aansoek te motiveer, het Gordhan met verwoestende getuienis oor “eienaardige transaksies” ten bedrae van R6,8 miljard van die Guptas gekom. Wat meer is, dié transaksies moes goedgekeur word deur die minister van minerale hulpbronne, Mosebenzi Zwane – ja, dieselfde man wat die kommissie van ondersoek na die banke vroeër vanjaar eensydig aangekondig het.

Hiermee het Gordhan Zuma heeltemal onkant gevang. Die verwagting is dat hy met nog meer materiaal sit wat hy bekend kan maak as dit nodig word.

Nou wéét Zuma, Van Rooyen, Zwane en ander dit en dit hang soos ʼn swaard van Damokles bo hul koppe. Die boodskap is duidelik: Gaan voort met jul stappe teen my en ek sê wat ek weet.

Maar uiteindelik beteken dit alles nie dat Gordhan die magstryd gaan wen nie. Jy kan baie oor Zuma sê, maar nie dat hy geen sluwe vos is nie. Tot dusver het hy nog geen enkele magstryd verloor nie.

Luidens berigte in die naweekkoerante, begin die gety egter stadigaan teen hom draai. Minstens agt ministers wil hom glo op Woensdag se weeklikse kabinetsvergadering konfronteer en duidelik maak dat hulle nie beïndruk is met sy optrede insake Gordhan en Madonsela nie. Ook vise-pres. Cyril Ramaphosa en verskeie ANC-swaargewigte, het hulle agter Gordhan geskaar.

Dis te betwyfel of Zuma Woensdag die nekslag sal kry. Maar as ʼn mens die tekens reg lees, kan die einde van die Zupta-diktatuur dalk in sig wees en Gordhan se regsaksie van verlede week kan ʼn belangrike rol hierin speel.

Abraham Lincoln het op ʼn keer ʼn gevleuelde uitspraak gelewer: “You can fool all the people some of the time, and some of the people all the time, but you cannot fool all the people all the time.”

Stadig maar seker lyk dit jou werklikwaar of dit ook vir die ANC kan geld.

Hierdie meningstuk is deur ʼn onafhanklike persoon opgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. -Red

Leopold Scholtz

Meer oor die skrywer: Leopold Scholtz

Leopold Scholtz is 'n onafhanklike politieke kommentator en historikus. Hy is al sedert 1972 as joernalis en historikus werksaam.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

8 Kommentare

John ·

Miskien in ‘n ander eeu op ‘n ander kontinent of op ‘n ander planeet met heel ander inwoners kon sake dalk ten goede geswaai het, maar nie in ons hede, soos in hier en nou, nie. As verkeerd orals baas is, gaan verkeerd ongelukkig seevier.

Dankbaar ·

Spyker op die kop geslaan.
Die dag toe SA se plaaslike verkiesings resultate op 6 Augustus 2016 bekend gemaak is was weereens ’n bewys dat Abraham Lincoln geweet het waarvan hy praat. Jy kan nie al die mense altyd aan hulle neus rondlei nie.

chrisp ·

Stem saam oor die stuk en jou logiese afleidings.
Dit maak sin.

Theuns ·

Leopold jou kommentaar en Herman Toerien se kommentaar is so deksels goed dat dit meer as soms moeilik is vir ons gewone ouens om kommentaar daarop te lewer!!! Ons het definitief die “grys kapitaal” in ons land om ons self te regeer! Doen so voort en baie dankie!

Theresa ·

Het al baie gewonder en gedink dat dit juis die “grys kapitaal”is wat so baie jaloesie uitlok van miljoene wat ongelukkig nie so gelukkig is nie. Jaloesie vernietig. So, soos as kind soms gesê het: “watch net!”.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.